4 bladsye.

Sondag 30: Heidelbergse Kategismus

Lees 2 Korintiërs 13

Bybel en beker🔗

Voorbereiding op die Nagmaal🔗

Ons het die gebruik om die week voordat ons as gemeente saam die heilige nagmaal vier, voorbereiding vir die viering te doen. Altans, so lui ons gereelde afkondiging op die Sondag voor die nagmaalsviering. Heel plegtig kondig ons dit aan: "Vandag is dit voorbereiding vir die viering van die nagmaal, wat ons as die Here wil volgende week saam sal vier." Nou is die vraag: weet ons wel wat ons hiermee bedoel, dat ons onsself voorberei? Dikwels is die preek op hierdie Sondag ook nie anders as enige ander preek op enige ander Sondag nie. Dalk word daar nog so terloops in die preek herinner dat daar volgende week nagmaal gevier word. Maar wat moet u as gemeente nou eintlik doen? Wat word van ons verwag? En moet die predikant op daardie Sondag nie 'n preek van 'n totaal ander aard lewer nie?

Wat is die gedagte wat onder ons leef oor die voorbereiding vir die nagmaal? Is dit dat ons op een of ander manier moet vasstel dat ek tog wel die volgende Sondag die nagmaal mag vier? By ons kom die gedagte duidelik na vore dat ek op een of ander manier selfondersoek moet doen. Dit is deel van die voorbereiding. Maar wat is selfondersoek, en dan met name in die lig van die Woord van die Here? Want ons kry wel duidelik in die Woord die opdrag dat ons onsself moet ondersoek of ons in die geloof is, soos ons gelees het in 2 Korintiërs 13:5.

Ons moet seker wees dat Christus in ons is. Dít is die opdrag wat die apostel Paulus gee, wanneer hy sê dat ons selfondersoek moet doen: Is julle seker dat Christus in julle is? Hy is in ons slegs deur 'n ware geloof, en tot eer van God.

Onwaardige Wyse Eet en Drink🔗

Ons let nou in die eerste plek daarop dat Christus alleen in ons is en dat ons alleen ware selfondersoek kan doen, deur geloof. Op grond van die vermaning om nie op onwaardige wyse deel te neem aan die nagmaal nie, het ons die neiging begin kry om by die selfbeproewing die vraag te probeer beantwoord of ek waardig is om aan die nagmaalstafel van Christus te gaan. Asof enigiemand daarvoor ooit "waardig" sou kon wees! Hoe gaan ek agterkom of ek waardig is? In ons verstaan van Paulus se woorde aan die Korintiërs om nie "op onwaardige wyse" te eet en te drink nie, moet ons baie goed let op die omstandighede waarin hy dit sê.

Ons lees daarvan in 1 Korintiërs 11. Hy skryf hierdie woorde aan 'n gemeente wat wanpraktyke gehad het veral rondom die sogenaamde "liefdesmaaltye". Die nagmaal het deel gevorm van die groter maaltye waarin onderlinge liefdebetoon en diensbaarheid aan mekaar bewys is. Hierdie etes het ongelukkig ontaard in geleenthede waar al hoe meer selfgesentreerdheid en liefdeloosheid die oorhand gekry het, in plaas daarvan dat daar liefde bewys is. Die rykes het die geleentheid gebruik, nie meer om liefde aan die armes te bewys nie, maar om met hul rykdom te pronk. Hulle het hulself vergryp aan hul oorvloed en het feesgevier terwyl die armes moes sit en toekyk. Van die oorvloed van voedsel, wat die Here hulle gegee het, het die rykes nie gedeel met hulle in die gemeente wat minder het nie.

maaltyd

In hierdie omstandighede kom Paulus se bestraffing teen die verworde liefdesmaaltye, wat veroorsaak het dat die nagmaal self ontheilig word. Indien die nagmaal op hierdie manier gevier word, as daar nie meer liefde bewys word nie, dan word dit op 'n onwaardige manier gevier. Hy waarsku nie dat daar sekere mense in die gemeente is wat onwaardig sou wees om aan die nagmaal te gaan nie. Dit sê die apostel Paulus glad nie. Wanneer dit so sou wees, dan sou daar 'n nuwe "elite" binne die gemeente gevorm word – die hoogheiliges wat aan die nagmaalstafel mag gaan, die uitgesonderdes. Die ander, wat nog so worstel met hulle sondes, is dan onwaardig; en ons kyk dan met die neus in die lug as hulle dit sou durf waag om aan die nagmaalstafel te gaan. Nee, die apostel waarsku nie teen "onwaardiges" wat aan die tafel gaan nie. Hy waarsku teen 'n onwaardige manier van nagmaal vier – in liefdeloosheid teenoor die ander broeder en suster, soos wat dit in die gemeente van Korinte voorgekom het.

