Pinksterblydskap by Gereformeerdes
Pinksterblydskap by Gereformeerdes
Dit is nou sewe weke na die Pase en daarom tyd om die gebeure by Pinkster te gedenk. Dikwels word dit die Geformeerde Kerke ten laste gelê dat ons te min van Pinksterherdenking maak. Dit is inderdaad so dat 'n mens te min daarvan kan maak. Maar 'n mens kan ook te veel daarvan maak. Laat ek verduidelik.
Pinkster Nie na Waarde Geskat Nie ⤒🔗
Miskien is dit uit reaksie teen die metodisme, miskien is dit uit vrees vir wanpraktyke, miskien sommer net uit beskroomdheid. Wat ook al die rede, Gereformeerdes is dikwels huiwerig om iets besonders van Pinkster te maak. Dit lei egter tot 'n nuwe gevaar, naamlik dat ons die Pinkstergebeure nie na waarde skat nie.
Die Skrif is baie duidelik daaroor dat die uitstorting van die Heilige Gees op Pinkster geen geringe gebeurtenis was nie. Trouens, dit was dié gebeurtenis van die eindtyd, waarin ons nou lewe.
Met Pinkster het die Here Jesus Christus, wat pas tevore by hemelvaart sy hemelse troon bestyg het, sy koningsheerskappy op aarde gevestig. Deur die Heilige Gees het Hy onder ons kom woon en regeer Hy oor ons tot by sy wederkoms. Ons mag hierdie wonderlike heilsbetekenis van die Pinkstergebeure nie geringskat nie. Nie net met stille verwondering nie, maar ook met diepe dankbaarheid moet elke gelowige aan die uitstorting van die Heilige Gees terugdink. Want die Heilige Gees is God se gawe aan die kerk in die eindtyd. Deur die Gees rus Hy sy kerk toe (Hand. 1:8) om waarlik kerk te wees. Die Gees het gekom om die kerk in die hele waarheid te lei (Joh. 16:13). Sonder die Heilige Gees sou die kerk geen tree kon vorder nie. Trouens, sonder die Gees sou die kerk nie kerk kon wees nie.
Die Pinkstergebeure hou ook 'n ryke troos vir ons in. Die Heilige Gees word nie sonder rede nie deur Jesus "die Trooster" genoem (Joh. 16:7). Waarom "Trooster"? In die eerste plek omdat in Hom God by ons teenwoordig is. Jesus het sy kerk nie as wese agtergelaat nie, maar in die Heilige Gees na ons teruggekeer. Sedert Pinkster woon God die Gees by en in ons. Daarmee kan ons getroos wees, ook in dae wanneer ons bitter alleen voel.
Maar die troos van die Gees gaan nog verder. Christus het die Heilige Gees ook as seël, dit wil sê as waarborg, aan die kerk gegee (Ef. 1:13). Die Heilige Gees is ons waarborg dat ons aan God behoort. Omdat die Heilige Gees by Pinkster uitgestort is, is elke gelowige in sy diepste wese verseker dat hy kind van God is. Dit is die troos van die Gees.
Ons sal lank kan uitwei oor die heerlike betekenis van Pinkster vir die gelowiges. Ons sou kon wys op die doop met (inwoning van) die Heilige Gees wat elke gelowige ontvang (1 Kor. 12:13). Ook op die opdrag om vervul te word met die Heilige Gees, oftewel om ons onder die heerskappy van die Gees te stel (Ef. 5:18). Die ruimte ontbreek egter om die gawe van die Gees in al sy fasette te benoem.
Ons moet volstaan deur te sê dat ons as Gereformeerdes gerus groter blydskap kan toon oor die gawe van die Heilige Gees wat die Here vanaf Pinkster aan sy kerk gegee het.
Pinkster Uit Verband Geruk←⤒🔗
Ongelukkig word Gereformeerdes dikwels afgeskrik deur kerklike praktyke waarby Pinkster heeltemal uit verband geruk word. Kerklike groepe wat by Pinkster na 'n nuwe uitstorting van die Heilige Gees in die lewe van die gelowige soek is by ons goed bekend.
Hoewel so 'n strewe waarskynlik gebore is uit groot vroomheid, trek dit in werklikheid 'n streep deur die ware betekenis van Pinkster. 'n Mens kan dit vergelyk met die kwessie doop en herdoop. Die gelowige wat besef dat sy doop seël van God se verbondsbelofte is, hou lewenslank daaraan vas sonder die begeerte dat dit herhaal moet word. Wie 'n herdoop verlang, gee te kenne dat God se belofte vir hom betekenisloos is. Desgelyks, wie 'n heruitstorting van die Heilige Gees verwag, verklaar daarmee dat God nie destyds by Pinkster sy Gees as blywende gawe en seël aan die kerk gegee het nie. 'n Soeke na ‘n heruitstorting van die Heilige Gees trek dus 'n streep deur God se openbaring. Ongelukkig is ook die metodistiese praktyk van herlewingsdienste in die verlede aan Pinkster verbind. Die gevolg is dat baie Gereformeerdes steeds vandag groot versigtigheid aan die dag lê by die herdenking van Pinkster. En tereg. Want 'n gevoelsmatige opsweping met die oog op 'n geestelike "revival" druis lynreg in teen die werk van die Heilige Gees en daarom ook teen die betekenis van Pinkster.
Daaglikse Bekering←⤒🔗
Teenoor die praktyk van herlewingsdienste by Pinkster staan immers die Bybelse opdrag tot voortdurende reformasie. Aan hierdie opdrag wil Gereformeerdes juis onverswak vashou. In die lewe van die individuele gelowige beteken voortdurende reformasie niks anders nie as daaglikse bekering.
Dus nie net by Pinkster nie, maar elke dag van ons bestaan moet ons onsself meer en meer onder die heerskappy van die Gees stel. As Gereformeerdes leef ons dus daagliks vanuit die werklikheid van die Pinkstergebeure.
Hierdie gesindheid kom pragtig onder woorde in Sondag 32 van die Kategismus, waar ons bely dat "Christus, nadat Hy ons met sy bloed gekoop en vrygemaak het, ons ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe, sodat ons met ons ganse lewe aan God dankbaarheid vir sy weldade sal bewys en Hy deur ons geprys word".