Romeine 8:26-27 - Die Biddende Gees
Romeine 8:26-27 - Die Biddende Gees
Net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree
Romeine 8:26 en 27
Pinksterfees is op hande. Eersdaags gedenk ons weer die uitstorting van die Heilige Gees.
Met die kerk van alle tye vier ons dankbaar dat die Gees gekom het om ons lewe te vernuwe en ons tot sprekende Christene te maak. In hierdie lig van die Skrif wil ek aandag vra vir ʼn werk van die Heilige Gees wat met Pinkster dikwels ietwat in die skaduwee staan. Die Gees van Pinkster is naamlik meer as die Gees van vernuwing en van getuienis. Hy is ook die Gees van die gebed. So word Hy in die profesie van die Ou Testament uitdruklik genoem. Ek dink aan wat ons lees in Sagaría 12:10: “oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge..." Die Heilige Gees kom op Pinkster ook as die Gees wat die gebed by God se kinders wek, wat hulle leer bid. Die eggo van wat Sagaría aangekondig het, vind ons in Romeine 8:15 waar Paulus skryf oor die Gees van die kindskap deur Wie ons roep: Abba, Vader! Die gebed is ʼn vrug van die Heilige Gees. Dit is Hy wat ons leer bid.
Maar in wat ons in Sagaría 12:10 vind, lê onmiskenbaar méér as dat die Gees kom as die Een wat ons na God laat roep. Die Heilige Gees is ook daarin die Gees “van smekinge” (in die oorspronklike: ernstige gebede) wat ook self vir ons bid. Die apostel wys op hierdie aspek in die woord wat nou in besonder ons aandag vra. Paulus leer ons dat die Heilige Gees ook as ons Voorbidder in ons harte kom woon het. Dit is Hy wat met onuitspreeklike sugte vir die heiliges pleit. Hoe mooi is dit om te sien hoe die apostel in Romeine 8 ‘die Gees van gebed’ ontplooi. Die Gees leer ons bid, maar terselfdertyd is Hy ons voorspraak!
Ons wil oor die laaste praat. Ons hoor in Romeine 8:26, 27 van ʼn ontroerende heilsgeheim wat ons vreugde op Pinkster nog meer kan verdiep.
In ons gebedsnood⤒🔗
Wat Paulus hier vir ons oor die gebede deur die Gees skryf, staan binne ʼn duidelike raamwerk. Die Skrifgedeelte het naamlik as opskrif wat ons lees in vers 18: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie”. Die gebede van die Gees staan in verband met “die heerlikheid” waarop die kinders van God mag hoop. In ʼn wêreld vol leed, gebrokenheid en disharmonie kan hulle uitsien na die dag van die groot bevryding.
In die verse wat hierdie woorde van Paulus direk voorafgaan, doen die apostel eintlik niks anders nie as om bewyse te bring, om ons daarvan te verseker dat die heerlikheid aan die kom is. Alles getuig daarvan, alles spreek daarvan.
In die verband wys Paulus ons allereers daarop wat daar in die skepping gebeur. Al die dele van die skepping sug, en is tesame in barensnood. Ons hoef ons maar net die verskriklike beelde van die bek-en-klouseer uitbraak te herinner om te verstaan wat die apostel bedoel. Wat ʼn leed was dit nie in die diereryk nie. En wat vir die diereryk geld, geld vir alles wat geskape is. Daar klink ʼn voortdurende sug oor alles wat ons sonde in God se goeie wêreld teweeg gebring het. Maar die apostel hoor nie net ʼn voortdurende noodkreet uit die skepping opgaan nie, hy weet dat hierdie noodkreet gepaard gaan met ʼn intense verlange na bevryding. Met reikhalsende verlange wag die hele skepping op die dag waarop dit in die verlossing van God se kinders sal deel.
