Onvergenoegde Predikantskerke
Onvergenoegde Predikantskerke
⤒🔗
Twee Kante van die Saak←⤒🔗
Die Roomse het 'n spreekwoord: waar die priester is, daar is die kerk, en per implikasie – God. Baie gereformeerdes is op die oppervlak hewig gekant teen die Rooms-Katolieke kerk, en sal dan ook hierdie Roomse stelling, tereg, as onskriftuurlik afwys. En tog kom daar baie maal 'n vreemde Ieefwyse onder gereformeerdes voor – naamlik dat die predikant verantwoordelik is vir alles in die gemeente. Die oorsaak van die probleem kom moontlik van twee kante: Eerstens van die kant van die herder wat graag die lof wil insamel as alles goed verloop in die gemeente. In so 'n geval is die gemeentelike toestand dan 'n barometer van die "wakker dominee" se harde arbeid. Tweedens, van die kant van die kudde wat die herder sien as God se verteenwoordiger. In so 'n geval is alles wat verkeerd loop in die gemeente die herder se skuld. Selfs sy afwesigheid in die gemeente word gesien asof God afwesig is. Konkrete voorbeelde hiervan is die verskynsel dat sommige kerke bykans "toemaak" in die dominee se verloftyd (vakansies). Die vraag is: Is ons nie baie meer Rooms in die inrigting van ons kerk- en ampsbeskouing as wat ons met die mond sou wou toegee nie? Kom bg. praktyke nie grotendeels op die volgende neer nie: Waar die dominee nie is nie, daar is God nie aan die werk nie?
Maar dit is nie net die kudde wat in die versoeking val om die amp te oorspan nie. Menigte herder versoek die gemeente tot die daad omdat hulle van die standpunt uitgaan dat niks in die "tam gemeente" sal gebeur as die dominee dit nie laat gebeur nie. Herder en kudde verloor beide uit die oog dat die twee saam die liggaam van Christus is. Saamgevoegde lede wat mekaar tot diens moet wees.
Waak teen Versoeking←⤒🔗
Luiheid en ampsontduiking aan die een kant, en leersug en ambisie aan die ander kant kan beide die herder en die kudde versoek om van die liggaam van Christus 'n predikantskerk te maak. As iemand siek is, maak nie saak wie ook besoek afgelê het nie, as die predikant te lank draai, doen die "kerk" nie sy werk nie, en word vrae gevra oor die dominee se tydsaanwending. Die besef dat die dominee gedurig onder die gemeente se vergrootglas werk verlei die dominee ook daartoe om juis (net) die dinge te doen wat hom 'n goeie visitasie sal verseker en in die oë van die gemeente "aanvaarbaar" is.
Brommend←⤒🔗
Baie gemeentelede het dikwels 'n brommende onvergenoegdheid met hulle dominees. Maar ook heel dikwels tref 'n mens by die dominee 'n brommende onvergenoegdheid met die gemeente aan. Hierdie onvergenoegdheid stam seer sekerlik uit die tradisie van oorspanning van die herder-leraaramp in die hele verskynsel van ampsverdringing. Hierdie tradisie leer dat die predikant hoogs opgelei moet wees – 'n deskundige op velerlei terreine. Sake wat baie predikante ten laste gelê word is byvoorbeeld dat hulle finansiële deskundiges moet wees, (wat eintlik verantwoordelik is om deur goeie beplanning hul eie "salaris" te in); om groot dele van die gemeente-administrasie self te behartig; om as besturende direkteur van die gemeente op te tree met fyn geslypte organisatoriese vermoëns sodat die gemeente in 'n hegte eenheid saamgesnoer word. Of die eenheid nou om die predikant se persoon in plaas van die Gees van Christus, gesnoer word, is vir baie van minder belang.
Gesant van Christus aan die Ekklesia van Christus←⤒🔗
Hoeveel gemeentes is opreg vergenoegd met hulle predikant(e) – nie met die dominee wat ons beroep en betaal nie, maar met die gesant van Christus wat hy self aan die gemeente gestuur het? Nie net by die beroeping van 'n bedienaar moet daar gebid word nie, maar ook daarna, veral, moet daar biddend met Christus se keuse saamgeleef word. In hoe 'n mate moet die gemeente vergenoegd wees met 'n predikant met gebreke en swakhede? Wat is die norm? Hier word nie gepleit vir geduld met sondes soos ampsontheiliging en troueloosheid nie, maar geduld met die hoeveelheid gawes wat God aan sy bedienaars gegee het. Nie alle predikante is tegelykertyd skitterende predikers en uitmuntende pastors en vooraanstaande jeugversorgers ens. nie. (Nie alle predikantsvroue het altyd die gawes om ook voorsitster van die susters te wees nie).
