Om Evangelies Te Wees
Om Evangelies Te Wees
Dit is van deurslaggewende belang dat ‘n gelowige, wat getrou aan die Herder wil leef, “evangelies” sal wees. Dit geld vir leraar en lidmaat. Luther het homself ook “evangelies” genoem. Daarmee het hy bedoel dat hy volledig getrou wou wees aan die hele Woord alleen. Hy het dit dus heel breed bedoel.
Vandag word die begrip “evangelies” soms verskraal asof dit slegs betrekking het op die heil en toeëiening van die heil. Kom ons bou vir ‘n oomblik op hierdie verskraalde begrip voort en sien hoe pragtig dit ingeklee word vanuit die Skrif soos wat die kerk dit bely in die Dordtse Leerreëls. Wanneer ons “evangelies” is, is dit so belangrik dat ons “reg” sal praat oor die Woord en oor God. Maar, waar sal ons kan sien hoe die Apostels die saak verstaan het? Wat was die Apostoliese getuienis in hierdie verband? Ons sien dit in die kerk se belydenis! Dit maak vir ons die Skrif in al sy waarheid en krag oop.
Laat ons hoor hoe klink die kerk se evangeliese belydenis oor die mens se redding en heil.
‘n Evangeliese gelowige sal inderdaad die klem laat val op die redding van mense. Dit is immers die Belofte van die Evangelie: dat elkeen wat in Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (DL 2:5). Hierdie belofte moet aan alle mense verkondig word met die eis tot bekering en geloof (DL 2:5).
Die oproep tot bekering is van kardinale belang. Die evangeliese gelowige verval egter nie in ‘n aktivisme wat hom/haar dryf soos ‘n meedoënlose meester nie. Die evangeliese mens het die sekerheid dat dit God is wat mense tot bekering bring deur Sy Woord en Gees (DL 3/4: 10). Die liefde van Christus dring ons om te preek en te getuig, maar ons koester altyd die wete dat God se soewereine verkiesing die finale deurslag gee (DL 1:6). Dit bring ‘n groot rus, te midde van ons arbeid en stryd. Ons is nie op suksesse ingestel nie, maar op rustige gehoorsaamheid.
‘n Evangeliese gelowige se denke begin en eindig altyd by God. Dit gee ‘n mens baie moed, want die redding van ‘n sondaar is ‘n saak van totale onmoontlikheid as dit van enigiets van die mens moes afhang (Matt. 19: 23-26). ‘n Evangeliese mens buig egter voor die vrye welbehae van God. Dit bring groot rus, want Hý het mense gekies in Christus en Hý skenk die geloof en bekering aan wie Hý wil (DL 1: 6-7).
Mense wat Christene word, is immers deur die Vader aan Sy Seun gegee van alle ewigheid af! (Joh 6:37, DL 2:8). As Hy nie mense tot saligheid verkies het nie, sou niemand ooit tot bekering kon kom nie! Maar, danksy Sy vrye genade, sal daar mense wees wat tot redding kom. Hierdie Bybelse sekerheid bied aan ons bevryding van ons krampagtigheid om resultate te wil vind in die kwaliteit en kwantiteit van óns gebede, óns metodes, óns toegerustheid, óns strategieë ens. Ons reken soms dat ons sukses moet behaal danksy ons strategiese beplanning en die hoeveelheid gebed wat plaasgevind het. Paulus kon egter in Korinthe tot rus kom toe hy hoor dat die HERE weet wie Syne is (Hand 18:10).
