Preekbeoordeling, maar Hoe?
Preekbeoordeling, maar Hoe?
Iemand het onlangs laat blyk hoe moeilik dit is om preke te beoordeel, veral vir die jong ouderling. Besprekings op ’n kerkraad is moeilik omdat die voorsitter meestal die betrokke predikant is. Na oorweging van die paar volgende opmerkings kan miskien ’n leidraad verkry word wat die luister na ’n preek en die beoordeling daarvan in ’n bespreking kan vergemaklik, allereers in ons eie gesinne en dan miskien ook op ’n kerklike vergadering. Eerstens ’n enkele gedagte oor die Woord self.
Prediking is verkondiging. Dit kom van die Griekse woord kerugma = verkondiging. Dit kom sewe keer voor in die Nuwe Testament, drie keer in die briewe aan die Korinthiërs (1 Kor. 2:4, 1 Kor. 1:21, 1 Kor. 15:14) en ook in o.a. Matthéüs 12:41 (Jona se prediking te Ninevé) en in Romeine 16:25. Veral 1 Kor. 15:14 beklemtoon die belangrikheid van die prediking, omdat heel ons geloof aan die opstanding van Christus gekoppel is. Met ander woorde: die prediking is direk verbonde aan ons saligheid, omdat dit God behaag het om deur die prediking hulle wat glo salig te maak (1 Kor. 1:21).
Bediening van die versoening⤒🔗
’n Ander veel voorkomende uitdrukking vir dieselfde saak is “die bediening van die versoening”, 2 Kor. 5:18. Paulus bepleit in hierdie hele gedeelte vanaf vers 11 tot 21 dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie. Hy sê dan: en die Woord versoening is aan ons toevertrou. Ons bid julle dan (vers 20) om Christus wil: Laat julle met God versoen! Dit alles is in ander woorde prediking.
Aanvaarding en beoordeling←⤒🔗
Uit bostaande kan dit duidelik wees dat aanvaarding van die prediking wat die Christus van die Bybel bring, voorwaarde is vir ons geluksaligheid. Alhoewel die woord geluksaligheid slegs enkele kere in die Bybel voorkom, is dit duidelik dat dit juis as gevolg van die prediking genoem word. Jakobus 1:25 sê hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder is nie, maar ’n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.
By die beoordeling van die prediking kom direk die vraag na vore: wie moet dit doen, en: hoe word dit gedoen.
In die bevestigingsformulier vir ouderlinge lees ons in die ou redaksie (bls. 146 ten derde: dit is hulle amp om veral oor die leer en wandel van die bedienaars van die Woord toesig te hou, sodat alles tot opbouing van die kerk mag strek en geen vreemde leer voorgedra word nie.
In Handelinge 20:29 stel Paulus dit nog sterker in sy toespraak tot die ouderlinge van Éfese: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal in kom en die kudde nie sal spaar nie”. Ook in Matt. 7:15 word daar gewaarsku: “pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken”.
Dit is baie jammer dat die nuwe verkorte weergawe van die bevestigingsformulier dit sonder aanvaarbare redes afgeswak het, veral omdat bogenoemde teksverwysing ook weggelaat is (sien bls 657 in ons nuwe Psalmboek, hersiene uitgawe 1987). By oppervlakkige lesing klink die nuwe formulier heeltemal vroom en aanvaarbaar, maar die kern is uitgehol en werk deformasie in die hand, omdat die Skrif losgelaat is en die “alles tot opbouing” wat sy krag alleen kan vind in die prediking, tot niet gemaak is.
Amp van gelowiges←⤒🔗
Tot dusver het ons gesien wat die taak van die ouderlinge is. Tog bly daar steeds die vraag: watter norme moet hulle gebruik in die toesig op die prediking? En dit geld ook vir die gewone lidmaat wat tog elke Sondag vir homself moet uitmaak, beproef, of dit wat hy hoor wel die Woord van God is wat gebring word. 1 Joh 4:1 sê: “Glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan”. Ook Matt 24:4 waarsku met nadruk: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei”. Genoeg om te aanvaar dat sowel die opsieners as die gewone hoorders noukeurig moet luister na wat aan hulle verkondig word.
