Red moeder aarde!
Red moeder aarde!
Die groot omgewingsdruk het begin. Die waarskuwings word al dringender en die media is vol daarvan. Daar word aan ons vertel dat die planeet aarde in groot moeilikheid is en dat ons onmiddellik moet optree, anders mag dit reeds te laat wees.
Kragte word op verskillende fronte saamgesnoer. In Desember verlede jaar het die Verenigde Nasies ʼn tiendag-konferensie in Bali, Indonesië, oor klimaatsverandering gehou. Hulle het probeer om konsensus te bereik oor die beperking van koolstofdioksied-uitstotings. Hierdie konferensie was ʼn opvolging van die Kyoto-protokol wat tien jaar gelede opgestel is. Onder die aanwesiges was die eertydse vise-president van die VSA, Al Gore, wat aktief is op die omgewingsfront. Sy film, An Inconvenient Truth, gee ʼn grafiese beskrywing van die uiterste konsekwensies van dadeloosheid.
Die film het steeds ʼn groot invloed, en dit is ongetwyfeld aangehelp deur die feit dat skoolkinders oor die wêreld heen dit gekyk het. Klimaatsverandering is vandag so ʼn aktuele onderwerp dat selfs die Nobelpryskomitee hierby ingesleep is en hulle aan Al Gore die 2007 Nobelprys vir Vrede toegeken het. In baie lande het die saak van omgewingsbewaring en klimaatsverandering ʼn baie hoë prioriteit vir die stemgeregtigde bevolking geword. Bekommernis oor die klimaat word selfs swaarder gereken as die gevare van terrorisme en die kwesbare toestand van vrede in die wêreld. Wat moet ons as Christene hiervan dink?
God se mandaat vir die mens⤒🔗
God het die sorg vir die planeet Aarde toevertrou aan die kroon van sy skepping: die mens. Hy het Adam en Eva, en deur hulle die hele mensdom, aangestel as heersers oor die pragtige aarde wat Hy gemaak het. Hy het hulle geseën en hulle die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermenigvuldig, om die aarde te vul en te onderwerp, en om oor die hele skepping te heers (Genesis 1:26-28, Psalm 8:5-8). Die mens moes dit nie selfsugtig doen nie; hy moes sorg vir wat aan hom toevertrou was (Genesis 2:15) in die besef dat dit God was wat hom die taak gegee het. Die aarde en alles wat daarop leef behoort aan die Here (Psalm 24:1). Christene behoort daarom ʼn sterk besef van hulle rentmeesterskap te hê wanneer hulle met omgewingsake te doen het. Meer nog, Christene behoort aan die frontlinie te wees om die aarde se beperkte hulpbronne te beskerm teen misbruik en verspilling. Hulle moet ook vooraan staan in die stryd teen besoedeling.
Beteken dit nou dat ons Al Gore omhels as ons held en omgewingsaktivis David Suzuki as ʼn “beskermheilige”, soos sommiges hom noem? Nie werklik nie. Daar is meer faktore wat ʼn rol speel. Een opmerklike faktor in die hele bespreking rondom klimaatsverandering is die onvermoë van wetenskaplikes en deskundiges om saam te stem oor al die belangrike gegewens en gevolgtrekkings. Daar is byvoorbeeld selfs nie eers ooreenstemming onder kenners of koolstofdioksied-uitstotings wel die oorsaak van aardverwarming is nie. ʼn Verslag van die Senaat van die Verenigde State wat in Desember 2007 verskyn het, beskryf hoe meer as 400 vooraanstaande wetenskaplikes – deskundiges in tientalle studievelde wêreldwyd – sê dat aardverwarming en afkoeling ʼn natuurlike kringloop is wat nie deur menslike aktiwiteite veroorsaak word nie. Sweedse wetenskaplikes het in die invloedryke blad Nature geskryf dat die hoër temperature op die noordpool nie die gevolg van mensgemaakte klimaatsverandering is nie, maar veroorsaak word deur energie-oordrag in die atmosfeer vanaf suidelike na noordelike breedtegrade. Dit is ʼn sikliese verskynsel wat al voorheen gebeur het.
Ten spyte van wetenskaplike studies wat wys dat daar by verre nie ooreenstemming is oor die oorsake van klimaatsverandering nie, word ʼn wêreldwye histerie aangewakker deur die nuusmedia en die wetenskaplike komitees van die Verenigde Nasies – asof hulle gevolgtrekking dat ons met mensgemaakte klimaatsverandering te doen het, onweerlegbaar is.
Wat is die waarheid? Betreffende die film van Al Gore is dit nogal ironies dat, twee dae voordat hy die Nobelprys sou ontvang, ʼn hof in Engeland geoordeel het dat sy film nie geskik is om in skole gewys te word nie vanweë die onwaarhede en oordrywings, asook vanweë die propaganda en politiesgelaaide aard van die film.
