Bron: De Reformatie. 5 bladsye.

Pinkstervuur?

vuur

Soms word ‘n mens daarmee gekonfronteer. Gelowige, meelewende gemeentelede kan skielik gegryp word deur die boodskap van 'n Pinkstergemeente. Baie vinnig, soms na slegs enkele besoeke aan die samekomste, besluit hulle om hul te laat oordoop.

Dit kan juis mense wees wat in hul geloof 'n sekere onvrede ervaar het. 'n Ontmoeting met iemand van die Volle Evangeliese Gemeente is dan vir hulle soos 'n deurbraak, waardeur die ware lig gesien word. So verlaat mense dan die gemeente, oortuig van 'n beter geestelike lewe as wat hul in die kerk ervaar het. Intussen bly die res van die mense agter met 'n hart vol vrae: hoe is dit moontlik, waaroor gaan dit nou, wat het ons verkeerd gedoen?

Voorlegging🔗

Die Pinkstergemeentes was van die begin af reeds vir ons ‘n bietjie onbegrypbaar. Hulle neem nie deel aan dogma-vorming, soos dit genoem word, nie. Daar is geen geloofsleer beskikbaar waardeur hulle hulself voorstel nie. 

Daar word ook baie verskillende name gebruik waarmee hulle hulself noem. Naas 'Pinkstergemeente' en 'Volle Evangeliese Gemeente' kan jy ook 'Krag van Omhoog' teëkom, 'Gemeenskap van Christene', 'Gemeente van die Here', 'Volle Evangeliese Sending', ens.

Die verwysing 'Evangelie-gemeente' kan veral verwarrend wees, want daar is 'n groot verskil tussen die Pinkster- en evangeliese-groeperinge! Dit is albei versamelname, wat 'n hele aantal skakerings insluit. Die evangeliese staan dikwels tog nader aan ons omdat hulle aanspreekbaar is op die Bybel en op die Bybel alleen.  Die pinkstergroeperinge het ook hierdie aspek, maar daar word volgens hulle in verskillende mate telkens nuwe toevoegings deur God se spreke deur die Gees tot die mens gemaak. 

Daar het egter nou 'n belangrike boek verskyn, met die titel Woord en Geest (Skrywer: Duffield e.a.).  Dit is nie 'n boek oor die Pinksterbeweging nie, maar van hulle.  Die subtitel is Hoofdlijnen van de theologie van de Pinksterbeweging (Hooflyne van die teologie van die Pinksterbeweging). Die hooflyne word aan ons geskets in 'n hele 659 bladsye. Dus 'n komplete dogmatiek. Ons is bly met hierdie voorlegging, want dit is baie verhelderend.

Gematigd🔗

Die voor-die-hand-liggende vraag is of elke groep binne die pinksterbeweging, aangesien daar soveel skakerings is, hulleself met hierdie boek sal vereenselwig.

Ek dink dat die antwoord oorwegend positief sal wees, want die boek is gematigd van toon en inhoud. Dit het die grondpatrone van die leer – hulle wil naby God se openbaring bly, sonder om alle praktyke te verdedig wat soms in die kringe voorkom. So neem hulle uitdruklik afstand van die sogenaamde 'second blessing', 'n tweede seën van God, waardeur 'n mens nou alreeds bevry kan word van sy sondige natuur.

Hierdie beperkte opstelling sal in eie kringe eerder die reaksie uitlok dat daar te min in die boek staan as wat daar te veel staan. Met ander woorde: dit wát daar staan, sal in groot lyne 'n gesamentlike gedeelde minimum wees.

hande

Inhoud🔗

In enkele artikels sal ons ons nou besighou met die inhoud van die boek. Daar sal nie 'n samevatting gebied word nie, want daarvoor is die boek heeltemal te omvangryk. Ons kan egter wel, in aansluiting by die titel, belangrike lyne na vore bring.

