Romeine 8:31-39 - Sing Saam in die Oorwinningslied
Romeine 8:31-39 - Sing Saam in die Oorwinningslied
Lees Romeine 8:31-39
Die pad waarlangs die evangelie oor die wêreld gaan is dikwels ’n wonderlike pad.
Sonder dat iemand presies weet hoe die evangelie in Rome gekom het, het daar ’n kragtige, lewende gemeente ontstaan. Dit was lank voordat Paulus Rome besoek het. En wat ’n pragtige brief het hy nie aan die Christene in. Rome geskryf nie. Die ellende van die mens, die verlossing deur Jesus Christus, die dankbaarheidslewe – alles kom breedvoerig aan die orde. In hoofstuk 8 tref ons die pragtige oorwinningslied aan. Wie ken nie die openingsakkoord daarvan nie? “As God vir ons is, wie kan teen ons wees?”
Inderdaad! En as God vir jou is, word daarin sy ewige verkiesing sigbaar. Dit begin al in die verse wat aan Paulus se oorwinningslied voorafgegaan het nl. verse 28-30.
Goue Ketting van Ons Saligheid⤒🔗
Al gebruik Paulus die woord uitverkiesing nie spesifiek in dié verse nie, is dit duidelik dat ons daarin met ’n kardinale uitverkiesingsuitspraak te doen het. Dit word in die Dordtse Leerreëls die goue ketting van ons saligheid genoem. (Hoofstuk 1, Verwerping van die dwalinge, par. 2).
In dié verse is daar in verband met die uitverkiesing drie groot sake van belang.
Paulus praat van hulle wat God liefhet. Omdat dit hier gaan oor die liefde van God tot die mens en nie andersom nie, sou ’n beter vertaling wees: hulle wat deur God bemin word.
Hierdie liefde van God tot die mens het op sy duidelikste sigbaar geword in die sending van sy Seun.
Paulus sê verder dat vir hulle wat deur God bemin word alles ten goede meewerk. Paulus bedoel nie wat ons so graag dink en sê dat elke ou dingetjie in ons lewe tog op die ou einde iets goeds meebring nie. Paulus bedoel dat God in sy ewige, uitverkiesende genade, alle dinge in die lewe van sy uitverkorenes laat heenwerk na die goeie. Dit beteken na God se ewige, beloofde einddoel met sy uitverkore volk. Dié einddoel is om gelykvorming te wees aan die beeld van sy Seun. Dit is dieselfde waaroor Paulus in vers 30 praat, nl. die verheerliking.
Oorwinningslied←⤒🔗
G’n wonder nie dat Paulus in oorwinningslied uitbars.
Want saam met die liefde van God wat Hy so duidelik bewys het in die sending van sy Seun, kom ook hiermee die toekomsverwagting binne die gesigsveld. Verlede, hede en toekoms word deur die God van die verkiesende genade aan mekaar verbind. Dit kom in vers 32 ook duidelik na vore.
Omdat dit God self is wat alles doen, kan niemand ooit meer ’n beskuldiging inbring teen sy uitverkorenes nie. Hulle is reeds vrygespreek van sonde en skuld. Op die dag van die wederkoms van Christus sal hulle hulle vonnis van vryspraak ook self mag verneem. Christus hét vir hulle gesterf, en aan die regterhand van God tree Hy vir hulle in.
Gemakstoelteoloog←⤒🔗
Noudat Paulus verduidelik het dat God aan jou kant is en niemand jou meer vanweë jou sondes kan aankla nie, verduidelik hy dat geen enkele swaar lewensomstandigheid jou van God se liefde kan skei nie.
En hy noem sommer 'n hele lys van moeilike omstandighede op. Van verdrukking tot dié swaard. Maar hy doen dit nie as ’n gemakstoelteoloog nie. Hy gee ’n opsomming van verskillende soorte lyding wat hy op daardie stadium van sy lewe reeds vir die grootste deel self ervaar het (2 Korinthiërs 11:23-29). Daarmee het hy ’n tweevoudige bedoeling:
- Om te vertroos met die gedagte dat geen enkele vorm van lyding die uitverkorenes van die liefde van God kan skei nie.
- Om te vermaan dat lyding nie vermy moet word nie, maar in die sekerheid van die liefde van God in Christus, moedig verdra moet word as dit kom.
Paulus vat die hele lewe van die gemeente wat in hierdie bedeling nog bestry en aangeveg word met ’n aanhaling uit Ps. 44 saam.
Dit is ’n psalm waarin die Ou-Testamentiese Godsvolk sy nood teenoor die Here kla, omdat hulle vanweë die feit dat hulle die eiendom van God en aan sy diens toegewys is, gedurig die dood voor oë gehad het en soos weerlose slagskape bedreig is. Maar in hierdie psalm betuig die digter namens die volk egter sy onskuld: hy en sy volk het die Here nie vergeet en die verbond nie verbreek nie. As hulle dan tog soos slagskape met die dood bedreig word, kan dit nie anders as die wil van God wees nie wat (vs. 37) slegs ten doel het om die sekerheid van die heil sterker te laat uitkom. In Christus is die uitverkorenes superoorwinnaars, ’n oorwinning wat nie bestaan ondanks lyding nie, maar tegelyk ook in lyding.
Onaantasbare Fondament←⤒🔗
Meer nog: die hewigheid van die lyding laat die oorwinning juis sterker na vore kom. Dit is die liefde van God in Christus wat ’n onaantasbare fondament vir tyd en ewigheid onder die lewens van die uitverkorenes gelê het. Hierdie laaste gedagte word nou deur Paulus in verse 38 en 39 breedvoerig uitgewerk.
Maar daarby is ’n verskil oor die magte van vers 35 opvallend. Waar dit in vers 35 oor menslike magte gegaan het, gaan dit in verse 38 en 39 oor bomenslike magte wat voorgestel word as realiteite waaroor die mens geen beheer kan uitoefen nie, en wat hom met onbekende gevare bedreig. Maar vanweë die feit dat al hierdie magte aan die wil van God onderwerp is, is hulle nie by magte om die liefde van God in Christus vir die uitverkorenes te verydel nie.
Christus is die uitverkorenes se verhoogde Here, waardeur alle ander magte hulle mag verloor het. In Hom is die lewe van die nuwe bedeling reeds aan die uitverkorenes gegee.
Voorwaar ’n rede om ’n loflied te sing.
Stem u saam?