Paassondag: Die Waarheid van Christus se Oorwinning oor die Dood
Paassondag: Die Waarheid van Christus se Oorwinning oor die Dood
Dit was nog altyd so; hoe yweriger Satan sy leuen propageer, hoe sterker galm God se waarheid oor die wêreld. In hierdie tyd van die jaar, wanneer die Christelike kerk wêreldwyd die kruis en opstanding van die Here Jesus gedenk, is dit weer so. Satan se leuen dat God dood is, word weerlê deur die feit van miljoene gelowiges wat die Lewende God in hulle lewe ken en bely.
By Gólgota, bykans tweeduisend jaar gelede, het Satan die leuen oor Jesus begin versprei. Jesus Christus het die stryd verloor! Sien julle? Daar blaas hy sy laaste asem uit. Hy is dood. Selfs hy, wat veronderstel was om almagtig te wees, moes die knie voor die dood buig. Waarom hom dan dien? Kom en volg my liewer...
Soos onkruid het hierdie leuensaad selfs in die harte van die dissipels ingedring. Verward en bang het hulle agter geslote deure weggekruip (Johannes 20:19).
Maar die waarheid van Jesus se kruisdood kon nie onderdruk word nie. Die waarheid was: sy kruisdood was nie ’n nederlaag nie maar juis die oorwinning. Met sy dood aan die kruis het Hy Satan se aanspraak op die uitverkorenes van God verpletter. Die uitverkorenes staan nie meer voor God skuldig tot die dood nie, want hulle skuld is betaal - geheel en al. Jesus se dood was dus die roemryke oorwinning oor die mag van die sonde oor die wêreld.
Maar Hy het die dood ingegaan vir ’n nog groter oorwinning – die oorwinning oor die dood self! Jesus se lewe eindig immers nie in die dood nie. Inteendeel. Hy laat die dood juis in die lewe eindig. Die bande van die dood kon Hom nie vashou nie. Want op die derde dag het Hy opgestaan. Hy wat dood was, lewe.
Vir Satan was dit ’n bitter pil om te sluk. Daarom het hy dadelik sy beste wapen ingespan, die leuen: Jesus het nie regtig opgestaan nie. Nee, sy dissipels het sy liggaam in die nag kom steel en êrens weggesteek. Gaan vra maar vir die soldate wat sy graf daardie nag opgepas het. Dat dit ’n hele klomp omkoopgeld gekos het om hulle te laat saam lieg... ag, waarom nou daaroor begin hare kloof? Wat belangrik is, is dat Jesus Christus dood verklaar moet word. Hy is dood. Die Messias het gefaal. Met God is dit klaar.
Hierdie leuen, so lees ons in Matthéüs 28:15, word tot vandag toe in die wêreld versprei. En so beleef ons dit ook vandag steeds na bykans tweeduisend jaar. Groot filosowe, selfs vermaarde teoloë, verkondig dat Christus nie werklik opgestaan het nie. Dié wat nog aan sy liggaamlike opstanding glo, sê hulle, hou vas aan ’n mite, ’n storie wat deur die apostels en die vroeë kerk gefabriseer is. Wat ons in die Bybel oor die opstanding lees, is nie die historiese feite nie maar is bloot die skrywers se eie interpretasie van wat gebeur het (vgl. bv. D J. Smit in Neotestamentica 22 (1988), p.173: The resurrection of Jesus – what was it? Plurality and ambiguity in the Christian resurrection hope).
Maar op die lang duur kan hierdie leuen van Satan nie stand hou nie. Juis wanneer die Christelike kerk weer vanjaar tydens die Paasnaweek orals byeenkom om die dood en opstanding van Christus te gedenk, word Satan se leuen daardeur hard en duidelik weerlê. Satan kan maar probeer om aan Jesus Christus die naam te gee dat Hy dood is, maar Hy lewe. Hy lewe om nooit te sterwe nie. En elkeen wat in Hom glo, het saam met Hom die opstanding tot die lewe.
Aan hierdie heerlike feit kan selfs die mees geslepe en bedrewe leuen van Satan niks verander nie. Deur die eeue tot vandag toe bely miljoene Christene hierdie feit as die waarheid en put hulle daaruit troos en krag.
Daarom behoort elke gelowige hom, of haarself telkens te ondersoek: Wat maak ek met die waarheid van Christus se opstanding uit die dood?
Neem ek deel aan die verkondiging van hierdie waarheid – op Paassondag, en op elke Sondag daarna? Of ignoreer ek die waarheid deur my afwesigheid op hierdie dae? As ek die herdenking van Christus se dood en opstanding ignoreer, beteken dit dat ek die leuen sy gang laat gaan. En dan kom dit eintlik daarop neer dat ek die leuen bevorder.
Daarom is ons as Gereformeerdes so gereeld as moontlik saam in die erediens. Ter wille van ons eie opbou in die geloof, ja, ook ter wille van die belewing van ons geloofsgemeenskap met die gemeente in gebed en sang en belydenis voor God. Maar bowenal kom ons saam om die waarheid van die evangelie van Jesus Christus openlik, amptelik, in die wêreld te laat opklink. Ja, die waarheid van sy oorwinning oor die dood.