Maar nie net die skepping sug en sien uit nie, ook die kinders van God sug in die gebrokenheid van hierdie lewe en hunker na die verlossing van hulle liggame. Wat jy in die diereryk ontdek, vind jy ook by die gelowiges. Hulle bind hulle sugte en uitsien aan dié van die hele skepping. Alles spreek daarvan dat die lyde van die teenswoordige tyd gevolg moet word deur die ‘heerlikheid’.
In ons teks gaan die apostel nog dieper. Die heerlikheid kom! Al die wonde sal genees word. Die skepping wag daarvoor en die kinders van God sien met groot verwagting daarna uit. Maar veral: die Gees self bid daarvoor.
“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp...“ Die Heilige Gees sien die sugte en verlange van God se kinders. Hy hoor hulle bid vir die dag van die groot bevryding. En Hy staan nie eenkant werkloos en toekyk nie. Hy kom hulle te hulp. Hy betoon Homself as Helper in die nood!
In welke nood? Wat maak die hulp van die Gees so noodsaaklik? Die apostel skryf dat die Gees ‘ons swakhede’ te hulp kom, en voeg by: “want ons weet nie reg wat ons moet bid nie”. Dit gaan dus duidelik nie oor swakheid in die algemeen nie, maar swakheid in ons gebede. Die Heilige Gees kom ons help in ons gebedsnood. Ons nood is naamlik dat ons nie reg weet wat ons moet bid nie. Daarmee bedoel Paulus kennelik dat ons nie weet hoe om ooreenkomstig God se ‘wil’, ooreenkomstig God se ‘voorneme’, te bid nie. In vers 27 praat die apostel naamlik oor God se wil en in vers 29 oor God se voorneme. Ons gebede skiet tekort met betrekking tot die raadsplan van God. Dié raadsplan is so groot en heerlik dat ons nie woorde kan vind om uitrukking te gee aan wat die Here alles vir ons persoonlik weggelê het nie. Ons swakheid is ons verleentheid om in die nadering van die komende heerlikheid te bid.
Paulus skryf: ‘ons weet nie reg wat ons in ooreenstemming met God se raadsplan moet bid nie’. Dikwels word dit afgebring tot ʼn: ons weet nie reg wat ons in moeilike situasies moet bid nie. Wat moet jy vra as jou lewe deur dieptes gaan?
Mense het ook al daarin gelees: ons weet dikwels nie reg hoe ons moet bid nie. Ons gebede is naamlik dikwels allesbehalwe ʼn gelowige, vurige, verlangende gebed. Maar al hierdie interpretasies doen tekort aan wat die apostel werklik hier skryf. Ons weet nie reg... – dit geld dus vir elke gelowige onder alle omstandighede. Daar is werklik sprake van ʼn permanente gebedsnood. ʼn Nood wat saamhang met ons situasie nóú, wat saamhang met ons lewe in die teenwoordige tyd (vers 18). Soos dit nou met ons gaan, soos ons nou op aarde mens is, kan ons eenvoudig nie ‘reg’ bid nie. Daar bly ʼn afstand tussen wat God ons aan heerlikheid beloof het, en ons gebede. Ons beskik nie oor die kapasiteit om tot uitdrukking te bring wat die Here ons wil skenk nie.
Juis in die blywende ‘swakheid’, in hierdie voortdurende onvermoë, kom die Gees ons te hulp!
ʼn Goddelike Pleitbesorger←⤒🔗
Die werk van die Heilige Gees word in die Nuwe Testament op verskillende maniere toegelig en ook met verskillende woorde beskryf. In die evangelie van Johannes kom die Gees sterk na vore as die Parakleet, ʼn aanduiding wat, in navolging van Luther, meestal weergegee word met ‘die Trooster’. Ons dink aan die afskeidstoespraak van die Heiland (vgl. Johannes 14-16), waarin Hy herhaaldelik spreek oor die koms van die Parakleet. Meer onlangse navorsing het duidelik gemaak dat die vertaling ‘Trooster’ minder juis is. Die woord ‘parakleet’ verwys meer geredelik na iemand wat tot hulp van ʼn ander bygeroep word (paraklein = byroep). Die dominante gedagte is dat iemand bystand bied in ʼn hulpbehoewende situasie. Die Heilige Gees as Parakleet kom te hulp, verleen bystand. Hy is nie soseer die Een wat troos bied nie, maar die Een wat die dissipels ondersteun en hulle help.
