Sondag 41: Heidelbergse Kategismus
Sondag 41: Heidelbergse Kategismus
Lees Genesis 1:26-31; Genesis 2:18-25; 1 Timoteus 2:9-15
⤒🔗
Gawe van God←⤒🔗
"Liefde is sterk soos die dood, die liefdesywer is hard soos die doderyk, sy gloed is 'n gloed van vuur, 'n vlam van die HERE" (Hooglied 8:6). Die hele boek Hooglied, met al sy liefdesliedere, is 'n boek vol van die krag van die liefde tussen 'n man en 'n vrou. Hooglied handel oor die onbeskryflike verwondering wat oor 'n man en 'n vrou kom wat besef dat hulle vir mekaar gegee is. Hoe mooi is dit nie! Ons pas bymekaar. Ons is mooi vir mekaar. Die meisie is nog bewus van soveel gebreke by haarself – haar vel is dalk te veel verbrand in die son. Maar hy, die man, kan dít nie genoeg vir haar sê nie: "Alles is mooi aan u, my vriendin, en daar is geen gebrek aan u nie" (Hooglied 4:7).
Hoe wonderlik is dit nie! Die krag van hierdie begeerte van man en vrou na mekaar; die begeerte om mekaar te ken; die begeerte om bymekaar te wees; die begeerte om mekaar vas te hou. Is dit iets wat vuil en verkeerd is? Iets om oor skaam te wees? Iets waar liefs nie oor gepraat moet word nie? Nee. Want – so hoor ons in hierdie gedeelte van die Woord van die Here – hierdie geweldige gloed van die vuur is 'n vlam van die Here. Dit kom as 'n gawe van Hom. Dit moet ons in die eerste plek goed onthou en bly raaksien wanneer ons praat oor ons seksualiteit, oor ons aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag, oor my gevoel van siek wees wanneer ek te lank weg was van my vrou of my man – dit is 'n gawe van die Here. Seksualiteit (of geslagtelikheid) en die huwelik is 'n gawe van die Here God. Maar baie spesifiek 'n gawe van God in diens van sy koninkryk.
Van die Begin Reeds←⤒🔗
Hiervoor was dit van die begin af reeds so bestem deur die Here. Die Here skep die man as man, en die vrou as vrou. Manlik en vroulik is ons gemaak. En dit was alles baie goed, sê die Here (Genesis 1:31). Waarom was dit alles so goed en mooi? Omdat man en vrou so gemaak is om in diens te staan van die uitbreiding van God se koninkryk. En omdat die Here die twee so mooi gemaak het om bymekaar te pas. Want God maak hulle as man en vrou as die beeld van God, so lees ons in Génesis 1, om te heers oor God se hele skepping. En die geslagtelikheid moet nou in diens van God gaan staan.
Man en vrou het Hy hulle gemaak, en dit was baie goed. Hulle kan mekaar so goed help met die opdrag wat die Here hulle gegee het. Daar is die geweldige opdrag om die koninkryk van God uit te brei op aarde: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers daaroor." Die vrugbaarheid wat die Here aan die man en die vrou gee, staan in diens van die uitbreiding van God se koninkryk. Kan u dit sien? Die opdrag om te heers, wat die Here aan man en vrou gee, verbind Hy regstreeks aan die geslagtelikheid, die seksualiteit. Wees dan vrugbaar, vermeerder, sodat my koninkryk kan uitbrei, sodat my mense die hele aarde kan vul. My mense!
Vrugbaarheid en Seën←⤒🔗
Nadat die Here vir Adam en Eva gemaak het, kom verbind Hy sy seën aan hulle. Sy seën, sy goedheid en sorg vir hulle wil Hy vir hulle gee deur verwekking en geboorte van kinders van die Here. Kinders van die Here, wat verwek word waar man en vrou saamkom.
Hier moet ons wel so 'n oomblik stilstaan om te sien hoe die Here van die begin af sy seën verbind het aan die verwekking en geboorte van kinders. Kinders is nie 'n las nie, maar deel van die seën van die Here. Dit het die Here self aan mekaar verbind — dit is die manier waarop Hy werk om sy goedheid vir ons te gee en sy koninkryk te laat kom. Hier sien ons ook reeds duidelik in Genesis 1:26-28, wat ons later ook so pragtig in Psalms 127 en 128 hoor: kinders is 'n seën van die Here. Dit is 'n erfdeel van die Here. Wil jy sterk wees in die poorte van die stad, dan is seuns soos pyle in jou koker. Dan is dit wonderlik om 'n vrugbare vrou in jou huis te mag hê en kinders rondom jou tafel. Dit is nie 'n krag wat ons uit onsself besit nie. Om kinders te kan verwek en geboorte aan hulle te kan en mag gee, is 'n geskenk, 'n seën van die Here. Maar, en dit is baie belangrik, dit is en dit was en dit bly tegelyk ook 'n opdrag van die Here!
