Omgaan met verskille in die gemeente
Omgaan met verskille in die gemeente
Wanneer daar verskille is, dan gebeur dit baie maklik dat ons mekaar gaan etiketteer en veroordeel en dat ons ons gaan afsonder van mense wat met ons verskil van mening. So ontstaan daar groep-vorming in die kerk. Mense wat gelyk dink, soek mekaar op en bevestig mekaar in hul denke. Die kommunikasie word eensydig, met as gevolg dat die polarisasie net toeneem. Die lidmate groei steeds verder uit mekaar. Dit ontbreek immers aan 'n oop en suiwer onderlinge kommunikasie.
In Rom. 14 en 15 leer die Heilige Gees ons hoe om om te gaan met verskille binne die gemeente. Wanneer daar verskille is wat nie die Christelike fondament van die kerk aantas nie, dan mag die gelowiges mekaar nie veroordeel of verag nie. Inteendeel, ons moet dan die kwaliteit van ons omgang en verhouding verbeter. Ons moet mekaar aanneem en opbou. Vergelyk Rom. 15:7: "Neem daarom mekaar aan, soos Christus ons ook aangeneem het, tot heerlikheid van God." Die eerste huisreël in die kerk is dus: Aanvaar mekaar. Bedink dat jy nie die enigste kind in huis is nie, maar dat Christus vir jou ook baie ander broers en susters gegee het. Ons is broers en susters van mekaar, terwyl ons gesamentlik onder die seggenskap van die een Heer Jesus Christus is. Sou dit ons nie beskeie maak nie?
Dit is opvallend dat Paulus teenoor die heerssugtige optrede te Rome nie pleit vir 'n sterker besef van eie vryheid nie. Paulus pleit juis vir 'n sterker besef van verantwoordelikheid ten opsigte van Jesus Christus. Paulus benadruk dat Jesus Christus die Heer van die huis is. Ons gebondenheid aan Hom moet die onderlinge omgang beheers. Ons moet alles doen tot eer van Hom (14:6-9). Ons sal elk aan Hom rekenskap moet gee (14:10-12). Daarom moet elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees en uit geloof handel (14:5,23).
Dit wil nie sê dat ons die verskille maar moet laat rus nie. Die aanduiding "swakkes" is al 'n sterk aansporing om sterk te word. Wie wil nou swak genoem word? So gee die standpunt van Paulus in Rom. 14:14 vir elkeen ook 'n duidelike rigting. Paulus wil niks forseer nie, maar hy wil ook nie hê dat die gemeente in so 'n situasie berus nie. Almal moet "najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien" (14:19). Paulus bid ten slotte ook in Rom. 15:5,6: "En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik." Hy bid dus dat die bestaande verskille nie blywend sal wees nie.
Een van die belangrikste lesse wat ons uit Romeine 14 kan leer, is dat 'n mens heeltemal gelyk kan hê en tog tegelykertyd ook ongelyk kan hê. As die sterkes hul oortuiging op die swakkes oplê, dan forseer hulle die swakkes teen hu! geloofsoortuiging in en verlei hulle dus tot sonde (14:13). Daarmee maak Paulus nie die waarheid relatief nie. Paulus laat sien hoe die waarheid van die evangelie moet funksioneer nie om te verderf nie, maar om te red. In die gemeente is daar altyd die gevaar dat mense, wat sterk oortuig is van hul saak, hul saak gaan dryf en wil forseer. Dan bou dit nie die waarheid nie, maar breek dit af. Want dan kan van die goeie kwaad gespreek word (14:16). Die hooghou van die waarheid is geen doel op sigself nie, maar moet in diens staan van die behoud van die hele gemeente waarvoor Christus gesterf het. Van sterkes mag verwag word dat hulle sterk genoeg is om met behoud van hul gevoelens, die swakkes tegemoet te kom.
Wanneer daar eenheid van die geloof is, waarvan byvoorbeeld in Ef. 4 gespreek word, dan is daar oor en weer baie respek en geduld nodig. Respek vanweë die Here wat die weg van die een anders lei as die weg van die ander, maar tog Heer van almal is. En baie geduld in die gemeenskaplike diens en in die aansporing daartoe. Dan kan dit wees dat ons meen dat ons mense moet aanspoor om bepaalde swakhede te oorwin (al sal hier baie beskeidenheid en kennis van sake nodig wees), maar dit sal altyd in 'n gees van sagmoedigheid moet gebeur, terwyl ons tegelykertyd bereid moet wees om van ander te leer.
In Ef. 4:1-3 vermaan Paulus ons om ernstig te strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Die eenheid is 'n kosbare besit, maar ook 'n kwesbare besit. Hoogmoed of ongeduld kan die eenheid bedreig. Daarom dring Paulus aan op nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid terwyl ons mekaar in liefde verdra.
Nederigheid sien allereers op die verhouding tot God. Ek moet my eie geringheid en onwaardigheid teen die Here besef. Ek is volkome afhanklik van God se genade. Kyk wat Christus vir my, 'n son-daar, gedoen het, byvoorbeeld aan die kruis! En kyk wat sy Gees sedert my geboorte steeds weer aan my gedoen het en nog steeds doen om my van my onwilligheid en eiewysheid te red. Besef hiervan maak jou nederig ook in jou houding teenoor jou medelede. Ons moet die gesindheid van Christus, wat Homself verneder het deur gehoorsaam te word tot die dood van die kruis toe, vertoon.