Sulke liefdeloosheid pas nie by die liggaam en bloed van Christus, by die nagmaal, nie! Want wat gebeur daar? Daar sien ons juis hoe Christus Homself gegee het. Hy wat ryk was, het arm geword ter wille van ons. En daarom pas die rykes, wat pronk met hulle vere, nie by die nagmaal nie. Daar pas diensbaarheid teenoor mekaar en bewyse van liefde. As ek dus kom om as 't ware te pronk, dan vier ek dit op 'n verkeerde manier. Hy wat Christus se liggaam kan onderskei (vers 29), sal weet dat sulke goedkoop hoogmoed, soos wat in Korinte by die rykes voorgekom het, nie pas by die liggaam van Christus wat gekruisig is en by sy bloed wat as offer gevloei het nie. Dit gaan nie daaroor dat 'n gedeelte van die gemeente liefs van die nagmaal moes wegbly nie.

Selfondersoek🔗

Maar beteken dit wat ons pas gesê het, dan nie dat ons so 'n bietjie die erns van die nagmaalstafel afwater nie? Beteken dit dat enigeen, ongeag hoe hy leef of wat hy glo, aan die nagmaalstafel mag kom? Beteken dit dat ons daarmee sê dat selfondersoek dus eintlik nie nodig is nie? Sê ons dus daarmee ook dat 'n huigelaar en iemand wat nog nie tot God bekeer is nie, aan die tafel kan gaan?

O nee, ons bely juis in Sondag 30 dat so iemand alleen maar tot sy eie oordeel aan tafel sal kom. Maar ons moet wel seker maak dat, as ons selfondersoek doen, ons besig is met selfondersoek wanneer ons gereed maak om aan die tafel te gaan. Want wat is die tipe vrae wat ons onsself in die selfondersoek dikwels vra? Ons sal onsself byvoorbeeld afvra: Het ek nie te swaar gesondig om aan die nagmaal te gaan nie? Is my sondebesef wel groot genoeg sodat ek wel mag gaan? Is ook ek werklik welkom aan die nagmaalstafel? Dit is vrae wat in hierdie gemeente gevra word. U weet dit. En ons oortuig onsself dat hierdie vrae baie vroom vrae is. Maar wat is hierdie vrae? Is dit selfondersoek?

Nee, dink mooi oor hierdie vrae. Hierdie vrae is aanklagte teen die genade van die Here. Dit is 'n betwyfeling van die egtheid van God se bedoeling om ons sy kinders te noem, dat Hy ons deel van sy gemeente gemaak het. Dit is 'n betwyfeling van God se genade. U bevraagteken die grootheid van God se genade op hierdie manier! Dit is 'n belediging vir God! Die evangelie word tog verkondig sodat die grootste van alle sondaars gered kan word!

Hierdie vrae soos ons dit hierbo geformuleer het, is slegs selfkritiek. Kritiek wat selfs 'n huigelaar teen homself sal uitspreek: "My sondes is darem groot; miskien is iemand soos ek, wat roekeloos lewe, nie welkom aan die tafel nie; dalk moet ek probeer om minder van myself te dink en meer aan my sondebesef te werk." Selfbeproewing het niks te doen met die huigelaar wat selfkritiek uitspreek oor dinge wat in sy lewe pla, hom skuldig laat voel en tog wel sal moet verbeter nie. Selfs 'n ongelowige sal erken dat sy lewe nie is soos wat hy dink dit behoort te wees nie.

Ons moet leer sien dat ware selfbeproewing 'n saak van geloof is. Dit beteken om onsself te bekyk nie in die lig van my gevoelens oor myself nie, of in die lig van wat ander oor my sê of van wat ek dink hulle oor my sê nie, maar dat ek myself moet gaan beproef in die lig van wat die Woord van God oor my te sê het. Nie om kritiek op myself uit te spreek oor dinge wat my oor myself irriteer nie. Maar om myself te sien in die lig van God se wet. Dan sal ek nie langer kritiek op myself hê nie, maar dan sal ek, soos antwoord 81 sê: "'n afkeer van myself hê". Ek sal nie sê: "Hier kort nog so 'n ietsie, daar moet ek nog aan iets skawe, en aan daardie kant is nog verfwerk nodig, sodat ek myself beter kan presenteer" nie. As ek myself sien in die lig van God se wet, dan sal ek 'n afkeer van myself kry en saam met Paulus uitroep: "Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?" (Romeine 7:24). My beste werke sal sake wees waaroor ek my voor God skaam.

