Sekularisme en die Gereformeerde se profetiese roeping
Sekularisme en die Gereformeerde se profetiese roeping
Sekularisasie en sekularisme⤒🔗
Sekularisme is 'n moeilike woord. Dit is bykans onmoontlik om hierdie begrip afgerond te definieer. Die moeilikheid om te kom tot 'n suiwer begripsbepaling is veroorsaak deur die feit dat sekularisme dikwels in een asem gebruik word met sekularisasie. Wat die een sekularisasie noem, noem die ander sekularisme en omgekeerd. Elke wetenskapper het sy eie definisie. In die Duitse taalgebied word deur geleerdes onderskeid gemaak tussen Sákularisation en Sákularismus. Met die eerste woord word bedoel 'n onttrekking aan sy oorspronklike bestemming van iets wat gewyd is. Byvoorbeeld 'n kerkgebou word verander in 'n skouburg, 'n doopvont word gebruik as 'n drinkbak. Die tweede woord dui volgens die Duitse outeurs 'n geestelike proses aan. Dan kry die woord die betekenis van 'n lewenshouding los van God. Dan word byvoorbeeld die natuur beskou as iets wat niks te doen het met 'n goddelike skeppingsdaad.
Gogarten (1953:143) onderskei tussen sekularisasie en sekularisme waarby hy sekularisasie positief waardeer as 'n beweging wat binne die grense van die saaklikheid bly, terwyl volgens hom sekularisme oor die grens gaan en ons in die newels bring van 'n ideologie en 'n nuwe mite.
Om die begrip sekularisasie teenoor sekularisme af te baken gaan ons veilig wanneer ons teruggaan na die geboorte-uur van die begrip sekularisasie. In die vredesonderhandelinge te Westfalen in 1648 na die dertigjarige oorlog is die woord sekularisasie waarskynlik vir die eerste keer deur die Franse gesant Abel Servien gebruik (Rogier,1968:10). By die verdeling van sekere gebiede in Duitsland is 'n aantal streke gesekulariseer. Hulle is ontrek aan die mag van die Roomse kerk. So het sekularisasie die betekenis gekry van ontrekking aan die invloed van die kerk.
Toe die begrip sekularisasie in die teologie opgekom het, is sekularisasie verstaan as die afwending van die moderne wêreld aan die Christendom. Die begrip het 'n negatiewe konnotasie gehad. Maar deur invloed van Gogarten en Bonhoeffer is steeds meer ingesien dat daar ook baie positiewe elemente in die sekularisasie-proses waargeneem kan word. Sekularisasie beteken in baie gevalle ook bevryding, byvoorbeeld bevryding van bevoogding. Veral onder invloed van Gogarten met sy nuttige onderskeiding tussen sekularisasie en sekularisme is die beweging los van die kerk en los van die Christendom as sekularisme aangedui. Namate verskillende lewensterreine onttrek is aan godsdienstige en religieuse invloed, is hierdie onttrekking beskryf met die begrip sekularisme.
In ons moderne tyd is hierdie proses van sekularisme voluit aan die gang. Die godsdienssosioloog G. Dekker beskryf uitvoerig die verskillende prosesse waarvolgens hierdie onttrekking plaasvind (Dekker 1975:101-134). Maar dit is nou hier nie ter sake nie.
Watter faktore het sekularisme veroorsaak?←⤒🔗
As oorsake van sekularisme kan genoem word:
- tegnologiese ontwikkeling,
- matelose selfoorskatting van die wetenskap,
- toenemende welvaart,
- invloed van die media,
- afname van sosiale kontrole,
- devaluering van die huwelik,
- 'n seksualiteit wat van sy taboe ontslae geraak het,
- 'n sterk dinamisering van die samelewing.
Gevolg van dit alles is 'n marginalisering van die godsdiens. Godsdiens het meer en meer 'n randverskynsel geword. Religie is nie meer iets wat rus op openbaring nie, maar word net gesien as 'n saak van ervaring. Dit is nie belangrik wat jy glo nie, dat jy glo is waar dit op aan kom. Die geloofshouding, die fides qua creditur is belangrik. Die geloofsinhoud, die fides quae creditur word gereduseer tot 'n randverskynsel. Bultmann het dit reeds gepropageer en sy leerlinge Fuchs en Ebeling het dit verder uitgewerk (Floor, 1970:99). In feite kom dit daarop neer dat iemand 'n Boeddhis kan wees, of 'n Islamiet, of 'n christen. Die inhoud van die geloof is nie so belangrik nie. Dit gaan om 'n geloofshouding.
Die gevolge van sekularisme←⤒🔗
Sekularisme het — om slegs twee terreine te noem — op die mens en op die kerk 'n geweldige invloed uitgeoefen.
