Bron: Die Kerkblad, 2006. 1 bladsye.

Persvryheid

spotprent van Mohammed

Die publikasie van ’n spotprent van die profeet Mohammed in ’n Deense blad het ’n storm van – selfs gewelddadige – protes deur Moslems wêreldwyd ontketen. Hulle voel dat hiermee hulle diepste geloofsoortuigings op ’n onaanvaarbare wyse aangetas, gekrenk en bespotlik voorgestel is.

Daarmee is die saak van persvryheid weer vierkantig in die kollig geplaas. Hoe belangrik is persvryheid en bestaan daar hoegenaamd grense daaraan?

In ons Suid-Afrikaanse Grondwet is persvryheid verskans (Art. 2.16.1). Inderdaad is dit iets besonders waarvan die waarde moeilik oorskat kan word. Dit bied geleentheid vir koerante en joernaliste om as waghond van die samelewing op te tree, om toesmeerdery, manipulasie en magsmisbruik van regeringskant oop te vlek en openbaar te maak.

In baie gevalle is joernaliste ’n doeltreffender opposisie as ’n bepaalde politieke party. In lande met dikta­ture, of neigings in daardie rigting, is persvryheid van essensiële belang.

Mens dink in hierdie verband aan die rol wat persvryheid gespeel het in die Watergate-skandaal in die VSA (1972), die Inligtingskandaal in Suid-Afrika (1978) en meer onlangs die Oilgate-skandaal en die ver­meende Zuma-skandaal. Joernaliste is onmisbare snuffelhonde om die leuen op te spoor en die waarheid te ontbloot.

Maar is daar ook grense aan persvryheid? Alles is natuurlik moontlik, maar is alles geoorloof? Oorlogspropaganda, geweldpraatjies en haatspraak word deur ons Grondwet verbied (Art 2.16.2). Dan ken die Christelike etiek ook so iets soos (on-)welvoeglikheid, (on-)fatsoenlikheid en (dis-)respek. Daar is dinge “wat ’n mens eenvoudig nie doen nie.” As Christen respekteer jy jou medemens, ongeag ras, geslag of geloof; jy maak jou nie skuldig aan onfatsoenlike, onwelvoeglike en disrespekvolle gedrag nie – selfs al verskil jy van die ander persoon se standpunte.

pers

Christene sal vir seker met afkeur reageer indien daar waar ook al ter wêreld ’n spotprent van Jesus Christus sou verskyn. Dat Moslems dieself­de oor ’n spotprent van hulle belangrikste profeet sou voel, is dus begryplik – al moet hulle gewelddadige protes sterk afgekeur word, wat gelukkig ook deur die Moslemleiers gedoen is.

Daar is dus grense aan persvryheid en gevolglik is ’n bepaalde vorm van perssensuur nodig, maar dan moet laasgenoemde op moreel verantwoorde wyse toegepas word.

Persvryheid is noodsaaklik vir die moraliteit van ’n samelewing, hoewel dit nie verabsoluteer mag word tot nadeel van ’n medemens en tot bespotting van ander se geloofsoortuigings nie.