Sondag 32: Heidelbergse Kategismus
Sondag 32: Heidelbergse Kategismus
Lees 1 Petrus 1:1-25; NGB Artikel 24
Christus het ook in u plek die wet van God volbring. Het u dit goed gehoor? Christus het nie alleen vir u gesterf nie, maar het ook in u plek geleef – geleef in gehoorsaamheid aan die hele wet van God. Laat dit in ons gedagtes vasgebrand wees wanneer ons die vraag gaan beantwoord: Hoekom moet ons dan nog goeie werke doen? Die laaste gedagte wat ons moet dink, is dat hierdie Sondag sê dat, as ons goeie werke doen, ons uit dankbaarheid vir God 'n teenprestasie moet lewer omdat Hy ons uit genade gered het. Ons sien dikwels God se vergewing van ons sondes as 'n geskenk van Christus, en ons goeie werke, ons heilige lewenswandel, as ons antwoord uit dankbaarheid. En dan glo ons ook dat die Heilige Gees nog daarby kom om ons so 'n bietjie daarin te help.
Maar dit sou 'n ernstige misvatting wees van die roeping wat vanuit die Woord van die Here tot ons kom: "Wees heilig, want Ek is heilig." Soos Hy wat ons geroep het, heilig is, so moet ons in ons hele lewenswandel, ook in ons goeie werke, heilig wees. (1 Petrus 1:15 en 16). Hierdie heerlike roeping beteken nie dat ons, nadat ons vergifnis in Christus gekry het, nou maar uit dankbaarheid moet gaan voortleef nie. Dit is harteloos! Dit is geen evangelie van bevryding nie. Dit is naakte slawerny! Dan word ons vasgevang onder 'n dubbele wet: Ek moet nou goeie werke gaan doen. En dan is die verskriklike nog daarby dat ek dit ook nog moet gaan doen uit dankbaarheid en liefde. Dit alles sou ons wegtrek van Christus.
God se opdrag is nie dat ons nou maar goeie werke moet gaan doen uit dankbaarheid nie. Luister goed wat dit beteken dat ons goeie werke moet doen. Ons het die opdrag om in geloof ook ons heiliging wat in Christus is, aan te neem en ook daarvolgens te wil lewe! Weer eens: om uit die geloof in Christus te gaan leef! Gaan leef nou in die volle vertroue dat Hy, wat jou sondes vergewe het, jou deur die Heilige Gees ook die vrugte sal gee wat by die vergifnis pas. Dít is die verantwoordelikheid wat ons nie van ons mag wegdruk nie! Gaan leef nou uit die geloof, volgens hierdie heilige roeping.
Ons moet in ons hele lewenswandel heilig word – heilig, want God is heilig; heilig, tot eie heil, heilig, tot heil van my naaste.
Heilig, want God is Heilig⤒🔗
Die heerlike boodskap van hierdie Sondag is dat Christus vir my ook 'n nuwe lewe verdien het. En nou laat Hy dit nie aan my oor om hierdie nuwe lewe in eie krag te gaan leef nie. Nee, Hy beloof om my ook met sy Heilige Gees nuut te kom maak, sodat ek na sy beeld verander sal word. Maar kyk baie goed: wie is die Persoon wat dit doen, wat my verander? Dit is Hy self, en Hy doen dit deur sy Heilige Gees. Dit is die Heilige Gees wat ons kom verander sodat ons met ons nuwe lewe kan wys dat ons God dankbaar is vir al sy genade. As ek dit heel formeel vir u kan sê: Christus het nie net my vergewing verdien nie, maar óók my heiliging. En nou kom deel Hy self dit aan my uit deur sy Heilige Gees wat heel konkreet in my kom werk.
Wanneer ek uit dankbaarheid gehoorsaam aan die Here gaan lewe, gebeur dit op dieselfde manier as wat ek die vergifnis in die Naam van Christus kry: deur die geloof! Ek gaan leef vanuit God se genadige roeping wat ek gekry het. Ek leef heilig deur die geloof, deur die roeping te aanvaar. Die apostel Petrus waarsku die gemeentes in Klein-Asië: "...wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word..." (1 Petrus 1:13). En hy sê dit direk voor die opdrag om die roeping om heilig te wees, na te kom. Die roeping om heilig te lewe, is gebou op hierdie fondament, naamlik dat ons heeltemal moet bly hoop op God se genade. 'n Klein bietjie later in hierdie brief, in vers 21, sien ons dat Petrus ons gaan wys op Hom in Wie ons geglo het: "Julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees." Hy wil vir ons wys dat, wanneer ons die roeping nakom, ons gedurig ons hoop op God moet bly stel. En dan: "As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart." (vers 22). Die heiliging van ons lewe kom deur die Gees van God in ons lewe. Bly daarom volkome hoop op die genade van God. Ook wanneer u geroep word tot goeie werke.