Maatstaf van beoordeling←⤒🔗
As in hierdie sake van ’n maatstaf gepraat word, is dit in eerste instansie natuurlik die Heilige Skrif self wat die antwoorde moet gee. Maar so in die loop van die jare het daar baie norme en voorwaardes gekom waaraan die preekinhoud moet voldoen. Ons wil ’n paar noem en sien of dit die toets van die Skrif kan deurstaan.
1. Heilshistoriese prediking←↰⤒🔗
Hierdie heilshistoriese metode van Skrifverklaring is veral benadruk deur die stigter van die Erlangerskool J.K. von Hofmann. Hy was sterk van mening dat die prediker die eiesoortige karakter van die Bybelse geskiedenis in die persoon en werk van Jesus Christus as die sentrale punt in die prediking ’n plek moes gee. Met ander woorde: in die preek word die Woord van God verklaar, die koninkryk van God geproklameer, van die heil in Jesus Christus getuig en op die hoorders ’n appèl gedoen (dr H. Jonker).
Mense soos prof. Schilder en Holwerda en ander het hierdie siening ook verdedig en verder uitgewerk. So het hulle gekom tot ’n algehele verbondsgerigte prediking. Vandaar ook die uitspraak: Knoei met Génesis 3 en jy verloor dadelik die vastigheid van Romeine 5 (KS). Dus: hy wat Génesis 3 afmaak as ’n storie, kan ook nie die vrede vind by God wat daar is in Christus Jesus. ’n Preek oor ’n historiese onderwerp is slegs dan ’n preek as dit God se werk van selfopenbaring in die verlossing deur Christus aanwys soos dit voortgegaan het tot op die bepaalde tyd (in die teks) en dit in verband geplaas is met die hele lyn van God se werk al die eeue en deur heel die Skrif heen.
2. Evangelieverkondiging←↰⤒🔗
Om die eenheid van die Bybel te benadruk is dit tog nodig om by hierdie vir almal bekende uitdrukking kortliks stil te staan, deur die hele Bybel kom hierdie gegewe op so baie plekke na vore dat dit eintlik die beste bewys is vir die stelling dat die Bybel heilshistorie is. In die Ou Testament is daar reeds dikwels sprake van evangeliseer. Dit kom van die Griekse werkwoord euangelizomai die Septuaginta (Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik die woord bissas as vertaling van hierdie Hebreeuse werkwoord. Dit beteken blye boodskap, bekendmaking van ’n goeie tyding. Sien 1 Sam 31:9, 2 Sam 1:20, 1 Konings 1:42, Ps 68:12, Jeremia 20:15, Jesaja 52:7 en 61:6, waar dit spesifiek gebruik word vir die blye boodskap van Jahweh’s reddende ingryping in die geskiedenis van sy volk.
In die Nuwe Testament gaan dit steeds verder, in Matthéüs word dit vier keer genoem, in Markus agt keer, in Handelinge twee keer en in die Romeinebrief sestig keer. Die uitdrukking “die evangelie van die Koninkryk” (Matt 4:23, 9:35, 24:14) beteken altyd: die goeie, verblydende tyding dat God sy heerskappy oor die wêreld gaan uitoefen. Hierdie heilsfeit is die presente werklikheid van die persoon Jesus Christus in sy werk hier op aarde. Wat is dit anders as heilsgeskiedenis? Reeds by die profeet Jesaja is hierdie vrymakende genade voelbaar en sigbaar in die verlossing van Israel en in die regsherstel van die verdruktes (F.J. Pop). Baie meer Skrifbewyse wou aangevoer kan word, maar die ruimte ontbreek.
3. Allegoriese prediking of vergeesteliking←↰⤒🔗
Hierdie soort prediking, wat nog steeds onder ons voorkom, is ’n ongeoorloofde soort verklaring van die Bybel. Hierdeur word probeer om sake duideliker te laat verstaan, maar baie keer ten koste van wat die teks waaroor gepreek word, werklik bedoel. Aan die eintlike en letterlike sin van die woorde word ’n willekeurige, figuurlike of geestelike betekenis toegeskryf. Die Bybel self bevat slegs één gedeelte met ’n allegoriese strekking, nl Gálasiërs 4:21-31, waar dit gebruik word tot ’n beter verstaan van die begrippe vryheid en slawerny waaroor Paulus spreek (vers 1: want ek is buite raad met julle). Geheel anders is dit as daar ’n = gelykteken geplaas word by Bybelse figure en hulle ervaringe en ons lewenshouding van elke dag.