Die Leuvense filosoof Den Dijn het daarop gewys dat die sekularisme 'n nuwe mensbeeld geskep het. Die gesekulariseerde mens staan onder die invloed van wat hy noem die post-moderne narsisme (Den Dijn, 1994:89). Hy is 'n mens wat net besig is met homself. Hy is nêrens mee verbind: nie met God nie, nie met die wêreld nie, nie met sy medemens nie. God is dood. Daar is geen sentrum van waarheid nie. Alle vorme van outoriteit staan onder verdenking, alles is gelykwaardig. Daar kan geen onderskeid gemaak word tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, waardevol of waardeloos nie. "Nothing matters, anything goes", is die leuse, relativisme die wagwoord (Lang,1950:67).
Ook op die kerk is die invloed van sekularisme nie gering nie. Gevolg van sekularisme is 'n duidelike funksieverlies van die kerk in die samelewing. Baie terreine van die samelewing is gesekulariseer, onttrek aan die invloed van die kerk. Onderwys, kuns, literatuur, politiek — dit is alles terreine waarop die kerk weinig of niks meer kan bereik nie.
Die reaksie van die kerk op sekularisme←⤒🔗
Wat is die reaksie van die kerk op hierdie vloedgolf van sekularisme wat dreig om haar te oorspoel? Daar is by die kerke oor die hele wêreld - inklusief Suid-Afrika - in groot lyne drie houdinge teenoor die voortgaande proses van sekularisme:
- Die kerk trek hom terug op die vertroude en veilige terrein van die tradisie. Ons hou vas aan wat ons van die vaders geleer het. Hierdie verskynsel sien ons in die Rooms-Katolieke kerk en in die Protestantse kerke. In die Rooms-Katolieke kerk lei dit in sommige kringe tot herlewing van die ultramontanisme uit die 19e eeu. Die gesag van pous en kerk moet met behoud van die ou kerklike tradisie weer voluit op verskillende terreine van die lewe soos huwelik, maatskappy, politiek, erken word. In die Protestantse kerke kan dieselfde verskynsel waargeneem word. Dit is opmerklik dat byvoorbeeld in Nederland in verskillende Gereformeerde denominasies: soos die Chr. Geref. Kerken, die Gereformeerde Gemeenten, die Gereformeerde Bond van die Hervormde kerk 'n sterk verskuiwing na regs plaasvind. Omdat daar in die wêreld soveel verander, mag daar in die kerk niks verander nie. Alles moet dieselfde bly: die kerklike organisasie, die liturgie, die Bybelvertaling, die psalmberyming, selfs kleredrag. Al die veranderings in die wêreld gee baie mense in die kerk 'n gevoel van onveiligheid en onsekerheid. Die ou, gevestigde gebruike in die kerk bring 'n gevoel van veiligheid en rus. Hierdie houding wat in verskillende denominasies dwars oor die wêreld aangetref word, word deur sommige as veilig en beskuttend beskou. Dit is volgens hulle die enigste doeltreffende wapen teen die invloed van sekularisme. Ander kla egter dat dit verstarring en selfs verstening bewerk.
- 'n Tweede houding is dat die kerk juis nou in die wêreld moet inbeweeg. Die kerk moet aggressief teenoor die invloed van sekularisme optree. Die kerk moet homself manifesteer as 'n maatskappy-kritiese voorhoede. Die kerk skryf die agenda vir die wêreld. In die liturgie moet dit wat in die wêreld populêr is, opgeneem en verwerk word. Die kerk moet krities reageer op wat in die wêreld gebeur. Die prediking moet aktuele maatskaplike, sosiale en politieke probleme aansny. Kerklike formuliere is outydse dokumente wat nog net goed genoeg is om in 'n museum gebêre te word. Baie kerke wat by die Wêreldraad van kerke aangesluit is, vertoon hierdie beeld. Dieselfde kerke kla egter oor verlies van lidmate. Baie lidmate bedank die kerk. Sommige kerke lyk soos 'n generale staf onder soldate. Daar is bekwame leiers, goed toegeruste amptenare, 'n groot aantal sosiale en maatskaplike werkers, maar die aanslag op die maatskappy is uiters gering.
- 'n Derde houding as reaksie op die proses van sekularisme is 'n kerk wat professionaliseer. Alle heil word verwag van 'n kader van goed opgeleide professionals. Hulle is gespesialiseer jn allerlei sosiaal- en gemeenskapsgerigte aktiwiteite. Gemeente-opbou, toerusting vir 'n taak in die wêreld staan op die agenda van die kerk. Dikwels is daar dan sprake van 'n bepaalde gemeente-opbou model. In die plek van die Bybelse model vir gemeente-opbou is daar 'n organisatoriese en strukturele benadering in gemeente-opbou wat soms ten koste gaan van geestelike opbou en spiritualiteit. So moet die kerk weer 'n werwende, aktiewe gemeenskap wees. Die resultaat is dikwels 'n sterk gesosialiseerde kerk. Die kerk is 'n christelik georganiseerde workshop. Geen van die drie houdinge spreek die sekularisme aan en is by magte die proses van sekularisme in die samelewing te keer nie.