Wat 'n frustrasie sou dit gewees het as God al ons sondes vergewe het, maar geen nuwe mense van ons sou maak nie. Dan sou die Here wel alle dankbaarheid van ons vra, maar ons sou die dankbaarheid nooit in ons lewe gestalte kon laat kry nie. God se verlossing sou eintlik heeltemal buite ons lewe gestaan het, iets waarvan ons bloot kon kennis neem. Maar nou sien ons dat die Here ons in sy genade weer die heerlike roeping gee om heilig te wees. Om weer die werke te doen waarvoor die mens aanvanklik deur God gemaak is. Nie maar 'n paar sogenaamde goeie dade nie. Petrus skryf uitdruklik dat ons in ons hele lewenswandel heilig moet wees. Dit beteken nie dat ons heilige dade sal doen nie. Ons word ook werklik heilige mense, mense wat aan God gewy is deur sy genade. Mense in wie die Heilige Gees weer kom leef het, beheer van ons lewe oorgeneem het. Die Gees van God neem weer besit van my hele lewe.
Want kyk wat het Christus gedoen: Hy het ons deur sy bloed losgekoop uit ons vroeë ydele lewe (1 Petrus 1:18 en 19). Hy het ons losgekoop uit 'n lewe waar ons maar altyd weer net moes sondig. En nie net dit nie; ons moes ook gedurigdeur weer herinner word aan ons sondes, soos gebeur het in die Ou-Testamentiese erediens. Maar nou wys die Heilige Gees in die Nuwe Testament dat Christus gekom het en dat Hy eenmaal 'n offer gebring het om ons voor God te heilig. Ons het dus 'n gereinigde gewete, en daarom kan ons ook heilig voor God leef. Hy het ons werklik vry kom maak. Kyk maar hoe mooi beskryf ons doopsformulier dit: wanneer ons gedoop word in die Naam van die Heilige Gees, dan beloof die Gees ons dat Hy ons wil laat deel in alles wat ons in Christus het; dit is die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe. Só, deur hierdie daaglikse vernuwing, sal ons eendag, eendag, volkome rein 'n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes.
Ons is op pad om volkome rein te leef in die lewe hierna. Maar die pad daarheen word bewandel deur elke dag te lewe uit die belofte dat die Gees my ter wille van Christus nuut wil maak. Ek moet dus gaan leef volgens my roeping, en dit is om uit die geloof heilig te gaan lewe. Nie vanuit die verleiding van die duiwel wat ons wil laat leef vanuit die gedagte dat ons tog maar almal sondaars is en daarom eintlik nie goeie werke kan doen nie. Nee, Christus het ons van so 'n ydele wandel losgekoop. Dit is die wonder van die Nuwe Testament. Ons is geroepe heiliges! Die besef dat ek nog steeds sondaar is, bewaar my wel daarvan om my goeie werke los van Christus te soek. Want ek weet dat my beste werke nog met sonde besmet is. Maar dit is geen verskoning om in sonde te bly leef nie. Ek sien nou voor my die heerlike roeping om, in die vrees van God, Hom te gaan dien.
Dan word ons verlossing iets wat heel konkreet ook in ons lewe gestalte kry. Ek gaan leef volgens die gebooie van God. Ek begin anders met my kinders praat as wat 'n ongelowige dit doen. En gaan anders optree teenoor my man of my vrou as wat 'n heiden doen. Die aktiwiteite wat ek aangenaam vind vir ontspanning, word anders as die vryetydsbesteding van 'n ongelowige. Ek gaan let op die manier waarop ek aantrek. Hoe ek my geld bestee.
En hoe ek reageer op 'n medegelowige wat my in liefde en dalk met gebrekkige woorde wil help om heilig voor die Here te leef – sal ek reageer deur te sê: "Laat my in my sondes", of dank ek hom dat hy my verder in my heiliging wil help? Dit alles word dan konkreet 'n saak van geloof. My gehoorsaamheid en die manier waarop ek God volgens sy wet gehoorsaam, word dan nie 'n saak van die een of die ander se opinie of "gevoel" in die gemeente nie, maar 'n saak van geloof. Slegs op hierdie manier sal ons met mekaar kan praat en mekaar verder help in die roeping wat ons het om heilig voor die Here te leef. Ons sal mekaar gedurig weer op ons roeping kan wys en daarop aanspreekbaar wees.
