Sondag 34 - Vrae 92 en 93: Heidelbergse Kategismus
Sondag 34 - Vrae 92 en 93: Heidelbergse Kategismus
Lees Deuteronomium 4:1-20
⤒🔗
'n Nuwe Lewe←⤒🔗
Die bedoeling van die evangelie is om ons te verlos, sodat ons 'n nuwe lewe kan lei. En daardie nuwe lewe is 'n lewe met 'n roeping wat ons het om te vervul. 'n Nuwe lewe in diens van God. Die Here bevry ons nooit sodat ons vir onsself kan gaan leef nie, maar sodat ons weer vir Hom kan leef. Wanneer ons die nuwe lewe waarvan Sondag 33 so pragtig praat, begin lei, dan gaan die Gees van die Here ook hoe langer hoe meer in ons woon. Ons word vol van die Gees. Dit is waaroor dit gaan in die rykdom van die Wet van die Here. Die Wet is nie maar tien goue reëls waarvolgens ons moet leef, ons lewe inrig, as 't ware reguleer, nie. Die Wet is woorde van 'n nuwe lewe. Daarom is dit ook so opmerklik dat in Deuteronomium 4 die Wet nie "tien gebooie" genoem word nie, maar die tien woorde wat God self op die kliptafels neergeskryf het. God se Wet is nie maar tien reëls nie; dis God se Woord na sy volk. Die Woord wat handel oor die nuwe lewe van sy volk. Luister goed hoe die Wet vir ons gegee word: "Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê...". Die Wet is geen dooie las wat ons opgelê word nie, maar dit is woorde van God, woorde wat vertel van 'n nuwe lewe deur die Gees van Christus wat in ons woon.
Wanneer ons besig is met die Wet van die Here, het ons te doen met die Woord van God waardeur die Here sy lig oor ons lewe wil laat skyn. "Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord" – na die Wet van die Here (Psalm 119:9). Verder in Psalm 119, wat handel oor die wonder van God se Wet, hoor ons hierdie gebed: "Leer my 'n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie." (vers 66). Sien u, geloof in God se gebooie. Ek het nie maar tien handige vuisreëls waarmee ek die lewe in die oog kan gaan kyk nie, nee, ek glo in u gebooie! God se Wet moet geglo en gehoorsaam word. Dan sal ons ook kan bely dat die Wet van die mond van die Here vir ons beter is as duisend stukke goud en silwer (Psalm 119:72). Dan sal ons die Wet van die Here leer ken as Woord van God, wat ons mag en moet glo. Die Here wat ons met sy almagswoord vrygemaak het uit die mag van die satan, laat ons deur die woorde van sy Wet verstaan hoe ons nou aan Hom, wat ons bevry het, alleen gebonde moet wees. Die woorde van die Wet wil ons laat verstaan dat ons vry is om weer medewerker van God te wees, en nie 'n slaaf van die ongeregtigheid nie.
Die Here beskerm ons vryheid in gebondenheid!
Die Wet van Vryheid←⤒🔗
Ons gaan nie nou al ons aandag aan die eerste gebod gee nie, maar let op die karakter van die Wet in die lewe van God se kinders. In die eerste plek gaan ons dus kyk na die Wet van vryheid.
Die vryheid van die evangelie bind ons deur die geloof aan Christus. In Egipte kon die gemeente van die Here nie vry wees om die Here te dien soos wat Hy van hulle gevra het nie. Geen vryheid om die Here te dien volgens sy Woord nie. In plaas van die vryheid om die Here te dien, was Israel slawe van die satan, moes hulle slawediens verrig. Die "eersgebore seun van die Here", want so noem die Here self sy volk, moes leef soos 'n slaaf. Die Here wil van slawe kinders maak. Daarom noem die apostel Paulus hulle wat in Christus glo, dan ook dié in wie die gees van slawerny nie meer woon nie (Romeine 8:15). In hulle in wie die Gees van Christus woon, is daar 'n gees van vryheid. Ons het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, om in angs te leef dat God ons weer slawe kom maak nie. Die Wet van die Here bring ons ook in geen nuwe vrees en slawerny nie. Ons het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! (Romeine 8:15).