Oor die algemeen is daar baie waarmee ons ons hartlike instemming kan gee. Hulle bely byvoorbeeld dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is, dat die Paradys en die sondeval historiese realiteite is, dat God Drie-enig is, dat Jesus waaragtig God en mens is en dat Hy as plaasvervanger op Golgota gesterf het tot versoening van ons sondes. Ons neem dankbaar kennis hiervan, want hierdie belydenisse word in sommige (selfs 'gereformeerde') kerke aanvegbaar gemaak. Daarmee saam is daar ook moeite gedoen met die verdediging van die waarheid. Dwalings word meer as een keer met 'n verskeidenheid Skrifgegewens en argumente weerlê. Daardeur het die boek verseker baie waardevol geword. Die Skrifgebruik is soms nogal verrassend, in meer as een opsig, sodat dit ook nie vervelig is om te lees nie.

Die res van die artikels sal hoofsaaklik gaan oor die verskille met die gereformeerde belydenis. Dit lyk moontlik baie negatief, maar dit is immers altyd so dat die gesprek oor verskille baie meer woorde verlang as die betuiging van instemming. Bowendien wil ons nog 'n antwoord op ons vraag hê: hoe gebeur dit, dat gereformeerde mense partykeer sommer so skielik in die greep vasgevang kan word van hierdie teologie?

Bevry van skuld in Adam🔗

Dit is belangrik om te weet dat jy in Pinkstergroeperings nie sal hoor van die gebore wees in skuld nie. Hulle noem wel Adam se skuld, as 'n historiese feit, maar ons het slegs deel daaraan aangesien ons met die gevolge daarvan sit. 'n Mens word immers eers skuldig wanneer hy sy volle verstand het en uit vrye wil 'n verkeerde keuse maak.

Sodoende lees ons in hierdie boek dat 'n mens gebore word in Adam se sonde, maar dat hy nie skuldig is daaraan nie.

Verder is die gevolge ook nie so ingrypend nie. Die verdorwenheid word wel genoem, maar word baie afgewater. Elke mens bly immers in staat om met 'n eie vrye wil vír of téén God te kies?! Die verdorwe mens (so lees ons) is iemand wat 'ten diepste' homself die voorkeur gee bo God, 'so nou en dan' ontpop daar aktiewe vyandskap teen God in hom, en daar is niks in hom waarmee God 'ten volle' kan instem nie.

Sonde is ook Positief🔗

Die puinhoop van die sondeval is dus in wese glad nie so erg nie.  Ja, ons lees selfs 'n uitvoerige bespreking omtrent die positiewe van die sondeval.  Deur middel van 'n leerproses sou God se skepsele die kennis verwerf waaroor God reeds van ewigheid aan beskik.  Deur middel van ervaring en openbaring kry die mens kennis van goed en kwaad.  Dan kan hy regtig kies.

Die sondeval is volgens hulle ook in lyn met God se begeerte. Hy verlang daarna om mense enersyds met Sy offerbloed te red en ook, andersyds, om sy toorn oor die kwaad bekend te maak.

tien gebooie

God Kies Elkeen wat Glo🔗

Die lyn gaan verder. Wanneer alles so wentel om die vrye wil van die mens wat hy na die sondeval nog steeds behou het, om self uit vrye wil vir God te kies, dan is daar geen enkele ruimte meer vir die verkiesende handeling van God nie. 

Die woord 'verkiesing' staan in die Skrif en daarom word dit natuurlik deur hierdie outeurs bely. Maar wat is volgens hulle die inhoud daarvan? Nie dat God uit Sy vrye guns, genade skenk aan wie Hy wil nie (Rom. 9:15, 16).  Maar dit word verklaar as God se voorkennis van die keuse van die mens: 'God weet reeds voor die tyd hoe iemand sal reageer op Sy genade-aanbod aan alle mense en Hy verkies dan diegene van wie Hy vooraf reeds gesien het wat positief sal reageer'. Met ander woorde: God skenk nie geloof nie, maar Hy wag om te sien wie vanuit homself tot geloof sal kom. Hy 'ken' die mense reeds vantevore (met 'n beroep op Rom. 8:29) en dan bestem Hy diegene tot heerlikheid. Alhoewel, bestem? Dit is die mens wat kies en telkens weer reg moet kies.