Op dié manier gaan ons weer saam leef vir dit waarvoor ons gemaak is – om God te loof en te prys. Dan gaan leef ons weer as 'n koninklike priesterdom en 'n uitverkore geslag wat God vir Homself verkry het om die deugde te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Ons wat vroeër geen volk van God was nie, maar nou weer geroep is om heilig te wees; ons aan wie God nou deur sy heerlike roeping sy barmhartigheid bewys het.
Heilig, tot Eie Heil←⤒🔗
Ons moet heilig wees tot ons eie heil. Ons verkondig nie net die lof van die Here wanneer ons heilig lewe nie, ons kry ook self sekerheid. Hy wat vrugte van geloof dra, mag self ook uit hierdie vrugte sekerheid kry. Iemand wat nie heilig lewe nie, sal ook nie in die sekerheid van die geloof lewe nie. Die Here wil ons as sy kinders ook die sekerheid van ons verlossing laat geniet. Sodat ons nie soos golwe sal wees wat gedurig deur die wind gewaai word nie. Dat ons nie gedurig twyfel nie – is ek wel gered? Behoort ek wel aan die Here?
Waarin sien ons hierdie vrugte van die Gees waaruit ek verder sekerheid kry? Wat is die onfeilbare vrugte van die Gees wat ons in onsself met "geestelike blydskap en heilige vreugde" kan waarneem? (Dordtse Leerreëls, hoofstuk 1, paragraaf 12). Hierdie vrugte wat ons mag waarneem, is die geloof in Christus. Dit mag ons sekerheid gee. Wat?! Beteken dit, as ek werklik in Christus glo, dat die Gees in my werk? Ja, so eenvoudig is dit. As u geloof in Christus het, dan het die Gees dit in u gewerk. Hoe anders sou jy kon glo?! Dit is nie iets wat jy van jou ouers of grootouers kry nie. Geloof is nie iets wat jy ontvang omdat jy in 'n gelowige huis gebore is en daar grootgeword het nie. U mag uit die geloof versterk en bemoedig word, wetende dat die Gees van God in u werk.
Die tweede vrug wat die Dordtse Leerreëls noem as vrug van die Gees, is die "kinderlike vrees van God" wat ons by onsself kan opmerk. Dit noem Petrus ook as hy sê dat ons moet wandel in vrees (1 Petrus 1:17). Wat is hierdie godvresende wandel (1 Petrus 3:2)? Dit is die besef dat jy nie verdien om voor God te staan nie, maar weet dat jy ter wille van Christus weer deel het aan die genade van God. Dít is die wandel in die vrees van die Here. Wanneer ek hierdie geloof het, hierdie godvresende lewenswandel, dan mag ek tog sekerheid hê! Ek kan sien dat die Gees in my gewerk het en nog werk.
Het jy droefheid oor jou sonde? Honger en dors jy na die geregtigheid? Dit is die vrug van die Gees waaruit ek verder sekerheid kry van my verlossing. Is dit nie vertroostend nie? Want dikwels sien ons in ons eie lewe nog so min van die heiligheid waartoe ons geroep word. Wat 'n bemoediging is dit dan nie as ek hierdie vrugte van die geloof by myself bemerk nie! Ek word daardeur gesterk, bemoedig en verder gehelp in my roeping. Dan gaan leef ek nie maar slordig verder nie. Dan gaan leef ek só dat die goeie werke in my lewe al meer gestalte kry. Want ek leef met die Here wat heilig is.
En dan word die vrugte van die geloof meer. Want ek sien steeds die liefde van die Here vir 'n sondaar soos ek raak; en dan sien ek ook die dwaasheid om dan nie te lewe volgens my roeping nie. Waar onsekerheid is oor die Here se liefde vir my en sy genade oor my lewe, daar kom nie vrugte van dankbaarheid nie. Maar waar ons leef vanuit die geloof en vanuit die sekerheid dat ons deel het aan die genadige roeping van die Here om heilig te leef, daar werk die Gees oorvloedige vrugte van geloof, oorvloedige goeie werke, en dit alles tot my heil.
