Reformasie bring vervolging
Reformasie bring vervolging
Dat die gereformeerde kerke jaarliks die Hervorming (31 Oktober) gedenk, sê baie. Dit sê onder meer dat ons in ons tyd steeds getrou wil bly aan dié beginsels wat as dryfkrag van die Hervorming van die sestiende eeu gedien het:
Sola Scriptura - deur die Skrif alleen
Sola Gratia - deur genade alleen
Sola Fide - deur die geloof alleen
Sola Christo - deur Christus alleen
Sola Deo Gloria - aan God alleen die eer
Met die geloofshand kragtig om hierdie beginsels geslaan, het die Hervormers téén die destydse kerklike praktyke die waarheid van God se Woord gehandhaaf. Téén die Roomse idee van regverdiging deur goeie werke het hulle daarop gestaan dat ons deur die geloof alleen geregverdig word (bv. Rom. 3:22); téén die Roomse idee dat die kerk ons salig kan maak, het die Hervormers Christus as enigste Saligmaker bely (bv. 1 Tim. 2:5,6); téén die Roomse verdiensteleer het hulle geglo dat God alles slegs op grond van sy soewereine genade aan ons skenk (bv. 1 Kor. 15:10).
Hiermee het die Hervormers die Roomse kerkleiers se woede oor hulleself gehaal. Gruwelike vervolging het oor hulle gekom. Maar selfs toe duisende Protestante oor hulle gereformeerde geloof wreedaardig vermoor is - tydens die berugte Bartolomeüsnag nie minder nie as 25,000! - het hulle die krag en die genade ontvang om te bly vasstaan. Hulle geloof sou hulle nie afsweer nie.
Geloofsvervolging in 2001⤒🔗
Nou, feitlik 'n halwe millennium later, is óns die geslag gereformeerdes wat in die wêreld van ons tyd die gereformeerde vaandel omhoog moet hou.
Geloofsvervolging soos dié van destyds beleef ons genadiglik nie. Daarvoor kan ons God maar net dank. Maar Satan rus nie. En in hierdie wêreld gee hy nooit die stryd gewonne nie (vgl. 1 Petrus 5:8). Op sy aanstigting sal gelowiges wat getrou aan God en sy Woord wil bly, altyd onder druk geplaas word. Daarom duur die geloofstryd vir ons vandag nog voort, al kom die vervolging net in 'n ander gedaante.
Gereformeerdes kom vandag te staan voor 'n felle aanslag van buite die kerk. Die Calvinisme, wat draer van die gereformeerde beginsels is, word deur sekere openbare figure van ons tyd openlik verguis as die groot boosdoener agter alles wat skeefloop. 'n Karikatuur van Calvinisme as eng en bekrompe word die wêreld ingestuur. Tot so 'n mate dat 'n bekende Afrikaanse akteur onlangs in die openbaar beweer het dat "ons ouers tog so deur die Calvinisme verdruk is" (vgl. Sarie, 28 Junie 2001,bl. 26).
Maar dit gaan verder as net 'n vyandige klimaat wat geskep word. Die teenstand van ons huidige Suid-Afrikaanse owerheid teen die eg Calvinistiese benadering van Christelike onderwys is nou al byna ou nuus. Tog bly dit steeds 'n harde werklikheid wat die onderwys van ons kinders nog swaar kan tref.
Dit lyk byna of hierdie aanslag van buite 'n bondgenoot van binne het. Dit gebeur elke keer wanneer teoloë vraagtekens plaas oor geloofswaarhede soos die uniekheid en die gesag van die Bybel, Christus as enigste Verlosser en die absolute almag van God.
Dat daar ook in Suid-Afrika teoloë vanuit die breë gereformeerde kring is wat aan sulke bevraagtekening deelneem, is nie meer nuus nie. Sulke vraagtekens staan lynreg teenoor die wese van ons gereformeerde godsdiens. Dit geld ook vir skeptiese opmerkings oor die vraag of die Bybel vandag nog met gesag kan praat oor kwessies soos homoseksualisme, die monogame huwelik en die verhouding tussen man en vrou.
Dit lyk of die jong geslag 'n besondere teiken in die aanslag teen die gereformeerde geloof is. Oor die televisie word persepsies oor God gepropageer wat direk teen ons gereformeerde oortuigings indruis (vgl. bv. die TV-animasiereeks Bob and God en die liedjie van Koos Kombuis en Stef Bos, "Ek is die duiwel - en ek is God", wat onlangs in die program Geraas gebeeldsend is).
Gelukkig is daar duidelike tekens dat baie gereformeerde jongmense hulle nie hierdeur laat meesleur nie, maar daarteen weerstand bied. Met genade van die Here sal hulle bly vashou aan wat hulle ontvang het. Sola gratia.
Oor die algemeen word 'n klimaat geskep waarin elkeen wat aan die beginsels van God se Woord wil vashou, bereid moet wees om gebrandmerkte staan as negatief, fundamentalisties en onderdrukkend. Die versoeking is groot om maar blindweg met die stroom van verandering saam te dryf. Die nalatenskap van die reformasie lê egter die dure plig op ons om op te staan en te sê: "Hier staan ons, ons kan nie anders nie."
Reformasie in 2001←⤒🔗
Om gereformeerd te wees, beteken natuurlik bereidheid om te bly reformeer. Maar dit doen ons deeglik bewus daarvan dat nie alle verandering reformasie is nie. Slegs as die verandering 'n naderbeweeg aan God se Woord is, kan dit reformasie genoem word. Verandering wat teen God se Woord ingaan, is nie reformasie nie, maar deformasie. Dan het ons nie met hervorming te doen nie, maar met vervorming - misvorming. Die waarheid word vervorm, sodat die kerk van die Here uiteindelik 'n misvormde gestalte kry, wat nog die naam kerk het maar dit nie meer is nie.
Daarom dring die nalatenskap van die Reformasie ons om voortdurend te bid dat God ons die onderskeidingsvermoë sal gee sodat ons sal insien wat ware reformasie is en wat in werklikheid deformasie is. Ons mag ons immers nie laat ontsenu of van koers af laat bring deur diegene wat deformasie onder die vaandel van reformasie wil invoer nie. Ook mag ons nie so "behoudend" wees dat ons nie bereid is om die verandering wat reformasie van ons eis, enduit deur te voer nie.
In alles gaan dit nie om die eer van mense of die wil van mense nie. Dit gaan immers om die wil van God - sola Scriptura. En uiteindelik gaan dit om sy eer - soli Deo gloria.