Preke Volgens Eie Smaak
Preke Volgens Eie Smaak
Radio- of televisieprogramme soos U Eie Keuse val gewoonlik baie in die smaak. Die aard en doel van hierdie media bring mee dat sulke programme heeltemal op hulle plek is – natuurlik binne perke. Nou is dit heel natuurlik dat 'n mens ook graag preke volgens eie keuse en smaak wil hê. Maar dit mag nie. Die rede daarvoor is eenvoudig. Die Woord het te doen met die verkondiging van die Koninkryk van God; en die koninkryk staan in die nouste verband met die oproep tot bekering. Dit is duidelik uit die prediking van Johannes die Doper (Matteus 3:2) en dié van Jesus Christus (4:17). Ware verkondiging van die Woord sê dus eintlik: "Daar is grondig fout met jou smaak. Jy het die ontdekkende lig van die Woord nodig. Jy het nodig dat die Gees van God jou in jou hart vat, sodat jou eie smaak al hoe meer na die wil van God omgekeer word".
Woordverkondiger Laat Swyg?⤒🔗
Die erns van hierdie saak kom sterk na vore by Israel, die verbondsvolk. By hulle was dit ook 'n kwessie van preke en profesieë volgens eie smaak – lees maar Jeremia 23. Party profete was baie in aanvraag. Hulle verkondiging het in die smaak geval. 'n Profeet soos Esegiël was egter nie in aanvraag nie. Hy is nie uitgenooi om die Woord te verkondig nie. Hy is uitgeskakel. So iets kan vandag ook nog gebeur – op 'n openlike of op 'n subtiele manier.
Die ware verkondiger van die Woord kry sy opdrag van God. Esegiël moet sê wat die Here sê, of die volk luister of nie (Esegiël 2:4, 8). Hy moet hom nie aan die smaak van die volk steur nie. Die rede is dat hulle 'n weerbarstige volk is. En dit geld nie net van húlle nie. God laat hierdie geskiedenis van die verbondsvolk opteken sodat ons onsself daaruit kan leer ken – nie sodat ons in selfregverdiging oor die volk moet oordeel nie.
Die gelowiges van vandag verskil wesenlik niks van die verbondsvolk van ouds nie. Die Heidelbergse Kategismus sê dat ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat. Daarom kan die prediking nie volgens ons eie smaak wees nie.
Irritasie – Opgewek en Verwerk←⤒🔗
Dit is begryplik dat prediking wat nie volgens ons eie smaak is nie, jou baie kan irriteer. Dit was die geval met Esegiël se woordverkondiging. Die belangrike vraag is dus hoe 'n mens op die regte manier die irritasie kan verwyder.
Israel het die weg gevolg om die verkondiger stil te maak. Maar daarmee het hulle nie die werklike probleem opgelos nie. Deur die woordverkondiger stil te maak, het 'n mens nog nie die Woord of God stil gemaak nie. En wat ernstiger is, God gebruik die swye van sy woordverkondiger, Esegiël, as 'n straf op dié wat nie wil luister nie. God self maak dit vir Esegiël onmoontlik om te praat, die Woord te verkondig. Die straf is dat hulle nie die Woord hoor nie, om daardeur bestraf te word sodat hulle hulle nie bekeer en uitkoms vind nie (Esegiël 3:26).
Hier is 'n tipiese kenmerk van 'n ware profeet, en so ook van elke ware Woordverkondiger: daar is 'n spanning tussen wat hy self wil, en dit wat God wil. Die profete het baie daarmee geworstel, soos ons lees in Jeremia 20:7 en Amos 3:8. Hulle moes hulleself, met hulle eie wil en hulle eie smaak, heeltemal aflê. Dit moes telkens en telkens maar weer gebeur.
Daar bestaan 'n baie sterk gevaar dat ons ons vandag skuldig maak aan dieselfde sonde as die verbondsvolk van ouds. Ons kerklike en politiekstaatkundige omstandighede kan ons verlei om ons eie smaak, soos ons eie politieke of ander voorkeure en afkeure, as maatstaf te gebruik om te beroep of om vir prediking uit te nooi. So kan ons dan volgens eie smaak party predikers en woordverkondiging uitskakel. Net soos by Israel van ouds kom dit neer op manipulasie van God se Woord! En, net soos by Israel kan ons in die waan verkeer dat alles goed uitwerk, want ons kry wat ons wil hê. En al die tyd kan God ons daarmee "genoeg tou gee om onsself op te hang". Die swye van die onwelkome prediker kan juis ons straf wees, deurdat ons nié deur die Woord bestraf word nie en daarom op bepaalde punte nie tot selfondersoek en bekering kom nie – met ernstige gevolge.
