Preek en spreek oor God se toorn
Preek en spreek oor God se toorn
Die idee van God se toorn ontlok ‘n verskeidenheid negatiewe reaksies. ‘n Mens kan huiwer om daaroor te praat, met teësin daaroor praat, maar ook bewustelik daaroor swyg of openlik verset daarteen uitspreek. Al hierdie tendense is in ons land aanwesig en besig om toe te neem.
Nou sal geen regdenkende mens beweer dat dit maklik is om oor God se toorn te praat nie. Bowendien kan daar groot vrae oor hierdie punt wees, ook in die harte van opregte gelowiges. Dit sal duidelik wees dat ek nie in hierdie artikel breedvoerig op dit alles kan ingaan nie. Wat ek wel wil doen, is dit: eers wil ek soek na enkele oorsake van die huiwering om oor God se toorn te praat. Vervolgens wil ek kyk na die vraag waarom dit nodig is om hierdie tema in die prediking aan die orde te stel. Ten slotte kom ons by die vraag: as dit dan noodsaaklik is om hieroor te praat, hoe moet ons dit wel doen?
Oorsake⤒🔗
‘n Belangrike bron vir hierdie teensin kan gevind word in die toenemende sekularisering en ontkerstening van ons land. Die geloof in ‘n min of meer omvattende rasionele waarheid het verdwyn. Postmoderne mense erken dat hulle steeds meer twyfel oor die sogenaamde “groot stories”. Net so kan ‘n mens ook die stelling maak dat die “groot woorde” uit die Christelike tradisie besig is om weg te slyt. Die spesifiek Christelike betekenis van begrippe soos “sonde”, “wet van God”, “genade” of “geregtigheid” is vroeër tot ‘n mate in breë lae van ons samelewing aangevoel. Maar in die laaste dekades het belangrike Bybelse begrippe steeds onverstaanbaarder geword. Dit geld beslis vir ‘n uitdrukking soos “God se toorn”. Trouens, die woord “toorn” het so te sê uit ons omgangstaal verdwyn en dit word vervang deur “woede”, “kwaad wees”, “verergdheid” of iets dergeliks. Dit is ‘n belangrike rede waarom nuwe Bybelvertalings soms praat van “die woede van God” in tekste waar daar vroeër verwys is na “die toorn” of “die grimmigheid van God”.1
Dit het ook moeiliker geword om te praat van God se toorn omdat die Godsbeeld verander het. In die Rooms-Katolieke teologie en spiritualiteit en in breë vlakke van die Protestantisme en die vroeë Evangeliese beweging was die uitgangspunt dat God nie slegs genadig en barmhartig is nie, maar dat Hy ook toornig is oor die sonde (vgl. So. 4 HK). Daardie laaste punt het vir vele mense buite en binne die kerk onaanvaarbaar geword. Saam met die invloed van die verskrikkings van twee wêreldoorloë en ander ontsettende gebeurtenisse het die oortuiging gegroei: “Ek kan nie glo in ‘n God wat sulke dinge toelaat of op hierdie wraaksugtige manier die sonde bestraf nie.” Vir vele was dit rede om kerk en geloof vasbeslote vaarwel toe te roep.
Ander bly in God glo, maar sien Hom dan slegs as ‘n barmhartige en ontfermende Vader. Die kerk het dit wat die Bybel oor die toorn van God sê altyd verkeerd gelees. God het slegs een doel en dit is die behoud van alle mense!2
Met dit wat so pas gesê is, hang ten nouste saam dat die mensbeeld ook verander het. Hierdie veranderingsproses het op verskillende terreine plaasgevind. Ek wil egter veral daarop wys dat die sonde as ons menslike skuld voor God onder breë vlakke van die samelewing volstrek nie meer raakgesien word nie. Dit is deesdae nie “in” om oor sonde te praat in die Bybelse sin van die woord nie. “Dit is vir mense moeilik om as skuldige aangewys te word. Dit pas nie by die bewussyn van selfbeskikking nie. (…) Dit is dan ook vir ons baie moeilik om ons skuld te erken. Ons praat eerder oor noodlot as oor skuld, eerder oor magteloosheid as oor sonde.”3 En waar hierdie vaagheid in ons siening van sonde en skuld heers, verdwyn God se toorn ook van die toneel.