Die Wet van die Here begin deur te sê: Daar is nie meer slawerny nie. Kyk, Ek het julle verlos, julle uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry. Ek het julle vrygemaak. Ons weet wat die prys is wat God daarvoor betaal het. Hy het die dure prys betaal in en van die lewe van sy eniggebore Seun. Hy het die prys betaal om ons vry te koop uit die mag van die sonde. Maar Hy het ook nog vir ons sy Gees beloof om ons as seuns en dogters te laat leef. Alles wat nodig is om as nuwe kinders van die Here te lewe, het Hy reeds vir ons belowe. Hy vernuwe ons lewe deur sy Gees. Daarvoor gee Hy ons nou ook die woorde van sy Wet. Hy wil ons lewe nuut kom maak. Dit is Hy wat dit doen; dit is genadewerk in ons. Dit is nie woorde wat doodsmoor nie, maar woorde van lewe. Dit is wat die Wet van God is! Deur die lewe uit die krag van Christus gaan ons nou 'n nuwe lewe leef. Die Wet van die Here is daarom nie tien reëltjies vir ons lewe nie. Die Wet van die Here is 'n aankondiging van hoe sy verloste kinders nou sal lewe. Dit is wat Hy van ons vra en van ons gaan maak. Leef so: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie; jy mag geen gesnede beeld maak en daarvoor gaan buig nie; my Naam sal jy nie misbruik nie; my dag sal jy eer; ensovoorts. Dit is hoe God nou ook met ons omgaan en Hy gaan dit doen in ons. Woorde van lewe kom na ons toe.
Maar hoe moet ons hierdie vryheid wat ons onder die Wet van die Here het, verstaan? Sommige gelowiges wil ons vryheid as kinders van die Here geweldig beperk sien; beperk tot 'n klein deeltjie van ons lewe. Hulle besef en verstaan dat daar in die Wet van die Here aan die een kant heelwat vir ons beveel en aan die ander kant ook verbied word. Maar gelukkig, so sê hulle dan, is daar groot dele van die Christelike lewe waaroor jy self kan besluit wat jy gaan doen – die sogenaamde "middelmatige" dinge in die lewe. Hier kan jy jou eie gang gaan. Die Wet van die Here leer ons byvoorbeeld nie in besonderhede hoe ons die Sondag moet invul nie. Daar is geen opdrag om twee keer op 'n Sondag in die erediens saam te kom nie, dus sal ek al klaar geweldig baie doen deur een erediens by te woon. Nêrens in die Bybel word ons verbied om alkoholiese drank te gebruik of te rook nie. Dus is ek vry om self te besluit wat om te doen. Niemand mag my aanspreek of kritiseer oor hoe ek leef op hierdie terrein nie.
As dit is hoe die Christelike vryheid is, dan is dit 'n geweldige beperkte siening van wat vryheid is. Die vryheid wat ons in Christus het, is nie die klein beperkte deel van ons lewe wat oorbly nadat ek reeds rekening gehou het met wat God se Wet vra en verbied nie, die aansprake daarvan op 'n sekere deel van my lewe nie. Vryheid is nie die deel van my lewe waaroor die Wet van die Here geen seggenskap het nie, want oor watter deel van my lewe regeer die Woord van die Here dan nie?!