Die Gereformeerde se roeping←⤒🔗
Wat is die Gereformeerde(s) se roeping in hierdie tyd van ver deurgevoerde sekularisme? Dr. A.W. Velema wat op hierdie vraag op 'n ampsdraerskonferensie van die Herv. Kerk in Nederland 'n antwoord gegee het, staan uitermate krities teenoor al die pogings wat aangewend word om deur middel van gemeente-opbou die proses van sekularisme te stuit (Velema, 1996:191-195; 209-211). Hy soek in 'n ander rigting: 'n oplossing om die lidmate by die kerk te hou en om die kerk weerbaar te maak teen al die invloede van buite.
Hy wys op twee dinge: op pastoraat en liturgie. Hy spreek nie van sekularisme nie, maar wys op sekularisasie. Hy aanvaar sekularisasie as 'n positiewe gegewe. Met daardie vertrekpunt gaan hy uit van die standpunt dat die pastor en ook die lidmaat gesekulariseer is. Die gesekulariseerde pastor moet met die gesekulariseerde lidmaat kommunikeer. Eie aarselinge in verband met religie en geloof moet saam deurgepraat word. Dan moet die liturgie die ruimte bied om met al die vrae by God uit te kom. In die ruimte van die liturgie moet ons saam bid om die inspirasie van die Gees. Wat die invulling van die begrippe pastoraat en liturgie betref, bly Velema vaag. Hoe die inspirasie van die Gees ontvang word en waarin dit bestaan, maak Velema helaas nie duidelik nie.
Die groot vraag is hier watter inhoud deur pastor en liturg aan pastoraat en liturgie gegee word. In verskillende kerke vind ons 'n gesekulariseerde pastoraat en 'n aan die wêreld aangepaste liturgie. Watter antwoorde word gegee op die vrae en aarselinge in verband met religie en geloof? Wat mag ons verwag van die inspirasie van die Gees? Is die Woord hierby ingeskakel of speel dit maar 'n ondergeskikte rol? Die gevaar is hier dat wanneer die norm van die Woord ontbreek, daar 'n spiritualiteit onstaan wat nie dieselfde is as wat in die Bybel as spiritualiteit aangedui word nie.
Drie kerkhistoriese aanwysers←⤒🔗
Om 'n antwoord te soek op die vraag na die Gereformeerde se profetiese roeping is dit belangrik om terug te gaan in die kerkgeskiedenis. Ons tyd is nie die enigste tyd wat deur sekularisme gekenmerk is nie. Daar kan in die kerkgeskiedenis drie periodes van duidelike sekularisme in sy oorspronklike betekenis geïdentifiseer word. Tegelyk kan aangetoon word watter antwoord die kerk in daardie tyd op die aanslag van sekularisme gegee het. Hoewel die woord sekularisme nog nie in gebruik was nie, was daar in vroeër tye kerklike en maatskaplike simptome wat ons vandag as sekularisme sou aandui.
Die vroeë kerk←↰⤒🔗
Eerstens is daar die vroeë kerk, die kerk van die Apostoliese Vaders. Die eerste eeu van die christelike kerk was by uitstek 'n tyd van sekularisme. Die godsdiens - sowel die Griekse as die Romeinse - was in verval.
Daardie tyd is gekenmerk deur 'n volkome bankrotskap van die religie. Eerbied vir die Griekse gode wat op die Olimpus geboer en gehoereer het, het verdwyn. Die gode wat hulle aan allerlei ondeugde soos egbreuk, toorn, towery, intriges skuldig gemaak het, moes tegelyk die handhawers van geregtigheid wees. Dit het meer en meer die mense tot die gevolgtrekking laat kom dat sulke gode slegs verdigsels is. Die ou volksgeloof in natuurmagte het die mense bly beoefen.
Die Romeinse godsdiens met hulle kontraktuele benadering kon die mense ook nie meer aanspreek nie. Die penate of huisgode was onpersoonlike relikwieë. Die vertroue in hulle gode het by die Romeine drasties afgeneem.
Die reaksie op die bankrotskap van die bestaande religies was tweevoudig. Aan die een kant het daar 'n gees van kosmopolitisme in die lewensuitkyk van daardie mense ontstaan wat nogal goed vergelyk met die mense van ons tyd. Die samelewing in al sy vorme is byna geheel onttrek aan die religie. Tog kon godsdiens nie geheel aan die kant geskuif word nie. Die mens is immers diep in sy wese religieus. Daar is na 'n ander soort godsdiens gesoek. Die antwoord het uit die Ooste gekom met die opmars van die Misteriegodsdienste wat van Oosterse oorsprong is. Opvallend is dat soos in ons gesekulariseerde tyd die mense soek na ervaring en spiritualiteit, so het die mense in daardie tyd die toevlug tot die Misteriegodsdienste geneem (Duvenage, s.j. 24-26).
