4 bladsye. Vertaal deur Cobie Snippe.

Rouverwerking

vrou in veld🔗

Inleiding🔗

Die een soek in die verlede. ʼn Ander een wil eintlik die verlede vergeet en wegdring. Daarom kan niemand vir rou ʼn voorskrif gee nie. In die laaste 30 jaar het daar baie boeke en brosjures verskyn. U herken waarskynlik woorde soos onsekerheid, ontkenning, onderhandeling, woede, depressie en aanvaarding. Dit is vanuit Amerika aan ons oorhandig. Dit het aanvanklik op maniere gewys, waarvolgens ʼn sterwensproses hom behoort te voltrek, maar baie vinnig is dit toegepas op o.a. die rouproses. Tog is hierop tereg korreksies aangebring. Dit is ʼn proses wat homself op baie maniere voltrek en by elkeen weer deur ander faktore beïnvloed en bepaal word. Dit is m.i. die grondreël, wat ampsdraers voor oë moet hou, as hulle met reëlmaat(!) roubesoeke aflê.

Die karakter van rou🔗

Dit is eerstens goed om duidelikheid te kry waaroor ons nou presies praat en dink. Jy kan eers van rou oor iemand praat as daar ʼn band met iemand was. Wanneer 'n band ontbreek het, kan daar onmoontlik van rou gepraat word. Dit is ook verkeerd wanneer rou moet bewerkstellig dat die band met die oorledene, wat so dierbaar was, deurgesny moet word. Jy sou om te rou in ‘n sekere mate kan omskryf as: daar is ʼn toenemende afskeid van wat was en daar is ʼn toenemende leer lewe met herinneringe. Dit beïnvloed alle fasette van die bestaan. Dikwels kan jy jouself daarby nie goed verstaan nie. In die rouproses moet die ewewig herstel word. Origens: om te kan rou het ʼn mens ʼn netwerk nodig. Ek kan ook sê: ʼn mens het ʼn gemeenskap van heiliges hiervoor nodig.

Rougevoelens🔗

Die persoon wat die proses begelei moet daaraan dink dat persone in rou in ʼn oerwoud van oorweldigende gevoelens te staan kom. Dit veroorsaak pyn. Dit moet nie weggedring word nie. Die moedig wees teen elke prys is ʼn onmoontlike opgawe. Begeleiers moenie probeer om pynlike oomblikke te omseil nie. Wie die pad van rou loop, kan nie anders as om deur die pyn van verlies te gaan nie. Iemand het dit die sg. doolhofmodel genoem. Hy skryf: “Die pad is onbekend, die uitgang is moeilik om te vind en baie keer kom mense terug op plekke waar hulle al was”. Daar is dus 'n algehele ontreddering, met wisselende stemminge en wisselende oomblikke. Nie alle gevoelens is egter by almal aanwesig nie. Berusting en paniek wissel mekaar gereeld af.

doolhof

Skuldig?🔗

Dit lyk vir my asof ampsdraers veral op hierdie punt pastoraal reg besig is. Hy moet daarvan bewus wees, dat dit kan gebeur dat die verhouding van die persoon wat rou, nie so goed was nie. Dit wreek homself. Woorde en dade kan nooit herroep word nie. Mense voel asof hulle misluk het of egte lewensprobleme nie uitgespreek het nie. Ook kan daar skuldgevoelens wees as ander ontdek dat ʼn persoon min trane het en selfs weer durf om deel te neem aan iets of om ʼn vakansie binne ‘n halfjaar te bespreek.

Op die roupad kan daar ook woede wees: die ander een het my in die steek gelaat. Hoe vreemd dit ook al mag klink, daar moet ruimte wees om dit uit te kan skree: “Jy mog my nie in die steek gelaat het nie”. Om skuldgevoelens te help verwerk moet dit nie bestry word nie. Wel moet versigtig gevra word na die realiteitskarakter.

Ingekleurde rou🔗

Ampsdraers moet daarvan bewus wees, dat dit nogal ʼn verskil kan maak as iemand die rou-weg al moes loop in hul kindertyd, of as ʼn volwassene, of as ʼn ouer persoon. Wat het nie alles vroeër in hul lewe gebeur nie? Is die persoon van geaardheid ietwat onstabiel? Is die persoon wat rou ʼn man of ʼn vrou? Word daar gerou oor ʼn kind of ʼn ouer? Was daar byvoorbeeld in die huweliksverhouding periodes van verkilling, of groot krisisperiodes en knaag dit nou aan iemand se bestaan? Niks minder bepaal die aard van die binding, wat ons gehad het, die intensiteit nie. Net so ook die afhanklikheid wat bestaan het. Ook kan daar verskille wees, of die persoon voortydig of skielik, of na ʼn lang siekbed oorlede is. Ampsdraers doen goed om altyd te luister en te reflekteer, sonder om ʼn roudraaiboek te hanteer.

