Rassisme
Rassisme
Niemand kan ontken dat rassisme in ons land aan die toeneem is nie, dat die konflikpotensiaal verhoog en dat dit nou die tyd is vir Christene en die kerk van Christus om saam te staan en daadwerklik iets aan die probleem te doen.
Rassisme hoef ’n mens nie ver te soek nie. Dit sit in elke mens se hart. Elke mens, so bely ons, is glad nie in staat om iets goeds te doen nie en geneig tot alle kwaad – alle kwaad, rassisme ingesluit – behalwe as ons deur die Gees van God nuut gebore word.
Die vraag is natuurlik wat ons onder rassisme moet verstaan. ’n Bekende woordeboek (HAT) beskryf dit soos volg: “(Dit is die) veronderstelling dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras – ’n denkrigting wat aanneem dat ’n besondere ras meerderwaardig is en die reg het om ander rasse te oorheers.”
Suid-Afrika het in die oorgangsjare (1994-1999) met mnr. Nelson Mandela as leier ’n belowende begin gemaak, maar sedertdien het die samelewing al hoe stamperiger begin raak. Rassisme is aan die toeneem, het ons gesê, en verskeie faktore dra daartoe by. Ons verwys slegs na die volgende:
Aanleidende faktore⤒🔗
Opspraakwekkende insidente. Insidente oor die kleurgrens heen verhoog die spanning, soos die omstrede video van die twee studente van die Reitz-kamerwonings by die UV en die skietvoorval by Skielik naby Swartruggens onlangs; of waar die liggaam van ’n swart man agter ’n bakkie aangesleep word of ’n swart liggaam in ’n leeukamp gegooi word; of waar wreedaardige plaas- en stadsmoorde en messtekery by skole plaasvind.
Opruiende toesprake en uitsprake. Soos byvoorbeeld die slagkreet 'kill the boer, kill the farmer', wat gelukkig deur die wet verbied is.
Onbillike en eindelose regstellende aksie in die sakesektor, staatsdiens en sport. Dat regmatige regstellende aksie moet (mag) plaasvind, word deur die Grondwet bepaal en word geredelik wyd aanvaar, maar dat onbepaald en onbeperk teen byvoorbeeld wit jongmense op rassegronde gediskrimineer sal word, is moreel onaanvaarbaar en skep spanning.
Onbeholpe en ondoeltreffende grondhervorming. Volgens sommige mediaberigte word die proses van grondhervorming vertraag omdat boere te hoë pryse beding, terwyl talle boere weer kla dat hulle hul vasloop teen administratiewe rompslomp, onbeholpe sakehantering en magsmisbruik deur staatsamptenare.
Tanende dienslewering. Op (veral) plattelandse dorpe ontstaan baie spanning omdat inwoners belasting betaal terwyl die munisipale rade baie swak dienste (water en sanitasie) lewer.
Miskenning van kulturele identiteit. Ons Grondwet aanvaar ’n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse burgerskap (1.3), maar laat terselfdertyd ruimte vir kulturele differensiasie; so word byvoorbeeld bepaal (2.31) dat elkeen sy (eie) kultuur mag geniet en selfs eie kulturele en taalkundige assosiasies mag vorm en onderhou; verder word ook bepaal (2.29) dat elkeen die reg het om onderwys in die offisiële taal van sy keuse in openbare opvoedkundige inrigtings te ontvang waar dit redelik prakties is. In hierdie verband kan die vraag gestel word of die wyse waarop die onderwysowerhede die hoërskool op Ermelo hanteer, grondwetlik verantwoord is. Waar kultuurgroepe bedreig voel, bou spanning op.
Miskien moet ons op hierdie punt ietwat meer uitbrei, omdat daar in hierdie verband baie verwarring heers. Dikwels word beweer dat ons ons moet beywer vir ’n nie-rassige samelewing terwyl eintlik bedoel word ’n nie-rassistiese samelewing.
’n Nie-rassige (soos 'n nie-sekse) samelewing is ’n droombeeld, maar ’n nie-rassistiese (soos ’n nie-seksistiese) samelewing behoort ons ideaal te wees. Dit wil sê ’n samelewing waar ’n gesonde balans gevind word tussen die “eie” enersyds en die “gemeenskaplike” andersyds, tussen die eie kultuur en die gesamentlike nasionale identiteit, ’n samelewing waar verskillende kulture mekaar nie bedreig of oorheers nie, maar verdra en verryk en so saamwerk aan gemeenskaplike doelwitte.
Eensydige en gestoomrolde naamsveranderings. Naamsveranderings van dorpe, stede en strate is ’n sensitiewe saak en veroorsaak spanning wanneer dit ondeurdag en sonder die nodige oorlegpleging gedoen word. (Na ’n besoek aan van die Oos-Europese state verlede jaar het dit my opgeval hoeveel dorpe en stede dubbele plekname het – 'n opsie wat ook in Suid-Afrika sinvol oorweeg kan word.)
Evangelie van vrede←⤒🔗
In ’n samelewing waar spanning, aggressie, misdaad en geweld toeneem, staan die kerk van Christus as boodskapper van vrede, versoening, vryheid en geregtigheid. Dis ’n unieke boodskap met ’n diep geestelike betekenis, maar ’n boodskap wat ook sy merk op die lewenswyse van mense in die samelewing maak.
Christene is immers nie mense wat Sondae in ’n kerkdiens liefdevol met mekaar omgaan, maar Maandae haatdraend en wraaksugtig in die samelewing optree nie. Christene probeer om, soveel moontlik en sover dit van hulle afhang, met álle mense in vrede saam te leef (Rom 12:18).
In die Christelike etiek word die waarde van menslike lewe hoog aangeslaan, omdat die mens na die beeld van God geskape is. Die Bybel ag menswaardigheid hoog. Maar ook gelykwaardigheid. Die evangelie maak alle mense voor God gelyk, omdat alle mense sondaars is voor God én omdat geen mens uit eie prestasie gered kan word nie, maar slegs uit genade.
Die is kerk is God se vredesinstituut en versoenings-organisme op aarde. In die kerk van Christus – as dit goed is – sien ons reeds iets van God se beloofde nuwe wêreld waar mense in harmonie en liefde saamleef. Dit is daarom verblydend om te meld dat ons nasionale sinode reeds sover terug as 1970 (op advies van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode) aanvaar het om “elke vorm van rasse-diskriminasie en rassisme te verwerp” (Acta 1970: 66).
Suid-Afrika het in 1994 ’n politieke oorgang beleef, maar wat tans nog in ’n groot mate ontbreek, is ’n morele oorgang. Ons land is vasgevang in ’n maalkolk van immoraliteite waarvan rassisme maar een voorbeeld is.
Goeie menseverhoudings begin in die ouerhuis. Dis daar waar kinders, rondom ’n oop Bybel, leer wat respek beteken, respek vir God en respek vir die medemens. En wat wellewendheid en welwillendheid teenoor ander mense impliseer. En wat in die ouerhuis begin, moet in ons skole, universiteite, werkplekke, sportstadions en ganse samelewing voortgesit en uitgeleef word.
Om saam te vat: rassisme is in stryd met die evangelie van Christus, dit oortree die norme van die Christelike etiek, dit onteer God, dit benadeel die medemens en dit ondermyn ’n vreedsame samelewing. Dit moet van harte verwerp word.