Maar ondanks 'n godsdienstige vernuwing het die mensheid in daardie tyd weggesink in 'n ontsaglike sedelike moeras. Paulus skilder in Romeine 1:18-32 'n donker beeld van die sedelike verval van sy dae.
In 'n tyd soos daardie tree die christelike kerk op en vervul hy sy profetiese roeping in die samelewing. Wat het die kerk gedoen? Lees die geskrifte van die Apostoliese Vaders. In hulle geskrifte staan die praktyk van 'n christelike lewenswandel sterk op die voorgrond. Dit word telkens aan die orde gestel. Tipies christelike elemente soos nederigheid, gehoorsaamheid word onophoudelik benadruk. Daar is in die geskrifte van die Apostoliese Vaders een uitstaande kenmerk: 'n opregte en vurige geloof in Christus (Klijn,1967:128). Verder is dit opmerklik dat die christelike lewenswyse voortdurend in verband gebring word met die werk van Christus (Klijn,1967:130).
Prediking en lewe was in alle opsigte Christus-gesentreerd. Seker was daar 'n gebrek aan originaliteit, soos Torrance tereg opgemerk het. Teenoor die aanstromende buitewêreld kon hulle "weerstand bied deur hulle karakteristieke lewenswyse” (Klijn, 1967:132). Op die punt van die leer van Christus was daar nie 'n sterk dogmatiese refleksie nie: 'The most astonishing feature was the failure to grasp the significance of the death of Christ' (Torrance, 1948:137). Maar die konsentrasie op die Persoon van Christus was indrukwekkend en dit het 'n geweldige impak op die samelewing gehad, soos Von Harnack (1962:147-198) breedvoerig aantoon in sy geskiedenis van die uitbreiding van die Christendom in die eerste drie eeue. Die heidendom kon nie die kerk binnedring nie, maar die kerk kon wel 'n geslaagde aanval op die wêreld loods.
Die kerk van die Reformasie←⤒🔗
Vervolgens kyk ons na die kerk van die Reformasie. In daardie tyd was daar 'n religieuse sekularisasie. In terme van vandag sou ons dit sekularisme kon noem. Die Roomse kerk het wel die hele samelewing beheers. Maar op 'n bepaalde manier. Dit lyk baie na wat in ons land te sien is by die onafhanklike kerke. In die tyd voor die Reformasie was die samelewing onttrek aan die gesag van die Woord van God. Die ironie was dat met 'n beroep op die wette van die kerk en die leer van Rome daar 'n romanisering van die samelewing plaasgevind het wat in wese nie veel verskil van 'n gesekulariseerde samelewing nie. 'n Beeld van die morele en sedelike ontwrigting van die maatskappy in daardie dae vind is by Graham (1987:58-109).
Wat was kenmerkend vir die Reformasie? Eerstens 'n onvoorwaardelike geloof in die outoriteit van die Bybel. Die Bybel is beskou as die boek van God se openbaring. Kerklike wette mag nie oor die openbaring heers nie. Verder: geloofsekerheid en lewensheiliging.
Maar dit alles was bepaald en oorheers deur die belangrike en mees kenmerkende ontdekking van die Reformasie: die herontdekking van Paulus, naamlik geloofsverbondenheid met Christus (vgl. Fil. 21; 3:10). Van 't Spijker (1991:114-132) het in sy studie van die Reformatore daarop gewys dat sowel by Luther as by Calvyn en Bucer die unio mystica, die verbondenheid met Christus, allesbeheersend was. Calvyn verduidelik dat 'Christus extra nos' deur die Heilige Gees 'Christus in nobis' word. Van 't Spijker (1991132) noem die gemeenskap met Christus as vrug van die geloof (effectus fidei) die sentrum van Calvyn se teologie.
In 'n brief aan Petrus Martyr Vermigli wat Calvyn om 'n nadere verklaring gevra het, werk die Hervormer hierdie gedagte verder uit (Van 't Spijker, 1991:125-127). Deur die geloofswetenskap van Christus in nobis kry ons sekerheid van 'Christus extra nos'. Wanneer Christus in ons woon, vind ons die heil 'extra nos'.
Hierdie teologiese proprium kom in Calvyn se teologie en preke telkens aan die orde, byvoorbeeld in sy siening op die nagmaal, sy opvatting oor geloof, wedergeboorte, regverdiging, heiligmaking, uitverkiesing en sy Skrifbeskouing. Calvyn het sy opvattings oor 'Christus in ons' vry gehou van mistieke vermenging. Die preke van die Geneefse hervormer wys daar voortdurend op. Weer tref ons die Christusgesentreerdheid ons.
