Praat ons by mekaar verby?
Praat ons by mekaar verby?
In Beeld van 15 Augustus word berig van 'n kerk/universiteit-gespreksgroep wat onlangs by die Randse Afrikaanse Universiteit vergader het oor die tema: Die leraar en lidmaat praat by mekaar verby. As oorsaak van vervreemding tussen lidmate en predikante is die hedendaagse gees van die postmodernisme wat by lidmate posgevat het, uitgewys.
Postmodernisme in die kerk⤒🔗
By die geleentheid was professor Deon Rossouw, hoogleraar in filosofie aan die RAU aan die woord. Volgens hom wil die postmoderne mens nie meer sy kennis by kenners soek nie. Daarom beteken dit dat in die kerk "die dominee se stem nie meer moet domineer nie", maar dat daar ruimte geskep moet word "om saam te praat". Die postmoderne lidmaat het behoefte daaraan dat kennis saam "gestig" word, het hy gesê.
Ook professor Wilhelm Jordaan, hoof van Unisa se Departement Sielkunde, was daar. Volgens hom sê die postmoderne mens: "Al is dit so, nogtans is daar iets anders". Daarom het hy 'n pleidooi gelewer vir 'n "teologie van oopheid". Daar moet 'n oopheid wees vir altyd 'n ander waarheid. Die dominee moet skeppende taal gebruik, sê hy, en daarvoor kan hy die Bybel gebruik as bron vir kreatiewe maniere om iets te sê.
Wat moet ons van al hierdie dinge sê?
Postmodernisme afgewys←⤒🔗
In die eerste plek moet ons besef hoe gevaarlik dit is om die deur van die postmodernisme in die kerk oop te maak. As dit werklik so is dat hedendaagse kerklidmate in die greep van die postmoderne denke beland het, dan flikker die gevaarligte rooi. Die postmodernisme is immers onversoenbaar met die Christelike godsdiens. Waarom? Ten diepste omdat dit weier om te aanvaar dat daar buite die mens (se taal) enige vasstaande waarheid en werklikheid kan wees. En die Christelike godsdiens is juis gebou op die oortuiging van die vaste waarheid en werklikheid van God Drie-Enig.
Een van die postmodernistiese uitgangspunte is juis dat alle werklikheid deur taal geskep word. Toegepas op ons godsdiens: ook die werklikheid van God word geskep in ons talige besig wees, dit wil sê deur ons woorde.
Die volle konsekwensies hiervan is dat God nie werklik bestaan nie. God is die blote produk van ons "saampraat" met mekaar. In ons taal skep ons vir onsself 'n werklikheid wat ons God noem. Ons hele godsdiens is dan, soos 'n vooraanstaande postmodernis dit stel, een groot God-speletjie. Kortom: God is nie meer Skepper nie, maar skepsel.
Hierdie ekstreme denkbeelde van die postmodernisme kan natuurlik nie aan elke postmoderne denker toegedig word nie. Allermins aan diegene wat aan die genoemde byeenkoms deelgeneem het Maar al maak 'n mens die deur net op 'n skrefie oop, is die deur nogtans oop. Die persoon ná jou waag dit net 'n entjie verder, en kort voor lank is die deur wawyd oop. Daarom kan ons nie anders nie as om die dinge wat by die byeenkoms gesê is, te beskou in die lig van die postmodernisme in sy volle gedaante.
Die mens self regter oor die waarheid←⤒🔗
Teen die agtergrond van die postmodernisme, word die behoefte dat betekenis saam "gestig" word, meer as net 'n pleidooi vir groter lidmaatdeelname aan die erediens. Dit wil dat die betekenis van ons geloof in die proses van "saampraat" geskep ("gestig") word, in plaas daarvan dat dit uit die Bybel gehaal word.
Hierdie pleidooi sluit eintlik aan by die gedagte van die "demokratisering" van die evangelie: die "meerderheid stemme" bepaal wat die evangeliese waarhede voortaan sal wees.