Christus Sterf vir Alle Mense   🔗

Van God se kant af is daar dus 'n genade-aanbod: niks minder nie, maar ook niks meer nie. Want die mens kan self dinge bewerk, en dit moet hy dan ook doen, so lees ons.

Die aanbod is universeel. Christus het vir alle mense gesterf. Hy verlos die menslike natuur in haar geheel. 'n Sterk argument word volgens hulle hiervoor aangevoer uit 2 Petrus 2:1, waar dit handel oor dwaalleraars wat Hom verloën wat hul gekoop het. Jesus het hulle gekoop terwyl hulle in hul ongeloof niks van Hom wou weet nie. Siedaar, so bly die losprys nie beperk tot 'n beperkte kring van God se keuse nie. Maar wat dan van die klein kindertjies? Hulle kan nog niks self doen nie. Dit is egter ook nie nodig nie. Hulle kan die sonde van nie-glo-in-Jesus-nie nog nie in hul onwetendheid doen nie. Daarom word hulle almal sonder voorbehoud gered, almal, tot op 'n ouderdom van 4 na 6 jaar, hang af van die ontwikkeling van die kind. 

Dit kan so verklaar word volgens hulle, aangesien 'n kind onskuldig in die wêreld inkom. Totdat sy eie bewussyn wakker word, het hy geen enkele verkeerde keuse gemaak nie.

Waarom was daar al Straf vóór die Wetgewing gewees?🔗

Almal wat 'n klein bietjie tuis in die belydenisgeskrifte is, sal reeds in die bostaande gesien het dat dit in stryd is met die Dordtse Leerreëls. Ek noem dit hier, aangesien die inhoud daarvan tot baie beter insig sal kan lei.

Hoofstuk 1 artikel 1 begin met die belydenis: 'Alle mense het in Adam gesondig en verdien God se vloek en die ewige dood'. In die kantlyn staan die verwysing na Rom. 5:12.

Hierdie boek oor die Pinkstergemeentes se teologie gee oor hierdie gedeelte 'n baie opvallende eksegese. Hulle wys daarop dat daar in die vervolg van Rom. 5 staan dat daar voor Moses se tyd nog geen wet was nie en dat sonde daarom nie toegereken is nie. As mense in daardie tyd dan tog gesterf het, het dit niks met skuld en straf te make gehad nie. Daar was immers nog geen wet nie...

Hierdie eksegese kan egter nie standhou nie. Dit gaan juis in hierdie gedeelte wat God aan ons openbaar daaroor dat daar voor die wetgewing tog reeds sonde was. Dit staan letterlik so in vers 13. Dan staan daar nie 'sonde' in sy versmalde betekenis van Duffield e.a. ('gevolge') nie, maar volgens die bedoeling van die Skrif: 'oortreding' (vers 18). Soos die dood ook genoem word die loon op die sonde, Rom. 6:23.

Voordat die wet op Sinaï gegee is, was daar al oortreding. ‘n Oortreding waardeur alle mense as oortreders sal sterf. Hulle wat nie ‘n konkrete gebod soos Adam oortree het nie, sterf ook. Byvoorbeeld klein kinders ... Hoe moet ons dit dan sien? Wel, deur die sonde van één, Adam in die Paradys, het alle mense self sondaars geword. In Romeine 5:12 staan baie duidelik: Almal het gesondig. 

En dit is dan geen erfskuld nie, al word dit soms wel so genoem. Want jy kan nie sonde erf nie (Eseg. 18:20). Dit is beter om te praat van ‘n gesamentlike eerste skuld in Adam.