Vanuit hierdie vertrekpunt sal ‘n evangeliese gelowige sekerlik die oproep tot bekering duidelik laat hoor. Elke mens moet immers die volbragte versoening aanneem en dit omhels (DL 1:2). Maar, ook wanneer daar oor bekering gepraat word, moet ons sorg dat ons vanuit die Skrif dink. Juis dit maak ons “evangelies!” So bely ons byvoorbeeld dat Christus op Golgota almal wat die Vader Hom gegee het, daadwerklik met die Vader versoen het en dat Hy die versoening ook toepas in daardie mense se lewens. Christus het nie slegs die moontlikheid tot versoening bewerk sodat dit ten diepste afhang van die mens se wilsbesluit of hy/sy gered sal word al dan nie! God gee nie slegs aan die mens die vermoë om te glo nie. (DL 3/4:14). Hy stort ook die geloof as gawe in die mens in. (DL 3/4: 14). Die mens is nie die smid van sy eie heil nie. Hoe dikwels dink ons dat, om waarlik “evangelies” te wees, moet ons die klem met groot appèl laat val op die mens se wilsbesluit. Om evangelies te wees beteken egter om die reeds volbragte versoening aan sondaars te bedien ( 2 Kor 5:18-21). Die eis van die geloof moet weerklink, maar altyd vanuit God se toesegging van die (reeds volbragte) heil.
Dit gebeur die beste waar tydsame onderrig in die Woord (met geduld) plaasvind. ‘n Evangeliese gelowige behoort te waak teen kits-evangelisasie waar mense slegs in breë trekke die Evangelie hoor en vinnige besluite neem. Hoe dikwels dink ons nie dat, wanneer ons iemand rasioneel “oortuig” het, die geloofskeuse sál volg nie! Ons wil altyd maar weer die sukses aan ons eie strategie gaan koppel. Sommige evangelisasiekursusse bestaan dan ook uit rasioneel-oorredende aanbiedings.
Wie evangelies wil wees, sal eerder die reeds volbragte versoening, wat God aan mense skenk, aan mense gaan bedien. Deur middel van Sy beloftewoord, praat die Gees mos mense om en oortuig Hy die hart (Sien Hosea 2:13). Deeglike onderrig in hierdie beloftewoord, mag tot gevolg hê dat Hý deurdring tot die binneste dele van die mens, die geslote hart oopmaak, wat hard is versag, wat onbesnede is besny, wat onwillig is gewillig maak en lewend maak wat dood was (DL 3/4: 11). Wanneer Hy die mens se wil beweeg, begin dit self beweeg en kom daar geloof en bekering! (DL 3/4: 12). ‘n “Ware” bekering geskied nie noodwendig wanneer mense by ‘n vooraf bepaalde skema inpas nie. Soms dink ons dat “ware” bekering moet plaasvind volgens ‘n sekere aantal stappe (“three easy steps”) wat nagevolg moet word. Of ‘n sekere metode wat gevolg word. ‘n Evangeliese gelowige weet dat geen menslike metodiek só goed is dat dit noodwendig tot sukses sál lei nie. (DL 3/4:12). Wie evangelies wil wees besef dat hierdie vorme van metodisme die vrye soewereiniteit van God onder druk plaas.
Die Here stal nie Sy (reeds volbragte) versoening uit op ‘n vlooimarkstalletjie met die hoop dat iemand sal besluit om iets te koop nie! Hoe dikwels word hierdie voorstelling nie met “evangelies” verwar nie! Ons reken dat Christus alles gedoen het sodat mense gered kan word. Nou moet mense slegs kies om dit te aanvaar. En hoe verleë staan Hy wanneer mense Sy “aanbod” weier!
‘n Mens kan dadelik aanvoel dat dit nie die manier is waarop die Skrif oor God praat nie. Nee, laat ons ‘n ander beeld gebruik om die saak te verduidelik. Die Here het ‘n ete berei vir mense wat glad nie self die kos kan kom haal nie: siekes en bejaardes. En Hy neem ook die kos na hulle huise toe (Jes.65:1-2). Hy het die versoening bewerk en Hy bring dit ook na die hart van die sondaar (wat dit nie self kan/wil neem nie) deur middel van Sy oorredende beloftewoord. En, dit is óns voorreg om daardie belofte te mag bedien, om die toegesegde versoening te gaan meedeel, met die absolute sekerheid dat Hy Sy seën sal gee.