Maar die ander kant van die vraag is ook geldend: Hoeveel predikante is opreg vergenoegd met die kudde wat Christus vir Hom hier op hierdie plek versamel het? Nie alle kuddes lyk dieselfde nie. Wat is die norm vir vergenoegdheid met die gebreke en tekortkominge van die kudde? In artikel 28 van die NGB bely ons dat die herder en die kudde saam die eenheid van die kerk moet bewaar, saam die nek onder die juk van Christus moet buig, saam mekaar moet dien in die opbou van ons geloof volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het. Dit is hierdie herder wat God vir dié doel aan die kudde gegee het, maar dit is ook hierdie kudde wat God uitverkies het om sy kerk op hierdie plek te wees. Mits daar in opregtheid en eerlik tot God gebid word by die beroeping, en in die uitlewing van die roeping.
Maatstaf←⤒🔗
Die probleem kom wanneer die gemeente besluit watter soort dominee hulle wil hê. Een wat sal inpas, een wat dieselfde politieke oortuigings en vooroordele as ons het, een wat in alle opsigte aan ons verwagtings voldoen. Die gemeentelike selfsug word dan as norm vir vergenoegdheid verhef bo God se verwagtings in sy Woord. Die gemeente sorg dan dat die predikantskerk op stewige fondamente afskop. Die dominee se strewe kan ook as norm verhef word wanneer hy meedoënloos daarna jaag om "vrugte" op sy arbeid te sien. So 'n "menslike" strewe neig om die Heilige Gees se werking in die gemeente te verduister, en die resultate aan die insette van die dominee te koppel. Die dominee werk dan hard mee aan die predikantskerk.
Roomse Priester←⤒🔗
So 'n "gereformeerde" predikantskerk is nie maar net Rooms nie, maar ook ontstellende ondankbaarheid voor God. Mense wat hulle gemeentes as predikantskerke wil sien, wil nie bedienaars van Christus hê nie, maar Roomse priesters waarnatoe hul kan gaan omdat die priester God verteenwoordig, want waar die dominee is, daar is God. Daarom word dikwels dinge voor die voete van die dominee gelê, wat eerder van God gebid moes gewees het. Die dominees wat die gemeentes as predikantskerke wil sien, lê voortdurend 'n barometer aan om die groei, die meelewing, die sukses te toets.
Roeping←⤒🔗
Wat staan ons te doen? Terug na ons roeping.
Ten eerste die herder-leraars: Doen alles wat Christus julle beveel het; doen nét wat Christus julle beveel het – verkondig die Woord onderrigtend, vertroostend, vermanend, teregwysend; doen huisbesoek; en doen kategese-onderrig in alle lankmoedigheid en lering. Vervul hierdie roeping biddend met die gawes wat die Gees van Christus julle toebedeel het, om die gelowiges vir hulle dienswerk tot opbouing van die liggaam van Christus toe te rus (Ef. 4:11-12), terwyl u ook waak om nie die genadegawes wat aan u gegee is te verwaarloos nie.
Tweedens moet die gemeente, die ouderlinge en diakens doen waarvoor Christus hulle elkeen geroep het. Daar is vier ampte in die kerk - nie net een nie. Predikant-wees is 'n diens, dit is nie die middelpunt waarom kerkwees draai nie. Die ouderlinge is ook as herders geroep. Die diens van die diakens moet die eenheid van die liggaam van Christus op oog hê. Dan is daar ook die amp van die gelowige: die kudde. Dit beteken nie die verdwyning van die herder-leraar se amp nie, maar 'n aansien vir wat dit is: geroepe dienaar van God deur wie se diens God jou wil aanspreek. Vir wie jy voorbidding moet doen. Wie jy in blydskap moet ontvang. Aan wie jy gehoorsaam moet wees – want hy sal aan God rekenskap moet gee, nie net oor sy werksaamhede in die gemeente nie, maar ook oor jou lewe.
Hoof van die Kerk←⤒🔗
As Christus die Hoof van die kerk is (wat Hy is) – mag nóg die gemeente, nóg die dominee Hom 'n seremoniële hoof maak en verwag dat die dominee Christus se werk, sy eer en in sommige gevalle selfs sy vergifnis met betrekking tot die gemeente moet behartig. Christus is die Hoof van die kerk. Waar Hy is, waar Hy sy gelowiges in sy liggaam ingelyf het, daar is God te vind. Hierdie waarheid moet die herder in u huise indra, en hierdie waarheid moet die gemeente deur die Woordbediening van die dominee ontvang en glo. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal die harte en sinne van Sy gemeente bewaar.