Heilig, tot Heil van My Naaste←⤒🔗
Ons is ook heilig tot heil van ons naaste. Ons sou baie maklik hier kon dink aan die positiewe uitwerking op mense buite die gemeente wanneer ons as gemeente werklik heilig lewe. As ons werklik gehoorsaam sal lewe, dan sal ons gemeente werklik 'n skynende stad op die berg wees wat gesien word, sodat hulle ook kan glo. Natuurlik is dit waar, en ook belangrik. Maar ons moet hier in die eerste plek aan die effek in die gemeente dink. Hoe kan ek seker maak dat ek my naaste in die gemeente nie wegstoot van Christus nie, maar hom of haar deur my heilige lewenswandel nader trek tot Christus? Deur gehoorsaam te wees aan die Here! Dit moet my eerste begeerte en roeping wees.
Dink maar hoe die een 'n ander van die Here af kan wegstoot deur 'n onverskillige houding en manier van lewe. Deur mekaar nie meer aan te moedig om heilig te leef, en ons volle saligheid in Christus te soek nie. Dink maar hoe ek ander gedurig kan irriteer deur my slegte gewoontes, deur 'n ongelowige manier van leef, deur te lewe asof ander nie in ag geneem moet word nie. As ons, wanneer ons voel dat ons te na gekom is, kwaad word en al ons emosies ten toon stel, terwyl die vrug van die Gees juis selfbeheersing is. Maar wat 'n bemoediging is daar nie ook hier vir ons, waar ek soveel moeite het met die manier waarop ander in die gemeente lewe nie! Ons kan dikwels soveel sorge hê oor die gebrek aan aanspreekbaarheid wat daar by my broeders of susters in die gemeente is. As ek probeer aanmoedig tot diens aan die Here, dan kom daar elke keer maar weer 'n reaksie wat soos 'n koue stort oor my val, wat eintlik sê: "Los my in my sonde." Hoe kan u nou daardie mense help? Daarin wil hierdie Sondagsafdeling ons ook verder onderrig.
Dink maar aan die woorde van die apostel Petrus, in 'n ander gedeelte van sy brief. Daar wil hy gelowige vroue wat met ongelowige manne getroud is, aanmoedig. Hy sê: "Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het." (1 Petrus 3:1-2). Dink maar wat 'n geweldige bemoediging is dit vir ons, as ons ontrou in die gemeente sien, dat ons hierdeur verder gehelp word deur getrou te gaan leef. Om heilig te gaan leef, want daardeur wen ek my naaste vir God. Word u ontmoedig deur onheilighede in die gemeente? Leef dan heilig, sodat u u naaste wen vir Christus. Maar dink ook daaraan hoe u leef en ander ontmoedig as u nie heilig leef nie. Want dit is u roeping: "Wees heilig, want Ek is heilig." Dink aan die geweldige teëstand wat u bied aan die werk van die Gees in die gemeente as u nie heilig is nie. Dink hoe bedroef u die Heilige Gees as u die werk van die Gees op hierdie manier teëstaan.
Maar ons sal ook moet vra of ons let op die goeie vrug van die Gees in die lewe van ander. Hoe maklik raak ons as ouers nie vol sorge oor ons kinders nie! Gedurig maar word sorge uitgespreek oor die toestand van die nuwe geslag en die jongmense van vandag. Laat ons bly wees oor die vrugte van die Gees wat ons ook in hulle lewe sien. Wanneer ons sien met watter ywer en gereeldheid hulle na die eredienste kom; met watter gretigheid hulle vra dat ouers hulle verder moet help en begelei in hulle geloof. Is dit nie die werk van die Gees nie? Sien ons dit raak en neem ons dit met blydskap waar? Word ons op hierdie manier saam verder gehelp om heilig te leef? En waar ons tereg sorge mag hê, laat ons in elk geval so godvresend voor hulle lewe, dat ons uit die godvresende lewenswandel van ons as ouers, ons kinders vir die Here wen. Hoe maklik gebeur dit nie dat ouers met hulle monde vol kritiek is op die lewe van hul kinders, terwyl dit uiteindelik maar die vrug is van wat hulle gesien en gehoor het van die manier van u omgaan met u roeping om voor God heilig te wees.
Laat ons elkeen voor die Here gaan leef in die genadige roeping wat ons in Christus het om heilig voor die Here te leef, want Hy is heilig! Hy het ons verkies deur die voorkennis van die Vader, geroep in die heiligmaking van die Gees tot gehoorsaamheid en besprinkeling met die bloed van Jesus Christus. Mag van hieruit genade en vrede vir u en my vermenigvuldig word! (1 Petrus 1:2).