Kinders moes en moet gebore word. Dit sê ek baie spesifiek só: kinders moes en moet gebore word. Dit is die deel van die man en die vrou wat aan mekaar gegee word, se opdrag. Hulle moet mekaar daarin help en bystaan. Maar dan is dit opvallend dat die boek Génesis dit nie maar daar laat as 'n opdrag aan enige man en enige vrou nie. Hierdie seksualiteit van die mens is nie maar 'n artikel wat sommer los gebruik kan word om kinders te verwek nie. Die plek waar hierdie opdrag om seksualiteit aktief uit te oefen, waar dit in gehoorsaamheid aan die Here uitgeleef word, laat die Here nie aan Adam en Eva se goeddunke oor nie. Die Here verbind dit spesifiek aan die huwelik. Aan een man en een vrou wat bymekaarkom.
Daarvan lees ons in Genesis 2:18-24. Hier het ons nie maar 'n beskrywing van hoe Adam aan sy vrou gekom het nie. Die beskrywing van die manier waarop Adam en Eva bymekaar uitgekom het, eindig met die reël wat God vasstel vir alle mans en vroue: "Daarom sal die man – dit is alle mans – sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees." Sien u, hier is 'n opdrag. Nie maar net vir Adam of net vir Eva nie, maar vir alle mans en vroue geld dit dat seksualiteit uitgeleef moet word in 'n verhouding tussen één man en één vrou.
Huwelik←⤒🔗
Die uitleef van ons seksualiteit en die gepaardgaande verantwoordelikhede word hier duidelik verbind aan die trou tussen een man en een vrou. Die opdrag is: hy sal sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, haar "aanhang". Aan haar sal hy hom verbind. Geslagsgemeenskap is nie maar iets wat in 'n oomblik tussen enige twee mense gebeur nie. Geslagtelikheid word nie uitgeleef in, soos die jeug dit soms noem, 'n "one night stand" nie! Nee! Waar man en vrou hul seksualiteit gaan uitleef, is sprake van 'n lewenslange verbintenis aan mekaar. 'n Onverbreekbare band kom ter sprake. Hulle kom nie maar by geleentheid bymekaar sodat kinders verwek kan word nie. Nee, saam gaan hulle leef en saam gaan hulle die Here dien. Hulle gaan mekaar help. In alle opsigte. Met elke taak wat die Here hulle gee om sy koninkryk uit te brei. Want seksualiteit staan nie los van die gewone lewe van verantwoordelikhede teenoor mekaar nie. Hulle leef saam met mekaar en daar kry die seksualiteit 'n plek.
Geniet Mekaar←⤒🔗
Die huwelik het natuurlik ook die doel om mekaar te geniet. Dit is waaroor die boek Hooglied gaan. Maar juis is dít die mooie, waar dit geniet word as 'n krag en 'n gawe van die Here waaroor Hy sy seën wil gee. Dink maar aan Spreuke 5, waar die man opgeroep word om die vrou van sy jeug te geniet – sy eie vrou, ja! "Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put ... mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug – die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees" (Spreuke 5:15, 18-19).
Sien u, binne die huwelik mag dit. Want: "Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? ... Maar waarom sou jy, my seun, by 'n vreemde bedwelmd raak en die boesem van 'n ontugtige omhels?" (Spreuke 5:16, 20).
Egbreuk←⤒🔗
Maar ons weet, broeders en susters, dat hierdie mooi geskenk van die Here egter deur die eerste man en vrou reeds verniel is, stukkend gemaak is. Die sonde het ook die seksualiteit en die huwelik aangetas. Adam en Eva begin onmiddellik na die sondeval vir mekaar skaam te word, iets wat daar vroeër nie was nie. In die plek van die hartlike eenheid kom daar al meer skeiding in die eg. En hierdie skeiding probeer mense op eiewyse manier regstel, op hul eie manier hanteer, wanneer hulle nou heeltemal skaamteloos word. Of mense reageer met die ander uiterste en probeer op 'n gemaakte vroom manier die seksualiteit van die mens ontken en kan nie daaroor dink of praat sonder om te dink dit is iets vuils nie.