Trouens, Calvyn se persoonlike lewe is gekenmerk deur die vrees van die Here. Einddoel van al sy denke en handele was altyd weer die waaragtige godsvrug in gebondenheid aan die Woord (Praamsma, s.j.:8-9). In sy laastee brief skryf hy. 'Dit is vir my genoeg dat ek in Christus leef en sterf' (Swarz, 1909:478).
By Luther vind ons dieselfde gedagte. Die unio mystica, die verbondenheid met Christus, is vir hom allesbeheersend. In Luther se kommentaar op die Psalms fungeer dit as 'n hermeneutiese sleutel.
In De vrijheid van een christen skryf Luther. 'In de derde plaats is de onvergelijkelijke heerlijkheid van het geloof deze, dat het de ziel verbindt met Christus, als een bruid met haar bruidegom'. 'Christus is vol van genade, leven en zaligheid, de ziel is vol van zonden, dood en verdoemelijkheid. Laat nu echter het geloof tussenbeide komen en laat het erop vertrouwen dat van Christus zijn de zonden, de dood en de hel en dat de ziel genade, leven en zaligheid deelachtig wordt. Want het betaamt Hem, zo Hij de bruidegom is, tegelijkertijd die dingen die de bruid heeft, mede met haar, te aanvaarden en de dingen, die van Hem zijn, aan de bruid mee te delen. Immers hoe zou Hij die zijn lichaam en zichzelf geeft, niet alles wat het zijne is geven?' (Luther, 1959:144-145).
Ook Bucer wys in sy geskrifte voortdurend op die praesentia realis, die inwoning van Christus in ons harte deur die regeneratio (Van 't Spijker,1991:90).
Met hierdie oortuiging het die kerk in die tyd van die Reformasie na buite getree. So het sy haar profetiese roeping in die samelewing vervul (Graham,1978: 97-115). McGrath (1990:221-231) het in sy studie van Calvyn en die Calvinisme die maatskaplike, ekonomiese en politieke relevansie van hierdie geloofsoortuiging treffend aangetoon.
Maar tegelyk wys McGrath daarop dat ook die Calvinisme vatbaar is vir sekularisme. Dit gebeur wanneer ons as Gereformeerdes die religieuse kern van die Calvinisme, naamlik die innige; geloofsgemeenskap met Christus gaan verloor. Dan bly daar net 'n residu oor van politieke, sosiale en ekonomiese waardes (McGrath,1991:297).
Die Puriteine←↰⤒🔗
Die derde kerkhistoriese voorbeeld vind ons by die J Puriteine. Die geskiedenisboeke vertel ons dat die 17de en 18 eeu in Engeland en Skotland 'n tyd was van diep maatskaplike en sedelike verval. Immoraliteit was aan die orde van die dag. Godsdiens was nie in tel nie. Die lewe van elke dag was volkome gesekulariseer. In 'n artikel van Lloyd-Jones: The state of the nation kan daaroor een en ander gelees word (Lloyd-Jones, 1991:123-147).
Toe kom die, Puriteine. Wat was kenmerkend vir hulle teologie en prediking? Weer die sterk beklemtoning van die band met Christus. As by die gemeente die band met Christus nie aanwesig is en versterk word nie, sal die kragte van ongeloof sterker word. Die Puriteine het die kruis van Christus sentraal gestel. Hulle benadruk voortdurend dat dit nie genoeg is om uiterlike wangedrag te bestry nie. Ons moet ons sondes nie alleen met die wet van God konfronteer nie, maar bo al met die kruis van Christus. Hoe dieper ons insig in die lyding van Christus is, hoe beter gaan ons ons sondes raaksien.
Binne hierdie konteks vind ons by die Puriteine 'n sterk beklemtoning van die stryd teen die sonde en dan nie in die eerste plek die sonde buitekant ons nie maar die sonde in ons. Hulle wys in hulle preke dikwels op wat Paulus noem dat ons deur die Gees die werke van die liggaam moet doodmaak (Rom.5,13). Ons moet die lede wat op die aarde is, doodmaak (Kol.3,4).
Hulle wys in navolging van die Reformatore op die mortificatio (die doding van die vlees met sy hartstogte en begeertes) en die vivificatio (die lewendmaking, die opwekking tot 'n nuwe lewe). Dan is daar by die Puriteine die beklemtoning van die noodsaak van wedergeboorte. Veel aandag gee hulle ook aan geestelike groei, vordering in heiligmaking. Daar was by hulle 'n diepe besef van die heiligheid van God en as gevolg daarvan 'n groot afkeer van die sonde.
Hierdie benadering het 'n groot invloed op die volkslewe in daardie tyd gehad. Daar het deur die prediking en leefwyse van die Puriteine 'n sosiale en maatskaplike omwenteling plaas gevind.