4. Pars-pro-toto gedagte←↰⤒🔗
Iemand het onlangs in verband met die huidige gang van sake in die kerke bogenoemde woorde gebruik. As verduideliking eers die volgende: die pars-pro-toto gedagte is ’n deel pleks van die geheel. ’n Belangrike gegewe in die Bybel vir die gedagte van plaasvervanging of plaasbekleding kom na vore in die geskiedenis van Agan (Josua 7:11): Nie een Israeliet het gesondig nie, maar Israel het gesondig en hulle (meervoud) het oortree. As Gideon (Rigters 6) ’n einde maak aan die Baäldiens, word die ban oor Israel gebreek. As volk is Israel die eiendom van die Here, en nie ’n optelsom van elke Israeliet nie.
Godsdienstig gesien bestaan daar geen individuele Israeliete nie, maar alleen die volk deur God uitverkies. Maar elke Israeliet is wel persoonlik verteenwoordiger van die volk en dit moet hy in sy persoonlike gedrag laat blyk deur as enkeling Israel as ’n heilige (afgesonderde) volk van die Here te verteenwoordig. Daarom word deur die oortreding van die enkeling die hele volk besmet. Hierdie gedagte kom in die Ou Testament baie voor, sowel tot voordeel as tot nadeel van die volk. Voorbeeld: die volkstelling van Dawid (2 Samuel 24). Die gevolge tref die hele volk.
So sien ons vandag in ons huidige kerklike lewe dikwels dieselfde. Nie verniet word die kerke hier en oorsee baie keer domineeskerke genoem, met as gevolg dat die kerkvolk in sy geheel afdwaal van die diens aan die Here. Veral in die Ou Testament sien ons hoe koning, profete en priesters die volk van die Here laat verlore gaan. Jeremia 23: “My hart is gebreek in my binneste, want profeet sowel as priester is goddeloos, selfs in my huis het Ek hulle boosheid gevind, spreek die Here. Daarom, so sê die Here van die Leërskare aangaande die profete: Kyk, ek laat hulle wilde-als eet en Ek laat hulle gifwater drink, want van die profete van Jerusalem het goddeloosheid in die hele land uitgegaan.”
Ook hoef ons maar net te dink aan Eli en sy seuns Hofni en Pinehas. Die gevolg van hulle optrede: Ikabod – die eer is weggevoer. Ook in Miga 3 word die skrikbarende gevolge beskryf wat ontroue leiers oor die volk bring.
So is ons terug by die begin: Domineeskerke. Hiermee word bedoel dat sowel die predikant as die lidmate “so wie so” daarvan uitgaan dat die dominee as die voorganger alles weet en alles moet weet. Hierdie kwaad van Roomse suurdesem is besig om hand oor hand toe te neem. Hy wat as jong ouderling in ’n kerkraad inkom, sal kan vertel dat wat die predikant voorstel onmiddellik oorgeneem word deur ’n paar ou voorbokke wat in stryd met art 27 van die Kerkorde reeds tot die inventaris van die kerk behoort. Die saak kry vinnig sy beslag, so asof die leraar as plaasvervanger van die gemeente kan of mag optree. Hier kom die bogenoemde pars-pro-toto gedagte in omgekeerde sin in al sy verskrikking na vore. Die gemeente as volk is die eiendom van die Here en as volk van die Here moet ook die enkeling as verteenwoordiger van die afgesonderde volk van Jahweh hom so gedra.
Die vraag kan gestel word of dit die skuld van die gemeente of van die dominee is, maar die gevare hieraan verbonde is ewe groot. Die meeste ongeregtigheid kom eintlik na vore as die predikant as voorsitter van ’n vergadering (en dan spesifiek ’n kerkraadsvergadering) nie net ’n saak voordra en verduidelik nie (art 35 KO), maar ook heel gerieflik self die antwoorde verskaf. Dat ons voorouers bang was vir die hiërargiese predikant is duidelik as gesien word dat in die hele Kerkordening 86 artikels gewy word aan die werk van die predikant.