Dit is ook goed om te onthou dat daar so kort gelede as 1974 juis ʼn groot vrees was dat die aarde ʼn nuwe ystydperk sou binnegaan. Net dertig jaar later is aardverwarming ons grootste vrees. Dit is trouens al die vierde keer in honderd jaar dat die siening van wetenskaplikes oor klimaatsverandering verander het. Dit is nie ʼn wonder nie dat dit dikwels moeilik is om ʼn rasionele bespreking oor die beskikbare bewyse te voer.
Hoekom is die huidige nadruk op aardverwarming so sterk gelaai? Een van die redes is dat die omgewingsbewaarders wat die klimaatsverandering-scenario voorstaan, diep godsdienstig is in hulle oortuigings oor die redding van moeder Aarde. Baie van hulle het die punt bereik dat emosie die bespreking aandryf, en nie die rede en die feite nie.
Die religieuse aard van omgewingsbewaring←⤒🔗
Dit is duidelik dat die huidige gevoelens in ons samelewing gerig is teen Christelike waardes en uitgangspunte. Die bewyse daarvoor is baie duidelik sigbaar, veral by morele sake soos die toelating en selfs verdediging van homoseksuele waardes. Die wortels van die wêreldlike omgewingsbewaring pas baie goed in hierdie patroon van algemene vyandigheid teenoor die Christendom. Die Christendom word daarvan beskuldig dat dit die verwoestende gebruik van die skepping aangemoedig het deur gedagtes soos die heers van die mens oor die skepping en die ontheiliging van die natuur, deur te leer dat die natuur nie goddelik is nie. Daar is geen twyfel oor die feit dat Christene in die verlede foute begaan het deur nie te besef dat ʼn meer versigtige rentmeesterskap ʼn noodsaak is nie, maar om die leer van God se Woord die skuld te gee vir die veronderstelde klimaatsverandering, strek verder as enige bewys wat daar is. Omgewingsbewaring verwerp die skriftuurlike leer van die besondere plek van die mens in die skepping. Die mens word gesien as ʼn bedreiging vir die omgewing. Omgewingsbewaarders het panteïstiese idees omhels oor die heiligheid van die natuur wat ten koste van alles beskerm moet word. Dit het selfs so ver gegaan dat die welsyn van diere en plante ʼn hoër prioriteit kry as die welsyn van die mensdom. Hierdie nuut-heidense benadering is religieus van aard en help om die vurigheid van omgewingsbewaarders te verklaar. Dit is opvallend dat Al Gore, wat ʼn Baptis is, tog beweer dat ʼn beter verstaan van die ou heidense aanbidding van die godin Aarde nuwe insigte sal bied in die aard van ons menslike ervaring en ons verhouding tot die omgewing.
ʼn Christelike antwoord←⤒🔗
As Christene verwerp ons enige nuut-heidense beginsel wat die dryfkrag agter die huidige omgewingsbewaring is en wat nuwe maniere bied om die wêreld te beskou. Terselfdertyd sal ons alles wat moontlik is in die stryd werp om die omgewing te beskerm. As sommige menslike aktiwiteite inderdaad skadelik is, dan moet ons die aktiwiteite verminder of selfs nalaat na die beste van ons vermoë. Ons motivering sal radikaal verskil van dié van die omgewingsbewaarders. Ons doen dit nie omdat die natuur heilig is nie, maar omdat dit God se skepping is, waaroor Hy die mens aangestel het om dit na die beste van sy vermoë te bestuur en te versorg. Ons wil ook graag goeie rentmeesters wees oor die oorvloed van die natuur wat God tot ons beskikking gestel het. Ons doen dit in die volle besef dat die Here ons God in hierdie wêreld werk. Dit sal ook hierdie wêreld wees wat van die huidige gebrokenheid verlos sal word wanneer dit vernuwe sal word (Romeine 8:19-21).
Die planeet Aarde is ʼn baie besondere plek. Dit is nie net ʼn kolletjie in die heelal nie. Dit is die plek waar God die kroon en heerser van die skepping – die mens – geplaas het. Deur die opstand van die mens teen God het die aarde ʼn plek geword wat verlos moet word. Maar uiteindelik kan die mens nie die wêreld red van sy probleme nie. Daarom is die Aarde ook die plek waar die Seun van God heengegaan het om die hele skepping te verlos van die sonde. Daarom moet ons ook na die beste van ons vermoë daarvoor sorg, want dit is die plek waar die nuwe hemel sal afdaal. Dit sal dan ʼn nuwe Aarde wees, gelouter deur vuur, waar die geregtigheid sal woon (2 Petrus 3:6-13, Openbaring 21:1-4).