Selfdoding🔗

ʼn Ampsdraer moet baie versigtig wees by naasbestaandes van iemand, wat self vir die dood gekies het. Uitsprake oor “vir ewig verlore”, is nie alleen onwaar en wreed nie, dit is ook nie geoorloof nie, want ons kan nie in God se Raadsplan sien nie. Hierby los ek dit noodgedwonge. Dit verg ten minste ʼn artikel op sy eie. As die ampsdraer oor hierdie hoofstuk geen helderheid het of emosioneel nie in staat is om te praat nie, moet ʼn mens dit eerder nie doen nie. ʼn Mens moet vroomheid, kundigheid en ontroering daarvoor hê ... en sélf psigies stabiel wees.

Dit is duidelik dat die aantal faktore, wat ons rou ʼn heeltemal eie kleur en inhoud gee, so wyd soos die wêreld is. Veral die godsbeeld kan hier ʼn rol speel. Die pastor moet besef, dat sommige gemeentelede opgevoed is in ʼn kerk, wat ruimhartig spreek oor God en ander in ʼn kerk is, waar ʼn streng godsbeeld heers wat God meer as ʼn spioen as ʼn bondgenoot ervaar. Baie het ʼn houvas aan die Bybel op hul roupad, maar ander kan om verskeie redes die Bybel nie naby hulle verdra nie. By die laaste gevoel moet ʼn ampsdraer dit kan verduur. Dit gaan daaroor dat die gevoelens opgeklaar word, sodat dit duidelik word in hoe ʼn mate hulle ons kan help om te rou, of dalk die rouproses kan bemoeilik.

Gekompliseerde rou🔗

Die toegestane ruimte maak dit nie moontlik om oor hierdie faset uit te brei nie. Helaas. Ek volstaan dan ook met die opmerking dat daar seker pastorale sorg en hulpverlening nodig is, as die mense nie tot die verwerking van die rou kan kom nie, en as ander faktore ʼn rol speel wat dit kan bemoeilik word. Dan sal ʼn mens konkreet moet leer om die ander te verwys na direkte toegangklike hulpverlening.

hartseer persoon

Routake🔗

Daar word nie meer gepraat van roufases nie. Tans spreek ons van routake. Wie ʼn begeleier is moet hiervan kennis neem. Die take is:

  1. Erkenning van die harde werklikheid. Dis ʼn natuurlike reaksie om te sê: dis nie waar nie, dis nie waar nie. Maar dit moet gesê word, hoe erg dit ook al is: “kyk, dit is waar”.
  2. Laat ons saam huil. Laat ons sê dat dit te vroeg was of dat dit nie nou moes gebeur het nie. Laat ons kwaad wees, dat dit gebeur het, maar laat ons nie vasbyt in die ontkenning nie. Dit bring baie meer probleme.
  3. Probeer om ʼn plek te kry vir herinneringe aan die geliefde oorledene, in jou hart of in jou kop. Die herinnering sal bly, vir altyd. Dit is byna onontwykbaar, maar dit is ook geoorloof. Die herinnering hoef nie te verdwyn nie. Daar moet wel gaandeweg ʼn ontkoppeling plaasvind tussen die oorweldigende verdriet en die lewe met die verlede.
  4. Daar sal ʼn heroriëntasie moet plaasvind oor die sin en die doel van die eie bestaan. Dit kan wees dat iemand se lewe, met alles wat aan die orde is, sterk verweef was met dié van die oorledene. Hulle het bv. baie dinge saam gedoen.
  5. Dit is goed, namate die tyd vorder, om nuwe dinge aan te pak. Nie om dinge alleen te doen wat voorheen saam gedoen is nie, maar ook dinge te doen of aan deel te neem, wat voorheen nie daar was nie. Dit is sinvol om nuwe kontakte te maak en besoeke te kry en af te lê.

Valkuile🔗

By rou is daar valkuile. Byvoorbeeld as ʼn mens dink om alles net so te hou soos dit was. Dan word die huis ʼn museum van oudhede. Daar word nie in die hede nie, maar in die verlede geleef. Dit is altyd verlammend. Dit kan ook andersom plaasvind ... dat ʼn mens in die kortste tyd geen spore meer van die oorledene vind nie. Die vraag, wat die agtergrond hiervan is, kan relevant wees.