In wat Paulus in Romeine 8:26 skryf, sien ons ʼn skynsel van die parakleet-wees van die Heilige Gees. Daar is by die kinders van God wat nog in die ‘teenswoordige tyd’ leef ʼn blywende onvermoë, ʼn voortdurende nood in hulle gebed. En in dié nood kom die Gees te hulp. Hy betoon Hom in waarheid as parakleet, d.w.s. ʼn Bystand, ʼn Helper in ʼn hulpbehoewende situasie!
Paulus skryf: “...die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.” Die Griekse werkwoord wat Paulus gebruik, praat van ʼn optrede waarby iemand iets ten behoewe van ʼn ander vra. So tree die Heilige Gees self op, vir ons, by God. Wat ons nie kan sê nie, sê Hy namens ons. En Hy doen dit met ‘onuitspreeklike sugtinge’. Nie net die skepping en die kinders van God sug nie, maar ook die Gees verskyn voor God met versugtinge! Dit is sugtinge wat ‘onuitspreeklik’ is.
Daarmee bedoel die apostel nie dat dit woordelose sugte is nie, maar dat dit versugtinge is wat nie deur ons in ‘die teenswoordige tyd’ uitgespreek kan word nie. Waar ons kapasiteit tekort skiet, kom die Gees ons te hulp.
Paulus onthul ʼn heerlike heilsgeheim. Al is die sugtinge van die Gees nie hoorbaar nie, al word ons dit nie gewaar nie, dit ís daar. Die apostel verkondig dit aan ons as ʼn magtige werklikheid. Sedert Pinkster het ons ʼn Pleitbesorger wat in ons hart woon en wat vir ons by God verskyn en dinge sê wat ons nie kan sê nie.
Wat Paulus hier skryf, beteken nie dat die Gees die gebed van ons oorneem nie. Die karakteristiek van die kind van God is juis vir die apostel dat hulle tot God roep (vgl. Romeine 8:15; Galasiërs 4:6). Die Gees is die Gees van genade en van die gebed. Hy leer ons om te roep ‘Abba, Vader!’ In daardie roepe kom die Gees ons nou te hulp. Hy sê wat ons weens ons beperktheid nie kan sê nie, Hy spreek die woorde wat ons as mense nóú nie kan uitspreek nie. Die komende heerlikheid is so groot en onbevatlik dat menslike voorstellings en woorde ten enemale ontoereikend is. Maar vir God die Heilige Gees is dit nie te groot nie. Hy kan met sy versugtinge daaroor bid. Want “die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Korintiërs 2:10). Hy ken die diepe hart van God en weet wat dié hart vir God se kinders aan heerlikheid in die vooruitsig het.
Bowendien is Hy, soos die apostel Paulus in Romeine 8:23 skryf, die Eersteling van die heerlikheid wat kom. Die woord aparchè wat Paulus gebruik, bevat twee elemente. Teen die agtergrond van die Ou Testamentiese spraakgebruik (vgl. Númeri 15:20, 21) verteenwoordig dit die eerste deel van die opbrengs van die oes (die growwe meel) én die eerste deel van die groter geheel (die oes self). Daar is ʼn nuwe verhouding tussen die Gees van Pinkster en die komende heerlikheid. Hy is naamlik die eerste deel van, en terselfdertyd verteenwoordigend van, die heerlikheid. Daarom kan ons sê dat die Gees wat ons op Pinkster ontvang het, ons juis in die hoedanigheid van Eersteling in ons gebede te hulp kom.