Daarom sal ’n weg gevind moet word, of deur ampsdraersvergaderings òf deur wyksvergaderings, om hierdie gevare onder oë te sien en te bespreek tot heil van die gemeente, wat alleen hulle saligheid kan vind in die plaasvervangende offer van ons verlosser Jesus Christus.
5. Piëtisme-Nadere Reformasie←↰⤒🔗
Ek noem hulle in een sin, omdat hulle baie na aan mekaar verwant is. As die woord “pietas” vroomheid beteken, vind ons dieselfde gedagte terug in die Nadere Reformasie, wat eweneens die vroomheidsgedagte voorstaan sowel in leer as in die hele lewe. Koelman praat selfs van “nadere uitsuiwering” wat later ’n besliste doperse inslag gekry het in sy prediking oor wêreldmyding. Ook Calvyn het dit in sy begintyd gepropageer. Maar al gou het geblyk dat op hierdie wyse die aandag steeds meer op die mens gerig was en steeds minder op die Christus van die Skrifte.
6. Mistiek←↰⤒🔗
Ook by die mistiek, altans die verkeerde mistiek, sien ons ’n sterk gerigte vergeestelikte individualisme, ’n afgekeerdheid van die wêreld. Dit in teenstelling met die profetisme met sy sterk historiese inslag, aktief strydbaar, oop vir die taak wat God in die wêreld vir ons aanwys.
Ook by die charismatiese beweging van die laaste jare is daar ’n sterk oplewing van die menslike element in die besondere genadegawes waarvan die Bybel sporadies spreek (1 Petrus 4:10). In teenstelling met die spontane, deur die Gees gewekte verkondiging van die eerste christelike tyd, sien ons vandag juis die teenoorgestelde. Dit word ’n menslike poging om ’n kunsmatige belangstelling vir God en sy diens aan te wakker deur optrede wat vir die mens aantreklik is en dat die sinne en die emosies streel.
Waar hierdie gevaarlike sug na emosionele belewenis vandaan kom is nie so moeilik om te agterhaal nie. Sien ons nie juis dat die kerke met ’n gereformeerde agtergrond leegloop en die charismatiese samekomste steeds meer mense trek? Die antwoord moet wees: verskraling van die prediking, juis op die gebied van kennis en ervaringsveld.
Kennis van die Here word onder ons dikwels verstaan as Bybelgeleerdheid en kennis van die belydenisgeskrifte. Dan word gesê: dit het niks te doen met liefde tot God en daardeur tot die naaste, want die meeste van alles is tog maar die liefde (1 Kor 13). Oppervlakkig gesien lyk dit ’n skriftuurlike waarheid. Maar is die waarheid werklik so eenvoudig?
Kom ons kyk na enkele voorbeelde aan die hand van F.J. Pop. Vooropgestel word dat daar geen belangrike verskille tussen die Ou en Nuwe Testament is nie. Met ander woorde: heel die Bybel is werklik ook vir ons vandag toepaslik. Wel is daar ’n verskil in situasie. In die Ou Testament was die heil van die evangelie beperk tot die volk Israel, met uitsondering soos Ragab en Rut, wat egter ook in die volk opgeneem is. Hierdie beperking is in die Nuwe Testament opgehef, toe Jesus in Matthéüs 28:19 sê: maak dissipels van ál die nasies. Paulus sê in Handelinge 17:30: God het die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer.
Vir dié wat werklik wil weet wat die kennis van God inhoudelik beteken, sal daar geen verskil van mening wees nie. Die Israeliet is nie gevoelig vir die ewige dinge nie, maar juis vir wat hom in die tyd afspeel. Nie die botydelike is vir hom werklikheid nie, maar die tydelike. Daarin sien hy Gods hand. Hy ontmoet en ervaar God in die geskiedenis: in die uittog uit Egipte, in die optrede van die rigters, die verowering van Jerusalem, die ballingskap. Daaruit sien hy sy God aan die werk en daarop stel hy hom in.
Die kennis van God is daarom: sy dade sien, sy woorde hoor, Hom ontmoet en daarin Hom ook erken. Die man wat God ken is nie iemand wat baie van Hom moet weet nie, maar dit is die man wat konkreet God vrees. Spreuke 1:7: “Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis.” Die Hebreeuse woord “Jada” is nie altyd konsekwent in die vertaling gebruik nie, maar dit dui juis aan dat kennis wil sê: om te leer ken in jou ontmoeting, in jou omgang, ervaringskennis. Veral in die intiemste omgang en relasie tussen man en vrou is die werkwoord “Jada” soms weggelaat.