Elke Prediking Sluk?←⤒🔗
Nou mag die vraag ontstaan: Moet ons dan maar sluk wat elke prediker te sê het? Die antwoord is: Nee. Maar daar is 'n ordelike manier om te sorg dat predikers binne die ruimte en tug van die Woord bly. Dit is die taak van die ouderlinge om oor die prediking toesig te hou. Daar moet die kontrole uitgeoefen word. Kerkrade of kommissies mag nie by beroeping of uitnodiging vir prediking, sommige predikers onder ‘stille sensuur' plaas, waarvan hulle miskien nie eens self bewus is nie.
As kerkrade ongelukkig is met iemand se preek, moet hulle hom tot orde roep en die saak uitklaar. Hulle mag nie swyg en hom tog agteraf sydelings tug nie. Sodoende laat hulle verkeerde prediking elders in die kerk van Christus voortgaan en hulle kom nie hulle verantwoordelikheid as toesighouers oor die Woordverkondiging na nie of hulle bly in hulle eie verkeerde opvattings volhard. Die ouderlinge het dus 'n uiters belangrike taak. Daar kan en moet vasgestel word dat nie die persoonlike smaak of willekeur van die prediker of van kerkraadslede of van gemeentelede die deurslag gee nie, maar die Skrif.
Oplossing te Vind←⤒🔗
Daar bestaan dus 'n eenvoudige en ordelike oplossing vir moontlike probleme, en elke lidmaat kan hom daarheen wend as dit nodig is. Daar rus tegelykertyd 'n groot verantwoordelikheid op ouderlinge om hulle diens tot heil van die kerk en tot eer van God uit te voer. Die vraag is of die preektoesig nie in elk geval sterker en aktiewer tot uiting moet kom nie. Dit kan kommentaar op die preek inhou, maar veral positiewe bespreking. Ouderlinge is nie inspekteurs van die prediking nie, maar hulle kan tog op 'n aktiewe manier 'n gees en atmosfeer skep wat stimulerend en korrigerend op die prediking en op die ontvangs van die prediking inwerk. Per slot van sake gaan dit nie om wat ons wil hê nie, maar om wat God sê.
Dit plaas 'n besondere verantwoordelikheid op die prediker. Net soos die ware profete behoort hy 'n hele stuk selfverloëning te beoefen voordat hy 'n preek lewer en dus die woorde "So sê die Here" op sy lippe neem. Soos die profete behoort die prediker dus bewus te wees van die spanning tussen wat hy self wil hê en wat die Woord hom beveel om te sê. In ware Woordverkondiging laai die prediker nie sy menings op die gemeente af nie. Hy kom inteendeel met 'n woord wat hyself eers moes verwerk deur hom te stroop van sy eie smaak en goed bedoelde oortuigings, en hom te buig voor die wil van God. In ware Woordverkondiging voel die prediker homself dus ook aangespreek en opgeroep tot bekering.
Wat Skriftuurlike Preke Doen←⤒🔗
Preke volgens eie smaak is preke wat jou bevrediging gee omdat dit jou benadering en jou ingesteldheid bevestig, en ander mense se verkeerdheid na vore bring. Ware Skriftuurlike preke is preke waarin jy jouself telkens weer as sondaar ontdek. Dit dan nie net in die algemeen nie, maar in jou hele doen en late: in jou huwelik, gesin, kerk, werk, samelewing en politiek. Tegelykertyd ontdek jy jouself as kind van God deur sy vergewende genade in Jesus Christus. Hy eis jou onvoorwaardelik op in sy diens, volgens sy wil, tot sy eer. Daarvoor gebruik Hy sy kerk. Hy verwag van sy kerk om toe te sien dat al die predikers met hulle prediking onder die tug van sy Woord staan en dat hulle ook as sodanig erken word.