Wat ons by Paulus lees (Fil.1,21; 3,10) en in die kerkgeskiedenis opval is veral die konsentrasie op Christus sowel in verkondiging as in pastoraat en persoonlike geloofsbelewing.
Hoe Gereformeerd is ons vandag?←⤒🔗
Wanneer ons nou nader beweeg aan die eintlike tema, ons roeping as Gereformeerde(s), dan moet eers die volgende vrae gevra word: wat is Gereformeerd en hoe Gereformeerd is ons vandag nog?
Kernpunte van Gereformeerd-wees is:
- die belydenis van die soewereiniteit van God
- die erkenning van die goddelike gesag van die Skrif
- die handhawing van die Formuliere van enigheid
- die aanvaarding van die leer van die uitverkiesing
- die beklemtoning van die noodsaak van die wedergeboorte
- die geloof in die plaasvervangende offer van Christus
- die aanvaarding van die leer van die Heilige Gees wat ons die geregtigheid en die heiligheid van Christus deelagtig maak.
Wanneer ons ons kerk en onsself hieraan toets, dan mag die vraag gevra word: beantwoord ons as Gereformeerdes aan hierdie norm? Ons moet ons nie verbeel dat sekularisme by ons kerkdeur verby gaan nie. Laat ons ons Gereformeerd-wees toets aan bogenoemde kenmerke.
Ek wil op drie dinge wys: op die prediking, die pastoraat en ons kerklike organisasie.
Die prediking←↰⤒🔗
Kom, ons kyk eers na ons prediking. Nou is dit baie moeilik om 'n algemene oordeel te gee oor die prediking in gereformeerde kerke om vas te stel hoe Gereformeerd die prediking is. Tog is daar wel 'n toetsingsmoontlikheid. Hoe staan dit met die Kategismusprediking? Dit lyk of die Kategismus in diskrediet geraak het. Juis hierdie Belydenisgeskrif help predikante om Christusgesentreerd die Woord te verkondig. Saam hiermee gaan die vraag: watter Christusbeeld word vanaf Gereformeerde kansels aan die gemeente voorgehou?
Funksioneer die klassieke Christologie nog in ons verkondiging of word alleen. gewys op Jesus wat met ons saamgaan, wat ons opvang, wat gereed staan om bystand te bied, wat die groot Voorbeeld is wat nagevolg moet word?
Die Christusprediking van die Apostoliese Vaders, die Reformatore en die Puriteine is ook gekenmerk deur die verkondiging van Bybelse begrippe wat daar nou mee saamhang: die nadruk op wedergeboorte, die heenwysing na die oordeel wat kom, die sterk beklemtoning van die heiligmaking. Dit bring ons by die vraag of die Bybelse nosies soos die oordeel, die gerig van God, die skrik van die Here wel van ons kansels verkondig word. Soms klink dit of die hel eenvoudig uit ons gesigsveld verdwyn het. Ons bely dit alles met die mond met behulp van die Formuliere van enigheid. Maar laat ons in die konkrete praxis van die verkondiging hierdie stoere klanke ook hoor?
Die pastoraat←↰⤒🔗
Wanneer ons kyk na die pastoraat dan is daar weer dieselfde probleem. Dit is onmoontlik om 'n algemene oordeel te gee oor die beoefening van die pastoraat in gereformeerde kerke. Die indruk is egter wel dat die pastoraat in 'n groot mate sirkel rondom die Nagmaal. Dit is lofwaardig dat lidmate in die meeste gemeentes met die oog op die Nagmaal besoek word. Maar byna alle ouderlinge hoor op huisbesoek - soos op kerkraadsvergaderinge gerapporteer word - die eentonige mededeling dat die lidmate 'n hartlike begeerte het om die Nagmaal te gebruik. Maar is dit nie karakteristiek vir baie Suid-Afrikaanse gereformeerde kerke dat hulle Nagmaalkerke is nie? Histories is dit verklaarbaar. Groot afstande en gebrekkige vervoermiddele het in die hand gewerk dat in die loop van die tyd die Nagmaalsondag by uitstek die Sondag in die kerklike jaar geword het waarop alle lidmate kerk toe gekom het. Maar ons tyd met sy verhoogde mobiliteit bied nie meer 'n verskoning om van die kerk weg te bly nie. Hoe word die Nagmaal gevier en belewe? Waar is die lidmate wat so begerig is om Nagmaal te gebruik by die Nabetragtingsdiens en die volgende Sondae?
Dit laat die vraag ontstaan of die Nagmaalviering vir baie lidmate nie eerder 'n kerklike ontmoeting as 'n Christus-ontmoeting geword het nie? Dit skep die indruk dat vir baie die geloof 'n vanselfsprekenheidsgeloof, 'n kerkgeloof, 'n boekgeloof, 'n konfessiegeloof is en nie 'n Christusgeloof nie. Christus se persoon en werk is slegs 'n pro memori-pos. Hy is nie meer op die voorgrond nie, maar word op die agtergrond geskuif.