Vervolgens roep Paulus ons op tot sagmoedigheid. Daar is by ons van nature die drang om onsself te laat geld. Christus leer ons dat Hy sagmoedig is en vra dat ons Hom daarin sal navolg. Paulus spreek van "alle nederigheid en sagmoedigheid". Ons moet nie slegs so nou en dan nie, maar gedurig deur hierdie eienskap gekenmerk word. Wanneer die omstandighede vir ons onaangenaam is of daar allerlei spanninge intree, dan kom dit daarop aan dat ons volledige nederigheid en sagmoedigheid toon.
Paulus noem verder lankmoedigheid, wat dieselfde as geduld is. Geduld is die antwoord van godvresende mense op provokasie van ander. Mense kan dinge doen wat dreig om ons toorn op te wek, sodat ons ons humeur verloor. Die beste manier om die geduld te ontwikkel is om voortdurend God se geduld met ons te oordink. Geduld negeer dan nie die provokasies van ander nie. Dit probeer inteendeel 'n positiewe reaksie daarop te gee. Dit stel ons in staat om onsself te beheer en om met die persoon en sy provokasie so om te gaan dat aan die verhouding gebou word, in plaas van dit verder te laat vererger. Jy soek dan die beste vir die persoon in plaas van die bevrediging van jou huidige gevoelens.
Lankmoedigheid moet ook ons houding teenoor die gebreke van ander mense kenmerk. Dit verbied ons nie om die gebreke aan te wys nie, maar dit bepaal wel dat dit met die juiste houding gebeur. Ons sal dan optree in 'n gees van ware liefde wat werklik die beste van die naaste soek.
Paulus sê tot slot in Ef. 4:2 "terwyl julle mekaar in liefde verdra." Paulus is realisties. Dit is nie altyd maklik om met medegelowiges om te gaan nie. Ons moet soms baie van mekaar verdra. Daarby moet ons bedink wat Christus vir ons verdra het. Ons het lief vanweë dit wat ons in Christus geword het, nie vanweë die geweldige kwaliteite wat ons in die ander lede ontmoet nie. God het die onwaardiges lief. So ook sy kinders. As verlostes in Christus gaan ons liefhê. Ons weet dat mense nie altyd so bedagsaam of gevoelig is as hulle sou moet wees nie, maar dit maak nie saak nie. Die punt is dat Christus vir ons gesterf het en 'n deel van ons respons op sy versoenende sterwe is liefde. Liefde vir God, wat ons gered het, en liefde vir sy volk, hoe moeilik dit soms ook mag wees.
Wil 'n mens weet hoe om met mekaar om te gaan binne die gemeente dan kom ons uit by die lied op die liefde in 1 Kor. 13. Dit is die uitnemende weg wat God ons in die gemeente voorhou. So kom al die individuele gawes tot hul reg. So word die vrede en opbou van die gemeente gedien. So kan ons mekaar werklik aanvul.
Soms word daar 'n teenstelling gemaak tussen die liefde en kennis in die gemeente. Die een persoon beroem hom dan op die liefde, wat hy die belangrikste ag, terwyl 'n ander hom beroem in die kennis wat hy besit. Dit is egter 'n valse teenstelling. Beide is nodig. Die geestelike gawes, waaronder die gawe van profesie of kennis, is baie belangrik en ons moet hulle nie verag nie (sien 1 Kor. 12:31 en 14:1). Maar sonder liefde kan hulle nie goed funksioneer nie. Sonder die liefde word die gawes vrugteloos. Daarom wys Paulus op die uitnemender weg van die liefde.
Tot slot wil ek graag die praktiese reëls deurgee wat ds Johan Flelschmann in Die Kerkblad van 7 April 1999 genoem het. Hy skryf: As jy met my wil stry, doen dit dan so:
Aanvaar my. Aanvaar dat God my in sy liefde sy kind gemaak het en dat Hy in my die opregte begeerte wek om Hom met my hele lewe te dien en verheerlik. Ek is jou broer, nie jou vyand nie!
Moenie my etiketteer voordat jy my gehoor het nie - miskien verras ek jou!
Sê vir jouself: "Ek wil graag luister - regtig verstaan - wat hy sê. As hy vir ons Here kosbaar is, dan is hy vir my ook kosbaar en dan wil ek graag weet wat hy dink en hoekom hy so dink."
Veg skoon. Bly by die saak, los my persoon uit.
Sê vir my as ek in iets reg is. Moenie verblind raak deur dit waarin jy dink ek verkeerd is nie.
Maak die geskil openlik met my uit, op jou knieë en met die Skrif in jou hand (en nie met menslike gebruike in jou agterkop nie - gewoontes alleen gaan my moeilik oortuig).
Wees by voorbaat bereid om aan die einde dalk te moet sê; "Ons is altwee reg (of verkeerd)" of: "Ons kom ooreen om te verskil en respekteer mekaar se standpunte."
Weet dit: As ek van jou verskil, sê dit nog lank nie dat ek jou nie liefhet nie. En ek verwag dieselfde van jou.
Maak dit vir my maklik om te verloor. Natuurlik is ek somtyds verkeerd - net soos jy ook. Maar maak dit vir my maklik om te sê: "Ek is verkeerd."
Mag ek ook aan ander doen soos ek wil hê hulle aan my moet doen.