Roeping en Verkondiging
Roeping en Verkondiging
Daar word soms na die kragdadige roeping verwys as inwendige roeping omdat dit die soewereine en onweerstaanbare werk van die Heilige Gees in die hart van die mens is. Dit word dan onderskei van die uitwendige roeping, die prediking van die Woord.
Die Skrif maak dit duidelik dat nie almal wat die roeping van Christus in die prediking van die evangelie hoor, Hom inwendig deur die werk van die Heilige Gees in die hart hoor nie. Daarom word nie almal onder die prediking van die evangelie gered nie.
Met ander woorde, die feit dat sommige deur die prediking van die evangelie gered word en ander nie, is nie die gevolg van ʼn verskil tussen hulle nie, maar die gevolg van ʼn verkil in die werkinge van God. Daarom sê Mattheus 20:16 en Mattheus 22:14 “baie is [uitwendig] geroep, maar min uitverkies.” Die teks sê nie “baie is geroep, maar min reageer” nie, want dit sou beteken dat die verskil by ons lê. Inteendeel lê die verskil in God se verkiesing van sommige en van ander nie. Volgens daardie keuse roep Hy sommige sowel uitwendig as inwendig, en ander nie.
Alhoewel die Skrif die woord roeping gebruik om na beide die uitwendige en die inwendige roeping te verwys, moet ons besef dat die inwendige roeping deur die uitwendige roeping kom, naamlik deur die prediking. Dit is inderdaad waarom dieselfde woord gebruik word om albei te beskryf.
Ons sien dit in Romeine 10:17: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” Hierdie vers is ʼn opsomming van verse 10 tot 14. Daar is ʼn onskeibare verbintenis tussen geloof tot die saligheid en die hoor van ʼn prediker.
Daarom moet die kerk die evangelie tot aan die eindes van die aarde verkondig. Dit is die middel waardeur God diegene roep wat Hy tot saligheid uitverkies het en waardeur Hy, deur die Gees, inwendig in hulle werk.
Ons wil ook beklemtoon dat die prediking van die evangelie sy eie krag besit, omdat dit die Heilige Gees is wat deur die prediking werk; “dit is ʼn krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (Rom. 1:16; sien ook 1 Kor. 1:18,24). Dit vereis nie welsprekendheid, ʼn gesoebat of ander truuks om effektief te wees nie.
Omdat Christus in die prediking spreek, en omdat die Gees in die prediking werk, is die prediking van die evangelie altyd ʼn krag, sy dit nie altyd ʼn krag tot saligheid nie. Waar Christus spreek en die Gees werk, is dit nie moontlik om onaangeraak te bly nie. Daar is nie neutraliteit nie: óf ʼn mens word gered, óf ʼn mens verhard hom teen die prediking van die evangelie.
So word deur die prediking van die evangelie God se doel verwerklik en die verdienste van Christus bekragtig. Nie een van die uitverkorenes gaan verlore nie, en nie ʼn druppel van die kosbare bloed van Christus word verniet gestort nie. Die prediking word ook nie op diegene wat nie gered word, verspil nie. Dit is daarom ʼn baie ernstige saak om onder die geklank van die evangelie te kom. Selfs die van ons wat gered is, moet “des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Heb. 2:1-3). Die evangelie sal altyd ʼn reuk van die lewe tot die lewe of van die dood tot die dood wees.