Bybelstudie

Maar daar hou gelowige selfondersoek gelukkig nie op nie, want nou gaan ek ook in die geloof luister na wat die Woord verder oor my sê. Die Skrif vertel my ook dat God in sy genade met my 'n verbond gesluit het. Hy bedoel dit as Hy Christus week na week aan my laat verkondig. Ek mag nie vra of sy genade ook vir my is nie. Dit het niks te doen met selfondersoek nie, dit is kritiek op God! Dit is ongeloof! Of neem u God nie ernstig op nie? Dink u dat ons besig is met 'n speletjie, met 'n roetine, wanneer die Woord aan u verkondig word? Selfondersoek vra dus nie: "Is dit ook vir my?" nie. Selfondersoek vra: "Waarom glo ek dit nie?" God bedoel dit so eg! Hy is tog aan die Woord! Glo jy dan nie vir God as Hy sê: "My genade is vir jou genoeg" nie (2 Korintiërs 12:9)?

Die vraag is ook nie of jou sondebesef groot genoeg is nie. Die vraag is of jy wel sien dat Christus se bloed ook vir jou genoegsaam is. Sien u dit? Genoegsaamheid lê nooit by my nie; genoeg sondebesef, genoeg selfverloëning, genoeg ... noem maar op! Die genoegsaamheid lê buite my. Alle genoegsaamheid wat ek by myself soek, is per definisie 'n kritiek op die genoegsaamheid van Christus. Ek mag nie twyfel of ook ek welkom is by Christus nie. Het God dit dan nie bedoel toe Hy vir jou kom sê het dat Hy ter wille van Christus ook vir jou 'n Vader wil wees nie? Het die Seun dit nie opreg bedoel toe Hy gesê het dat Hy sy bloed ook vir jou stort nie? Die Gees het ook mos vir jou belowe dat Hy jou die geloof sal gee wat nodig is om ryk te wees uit die rykdom van Christus, geloof wat jy tog nooit uit jouself sal kan produseer nie. Geloof is mos 'n genadegawe van die Gees. Dit leer die Woord ons.

As ek aan al hierdie dinge twyfel, is ek nie besig met vrome selfondersoek nie, maar is ek besig om God te versoek – om Hom te beproef, en nie myself nie! Is Hy wel goed genoeg om my God te wees?

U hoor dit, dit is laster. Ware selfbeproewing begin nie by die onsekerheid van my eie sondes en ongeregtighede nie. Hoe vroom dit ook al vir ons mag lyk. Dit begin by die grootheid van God se genade. Daarom, en hierby moet ons uitkom, is selfbeproewing uiteindelik die vraag: Glo ek in Christus wat Homself tot in die dood vir my verneder het? Het jy 'n afkeer van jouself gekry en jou toevlug tot Christus geneem? Dit is die vraag waarop ek 'n antwoord moet kry. Het jy al na Christus gevlug? Glo jy dat jou sondes jou ter wille van Christus vergewe is? Glo jy dat die swakhede wat daar nog in jou is, deur die lyding en sterwe van Christus bedek is? Glo jy dit, of weier jy om dit te glo? Begeer jy om jou geloof in Hom hoe langer hoe meer te versterk en jou lewe te verbeter deur die krag wat die Heilige Gees jou beloof het? Dit is die vrae wat in Sondag 30 aan die orde gestel word. Die huigelaars is hulle wat hulle nie grondig tot Christus bekeer nie.

Ons moet sien dat die nagmaal 'n ete is. Wie is hulle wat na die nagmaal van die Here moet kom? Dit is wat in vraag 81 gevra word. Hulle wat honger en dors is! Hulle wat honger en dors na die geregtigheid van Christus. As u versadig is sonder Christus, bly weg van die tafel. Aan die nagmaalstafel word voedsel uitgedeel vir hongerige siele. Daar word te drinke gegee vir hulle wat soos 'n hert in dorre streke skreeuend dors na die genot van God se genade. Op grond dus van die sekerheid van God se genade kom vra die Here nou vir jou om jouself te beproef – glo jy werklik in Christus? Begeer jy werklik dat jou lewe moet verander? Dit is dus die ware selfondersoek.

Selfondersoek tot Sy Eer🔗

Selfondersoek moet gedoen word tot eer van God.  Waarom moet ek dus selfondersoek doen? Hierdie is 'n belangrike vraag, want ons is selfs hierin dikwels so selfsugtig en selfgesentreerd besig. Moet ek selfondersoek doen om tot die gevolgtrekking te kom: "Alles is wel, alles is wel met my siel"? Daardie lastige aanklagte van my gewete kan ek maar rustig stil maak, want alles is tog wel reg met my. Is die selfondersoek, die viering van die nagmaal, die bywoning van hierdie erediens, daarop gerig om u onrustigheid weer te kalmeer en u te verseker alles is nie só erg nie; ek hoef dit dalk tog nie so ernstig te neem met die wet van God nie?