Die kerklike organisasie←↰⤒🔗
Dit wil nie sê dat daar geen goeie dinge is nie. Daar kan gewys word op die baie Bybelstudiekringe wat daar is, die Bybelskool-inisiatiewe wat op baie plekke ontplooi word, die persoonlike toewyding van predikante, ouderlinge, lidmate wat 'n mens met blydskap en dankbaarheid vervul.
Tog lyk dit of ons kerklike organisasie nie baie help om ons roeping as Gereformeerdes uit te leef nie. Ons kerk vertoon na buite die beeld van 'n tipiese predikantekerk. Kyk maar, daar is geen kurator wat 'n ouderling is nie. In die moderamina van Klasses, Part. Sinodes en Nasionale Sinode figureer alleen ons predikante. Dan skep die Gereformeerde kerke die indruk van 'n deputatekerk. Positief is dat daar ook lidmate en selfs vrouens deputaat is. Die kerk is baie goed georganiseer. Maar is ons wel voldoende gewapen teen die invloed van die sekularisme? Pleks van om as kerk deur middel van sy lidmate die wêreld in te beweeg, is die wêreld besig om in die kerk in te beweeg.
Een van die groot gevare wat die kerk bedreig, is die oorwaardering van die wetenskap ten koste van die geloof. Ons moet die invloed van die Verligting, die rasionalisme en die post-modernisme nie onderskat nie. Daar is, om net een ding te noem, die groot bedreiging dat ons as gevolg van wetenskaplike ontwikkeling en vermeerdering van kennis meer nadruk lê op die verstand as op die geloof. Aan die christelike geloof mag getwyfel word, maar nie aan die verstand nie. Gevolg is dat daar meer aandag gegee word aan die intellek as aan die ware geloof, die persoonlike verhouding tot Christus.
Die gevaar is dan groot dat daar meer klem op die rede gelê word as op die openbaring. Die menslike rede mag nie die openbaring oorheers nie. Dit sien ons by die Verligting en by die histories-kritiese metode van Bybelondersoek. Die klem word daar eensydig sterk gelê op wetenskaplike ondersoek. Hoe belangrik en onontbeerlik wetenskaplike ondersoek ook al is, die verhouding openbaring-rede moet in die regte perspektief gesien word.
Die menslike rede is 'n pragtige instrument wat God ons geskenk het. Deur die Gees verlig kan ons deur middel van die rede God se stem verneem. Maar die rede kan nooit norm of bron wees nie. Die Gereformeerde teologie aanvaar God se openbaring as norm. Kerklike organisasie, hoe goed ook al gereël, of verstandsgodsdiens kan nie die invloed van sekularisme keer nie.
Die vervulling van ons profetiese roeping←⤒🔗
Die eerste christene, die gelowiges in die tyd van die Reformasie en die Puriteine het deur hulle optrede in die wêreld gewys aan Wie hulle behoort en wat hulle tot hulle christelike dade gedryf het. By almal van hulle was daar 'n sterke Christus-konsentrasie. Wat by die Apostoliese Vaders, by die Reformatore en by die Puriteine so kenmerkend was, kan die beste tot uitdrukking gebring word met die Ou-testamentiese term: die vrees van die Here, die Jerath Jawhe.
Die vrees van die Here het in sy verhouding tot God en in sy verhouding tot die samelewing die volgende komponente:
- daar is in verhouding tot God altyd die besef van God se grootheid en heiligheid.
- die vrees van die Here word gekenmerk deur afhanklikheid en aanhanklikheid (Oosterhoff, 1949:125-127).
In horisontale verhoudinge werk die vrees van die Here 'n besef van regverdigheid, mensliewendheid, betroubaarheid, diensvaardigheid en selfverloëning (Oosterhoff, 1949:131-132).
Ons moet ons profetiese roeping vervul vanuit 'n op Christus gekonsentreerde geloofslewe. Hoe gaan ons dit in die praktyk in 'n gesekulariseerde samelewing toepas?
In die eerste plek moet ons aanvaar dat die verhouding tussen kerk en staat, die invloed van die gemeente van Christus op die samelewing, nie 'n direkte verhouding is nie, maar 'n indirekte.
In die tweede plek het die kerk die profetiese roeping om in prediking, toerusting en gemeente-opbou die belangrike opdrag om Christus te verkondig en die gemeenskap met Christus te bevorder. Die kerk moet die gelowiges toerus vir hulle getuienis in die samelewing, om 'n profeet te wees in die oortuiging dat die kerk die antwoord het op al die probleme van ons tyd. Maar dan is dit absoluut noodsaaklik dat Christus vir ons 'n lewende werklikheid is, dat ons die gemeenskap met Hom belewe.