Ten slotte – om nie verder hierop uit te brei nie – het veranderende sienings van die Persoon en werk van Christus ook ‘n invloed op hierdie proses. Die klassieke gereformeerde teologie benadruk dat Christus in sy lyde en sterwe “die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf” (So. 15 HK). Die Here Jesus se dood aan die kruis wys hoe groot God se toorn oor die sonde is, maar ook die rykdom van genade en vergewing wat God aan sondige mense wil gee. ‘n Groot aantal Christene wil egter niks weet van wat minagtend ‘n “sondebokchristologie” genoem word nie, naamlik dat Christus die toorn van God in ons plek gedra het. Die lyding van Christus word byvoorbeeld veel eerder as ‘n teken beskou dat God ‘n samehorigheidsgevoel ervaar met die lydende mens wat deur angs gekwel word en deur sinloosheid bedreig voel. Maar wanneer die gedagte van die plaasvervangende offer van Christus op hierdie manier vervaag, verander ook ons siening van wat genade is. Daar ontstaan ‘n soort “goedkoop” genade, waardeur die Bybelse maatstaf van wat genade behels in ons lewens verskrompel.
Uiteraard is dit beslis nie so dat al hierdie motiewe ‘n rol speel by elkeen wat daarteen beswaar maak dat daar van oordeel gepraat word nie. Iemand kan ook ‘n baie belangrike rede hê waarom hy oor hierdie punt twyfel, of slegs gedeeltelik bewus wees van sy ware motiewe. Ek het hier slegs probeer om die omstandighede te skets waarin ‘n teensin om oor God se toorn te praat kan ontstaan.
Prediking van God se hele Woord←⤒🔗
Maar waarom moet God se toorn dan uitdruklik in die prediking ter sprake kom? Is dit nie meer korrek en pastoraal om hierdie begrip stilswyend op die agtergrond van die prediking te laat nie? Dan ontken ons dit nie, maar ons laat die verkondiging van die “vreugdevolle boodskap” (DL 1:3) van die evangelie ook nie daardeur oorskadu nie. Bowendien hoor ons gereeld dat mense in hierdie moeilike en verwarde tye veral behoefte het aan woorde van troos en bemoediging. Die idee van God se toorn pas nie daarby nie. Nietemin is daar inderdaad ‘n aantal belangrike argumente om die feit dat God Hom vertoorn oor die sonde uitdruklik en gereeld ‘n plek in die prediking te gee. Ek noem drie daarvan.
In die eerste plek is die prediking volgens Bybels-reformatoriese opvatting die bediening van die Woord van God. Dit hou in dat die hele Woord, of liewer: die volledige onderwysing van die Skrifte in die gereelde prediking in die gemeente aan die orde moet kom. Nou is dit vir elke Bybelleser duidelik dat die Skrif uitdruklik en met groot erns aantoon hoe God Hom oor die sonde en die onreg vertoorn. Dit gebeur herhaaldelik in die Ou Testament, veral in die prediking van die profete.4 In die Nuwe Testament is dit nie wesenlik anders nie. Daar is wel sprake van ‘n klemverskuiwing, wat alles te make het met die oorgang van die ou na die nuwe bedeling. In die Nuwe Testament val die volle lig op die openbaring van God se liefde in die sending en die heilswerk van sy Seun. Daardie evangelie moet na Pinkster ook onverkort en ryklik verkondig word aan alle volke “tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Maar hierdie boodskap van God se liefde in Christus is deurvleg met verwysings na die realiteit van God se toorn oor diegene wat die evangelie verwerp (Joh. 3:16-18, 36). Op geen enkele wyse word die boodskap van God se toorn in die Nuwe Testament afgekeur of deur die boodskap van God se liefde na die agtergrond geskuif nie.