In die Skrif verwys vryheid nie na 'n klein terrein van my lewe waaroor die Here gelukkig geen seggenskap het nie. Paulus skryf: "...en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde" (Romeine 14:23). En dan gaan dit werklik selfs oor wat ons sal eet of drink of nie sal eet of drink nie! (Romeine 14:17). Of oor wat ek byvoorbeeld sal aantrek of nie. Alles wat ek doen, val onder die Wet van God. Ons word nie net gedeeltelik van die mag van die satan bevry nie. Christelike vryheid beteken dat ek in alles wat ek dink, sê of doen, nou nie meer aan myself behoort nie, maar aan my getroue Verlosser Jesus Christus. So leer Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus my. Ek is gelukkig nie my eie eiendom nie. Gelukkig is my hele lewe nou vry, sodat ek aan Hom kan behoort. Dit is vryheid! My hele lewe moet en mag 'n lewe van Christelike vryheid wees.
Maar dan moet ons ook oppas dat ons nie ons lewe, wat onder die wet van die Here staan, as nie meer vry beskou nie. Ons hele lewe word daarby ingesluit, maar dit is nie 'n beperking nie. Dit is nie 'n verlies van vryheid nie, asof ons nog slawe is wanneer ons gaan leef uit hierdie woord van die Wet. Asof die lewe onder die Wet van God 'n swaar verpligting en 'n las is! Op hierdie manier word my hele lewe as Christen eintlik in twee dele verdeel. My lewe word aan die een kant gereël deur die Wet van God, maar aan die ander kant is daar 'n klein gedeelte waaroor ek self outonoom kan besluit. Die een deel wat vry is en waaroor die Wet van die Here geen seggenskap het nie, en 'n ander deel waarvan die Wet van die Here wel praat en waarin ek dus nog (!) gebonde is.
Wat is die gevolge van hierdie hantering van die Wet in ons lewe? Skisofrene Christenskap! Dit is wat ons gaan hê – Christelike skisofrenie. Een manier van reageer sou dus wees om die gedeelte van my lewe waaroor die Wet geen seggenskap het nie, gedurig te "vergroot". Want as ek die Wet van God een keer beperk het, wat verhinder my om dit later weer te doen? Dan is ek voortdurend geneig om die gebied waar God geen seggenskap het nie, te vergroot. "Vryheid" moet uitgebrei word ten koste van die gehoorsaamheid aan die Wet van die Here. 'n Ander manier sou wees om eenvoudig die onhoudbaarheid van 'n lewe wat gedeeltelik aan God behoort en gedeeltelik aan myself, te deursien. En die reaksie: laat alles oor aan die vryheid waar ons self kan besluit wat goed en reg is. Dit is wat ons vandag ken as die moderne emansipasieproses, waar die mens homself hoe langer hoe meer losgemaak het van die Wet van die Here om nou 'n wet vir homself te word. Ek sal besluit, ek voel, ek dink, ek sal nie! Ek, ek, ek! My gevoelens, my voornemens, my instelling was wel reg. Ek word 'n wet vir myself en vir ander.
Daarteenoor sal ons opnuut standpunt moet gaan inneem dat die lewe van 'n Christen in sy geheel 'n lewe van vryheid is. Nie net 'n sekere gedeelte waaroor die Wet dan nie seggenskap sou hê nie, maar hierdie vryheid is 'n vryheid in gebondenheid aan Christus. Ons is nie vry en gebonde nie. Maar in ons vryheid is ons gebonde aan die volmaakte Wet van God. God se Wet, skryf die apostel Jakobus, is die Wet van vryheid (Jakobus 1:25). Laat ons dan ook leef soos mense wat deur die Wet van vryheid geoordeel sal word (Jakobus 2:12). Hy wat 'n diepe insig het in die Wet van vryheid en daarby bly, sal gelukkig wees in wat hy doen (Jakobus 1:25b).
In alles is ons vry, en tog dienskneg van almal. Vry, en tog dienskneg van God. Vry, nie om self te besluit wat goed en reg is nie, maar vry om God en my naaste te dien volgens die volmaakte Wet van vryheid.
