Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

Red Gesin en Kinders

gesin op strand

Eeue lank is die gesinne as die selle van die samelewing gesien. ’n Gesin het ’n samelewing in die kleine gevorm. In die gesin het die kinders geleer hoe hulle met hul ouers en met mekaar behoort om te gaan. Kinders, wat uit ’n stabiele “nes” kom, beweeg hulle meestal met gemak in die samelewing. Die gesin is ’n oefenplek vir die latere plek en posisie in die groot wêreld. Die stabiliteit van ’n maatskappy het direk met die gesinne te maak. Die veranderinge in die maatskappy kom vinnig, op elke gebied. Hierdie veranderinge raak ook die gesin en die visie op wat ’n gesin is.

Normverskuiwing🔗

Die tradisionele opvatting is dat ’n gesin uit ’n getroude man en vrou en die kinders wat uit hulle voortgekom het, bestaan. Ook ’n egpaar wat nie kinders het nie, vorm ’n gesin. Die gesin is ’n insetting van God. God wil sy seën gee aan die gesinne, wat ’n verlange het om volgens sy gebooie te lewe. Daar bestaan ook enkel-ouer gesinne. In so ’n gesin staan die vader of moeder hoofsaaklik alleen in die opvoeding en versorging van die kinders. Maar dan praat ons ook van ’n gesin.

Deur die vinnige veranderinge in die samelewing op sedelike gebied, is die gesin volgens die tradisionele en ook Bybelse beskouing nie meer die norm nie. Daar het allerlei samelewingsvorme bygekom, wat nie direk ’n gesin genoem kan word nie, maar wat wel ’n vorm van ’n wel of nie-duursame saamleef is. Daar kom steeds meer nie getroude mans of vroue, met of sonder kinders. Maar ook “gesinne” met een of twee moeders met kinders kom voor. Daar is nie baie “gesinne” met twee vaders nie, maar dit is nie ondenkbaar dat dit ook meer gaan word nie.

Dit alles beteken dus ’n enorme verandering van die samelewingsvorme in Nederland binne ’n beperkte aantal jare. Daar bestaan ook samelewingsvorme waarby tog nie saam gewoon word nie. Nog nie so lank gelede nie het ’n politieke party gekom met ’n voorstel om die duursame saamwoon van ’n man en vrou nie langer wettiglik verpligtend te maak nie.

Daar kom baie buite-egtelik verwekte kinders in die wêreld. En die verwagting is dat die aantal sal toeneem. In Nederland word dié veranderde vorm van verhouding in ’n groot mate verdra. Ons is immers teen diskriminasie. En op die nie so lange duur volg net die wetgewing die gedrag van die bevolking.

Oorsake🔗

’n Mens vra jouself onwillekeurig af wat die rede kan wees vir hierdie verskuiwing in die aard van die samelewingsvorme. So iets ontstaan nie sommer nie. Ek het gelees die sosioloog dr. J. Latten beskou die belangrikste oorsake van die verandering in die Nederlandse samelewing: “die verdwy­nende hiernamaals” te wete die ontkerkliking en die koms van geboortebeperking. Mense laat hulle minder of glad nie deur godsdienstige norme lei nie.

enkel ma

Vroeër het die mens baie meer met die lewe na hierdie lewe rekening gehou. Daar was te midde van die geswoeg op aarde uitsig op ’n toekoms by God. As hierdie behoudende perspektief wegval, kom daar ’n gerigtheid op die lewe hier en nou in die plek. Sonder die hiernamaals. Dan wil die mens ook alles wat hy kan uit hierdie lewe haal. ’n Mens leef slegs een keer.

Hierdie geraffineerde leuen van die duiwel is ondertussen baie aantreklik. As ’n mens se gewete so omvorm is dat hy deur die gedagte aan die hiernamaals, aan die ontmoeting met God en die beslissende oordeel van God op geen enkele manier meer verontrus is nie, dan is die weg oop vir ’n byna onbeperkte geniet van wat die lewe bied.

Daaronder val ook die genot van verhoudings en die belewing van seksualiteit. Seksualiteit word los gemaak van liefde en trou. Seksualiteit is een van die baie feestelike dinge wat die lewe bied en as ’n mens norme van liefde en trou opsy geskuif het, dan het die belewing van seksualiteit een van die baie gebruiksartikels van genot geword. Baie reklame is seksueel gekleur. Die hedonistiese lewensuitkyk – van genot as die hoogste goed, die (sinnelike) verlangens moet bevredig word - word voortgesit in die seksuele lewe.

Dr. Latten wys myns insiens tereg daarop dat die veranderde arbeidsverhoudinge ’n groot invloed het op die mens. Dit kan selfs ’n mens se persoonlikheid verander. Alles moet plooibaar (en doeltreffend) wees. Die opoffering wat jy terwille van die ander een wil maak, funksioneer nie meer nie. Kortom liefde en trou word van mekaar los gemaak en so verdwyn sowel die ware liefde in haar duursaamheid as trou wat lewenslank aanhou en die krag van die liefde vas wil hou aan hom of haar aan wie eenmaal die ja-woord gegee is.