Die skaamte kan en mag nie oorkom word deur huwelik en seksualiteit te gaan gebruik teen God se wil en bedoeling in nie. Sedert die sondeval word seksualiteit op allerlei maniere misbruik. Maar die Here kom beskerm sy gawe van seksualiteit deur die sewende gebod. Dit is waarvoor die sewende gebod daar is. Laat ons maar dink aan die grense wat vir ons getrek word in Levítikus 18. Die skaamte van jou vader en jou moeder mag jy nie ontbloot nie. 'n Suster is nie daar om deur haar broer geniet te word nie. Geweldig baie moontlikhede word genoem, wat almal ontoelaatbare maniere was om die seksualiteit van iemand anders as jou huweliksmaat te geniet. Daarom dat vader en moeder se huis ook deur die man verlaat moet word, sodat hy werklik met sy huweliksmaat kan gaan saamwoon. Sodat hulle daardie eenheid kan vorm waarbinne daar vir geen ander, behalwe die Here self, plek is nie. En dan vorm ons 'n eenheid wat net deur die dood gebreek mag word.
Gered deur Kinders te Baar←⤒🔗
Die Here God los ons gelukkig nie in ons sondes teen die sewende gebod nie. Adam en Eva sou hulle aanvanklike opdrag om oor die aarde te heers onder andere vervul deur te sorg vir 'n nageslag. En dit verander nie na die sondeval nie! Dit is nie tipies Ou-Testamenties dat daar gesorg moet word vir 'n groot nageslag nie. Teen die pikdonker agtergrond van ons sonde bly die opdrag om kinders van die Here te ontvang, staan, en bly dit 'n seën van die Here. Want nou gaan die Here juis daardie seksualiteit inspan vir die verlossing van die mens. Deur die saad van die vrou beloof die Here self 'n Verlosser. Gaan dus voort met hierdie opdrag! Die swangerskap en geboorte van kinders word wel moeilik, maar uit die nageslag wat gebore word, sal daar 'n Seun kom wat die werke van die satan tot niet sal maak.
Die verwekking en geboorte van kinders bly 'n seën van die Here. Daarvan was die besnydenis dan later ook 'n duidelike teken van die Here aan sy volk dat Hy op hierdie manier kom red. Abraham en Sara, twee onvrugbares op hoë ouderdom, wat glad nie meer oor die vermoëns beskik om nog kinders te kan verwek nie, aan hulle word 'n nageslag beloof. Maar nie uit eie krag nie. Nie uit eie vermoë nie! Hulle sal 'n Kind verwek deur Wie die verlossing vir die wêreld sal kom. Abraham, Ek gee vir jou 'n teken, sodat jy kan weet dat dit nie uit jou eie krag is nie. Jy kan nie jou seksualiteit gaan gebruik as 'n krag vir jouself nie. Want hierdie Kind gaan verwek word uit 'n onvrugbare, nie uit eie krag en vermoë nie.
In dit wat ons die moederbelofte noem, in die belofte wat ook al aan Adam en Eva gegee was, bly vir ons die geweldige seën in die gehoorsame uitleef van ons seksualiteit in die huwelik. Kinders is daarom 'n seën van die Here – hulle is 'n beloning en 'n erfdeel. Is dit nog hoe ons na die ontvangs van kinders van die Here in ons huwelike kyk? Die Here seën sy kinders in Egipte deur hulle talryk te maak, deur die kry van kinders. En die satan probeer die uitbreiding van die koninkryk van die Here tot niet maak deur 'n heel listige plan, deur die farao in te span om 'n massamoord van stapel te stuur op die pasgebore babas van die volk van die Here. Israel moes ontmoedig word om kinders te hê. As daar kinders gebore word, moet hulle doodgemaak word. Wat 'n ontmoediging moes dit nie gewees het nie!
Ten spyte van al die planne van die satan, gee die Here deur die seun Moses, wat in slawerny gebore word, verlossing vir sy volk. Daar sien ons huwelik en seksualiteit in diens van die Here! Gaan vra die ouers van Moses wat 'n ryke seën dit is!
Werk die satan ook nie so in ons tyd nie? Nie alleen deur aborsie nie, maar ook daarin dat die volk van die Here ontmoedig word om kinders te hê. Mense word moedeloos, dit raak uitsigloos om 'n gesin te vorm. Terwyl God sy volk juis daarin wil aanmoedig; daarin wil die Here sy seën gee. Moses lei Israel uit die slawerny van Egipte uit, en die Here lei sy volk in die beloofde land Kanaän in. Wat sien die volk van die Here daar? 'n Land waar die Baäls gedien word. Almal vrugbaarheidsgode. Almal gode wat behaag word deur seksuele praktyke wat in hul tempels gepleeg moet word. Hulle bring hul eie kinders daar om geoffer te word. Vir misbruik in die tempels. Vir kinderprostitusie.
