Ons Skuldige Stilte - Motiewe vir Evangelisasie
Ons Skuldige Stilte - Motiewe vir Evangelisasie
Die meeste mense is spraaksaam. Sommige hou nooit op praat nie! Hoekom droog ons spraakwater dan so gou op as die gesprek in die rigting van godsdiens beweeg?
Soms verraai ons stilte ons gebrek aan Christelike oortuiging en ervaring. Selfs as ons van die evangelie seker is, en die krag daarvan in ons lewens ervaar het, ervaar ons soms steeds ʼn gebrek aan selfvertroue. Ons vrees teëspraak of selfs spot. Slegs sterk, positiewe aansporings sal hierdie weerstand afbreek.
In evangelisasie het ons ook ’n sterk dryfveer nodig, want evangelisasie is moeilike en gevaarlike werk. Ons moet van aangesig tot aangesig met die vyand handgemeen raak. Dit plaas ons op die voorste linie teen die wêreld, en stel ons bloot aan teenaanvalle. Sommiges begin nooit met evangelisasie nie, weens ʼn gebrek aan behoorlike motivering. Ander weer begin, maar raak mismoedig en gooi tou op; hulle het nuwe aansporings nodig. Ander ervaar weer dat hulle evangelisasie van die staanspoor af oneffektief is, omdat hulle deur verkeerde motiewe aangespoor word. Daar is ʼn groot nood om die kerk van verkeerde motiewe te suiwer, en om die regte motiewe in plek te kry.
Wat dring die Christen om aktief te getuig? Die basiese motief is doodeenvoudig gehoorsaamheid. Elke Christen is ʼn dienaar van Christus. “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korintiërs 6:20). Ons is nou aan ons Meester verbind met bande van dankbare gehoorsaamheid! Die liefde van Christus beheers ons. Dit het ons in sy greep. Ons nuwe lewe is te danke aan sy sterwe. Sy liefde omring ons en laat ons geen keuse as om vir Hom te lewe nie (2 Korintiërs 5:14, 15).
As ons vir Christus lewe doen ons sy wil, en leef volgens al sy gebooie. Ons is nie vry om kieskeurig te wees nie. Ons wil ook nie. So mag ons ook nie sy laaste opdrag miskyk nie: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies...” (Matteus 28:19)
Gehoorsaamheid aan hierdie opdrag is nie slegs die vrug en die bewys van liefde nie, maar ook – spesifiek in die opdrag om te evangeliseer – verskaf dit ʼn eerbare voorreg om deel te hê aan God se eie sending in die wêreld. Eers het Hy sy Seun gestuur. Toe stuur Hy sy Gees. Nou stuur Hy sy kerk, ons. Hy stuur ons deur sy Gees die wêreld in om sy Seun se redding te verkondig. Hy het deur sy Seun gewerk om dit te bereik; Hy werk deur ons om dit bekend te maak. (2 Korintiërs 5:18, 20)
As liefdevolle gehoorsaamheid aan God die eerste dryfveer is vir evangelisasie, dan is liefdevolle belangstelling in my medemens die tweede. Om my naaste lief te hê is om hom met die hoogste goed te dien. Die mens se hoogste goed is meer as sy basiese behoeftes soos kos, klere en onderdak. Dit is ook nie gesondheid van liggaam en gees of die suksesvolle integrasie in die samelewing nie. Die mens se hoogste goed is sy verhouding met God, volgens wie se beeld ons geskape is.
Omdat die mens basies ʼn geestelike wese is, kan hy nie van brood alleen lewe nie. Hy het ʼn groter honger as wat die bakker kan bevredig. As ons dit weet, en ook die evangelie ken, kan ons hom voorstel aan die ‘ware brood’ uit die hemel (Johannes 6:32). Ons toon nie ons liefde as ons hom laat verhonger nie. “As daar nou ʼn broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit?” (Jakobus 2:15,16).
Die vraag is selfs meer indringend wanneer ‘dinge benodig’ nie vir die liggaam nie, maar vir die siel is. Dit is so dat die mens een persoon, ʼn liggaam-gees is, en dat sy fisiese behoeftes nie geïgnoreer kan word nie. Maar die verwaarlosing van my naaste se geestelike behoeftes, vir watter redes ook al, kan nie versoen word met die begrip naasteliefde nie. Hierdie verwaarlosing is kriminele onverantwoordelikheid. Om die ‘goeie nuus’ deur stilswye te onderdruk, sal skuld veroorsaak.
Al is die motiewe van gehoorsaamheid en medelye hoe dwingend, is nie een van die twee die sterkste evangeliese aansporing vir evangelisasie nie. Wat dit wel is, leer ons van die apostels Paulus en Johannes. Aan die begin van die brief aan die Romeine skryf Paulus (Romeine 1:5) dat sy sending onder al die heidene “ter wille van sy Naam is”, en Johannes verwys na broeders wat “vir sy Naam uitgegaan het” (3 Johannes 7). Watter Naam hier bedoel word is nie moeilik om te raai nie. Dit is die groot naam van Jesus. Die vroeë Christene was bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly (Handelinge 5:41). Hulle was dan ook baie gewillig en bereid om te evangeliseer. Selfs liefde vir die bevele van Christus en liefde vir die verlore skape is ondergeskik aan en afhanklik van die liefde vir die naam van Christus.
Liefde vir sy Naam is nie ʼn sentimentele aangetrokkenheid tot sy persoonlike Naam ‘Jesus’ of tot sy amptelike titel ‘Christus’ of enige ander Name in die Skrif nie. Dit gaan om Sy eer in die wêreld, ʼn vurige wens om die gebed: “Nie aan ons, o Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil” te laat vervul (Psalm 115:1). Dit is ʼn erkenning dat God die Vader Hom verhoog het “bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige” (Efesiërs 1:21). Ook in Filippense 2:9-11 lees ons: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ʼn naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”
Gehoorsaamheid aan Christus, liefde vir my naaste, en die eer van Christus se Naam, dit is die motiewe waardeur God ons skuldige stilte wil oorwin!