Daar is baie dinge om te doen. ʼn Mens moet maar 'n langer tyd hiervoor afsonder. Die persoon wat rou kry allerlei vrae - of dit nog lang(er) gaan vat?; het ek dit nou al verwerk?; erger nog: sou God wou hê dat jy so lank hartseer is? Of die eie kinders sê: “Ma, hou nou ʼn slaggie op met rou, want ons kry pappa tog nie terug nie.“ Hierdie soort opmerkings moet ʼn mens eenkant laat lê. Dit is wyser om aan te bied om die pad saam te loop. So kan mens in die roukontak daar wees vir die ander een. Gaan dit moeilik, dan kan aan gerigte roubegeleiding gedink word. In uiterste gevalle kan mens verwys word na ʼn christelike psigoloog vir routerapie.

Hoe lank?🔗

Sommiges voel dat ʼn rouproses binne ʼn jaar voltooi moet wees. Dis is ewe onjuis en van min hulp as wat gesê word dat dit nooit verby sal wees nie. Na ʼn jaar of seker na 2 jaar móét daar wel vooruitgang wees in die verwerking van die verlies. Dit is egter belangriker om op die voortgang van die rouproses te let as op die tydperk daarvan. Daar sal ʼn gedeeltelike onthegting en ʼn toenemende herinnering wees. Foto’s kan hierby ʼn groot rol speel. Nogmaals, moenie sê, u mag nie meer hartseer wees nie. Wel moet allerlei routake bereik word, om opnuut te leer deelneem aan dit wat in die kerk en in die samelewing aangaan. Die seksualiteit is ʼn afsonderlike punt hierby. As gevolg van te min spasie vir die artikel, sal ek slegs by hierdie opmerking moet volstaan. Dieselfde geld vir moontlike rituele i.v.m. (gekompliseerde) rou. Helaas!

fotoboeke deurkyk

Bybelse aantekeninge🔗

Gee die Bybel hierby ʼn houvas? Eerstens geld dit dat ons ʼn positiewe band met die Here God moet hê. Ek verwys na die bekende woorde van Paulus in 1 Thess. 4:13. Die apostel dink daarby aan mense, wat bang was dat hulle tevergeefs geglo het, en dan sou sterf voor Christus se wederkoms. Die lot van die afgestorwenes, wat met God in Jesus Christus geleef het, mag positief gesien word: hulle is in God se hand. Hulle lewe sal nie tevergeefs wees nie. En hulle sal deel in die krag van Christus se opstanding.

ʼn Ander vraag is, of geloof en moontlike opstandigheid wel by mekaar pas. Baie gelowiges word by ervarings van verlies dikwels gekwel met die vraag, of  hulle opstandig is en wel ʼn ware geloof het. Met ‘genoegsame geloof’ ken mens mos geen opstandigheid nie? Hierdie gedagte is nie korrek nie. Wie geestelike hulp verskaf, mag verwys na Johannes 11 waar daar van Jesus geskryf staan, dat Hy bewoë was in die gees by die graf van Lasarus. Daar staan eintlik dat Jesus woedend was, asof Hy sê ”Vader dit mog nie gebeur het nie”. Die dood is vir Jesus ʼn spelbreker. Dit mag so deur die begeleier aangebied word. Die dood is die laaste vyand wat oorwin moet word. In Johannes 11 staan egter meer. Martha sê vir Jesus: “Here as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie”. Dit wil sê: “Jesus kon U nie ingegryp het nie?” "God, kon U dit nie op ʼn ander manier gedoen het nie?” Dit is nie opmerkings uit ongeloof nie. Dit is tastende vrae na God se leiding. God stuur mos nie kanker nie en net so min breinbloedings. Nadruklik word van Hom geskryf "In benoudheid sal Ek by julle wees". As die gelowige op die roupad vleuels kry, kan Romeine 8 tot hulp wees. Daar staan o.a. dat ons verseker mag wees dat nog dood nog lewe, nog rou en nog ʼn klomp ander dinge, ons nie kan skei van die liefde van Christus nie.

Ten slotte🔗

Die vraag ”Om te rou, hoe doen ons dit”, sou tot die insig moet lei, dat daar in die gemeente ʼn geskoolde – amptelik al dan nie – werkgroep moet wees.

Kerkrade sal hulleself moet verplig om gerigte aandag aan die ‘roudraers’ te gee. “Dit is beter om te gaan na ʼn klaaghuis as om te gaan na ʼn huis van maaltyd” (Prediker 7:2). Dit beteken, dat ʼn mens wysheid kan opdoen, wat die Here ons wil leer. Die heel mooiste perspektief staan egter in die laaste Bybelboek, by die beskrywing van die nuwe hemel en die nuwe aarde. "En Hy sal al die trane van hul oë afvee en die dood sal daar nie meer wees nie, ook droefheid en geween, en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, sê: Kyk, Ek het alles nuut gemaak."