Dit is selfs so dat niemand met groter meegevoel en erns oor God se toorn, die gerig en die hel gepraat het, as Christus self nie.5 Dit hoef ons daarom nie te verbaas dat hierdie tema ook nadruklik ‘n plek gekry het in die sendingsprediking van die apostels nie. In die boek Handelinge lees ons samevattings of verslae van enkele van hulle toesprake. Hierin staan die heil van Christus sentraal. Maar Petrus sê ook dat Christus hom en die ander apostels bevel gegee het “om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode” (Hand. 10:42). En Paulus benadruk dat God nou oral aan alle mense verkondig “dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het” (Hand. 17:30 e.v.).
Nou sal ‘n mens in teenstelling hiermee kon redeneer: “Dit gaan hier oor ‘n sendingsituasie. In die verkondiging aan diegene wat buite die kerk lewe en vervreemd is van die geloof, is hierdie klem op God se toorn tereg. Maar wat van die prediking binne die gemeente van Christus? Is die verbondsgemeente nie juis die skuilplek waar ‘n mens veilig is teen God se toorn nie?” Dit is sekerlik so dat daar binne die gemeente op ‘n besondere manier aangedui word hoedat ons aan hierdie straf kan ontkom en weer in genade aangeneem mag word (So. 5 HK). Binne die gemeente word ook die krag ervaar van God se beloftes en van Christus se bloed wat alle sonde wegwas. Maar nêrens in die Bybel word ons geleer dat die gemeente per definisie of outomaties teen God se toorn, oordeel en gerig veilig is nie. Inteendeel, in die Nuwe Testament is die spits van God se toorn ook op die gemeente gerig.6 'n Gedeelte wat dit op indrukwekkende wyse illustreer, is die begin van 1 Korinthiërs 10. Daar herinner Paulus aan ‘n belangrike episode uit die geskiedenis van Israel. Die hele volk, so skryf hy, het deur die Rooi See getrek. Hulle het almal in die woestyn dieselfde geestelike voedsel geëet en dieselfde geestelike drank gedrink. “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons (= die Nuwe-Testamentiese gemeente, AB), dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie” (1 Kor. 10:1-6).
Prediking: sleutel←⤒🔗
Die tweede rede waarom die toorn van God in die prediking aan die orde moet kom, is omdat die reformatoriese teologie die prediking beskou as die eerste en vernaamste sleutel van die koninkryk van die hemele. Wat dit beteken, word op klassieke wyse verwoord in die Heidelbergse Kategismus. Ek haal die desbetreffende vraag en antwoord volledig aan: “Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit? Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel” (So. 31 HK, vr./antw. 84).
Dit is nie moontlik – en ook nie nodig – om hierdie gedeelte volledig uit te lê nie. Maar ‘n enkele opmerking sal wel gepas wees. Wat opvallend is, is dat die kategismus hier praat van die verkondiging van die evangelie. Dit is die groot roeping van die kerk, niks minder nie, maar ook niks meer nie! In daardie raamwerk kom die verkondiging van die oordeel aan die ongelowiges egter uitdruklik ter sprake. Die kategismus sê selfs dat aan hulle “verkondig“ word dat die toorn van God op hulle rus. Die woorde dui aan dat dit nie as bloot ‘n wetenswaardigheid mag funksioneer of slegs terloops aangeraak word nie.7 In die prediking word die hele gemeente voor die gerig van God se Woord geplaas:8 die gelowiges word vrygespreek en wie in ongeloof volhard, word veroordeel. Dit is die “laaste erns” van die verkondiging van die evangelie waarin die dag van die definitiewe oordeel oor die lewendes en die dooies sy skaduwee gooi.
Prediking: prikkel←⤒🔗
Ten slotte funksioneer die prediking van God se toorn ook as ‘n prikkel tot heiliging van die lewe. Een van die vermanings in die brief aan die Hebreërs lui: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie” (Heb. 12:14). Die uiteindelike motivering hiervoor is: “Want onse God is 'n verterende vuur” (Heb. 12:29). Die gerig van God gaan nie slegs daaroor dat ons sondaars is nie, en net so min of ons wel of nie waaragtig in Christus veilig is nie. Die oordeel gaan ook oor die goeie werke.9 Ons kan hier dink aan die betoog van Paulus in 1 Korinthiërs 3:10 e.v.. Die apostel skryf in hierdie gedeelte oor die wederkoms van Christus en sê dat elkeen se werk aan die lig sal kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word. Sommiges se werk sal verbrand word, terwyl die werk van ander in die hitte sal standhou. By die onderskeid wat Paulus hier maak, gaan dit nie oor gelowiges en ongelowiges nie, oor mense wat gered word en mense wat verlore gaan nie. Dit gaan oor ‘n onderskeid tussen gelowiges van wie sommiges op die goeie fondament van Christus goeie werke gebou het en ander nie. Diegene wat verkeerd gebou het, word wel gered, maar hulle werke gaan verlore.10 Met hulle sonde bedroef die gelowiges God en roep hulle sy toorn oor hulle op (vgl. 2 Sam. 12:10 e.v.; DL V,5).