Maar nie die volk van die Here nie! Die Here waarsku hulle en sê uitdruklik dat Hy geen offers van kinders wil hê nie. Hy gee hulle eerder die diens in die tabernakel en tempel waar die bloed van diere kon vloei om hulle na Christus te verwys as Verlosser, ook van die huwelik. Ook van my seksualiteit. Ook ons verhouding met die teenoorgestelde geslag word verlos, en my verhouding met my huweliksmaat. En ook daar waar daar eensaamheid is, waar ek nie getroud is nie, sorg Hy dat ons niks kortkom solank ons werklik uit Hom leef nie. Of in die gebrokenheid van my huwelik. Of in ons kinderloosheid. In dit alles wil God vir ons wys dat daar medelye van sy kant is, dat daar versoening vir al ons sondes is. As ons Christus ook hierin het, dan het ons oorvloed!
Kinders Ontvang←⤒🔗
Hoe kyk ons vandag nog na die ontvangs van kinders van die Here? Is dit iets wat begeer word? Het die wêreld nou oorbevolk geword, sodat ons nie meer kinders moet hê nie? Het die brandende begeerte van iemand soos Hanna, wat van die Here 'n kind gebid het, iets van die verlede geword sedert die geboorte van die Messias? Het die huwelik nou sy doel gedien en is dit nie meer belangrik om te trou en nog kinders te hê nie?
Opvallend genoeg skryf Paulus oor die onderskeie plekke van die man en vrou in die gemeente en in die koninkryk van God deur te verwys na die take van Adam en Eva (1 Timoteus 2:11 e.v.). Die vroue wat die godsvrug bely, sal gered word deur kinders te baar. En dít sê die Nuwe Testament. Die baar van kinders bly steeds 'n seën van die Here. Hoe word die kerk en koninkryk van God steeds gebou? Deur godvrugtige vroue wat kinders baar en hul kinders bou in geloof en liefde en heiligmaking. Is die uitleef van ons seksualiteit nog hierop gerig, op die uitbou van kerk en koninkryk? Span die manne hulle nog daarvoor in om hul eie huise goed te bestuur, sodat daar versorging kan wees vir vroue en kinders? Só wil die Here sy kerk bou, ook vandag nog. Gesinsvorming moet prioriteit in ons lewens kry, ter wille van God se kerk en koninkryk. Is ons huwelike nog daarop gerig? Dit is waarvoor die eg beskerm word deur die sewende gebod!
Of verbreek ons die eg deur dit nie te gebruik vir dit waarvoor God dit ingestel het nie? Die huwelik is in die eerste plek daar vir God se koninkryk. O ja, en dan mag en moet ons mekaar as man en vrou liefhê en ons mag mekaar geniet, want ook dit is deel van God se koninkryk. Maar waarop is die verhoudinge tussen man en vrou en tussen julle as jongmense gerig? Hoe oorweeg julle 'n huweliksmaat? Soek julle iemand wat saam met julle kan bou aan die kerk en die koninkryk van God? Is dit wat jy soek?
Kyk maar hoe maak Paulus in die res van die brief aan Timoteus erns met hierdie lewe in die huwelik en met die verwekking van kinders. Die man wat vir sy eie huismense nie sorg nie, het slegter as 'n ongelowige geword. Hy moet vir hulle sorg sodat hulle kan gaan leef vir die kerk en die koninkryk van God. Wat moet die jong weduwees doen? Laat hulle na 'n geleentheid soek om te trou en kinders te baar. En dié wat self nie trou en nie kinders van hul eie het nie? Wat moet hulle maak? Laat ook hulle lewens gerig wees op die versorging van die huisgesin van God, die gemeente. Want God is besig om sy huisgesin te bou.
Paulus noem so vir Timoteus self sy kind. Dit is opvallend in die briewe aan Timoteus dat hy hom sy kind noem. Terwyl Paulus ongetroud en sonder eie kinders is, het hy "geestelike" kinders wat hy verwek het. Hy sê: Ek het jou verwek terwyl ek in boeie was. Laat ons almal se lewens gerig wees op die versorging en uitbou van die huisgesin van God. En weduwees en ander wat nie meer eie huise het om te versorg nie? Laat hulle gekies word, sê Paulus in dieselfde brief, om dienswerk in die gemeente te doen. Wat 'n gawe vir die gemeente as daar mense is wat vry is om ander te ondersteun; om te werk aan die op- en uitbou van die gemeente. Wat ook ander in hulle swaar laste kan help dra.
Ons Maker is ons Man←⤒🔗
Ons is nie die slawe van ons geslagtelike begeertes nie. Ons hele lewe is gerig op die rein lewe met mekaar in die gemeente van die Here. In ons huise en in ons daaglikse lewe. Ook in die belewing van ons seksualiteit moet ons bo alles bly vashou daaraan dat ons Maker ons Man is. Aan Hom is ons bo alles verbind. Tot reinheid en tot diens en tot verlustiging in Hom!