Baie verhoudings berus dan ook nie meer op ’n ja-woord wat eenmaal in die openbaar vas aan mekaar gegee is nie. Die onmiddellike kwaliteit word verkies bo die duursaamheid.

Opoffering🔗

Vanuit ’n christelike benadering moet gesê word dat ’n verhouding tussen ’n man en vrou in duursame liefde en trou nie sonder opoffering moontlik is nie. Die liefde ken selfverloëning terwille van die welsyn van die ander. Die woord liefde en opoffering hoort by mekaar. Hoewel daar allerlei oorsake vir steurings en blokkades in ’n verhouding wat in liefde begin het, kan kom, moet tog gesê word dat deur die onwilligheid om opofferings te maak – soms ingrypende opofferings – in moeilike omstandighede, dit een van die belangrikste redes is waarom soveel huwelike op die rotse beland. Die persentasie van egskeidings is skrikwekkend hoog, tussen een uit twee en een uit drie verhoudings!

Die enorme omvang hiervan dring te min tot ons deur. En die owerheid kan dit nouliks keer. Maklike egskeidings maak dit vir die mense moontlik om gou uit mekaar te gaan. Nogtans skuil daar agter elke egskeiding ’n persoonlike drama, al word verligting en bevryding gevoel - dit hang daarvan af wat verkeerd was - as ’n verhouding beëindig is. Maar niemand sal feesvier as sy of haar verhouding tot ’n einde gekom het nie. En vir kinders is ’n egskeiding altyd ingrypend. Die argument dat kinders dit ook nie kan verdra as ouers mekaar nie kan vind nie, mag nie hier ingebring word nie.

Skadelike gevolge🔗

Dr. Riksen-Walraven, ’n dosent in die ontwikkelingspsigologie – het tydens haar ondersoek gevind dat dit opsienbarend geword het dat deur die versorging van babas en klein kindertjies buite die gesin by die een of ander dagverblyf, die sosiaal-emosionele ontwikkeling van die jong kind versteur word.

Die owerheid dring sterk aan op twee ouers wat verdien. Elkeen moet ’n ekonomiese selfstandigheid opbou. Volgens die gereformeerde opvatting het ons altyd ons twyfels aan hierdie ontwikkeling gehad. Maar dit is weggewys, om dit vriendelik te sê. Nou blyk dit dat die kind met die badwater weggegooi word.

Dr. Riksen merk onder andere op dat daar aanduidings is dat latere gedragsprobleme te make het met te veel ure van kinderversorging op ’n jong leeftyd en te min aanraking met die eie ouers.

ongelukkige kind

Nou weet elkeen wat ’n bietjie kennis van opvoedkunde het of eenvoudig van die werking van die natuurlike ontwikkeling, dat babas en klein kindertjies ’n sterk behoefte het aan warmte en geborgenheid by die eie ouers, met name by die eie moeder. So baie sielkundiges en opvoedkundiges in die verdere of meer onlangse verlede het daarop gewys.

Die opvoeding in die gesin is medebepalend vir hoe kinders later in die komplekse lewe te staan kom en hulle kan handhaaf. Daar is ook ’n taamlike groot aantal vroue wat nie weet hoe om die dubbele taak van ’n loopbaan buitenshuis en die opvoeding en versorging van kinders te behartig nie. Dat daar vroue is wat ineenstort van die moeilike taak, word soveel as moontlik negeer.

Aandag aan die gesin🔗

Met ander woorde: Dit is hoog tyd dat die gesin weer hoog op die politieke agenda te staan kom. Dat sommige partye dit raaksien, is goed. Maar wat kan daar nog gedoen word? Kan dié ontwikkeling gekeer of selfs teruggedraai word? Ons sal in die kerke sterk moet opkom vir die gesin en die beskerming van die gesin.

In die voorbereiding op ’n huwelik moet ons met jong mense oor hierdie sake dringend praat. Dit moet ook nog ’n vreugde kan wees om ’n gesin te bou. Daar moet ruimte en tyd voor oorbly.

Die ekonomisering van die lewe bring meer skade as wat ’n mens gedink en verwag het. Die christelike gesin is die allereerste plek waar die “vrese van die Here” voorgeleef en bygebring word. Christenouers dra hul kinders eers aan die Here op en maak daar erns mee. Dan maar liewer minder kapitaalkragtig wees.

Daar sal altyd min of meer goeie gesinne bly. Maar dit moet vir ons baie werd wees om daardie gesinslewe ook moontlik te maak. Ons is aangesteek deur ’n wêreldse gees, wat ons menswees voor God se aangesig reduseer en beperk. ’n Mens is baie meer as ’n ekonomiese grootheid en selfstandigheid.

Dat dit só gesê moet word, dui die erns van die situasie in die samelewing aan. Die skade sal net toeneem as ons toelaat dat ons op pad is na ’n samelewing waarin die gesin naelskraap kan funksioneer. Dit blyk telkens weer hoe heilsaam God se insettinge is vir die individuele mens en vir die samelewing. Wie dink om met verontagsaming van die gebooie of met selfs direkte ongehoorsaamheid aan die gebooie beter te weet as die Gewer van die goeie gebooie, sal die nagevolge moet dra. Met baie skade en skande.