Die Wet en die Liefde←⤒🔗
In die tweede plek let ons nou op die Wet en die liefde. Hoe moet ons die uitspraak van die Here Jesus verstaan dat die hele Wet saamgevat kan word in hierdie woorde: "Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself"? Staan die liefde in die Nuwe Testament dan nou teenoor die Wet van die Here? Vervang die liefde die konkrete tien woorde van die Wet? Moet ons die Heidelbergse Kategismus herskryf en in die plek van die breedvoerige uiteensetting van die tien gebooie net twee gaan plaas, of dalk een, met die opskrif: Die groot Wet van die Liefde? Vervang die liefde nie dalk die konkrete gebooie of woorde van God nie?
Laat ons dit onmiddellik duidelik stel dat die Here, as bewys van ons liefde, konkrete gehoorsaamheid aan die Wet vra. Konkrete gehoorsaamheid aan 'n konkrete gebod. Hy wat wel liefde wil bewys, maar die Wet van die Here eenkant toe skuif, maak sy verhouding tot ander mense en tot die Here baie oppervlakkig en verval in algemeenhede. Die Here vra van ons die bewys van liefde in sy Wet, natuurlik, maar die inhoud van ons liefde in spesifieke situasies en omstandighede en tot spesifieke persone, word konkreet gemaak deur die spesifieke gebod. As ek wil weet hoe ek in hierdie omstandigheid aan daardie broeder of suster liefde wil bewys, luister dan na die Wet van God. Dan sal ons weet hoe om dit konkreet te maak. Liefde is nie maar 'n wollerige, emosionele gevoel teenoor iemand nie. Dit word konkreet in dade. Die liefde wil mense in hulle konkrete situasie met spesifieke node en behoeftes op 'n spesifieke tyd, sien. Die liefde is natuurlik die inhoud van die verskillende gebooie. Die verskillende gebooie maak dit moontlik om die liefde tasbaar hande en voete te gee – om dit konkreet te maak soos wat nodig is in elke omstandigheid. Dit is wat dit beteken dat die liefde die vervulling van die Wet is. Die liefde maak dit moontlik om die gebooie in elke omstandigheid gestalte te laat kry.
En tegelyk gaan die liefde verseker dat my naaste nie 'n voorwerp vir my word aan wie ek my gehoorsaamheid aan God kan kwytraak nie. In elke omstandigheid gaan ek my naaste sien as 'n besondere persoon aan wie liefde bewys moet word: ek moet hierdie persoon se goeie naam beskerm, volgens die negende gebod; of ek moet sy eiendom beskerm, want ek mag nie steel nie; of ek moet nie verval in jaloesie oor my naaste se huis, vrou of besittings nie, want die Here leer my dat ek nie my naaste se man of vrou, huis of besittings mag begeer nie. Gehoorsaamheid aan die konkrete gebooie moet gemotiveer wees deur 'n liefde vir God en my naaste. Die liefde bepaal die manier waarop ek die gebooie laat funksioneer in 'n besondere omstandigheid. Die liefde bewaar my daarvoor dat ek nie blind word vir die spesifieke persoon met wie ek te doen het nie. Sonder liefde vir my naaste en vir die Here verval ons in formalisme en moralisme. Sonder liefde is dit maar net 'n wet wat ek moet nakom vir hierdie spesifieke naaste.
In die optrede van die Here Jesus sien ons hoe die liefde as vervulling van die Wet sy volmaakte gestalte kry. Aan die laaste pasgamaaltyd het Jesus die voete van sy dissipels gewas en sy dissipels 'n nuwe gebod gegee. Hulle moet mekaar liefhê soos Hy hulle liefgehad het (Johannes 13:34). Christus het gekom om die wet te vervul, ja. Daarsonder kan ons nie eers begin om die Here gehoorsaam te wees nie. Maar Hy het ook vir ons deur sy liefde 'n voorbeeld nagelaat van hoe die liefde nie die wet tot eie voordeel wil gebruik nie, maar dat die liefde in 'n konkrete omstandigheid 'n heel konkrete bewys van liefde aan God en aan my naaste word.