Die Tweede en Laaste Adam🔗

Die vraag wat nou gevra kan word is hoekom God so ‘n groot risiko geneem het deur die hele menslike geslag te sien in Adam. Tog het God die mens eers baie goed geskape. Wanneer Hy kom tot verlossing, skuif Hy nie die skuld op hierdie struktuur nie. Inteendeel, terwyl Hy hierdie goeie verbondenheid bewaar, vervang Hy vir ons die Adam. Gevolglik wil God ons nou voortaan aansien IN sy Seun. Alles wat in Hom is, word nou aan ons naam gekoppel. Ja, ons mag self IN HOM wees, IN CHRISTUS.  Hierdie kort uitdrukking kom ons gereeld teë in die Bybel, byvoorbeeld Rom. 8:1. Dit beteken dat God ons as so konkreet ingelyf by Sy Seun sien, dat ons nou alles gemeenskaplik met Hom kan deel. Net so werklik en net so konkreet soos wat ons alles van nature deel met en in die eerste Adam.

Almal verstaan wat die gevolg is wanneer die verbondenheid in die eerste Adam nie konkreet bely word nie. Dit blokkeer nie slegs die sig op die persoonlike sondeval van alle mense in die Paradys nie, maar dan kan ook nie meer bely word hoe werklik, konkreet en persoonlik God ons in die laaste Adam sien nie.

In hierdie opsigte is daar subtiele verskuiwings waarneembaar in die boek van Duffield e.a., waarop ons gereeld sal terugkom. Die ‘in Christus’ wees word gereeld genoem, selfs ‘n hele paar keer, maar dit het nie die vertroostende uitwerking van ewige geborgenheid nie. Dit word eerder ‘n geval van lewe ‘deur Christus’ en die resultate van Sy werk.

Dit word maklik gesien as ‘n nuwe bestaan, wat die gelowige self moet laat realiseer.

kruis

As illustrasie sal u sien dat Duffield skryf oor die doop ‘in Christus’: dit beteken dat die sondaar ‘homself deur geloof vereenselwig met die dood van Christus aan die kruis en so met Christus opstaan in ‘n nuwe lewe’. In hierdie beskrywing is dit opvallend dat die sondaar die handelende persoon is. Hy doen dit.  Wel deur die Heilige Gees, maar tog! En dit terwyl die in-Adam-wees (die eerste of die laaste) juis wys hoe God ons sien. Ons kan dit wel ontvang, in skepping en herskepping, maar dit nooit self bewerk nie.

‘n Ander gevaar verbonde aan hierdie benadering is dat die sondaar hom nie slegs vereenselwig met die dood en opstanding van Christus nie, maar ook so met Christus self, op so 'n manier dat die identiteit van die Eén en ander nie meer van mekaar onderskei kan word nie. 

Middelaar🔗

Dit is ‘n belangrike motief hoekom daar myns insiens vanuit die boek die verbondenheid met God en geborgenheid in Christus nie duidelik na vore kom nie.    

Daar ontbreek selfs ‘n aparte hoofstuk oor die Seun van God. Hy word voortdurend genoem, selfs gereeld op die regte manier, maar sy posisie as Middelaar word nie sentraal gestel nie.

Die woord ‘Middelaar’ kom wel in die boek voor. Een keer wys dit na die twee nature van Christus, ‘n ander keer dui dit op die toegang wat Hy gee tot die Vader. Maar dat Hy as Middelaar regtig die hele lewe vernuwe, van die begin af aan, en die skuld betaal, reeds vanaf die Paradys om só die mens met God te versoen, soek ons vergeefs na in hierdie dogmatiek.

In plaas daarvan lees ons die opmerklike gedagte dat Jesus tydens sy lewe op aarde nie kon sondig nie. Hy was volmaak reeds van die begin af. Volgens sy godheid was hy so, en ook na sy mensheid was Hy sonder sonde.  Die versoeking van die satan was slegs nodig om sy volmaaktheid te toon.