McGrath (1992:143) skryf dat alleen die ortodokse christendom die apologetiese en geestelike middele besit om die verlore terrein in die wêreld weer terug te win. Onder 'n ortodokse Christendom verstaan hy dan kerke en christene wat weet van 'n Christus-ontmoeting en 'n Christus-ervaring.
Sondag 12 van die Heidelbergse Kategismus spel dit so duidelik uit: 'ek is deur die geloof 'n lid van Christus. Daardeur het ek deel aan sy salwing, sodat ek sy Naam kan bely'.
Saamvattend kan alles op 'n kort Bybelse. formule gebring word. Ons profetiese roeping as Gereformeerdes om die invloed van die sekularisme in die kerk en buitekant die kerk hok te slaan, is eenvoudig die ware belewing van wat in die Ou Testament genoem word die vrees van die Here, die Jerath Jahwe.
God vra van ons in 'n tyd soos hierdie om in diep afhanklikheid van Christus en opregte aanhanklikheid aan Hom in die besef van sy heiligheid en majesteit te lewe.
Herman Bavinck het kort voor sy dood, toe daar in die Gereformeerde Kerke in Nederland spanning ontstaan het tussen konserwatiewes en verligtes en die vraag na die roeping van die kerk in die wêreld aktueel geword het, gewys op wat hy in die kerk met betrekking tot haar roeping in die wêreld die hoofsaak noem: 'De persoonlijke band des geloofs aan de levende Christus' (Graafland, 1996:63).
Bibliografie:
Dekker, G., De mens en zijn godsdienst. Beschouwingen over de functies van godsdienst en kerk voor mens en samenleving. Bilthoven: Ambo 1975.
Duvenage, S.C.W., Die DA+Akor van die Nuwe Testament. 'n Kultuurhistoriese agtergrondstudie. Pretoria, Potchefstroom, Kaapstad: Interkerklike uitgewerstrust s.j.
Dyn, H. Den., Hoe overleven wij de vrijheid: modernisme, post-modernisme en het mystieke lichaam, Kapellen: Pelckmans 1994.
Floor, L., Calvyn sê hermeneutiek in vergelyking met Ebeling en Fuchs, in: Neotestamentica 4 (1970) p.94-107.)
Gogarten F., Verhängnis und Hoffnung der Neuzeit. Die Säkularisierung als theologisches Problem. Stuttgart: Friedrich Vorwerk Verlag 1953.
Graafland, C, 'Als Bavinck maar eens kleur bekende' (in: Radix, Gereformeerd Interfacultair Tijdschrift, 21e jaargang no.2 April (1995) 60-73.)
Graham, W.F., The Constructive Revolutionary John Calvin. His Socio-Economic lmpact. Atlanta: John Knox Press 1978.
Harnach, A., The Mission and Expansion of Christianity in, the first three centuries, New York: Harper & Brothers 1962.
Klijn, A.FJ., Apostolische vaders 3. Baarn: Bosch en Keuning 1967.
Lang, C, C.D., Irony/humor, critical paradigms, Baltimore: John Hopkins University Press 1988.
Lloyd-Jones, D.M., The state of the nation, (in: Unity in Thruth, Darlington: Evangelical Press (1991) p.123-147.)
Luther, M, De vrijheid van een christen (in: Luthers werken (red. WJ. Kooiman) Kampen: Kok (1959) p.136-171).
McGrath, A.E., Johannes Calvijn. Verlichte hervormer of vormgever van een orthodox keurslijf? Baarn: Tirion 1990.
McGrath, A.E., Bridge-building. Leicester: University Press 1992. Oosterhoff, B.J., De vreze des Heren in het Oude Testament, Utrecht: Kemink 1949.
Praamsma, L., Calvijn. s.j. Wageningen: Zomer en Keuning.
Rogier, L.J., De historische achtergrond van de secularisatie (in: G. Puchinger (red.), Christen en secularisatie, Delft: Meinema (1968) p.9-33.)
Spijker, W. van 't., 'Extra nos' en 'In nobis' bij Calvijn in pneumatologisch licht (in: Geest, Woord en Kerk, Opstellen over de geschiedenis van het protestantisme, Kampen: Kok (1991) 114-132).
Swarz, R., Johannes Calvins Lebenswerk in seinen Briefen 1. Tübingen: Mohr (Siebeck) 1909
Torrance, T.F., The Doctrine of Grace in the Apostolic Fathers, Edinburgh - London: Marshall, Morgan & Scott 1948.
Velema, A.W., Pastoraat in een geseculariseerde samenleving, (in: De Wekker, 105e jaargang 26 januari en 2 februari (1996) nr.12 en 13, p.91-195, p.209-211