Kennis is dus nooit ’n objektiewe wetenskaplike kennis nie, maar altyd iets wat persoonlik gehoor, gevoel, gedink word. Die Israeliet se kennis is subjektief, amper sou gesê kon word “bevindelik” van aard. Sy kennis van God is nooit iets wat buiten sy hart omgaan nie.
Daarom is daar ook geen werklike verskil met kennis van God uit sy Woord, soos dit baie keer onder ons verkeerd verstaan word. By alle afval rondom ons word dikwels die teks gebruik: Hierdie volk gaan verlore omdat dit geen kennis het nie. Dan bedoel ons letterlike, parate kennis van Bybeltekste of Bybelgedeeltes of selfs geskiedenisse. Maar uit bostaande mag blyk dat om God te ken, beteken om met Hom te leef deur werklike kennis te neem van wat Hy in sy Woord vir ons uitspel.
En dit is wat die prediker moet doen.
Daarom, as ouderlinge, maar ook gemeentelede die preek gaan weeg, moet ons eerstens self reeds ’n deeglike kennis hê van die heilsboodskap, asook van die oordeels “aansegging” wat ons in die Woord kan vind. En dan kom ons baie maklik by ’n hele paar vrae wat ons moet beantwoord. Ons noem slegs enkele.
- Gaan dit in die preek oor die teks wat aangekondig is?
- Word die spesifieke teks nie uit sy verband (omgewing) uitgehaal terwille van die boodskap wat die prediker wil bring nie?
- Word die Bybel met die Bybel verklaar, met ander woorde word gebruik gemaak van ander Bybelse gegewens om aan te toon dat die Bybel in sy geheel Gods openbaring is?
Word die teks nie deur die prediker mishandel ten einde van sy griewe ontslae te raak of om misstande wat hy in die gemeente sien te beklemtoon? Dit word dan die sogenaamde kapstokpreek genoem. Die dominee sien iets gaan verkeerd en dan word daar gesoek na ’n teks wat kan diens doen as ’n slaansak. Ook vir ouderlinge is dit ’n gevaarlike besigheid omdat Gods Woord werklik te heilig is om so misbruik te word. Word daar regtig oor die Kategismus gepreek of word ’n teks gesoek wat wel in die rigting pas? Kategismusprediking moet leerprediking wees wat ons sterk teen dwaalleraars en ketterse invloede (wie van die opgroeiende geslag weet nog daarvan?) Daarom sal die behandelde Kategismussondag geplaas moet word in sy ontstaanshistoriese konteks sodat ons kan leer waarom ons voorouers dit nodig gevind het om dwalinge nie slegs te weerstaan nie, maar ook om die kernsake kortliks weer op skrif te stel. Sien byvoorbeeld die Dordtse Leerreëls. As dit op die regte manier gedoen word, sal ook ons jeug kan sien dat baie van ons huidige dwalinge en vrae reeds baie oud is. Dan kan bepaalde sienings en dwalinge, soos eerder genoem, juis in die Kategismusprediking na vore kom.
Is dit geoorloof om “hel en verdoemenis” te preek omdat dit so sleg gaan in die gemeente, of omdat die jeug so miserabel afdwaal, hulle heil soek in drank en dwelms, fliek en sokkiejol? Ons glo nie. Eerstens is die hele Bybel van A tot Z heilsgeskiedenis. Dit beteken: ondanks alle afval, waarvan seksuele losbandigheid in heel die Bybel toringhoog uitsteek, is daar tog die verlossende krag van ons Goël (Verlosser) Jesus Christus, maar ook sy verwerpende toorn tot in die diepste verlatenheid. Wie dit as prediker sien en ervaar, kan nie anders as om die vreugde van die verlossing te laat sien uit die Skrif, om so ook die nikswaardigheid van die teenoorgestelde as ’n ligtende fakkel op die lewensweg uit te wys.
As laaste opmerking sou ons wil noem dat die hoorder by alles wat hy as swak ervaar, hom altyd moet beperk tot wat hy hoor en verwerk. Die prediker as mens mag nie sy benadering beïnvloed nie.