Op hierdie manier gaan naamlik verlore wat God in byvoorbeeld Heb. 8:5 sê, dat die Seun gehoorsaamheid geleer het. Hy het nie maar net iets kom toon nie, maar vir ons tot stand gebring. Dit is werklik nie ‘n klein verskilletjie nie!

Die fondament lê hier alreeds skeef, waarop die bouwerk van die Pinkstergemeente verder sal verrys.

Supralapsarisme🔗

‘Lapsus’ is latyn vir ‘val’; ‘supra’ beteken ‘bo’.

Supra-lapsarisme het derhalwe die aanduiding geword van ‘n manier van denke, waarin die mens as’t ware op God se troon gaan sit om bo die sondeval uit te kyk na die einddoel. Die mees verregaande konklusie word dan getrek: byvoorbeeld dat God streef na ‘n vol hemel en ‘n vol hel, en dat Hy daarom besluit het op die skepping van die mens wat in sonde sou val.

Dit is nie mooi om so-iets te lees nie. En dit is net so min tot God se eer dat Duffield e.a. skryf dat God verlang daarna om sy barmhartigheid en toorn te wys en dat Hy daarom die sondeval toegelaat het. Deur hierdie denke verlaat die eiewyse mens sy eie plek. Hy sit naamlik nie op God se troon nie. Hy kan hom ewemin voorstel dat daar by God nie 'n vroeër en 'n later is nie, want dit is tydsaanduidings. God is nie onderworpe aan tyd nie, hoe kan ons dan die gebeurtenisse vir God in die regte volgorde plaas?

Ons belydenisse is op die aarde geskryf. Ons beskryf wat hier gebeur in die volgorde wat God ons geleer het. Ons neem ook ernstig op dat God nooit die sondes wou gehad het nie.

trap na hemel

Bevryding?🔗

Dit is tyd vir 'n tussenbalans. Die vraag was aan die begin: hoe kan dit wees dat gereformeerde mense soms so skielik in die greep van 'n Pinkstergemeente raak? Wat kan ons tot hiertoe daarop antwoord?

Die belangrikste verskil sal wees dat sonde en skuld 'n ander plek inneem. Minder ingrypend, waardeur die mens minder onmagtig verklaar word. Vir meniges sou dit 'n ware bevryding kan wees, want daar is broeders en susters in alle leeftydsgroepe wat deur 'n groot sondebesef 'n sekere geloofsvreugde mis.

Dit is dan belangrik om te vra watter plek sonde en die sondaar in die prediking kry. Gebeur dit inderdaad op 'n benouende manier, sodat die gereformeerde mens na die Pinkstergemeente vlug?

Die vraag kan ook anders gestel word. Hoe word die gemeente aangespreek: in die eerste Adam, as mense wat eerstens sondig, nietig en tot geen goeds instaat is nie, óf in die laaste Adam, as kinders van God, wat ondanks hulself tog in Christus vrymoedig mag lewe?

Dit sou tog heeltemal vreemd wees as iemand in die gereformeerde kerke nie die ware vryheid sou kon vind nie? Hierdie gedagte wil ek ten sterkste ontken. Dit sal wel voortdurend nodig wees om op hierdie punt attent te bly. Deur al die eeue is die vryheid in Christus beveg, deur dwaling van buite en miskenning van binne.

Laat één ding egter duidelik wees: diegene wat vir skuld en sonde wegvlug na 'n plek waar dit gedeeltelike ontken word, kan (tydelik) verligting voel, maar sal tog vroeër of later ervaar dat 'n optimistiese kyk na die mens geen bevryding bied nie.

Egte, volledige vryheid van skuld en 'n diep vreugde in God, is gawes wat juis daar ontvang word waar Jesus Christus as Middelaar gepredik word en in geloof ontvang word.