Manier waarop←⤒🔗
Ter afsluiting nog enkele opmerkings oor die manier waarop daar oor God se toorn gepraat behoort te word.11 Allereers sal dit in die lig van die Bybel(teks) moet gebeur en nooit geïsoleer mag word van die evangelie van God se genade nie. Met laasgenoemde bedoel ek dat die prediking van die toorn en van die oordeel nie mag ontaard in ‘n eensydige “hel- en verdoemenisprediking” nie. Hiervan was daar veral in die verlede wel sprake gewees, al doen daar die nodige karikature die rondte rondom hierdie verskynsel. Vervolgens behoort ons in alle erns hieroor te praat. Sowel Jesus as die apostel gebruik ernstige en nadruklike taal wanneer hulle oor die toorn en gerig van God praat. Hierdie styl is ook paslik vir ons wanneer ons daaroor praat. Bowendien mag ons nie na hierdie tema verwys omdat ons mense wil bangmaak nie. In die Skrif staan die verkondiging van God se toorn binne die raamwerk van die dringende oproep tot bekering, geloof en heiliging van die lewe (Matt. 11:20-24; Rom. 1:18 e.v.; 2:5 e.v.). Uiteraard is daar ook verskeie ander motiewe om in die prediking ‘n oproep op die hoorders te doen, maar – Bybels gesien – is die verkondiging van die werklikheid van God se toorn beslis een daarvan! In die vierde plek moet ons op ‘n ingetoë en sober manier oor hierdie tema praat. Boetepredikers uit die Middeleeue, maar ook voorgangers uit die kringe van die piëtisme en die opwekkingsbeweging skilder soms die komende gerig en die ewige oordeel in helder kleure en met groot drama. Daar is altyd wel mense waarop dit ‘n indruk maak. Maar hierdie manier van prediking verbreek nie een enkele hart nie. Slegs die liefde van God in Christus slaag daarin. Die noodsaak daarvan om sober en ingetoë oor die toorn van God te praat is trouens ook heeltemal in lyn met die Skrif. Dit is immers kenmerkend vir die wyse waarop Christus en die apostels hierdie tema aan die orde stel. Ten slotte mag dit ook nie verswyg word nie dat die Bybel God se toorn, gerig en oordeel plaas binne die raamwerk van die troos van die gelowiges. Hulle mag deur die genade van God weet dat Christus vir hulle die toorn van God gedra het en die ewige lewe verwerf het (So. 15 HK). Daarom is God nie meer toornig teenoor hulle nie. Hulle sal ook nie in die eindgerig veroordeel word nie, maar vir ewig deel in God se liefde en saam met Christus triomfeer (So. 19 HK vr./antw. 52; art. 37 NGB).
Waarskuwing←⤒🔗
Om die idee van God se toorn in die prediking te verswyg of te ontken, is dus bepaald nie iets soos ‘n onskuldige of onbelangrike blinde kol nie. Dit het verreikende gevolge. Om dit te onderstreep, haal ek ‘n waarskuwing van Trimp aan waarmee ek van harte saamstem: “As die prediking van God se toorn, oordeel en gerig verskraal word, sal die vrees van die Here uit die lewe verdwyn en die godsvrug vervlak. Dan hoor ons nog wel van “sonde”, maar ons streep dit weg teenoor “genade” en gaan voort op dieselfde manier. Hierdie prediking kan niemand meer verontrus nie en kondig nie die oordeel aan nie. Dit het die vlak van gesag verloor waarop Sondag 31 van die Kategismus dit geplaas het.”12