Onder die Skadu van Rewolusie
Onder die Skadu van Rewolusie
Ongekende rewolusiemagte is in ons land ontketen, 1990 het vir Suid-Afrika se mense ’n donker jaar geword. Anargistiese bendes saai dood en verwoesting. Daar is ’n wrede menseslagting onder groepe. Sekere woonbuurtes het klein slagvelde geword en selfs op treine loop daar ’n bloedspoor.
Hierdie dinge val nie sommer uit die lug nie, maar is ’n direkte uitvloeisel van die marxistiese rewolusie wat dekades lank in die wêreld gepreek word. En soos in Libanon, Noord-Ierland en Latyns-Amerika is dit ook nou in Suid-Afrika nie ’n blote teorie nie. Toe ons alreeds vier jaar gelede teen hierdie dinge gewaarsku het, het selfs kerkmense dit nie ernstig geneem nie. Opnuut sal gelowiges ’n antwoord moet gee.
Wat moet die Gelowige se Antwoord op die Rewolusie wees?⤒🔗
Alleen uit die Heilige Skrif kry ons die ware antwoord. Dit kry ons onder andere in die eerste brief van die apostel Petrus. As ons dit noukeurig lees, dan sien ons dat Petrus die gelowiges dringend in tye van politieke oproer gewaarsku het. In sy dae het die Christene dit bitter moeilik gehad. Hulle moes eenvoudig te midde van heidense geweld oorleef. Hulle moes allerlei verdrukking, smaad, laster en selfs lewensgevaar verduur.
Ook die heidense owerheid, die regeerders van die wrede Romeinse keiser Nero, het aan hierdie vyandskap teen die kerkmense meegedoen. Hierdie owerhede het ook na die lasterlike beskuldigings en die skinderstories teen die Christene geluister. Die gevare vir die toekoms was baie groot.
Die Gevaar Binne die Kerk←⤒🔗
Vir die Christene was die versoeking onder hulle moeilike omstandighede baie groot om in die onreg en leed wat hulle lei, die reg in eie hande te neem en “kwaad met kwaad of skeldwoorde met skeldwoorde” (3:9) te beantwoord. Die gevaar het ook gedreig dat kerkmense die verskuldigde eerbied en onderdanigheid teenoor die regering, nie meer in ag sou neem nie. Hulle was immers die prooi van verskriklike onreg deur die owerheid.
Dit is teen hierdie agtergrond wat ons Petrus se vermanings moet sien. “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe” (2:11).
Julle moet julle aan die owerheid onderwerp, of dit nou die keiser of sy gevolmagtigdes is (2:13, 14). Julle is vry, maar moenie julle vryheid gebruik om kwaad te doen nie (2:16).
Moenie opstand en rewolusie pleeg nie!
Verkeerde Soort Lyding←⤒🔗
Die evangelie roep ons op om as navolgers van Christus te ly. Dit is die onlosmaaklike deel van ons Christenskap. Ons deel in die lyding van Christus (4:13).
Die Marxisme het egter ook sy soort “lydensweg”. Hy praat ook van “bloedstorting”. Die bloed van die rewolusie so sê hulle bring die redding vir die mensdom...
Die Christen kan egter nooit die bloed van die rewolusie aanvaar nie. Met daardie soort “lyding” mag hy niks te doen hê nie. Hy weet konsekwent dat God hierdie wêreld oordeel en dat Jesus sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Ook sal hulle moet rekenskap gee waarvoor daar bloed gestort is: in navolging van Christus, of vir die ryk van die Antichris.
Elkeen van ons se lyding sal getoets word: Is dit ter wille van die voortgang en opbou van die Koninkryk van God, vir die kerk van Jesus Christus ... of is dit ’n “lyding” van die Antichris se stad Babilon (Openb. 18 en 19)?
Die Christen weet ook dat God se oordeel by die huis van God, by die kerk begin (4:17). Daarop wys Petrus sy lesers pertinent. In alles wat ons as Christene ervaar, moet ons met hierdie oordeel van God rekening hou:
Nooit die reg rewolusionêr in eie hande neem nie. Nooit God se wraak oor die onreg wat gely word in eie hande neem nie. “My kom die wraak toe en vergelding.” (Deut. 32:35).
Stuit die Rewolusie!←⤒🔗
En as die Marxistiese rewolusie eenvoudig sy greep op ons land gekry het, dan is dit die regering wat met alle magte tot sy beskikking dit moet stuit. Ons as kerkmense kan dit nie op ons eie doen nie die regering moet dit doen! Dit is nie ons mense wat dit vra nie, maar God vra dit van sy dienaar, die regering.
Die regering (wie ook al) “dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom. 13:4).
Ons kerkmense kan nie in eie reg nie, ons mag nie – die regering moet! En God sal van beide, regering en onderdaan, rekenskap eis.