ʼn Doeltreffende pleitbesorger←⤒🔗
In die Skrifgedeelte waarin die woorde van Paulus oor die bid deur die Gees staan, klink daar ʼn geweldige sekerheid. Die apostel begin met “Ek is daarvan oortuig” (vers 18, NAV) en hy sluit af met “dié het Hy ook verheerlik” (vers 30). Daar is nie die minste aarseling by Paulus nie. Ons kan daarop reken dat die heerlikheid vir God se kinders voorlê. Paulus kan so seker wees, omdat hy weet van die sugte van die skepping, van die gelowiges, maar veral van dié van die Heilige Gees. Juis die laaste gee die apostel die vaste oortuiging dat dit vir die kinders van God uitloop op verheerliking. Die hulp van die Gees in ons gebedsnood is naamlik werklik doeltreffend. Ons hoef geen oomblik daaraan te twyfel dat die hulp effektief is nie.
In vers 27 wys die apostel ons op die effektiwiteit van die sugte van die Gees: “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree”. Ons gebede bly gebrekkig en skiet te kort. Maar dit geld nie vir die gebede van die Heilige Gees nie, want sy gebede is geheel in ooreenstemming met God se raadsplan. Dit is immers Hy ‘wat ooreenkomstig die wil van God’ vir die heiliges pleit. Die apostel verkondig aan ons daarmee dat daar tussen die gebede van die Gees en God se wil of raadsplan nie die minste disharmonie bestaan nie. Die Heilige Gees sê presies wat daar na die wil van God gesê moet word. Hy weet “hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë” (Romeine 11:33). En omdat die Gees so bekend is met God se beskikkinge en sy weë, kan Hy ons so doeltreffend help.
Dié doeltreffendheid lê ook daarin vas dat God wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is. God weet wat die Heilige Gees in die oog het wanneer Hy vir die heiliges pleit. In die gebede van die Gees hoor Hy sy eie raadsplan. Alles wat God aan heerlikheid vir sy kinders bedink het, klink weer in die sugte van sy Gees.
Wanneer die apostel hier oor die Here praat as “Hy wat die harte deursoek”, dink ons aan die harte van die gelowiges. God ‘lees’ die harte. Hy deurgrond hulle tot op die bodem. Dat Paulus in die verband verwys na die hart van die gelowige, wys duidelik dat dit hier gaan oor die gebede van die Heilige Gees. Hy woon immers sedert Pinkster in ons harte. Hierdie Gees wat in ons hart woon, is ons Pleitbesorger.
Ten slotte←⤒🔗
Wat Paulus skryf, leer ons om beskeie te wees. Daar is ʼn blywende ‘swakheid’ in ons gebede. Ons moet dié beskeidenheid nie vergeet waar dit gaan oor die verhoring van ons gebede nie. Die verhoring is dikwels anders as wat ons wens. So dikwels as wat dit gebeur, moet ons daaraan dink hoe gebrekkig en kortsigtig ons gebede bly.
Maar, terselfdertyd word ons ryklik deur Paulus getroos. In al ons swakheid het ons die hulp van niemand minder nie as die Heilige Gees! By al ons sugte klink die onuitspreeklike versugtinge van ons Pleitbesorger. Dat dit goed afloop, dat dit uitloop op ons verheerliking, dat alle dinge ten goede meewerk, is te danke aan hierdie permanente voorbidding van die Gees, wat in ons woon. Hy betoon Homself daadwerklik as “die Gees van genade en smekinge”. Nie alleen daarin dat Hy ons leer bid nie (Romeine 8:15), maar ook daarin dat Hy self vir ons pleit (Romeine 8:27). Die heerlikheid kom. Ons kan weet dat alle wonde genees en alle trane afgedroog sal word. Want God bid vir ons tot God!
Dit is die heerlike heilsgeheim wat Paulus hier verkondig, en wat ons op Pinksterfees dankbaar kan vier. Sedert Pinkster het ons twee Pleitbesorgers. Een in die hemel: die Here Jesus wat by die Vader vir ons pleit (vgl. Romeine 8:34), en die Heilige Gees wat op aarde in ons harte vir ons sug met goddelike versugtinge. Daarom kan die jubel opgaan dat “geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Romeine 8:39).