Vanuit postmoderne gesigshoek word die pleidooi vir "ruimte om saam te praat" 'n geleentheid om self te bepaal wat waarheid is en wat nie. Spoedig lei dit daartoe dat die waarheid van die evangelie ingeruil word op 'n waarheid wat die mense saam "stig". Die "teologie van oopheid" word dus niks anders nie as 'n teologie waarin elkeen die evangelie na sy eie smaak kan inklee.
Skrif en belydenis in gedrang←⤒🔗
As God uiteindelik 'n skepsel van die mens se taal word, wat dan van die Bybel? Die Bybel self is dan nie die openbaring van die waarheid nie, maar kan bloot "as bron gebruik word vir kreatiewe maniere om iets te sê". Die Bybel is dus niks meer nie as 'n handige vertrekpunt, "'n kapstok" waaraan die mens sy eie skeppende idees ophang.
Die Bybel, en gevolglik die belydenis, kan volgens hierdie siening nie die vaste waarheid bevat nie, want daar bestaan nie so iets soos 'n vaste waarheid nie. Waarheid verander gedurig, namate die mens met sy taal nuwe werklikhede skep. Daarom: "Al is dit so, nogtans is daar iets anders."
In geheel loop die postmoderne teologie uit op die verwerping van die waarheid van die Bybel en van die belydenis. Vandaar die groeiende verwerping van die belydenisskrifte deur lidmate, soos by die genoemde byeenkoms vermeld is.
Waarom praat ons soms by mekaar verby?←⤒🔗
Te midde van die feit dat ons die postmodernisme afwys, moet ons groot erns maak met die gevaar dat leraar en lidmaat in die kerk by mekaar kan verby praat. Hierin moet beide leraar en lidmaat hulleself ondersoek.
Predikante moet daarop bedag wees dat hulle nie onnodig hoogdrawend preek nie. Preke wat as 'n vertoonvenster van die dominee se geleerdheid bedoel is, is nie die preekstoel waardig nie. Die roeping en taak van die leraar is om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. En hierdie evangelie, skryf die apostel Paulus aan die Korintiërs, moet nie "met hoë woorde of groot geleerdheid" verkondig word nie (1 Kor. 2:1). Met hoë woorde en vertoon van groot geleerdheid praat leraars by die gemeente verby.
Ons kan dus van harte akkoord gaan met die gedagte wat by die genoemde byeenkoms uitgespreek is dat "die dominee se stem nie meer moet domineer" nie. Trouens, die dominee se stem mag nog nooit gedomineer het nie. Nog altyd was dit so dat die stem van die Here in die prediking en in die erediens as geheel moet "domineer". Op die preekstoel moet ons al minder dominee hoor, en al meer Heilige Gees.
Maar dit is blykbaar nie wat die byeenkoms in gedagte gehad het nie. Die bedoeling was eerder: ons moet al minder dominee hoor, en al meer lidmaat. Daarom die pleidooi vir "ruimte om saam te praat". Omdat so 'n lidmaat eerder na homself wil luister, wil hy weldra glad nie na die dominee luister nie. Ook nie na God se Woord nie.
Die lidmaat moet homself dus ondersoek. Praat ek en die leraar nie dalk by mekaar verby omdat ek glad nie na hom luister nie? Of omdat ek glad nie meer na die Woord van God luister nie?
In werklikheid is daar net een waarborg dat leraar en lidmaat op dieselfde golflengte ingestel is, sodat hulle nie by mekaar sal verbypraat nie. En dit is die waarborg van die Heilige Gees. As albei nie deur dieselfde Heilige Gees deurdronge is nie, sal hulle spoedig by mekaar verbypraat, want hulle praat nie dieselfde taal, die taal van die Heilige Gees nie (1 Kor. 2:13, 14).
In plaas van die gees van die modernisme moet die Gees van God in ons woon. Dan sal ons wees een van siel, een van sin (Filip. 2:2) en ons sal nie by mekaar verbypraat nie.