Regverdiging deur die Geloof
Regverdiging deur die Geloof
Wanneer die Skrif van regverdiging deur die geloof praat, word verskeie baie belangrike waarhede geleer.
Regverdiging deur die geloof toon hoe die sondaar werklik voor God geregverdig word. Dit verduidelik hoe die regverdigende uitspraak van God as Regter aan die sondaar toegedeel word, sodat hy uit die skuldige staat oorgaan na ʼn staat van onskuld.
Wanneer ons geregverdig word deur die geloof, word ons geloof ons tot geregtigheid gereken (Gen. 15:6; Rom. 4:5). God, die Regter, aanvaar die geloof as ons geregtigheid of onskuld.
Hy doen dit egter nie omdat geloof in sigself verdienstelik is, of omdat geloof en geloofsgehoorsaamheid op die een of ander manier die plek inneem van volkome gehoorsaamheid aan sy wet nie, maar omdat geloof vanweë die eie aard daarvan as geregtigheid gereken word. Ons het reeds gesien dat geloof in sy diepste betekenis die band van vereniging met Christus is. Dit verklaar hoe ons deur geloof regverdig gemaak word. Geloof word ons tot geregtigheid gereken, nie omdat dit ʼn plaasvervangende werk of in sigself verdienstelik is nie, maar omdat dit ons in ontmoeting met Christus en sy volkome geregtigheid bring. Ons word dus inderwaarheid geregverdig deur die geregtigheid, gehoorsaamheid en werk van Christus, wat ons sʼn word deur die geloof.
Christus en sy geregtigheid kan deur niks ander as geloof verkry word nie; en niks anders as die geregtigheid van Christus word ooit deur God vir ons regverdiging aanvaar nie.
Geloof is nie net nog ʼn werk nie. Geregtigheid deur geloof beteken nie, soos baie glo, dat God as Regter besluit het om, in plaas van die werke van die wet, net een ding van ons te eis — een werk — naamlik geloof, nie.
Geloof is nie iets wat, soos deur baie geleer word, deur ons gedoen word, iets wat sy oorsprong in ons het nie. Om te glo is nie ʼn besluit wat deur die sondaar geneem word nie; solank hy in sy sonde verlore is, kan hy nie so ʼn besluit neem nie. Die geloof waardeur ons regverdig gemaak word, is self ʼn gawe van God — Hy skenk nie net die geregtigheid wat vir ons regverdiging nodig is nie, maar ook die middele of die manier waardeur die geregtigheid ons sʼn word.
Ons regverdiging is dus geheel en al die werk van God. Uit Hom is alle dinge wat vir ons regverdiging nodig is. Die geregtigheid wat ons regverdig maak, die Persoon wat daardie geregtigheid gee én die middele waardeur ons die geregtigheid ontvang, is gawes van God.
Die feit dat regverdiging deur die geloof is, beteken dat dit nie deur werke is nie. Ons word geroep om goeie werke te doen; dit is deur God vir ons voorberei om te doen (Ef. 2:10), maar ons doen dit as bewys van, en uit dankbaarheid vir die verlossing wat ons ontvang, nie om die verlossing te verdien nie. Ons werke het niks te doen met ons stand voor God nie. Die werk van Christus alleen kan ons status verander en ons regverdig maak.
Die Skrif sê: “Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit” (Rom. 3:27), “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge [ook ons geregtigheid]. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid” (Rom. 11:36). Vrye, genadige geregtigheid, deur God gegee in die gawe van die geloof — wat ʼn seën! Hoe genadig is die God wat onwaardige sondaars só regverdig maak.