Ek ondersoek nie myself om sodoende onrus in my lewe weg te kry nie. Die selfbeproewing in die lig van God se Woord wil my daartoe bring om my lewe te verander, om as kind van God te gaan lewe, om my te bekeer van my sondes.

nagmaal

Want die selfondersoek is nie in die eerste plek op myself gerig nie, maar op my lewe met God, tot sy eer. As ek in die lig van God se wet ontdek het dat ek nie alleen op die Here vertrou nie – dit is die eerste gebod van God se wet waarvolgens ek moet leef – span ek my dan in om my te verset teen al die afgode wat ek in my lewe het, om so op God alleen te vertrou? Ons gaan na die vierde gebod. As ek besef dat ek nie met 'n vurige liefde na die eredienste verlang nie, my nie verbly in die diens aan die Here nie, dan gaan ondersoek ek waar die fout by my lê. Want ek wil dit verander, dit kan nie so bly in my lewe nie. Wanneer die wet van die Here my in die sewende gebod leer dat alle getroudes en ongetroudes hulle liggame as tempels van God moet heilig, dan let ek op die manier hoe ek omgaan met die liggaam van my verloofde, my vriend of my vriendin, my man of my vrou. Want ek besef dat ek nie altyd so kan aangaan as wat ek nou besig is nie.

Selfbeproewing wil nie my gewete sus nie, maar dit moet daartoe lei dat ek gaan verander, meer tot eer van God gaan leef. As selfondersoek nie daartoe lei dat ek my lewe verander nie, dan is dit nie gelowig gedoen nie. Dan dien dit net om my gewete te sus, en nie tot God se eer nie. Net om my al meer ingenome met myself te laat voel. Dan kom daar vrede alleen omdat ons dink dat ons sonde tog nie so erg is nie. Dit is goed genoeg soos ek leef, nie té sleg nie. Ek is selfgenoegsaam. Tussen God en ons bly daar in só 'n geval skeiding. Die vraag is nie of ek myself goed genoeg ag nie, maar of ons leef soos God wil hê dat ons moet leef!

Die doel van selfondersoek is nie om tog maar weer vas te stel dat ek tog wel glo nie. Ek is werklik nie 'n huigelaar nie. Ek glo wel. Maar stel u voor hier was geen huigelaar in die gemeente nie – sal hier dan geen selfondersoek meer nodig wees nie? Sou dit beteken dat ons dit maar kan afskaf? Die selfondersoek is nodig sodat ek kan sien hoe ek my gedurig weer tot die Here moet bekeer, om weer te gaan lewe volgens sy volmaakte Woord, sy wil en wet. Ons selfondersoek is tog daarop gerig dat God die eer in ons lewe moet kry wat Hom toekom. Dan glo ons nie dat die brood en wyn aan die nagmaalstafel in Christus se liggaam en bloed verander nie. Maar ons glo wel dat die deelnemers aan die tafel verander na die beeld van Christus! Daar moet wel iets verander: nie die brood en wyn nie, maar uself, en ek! Dit is iets wat die Reformatore oor en oor beklemtoon het in die stryd teen die Roomse mis: ons glo nie aan die tekens wat verander nie, maar aan die deelnemers wat verander. Die nagmaal en wat daarmee gepaard gaan, bring my tot gelowige selfondersoek. Nie om God te beproef nie, maar myself.

Moet dié mense aan die nagmaal toegelaat word wat met hul belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is (vraag 82)? Nee, want hulle ontheilig die verbond van God. As ons hulle toelaat, word die toorn van God oor die hele gemeente gewek. Laat ons daarom toesig hou op onsself en op mekaar, en mekaar bemoedig om te lewe volgens die genade van God in die evangelie. Hierdie genade wil ons verander sodat ons nie in ons sonde volhard nie, maar by Christus vergifnis kan kry en by die Gees krag om dit te oorwin.

Selfondersoek moet ons so lei dat ons in 'n rein verhouding met ons hemelse Vader kan lewe. 'n Rein gewete gewas in die bloed van Christus. Nie alleen die vermyding van growwe sondes, sodat ons goeie naam in die gemeente nie in die gedrang kom nie. Maar 'n najaag van die heiliging, sodat ons God sal sien in ons eie lewe en in die lewe van die gemeente. Sien ons God in ons daaglikse lewe? Kan ons as gemeente getuig van 'n heilige lewe voor die aangesig van God? Dit is waartoe ware selfondersoek ons wil bring.

Christus is wel gekruisig in swakheid, maar Hy lewe uit die krag van God. En ons mag met Hom lewe deur die krag van God (2 Korintiërs 13:4). Laat ons onsself ondersoek of ons in hierdie geloof is. Laat ons seker wees dat Christus in ons is. En laat ons selftug toepas, sodat dit nie nodig word dat ander ons hoef te vermaan en ons uit die gemeente van Christus uitgesluit hoef te word nie.