Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Ons Moeder is die Vrye Jerusalem

bevry

In Galasiërs 4: 21-31 staan daar die volgende:

Julle wat so graag aan die wet van Moses onderworpe wil wees, sê vir my: Hoor julle nie wat die wet sê nie? Daar staan tog geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een by ʼn slavin en een by ʼn vrygeborene. Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens ʼn belofte van God. ʼn Mens moet dit figuurlik verstaan. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Die een is by Sinaiberg gesluit en bring slawe voort. Die verbond is Hagar. Hagar staan vir Sinaiberg in Arabië, en dit is ʼn beeld van die huidige Jerusalem, want Jerusalem en sy kinders is slawe. Maar, die hemelse Jerusalem is vry en dit is ons moeder. Daar staan immers geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie kinders kon hê nie. Juig van vreugde, jy wat nooit moeder kon word nie, want die kinderlose vrou wat deur haar man verlaat is, sal meer kinders hê as die vrugbare wie se man by haar is. En julle, my broers, is net soos Isak kragtens die belofte kinders van God. Destyds het die seun wat volgens die loop van die natuur gebore is, die seun vervolg wat deur die Gees in die wêreld gekom het. En dit is nou nog so. Maar wat sê die Skrif hiervan? Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die slavin mag hoegenaamd nie saam met die seun van die vrygeborene erf nie. Ons is dus nie kinders van ʼn slavin nie, broers. Ons is kinders van die vrye.

In Paulus se brief aan die Galasiërs kleef daar ʼn spanning. Dit is spanning tussen twee onversoenbare pole. Die een hou verband met die teologie wat sekere dwaalleraars in die gemeente verkondig het. Die ander is die Evangelie wat Paulus verkondig het. Volgens hierdie Evangelie word die sondaar slegs uit God se vrye guns gered. ʼn Redding wat op Golgotha voltrek is en wat deur ʼn beloftewoord aan die sondaar toegesê word en geglo mag word. Daarenteen het die dwaalleraars gesê dat daar menslike vereistes by God se genade in Christus gevoeg moet word. In hierdie geval die onderhouding van die besnydenis. By Paulus is God se genade volstrek. By die dwaalleraars word God se genade afhanklik gestel van menslike gehoorsaamheid. Hierdie spanning is die agtergrond van die genoemde Skrifgedeelte.

Onder leiding van die Gees vergelyk Paulus hierdie polêre spanning met Ismael en Isak wat uit Abraham gebore is en Hagar en Sara as onderskeie moeders. Hy trek twee lyne. Beide begin by Abraham, maar die eerste lyn loop vanaf Hagar na Ismael na Sinai na Jerusalem die hoofstad van die Joodse godsdiens. Die tweede lyn loop van Sara na Isak na die “vrye” Jerusalem. Die Jerusalem “van bo”.

Dit is duidelik dat hy die eerste “lyn” in verband bring met die dwaalleraars se teologie waar die mens poog om die ewige lewe te verdien deur menslike insette. Die tweede “lyn” bring Paulus in verband met die Evangelie van vrye genade waar die mens die ewige lewe as gawe ontvang. By die eerste bly die mens ʼn slaaf. By die tweede word die mens ʼn bevryde. Soos Hagar ʼn slavin was en Sara ʼn vrygeborene. So was Ismael ook uit die vlees gebore, volgens die verloop van die natuur, deur menslike beplanning en menslike krag. Daarenteen is Isak gebore toe alle menslike vermoëns uitgeskakel was. Abraham en Sara was immers beide verstorwe na die vlees. Isak is egter gebore vanuit ʼn belofte van God. Isak is gebore uit die werk van die Here alleen. Sy geboorte was die vrug van geloof in die belofte van die Here.

Die eerste “lyn” mond uit in die aardse stad Jerusalem, die toonbeeld van die Joodse wettiese godsdiens. Die tweede “lyn” mond uit in die “hemelse” Jerusalem. Die vrye Jerusalem. Die Jerusalem “van bo”. Hierdie vrye Jerusalem is die plek waar daar uit die genade van die Here geleef word. Hier geld die “genade alleen” (sola gratia) beginsel soos dit in die sestiende-eeuse Reformasie herontdek is. Hierdie Jerusalem moet egter nie verwar word met die Nuwe Jerusalem van Openbaring 21 nie. Dit is nie die eskatologiese Jerusalem van “eendag” nie. Die vrye Jerusalem is die ware kerk van hier en nou! Dit is die ware gemeente van Christus waar daar uit Sy genade alleen geleef word. Waar die suiwere leer (wat Paulus ten diepste in sy brief verdedig) bewaar en verkondig word. Dit is tog in die gemeente waar die suiwere evangelie bewaar word (1 Tim 3:15). Soos Isak gebore was uit Sara, die vrygeborene, so gaan dit met die ware kerk van Christus. Dit is ʼn vrye kerk. Dit is die Jerusalem van Bo. Dit is die gelowige, wat uit genade leef, se ware moeder!

Moeder en kind

Dikwels sê ons ons “moeder” is die NG Kerk of watter kerk ookal. Vanuit ʼn historiese oogpunt is dit waar, maar nie vanuit ʼn evangeliese oogpunt nie! Ons moeder is dié kerk wat die ware leer bewaar. Ons moeder is dié kerk wat van Christus alleen wil leef. Die NG Kerk of Gereformeerde Kerk (of watter kerk ookal) is alleen ons moeder solank daardie kerk in die “Sara-Isak-Vrye Jerusalem” lyn bly leef. Indien ons die NG Kerk (byvoorbeeld) as moeder wil hê, het ons die dure verantwoordelikheid om toe te sien dat hierdie kerk ʼn vrye kerk is en bly. Die NG kerk of Gereformeerde Kerk mag nie ons moeder wees slegs vanweë historiese of sentimentele redes nie. Omdat ons in hom gebore en getoë is nie! Tradisie en sentiment speel hier geen geldige rol nie. Ons moeder is die kerk uit Sara en Isak gebore! Die kerk wat verval in die Hagar-Ismael-lyn moet deur reformasie teruggebring word na die suiwere evangelie van God se genade alleen. In hierdie opsig is die Galasiërbrief ʼn magtige reformatoriese geskrif.

Die aanhaling uit Jesaja 54 klink vreemd. Maar, Paulus haal dit met opset aan. Die aanhaling kom uit die tyd van die Ballingskap toe die Here se volk buite die beloofde land gesit het en op geen manier deur eie vermoë kon terugkeer nie. Slegs deur die Here se belofte alleen. Indien dit van hulle vroomheid sou afhang, sou hulle nooit weer kon terugkeer nie. Dit is die ware moederkerk. Die kerk wat die Woord suiwer bewaar. So ʼn kerk baar kinders slegs deur die krag van die Woord wat in die kerk bewaar word. Daar is net een manier waarop ʼn kerk die evangelie van genade kan bewaar en dit is deur getrou te bly aan die historiese lyn vanaf die Apostels deur die Reformasie en die belydenisskrifte waardeur die ware geloof aan ons oorgelewer is. Dit maak dit ook duidelik wat reformasie is. ʼn Kerk reformeer deur voortdurend na hierdie ware geloof (die “Sara-Isak-Jerusalem-van-Bo” lyn) terug te keer.