Om die Regering van God
Om die Regering van God
In hierdie reeks laat val ons die blik op hoe die kerk in die geskiedenis relevant was en ook wou wees. In die eerste aflewering is die saak gedurende die eerste eeue van ons jaartelling nagegaan. Toe was die kerk nog ʼn klein minderheid in die Romeinse Ryk. In die onderhawige bydrae volg ons die historiese lyn in Europa tot ongeveer 800 n.C. Hier sou die Christene na 500 gou die meerderheid word. Ook die konings en die vorste was Christene. Daarmee het die situasie vir die kerk natuurlik heeltemal verander. Sy relevansie is anders ingebeeld en anders vergestalt.
Relevante Kerkregering⤒🔗
Gedurende die 5de eeu (400-500 n.C.) het die Romeinse Ryk in Europa en Engeland in duie gestort. Europese stamme en volke het oorgeneem en aan ʼn nuwe politieke bestel gevolg gegee. Die kerk, wat in die laaste klompie dekades deur die Romeinse Ryk amptelik erken is, het egter nie saam met hierdie Ryk (wat hom nog tot in 1454 in die Ooste sou handhaaf) aan Europa onttrek nie. Orals het die kerke en kloosters eenvoudig voortbestaan. Die Christelike geloof het vinnig onder die nuwe volke posgevat. Die Christelike sending het geslaag. Teen 900 was byna die hele Europa by die katolieke kerk ingeskakel. Een van die redes hiervoor was dat die kerk van Rome oor ʼn effektiewe en relevante kerkregeringstelsel beskik het.
In Rome, rondom 600 n.C., het die bekwame Pous Gregorius I, wat vroeër ʼn uitvoerende regeringsamptenaar was, die kerk se struktuur en funksionering gereorganiseer. ʼn Goeie kerkregeringstelsel sou sorg vir ʼn byderwetse kerk wat in die nuwe Europese konteks relevant sou bly. In die onstabiele politieke omgewing was ʼn sterk gestruktureerde kerk die regte ding om te doen. Gregorius sou teruggryp op die geskiedenis en tradisie. In hierdie verband het hy die beproefde model van die Romeinse Ryk oorgeneem en op die kerk toegepas. Soos die keiser die hoof van die Ryk was, so word die pous nou die hoof van die kerk. Soos die Romeinse Ryk ingedeel was in provinsies met goewerneurs as verantwoordelike hoofde, het die kerk nou bisdomme met biskoppe gekry. Die kerk is bestuur soos die voormalige Romeinse staat. Met Rome in die sentrum, het Gregorius sentrale en suidelike Europa in ʼn netwerk van bisdomme aan sy setel verbind. Die kerk was in sy organisasie nou orals, en hierdie organisasie het die uitdagings van die tydsgewrig effektief deurstaan. Waarom?
Hierdie hiërargiese kerkregeringstelsel het aansluiting gevind by ʼn ou tradisie in Europa. ʼn Sekulêre regeringstelsel is oorgeneem en verkerklik. In hierdie kerkregeringstelsel het die kerk as ʼn instelling of instituut aan gesag gewen. Niemand kon hom die werklikheid meer sonder die kerk, wat van bo tot onder goed saamgevoeg en georganiseer was, voorstel nie. Meer nog. Hierdie instituut het die draer en uitdeler van die heil geword. Met die doop is die mens ingebring en deur die liturgie opgevoed tot daadwerklike deelname aan die heil. In beide die doop en ander sakramente, sowel as in die liturgie, bemiddel die amp. Hierdie bemiddeling kanaliseer die heil van Christus tot in die mens. In hierdie stelsel is dus, op die koop toe, die moontlikheid om die heil te verwerf, ingebou. Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom die kerkregeringstelsel so relevant was in Europa. ʼn Pouslike teokrasie (Godsregering) het homself aangekondig. Hierdie kerkregeringstelsel, wat sy oorsprong in die Romeinse Ryk gehad het, was nie net ʼn magsbasis waarmee rekening gehou moes word nie, maar het ook die pretensie gehad om sommer self die regering van Christus waar te maak.
So het ʼn kerkregeringstelsel, wat uit die Grieks-Romeinse denke oor die staat opkom, sentraal in die Europese kerk se denke en organisasie geword. Trouens, dit was deur en deur praktiese teologie. Dit is waar die kerk in die praktyk grondgevat het. En, dit is die rede waarom hierdie kerk oor al die eeue heen soveel sou maak van sy regeringstelsel.
Eintlik is dit voor-die-hand-liggend dat hierdie kerk hom nie net sou beperk tot ’n relevante bestuur na binne nie, maar dat hy vanuit hierdie basis ook na buite sou tree. Dit het ongeveer 200 jaar later gebeur, toe Europa saamgebind is in een groot Christelike ryk.
Die Koninkryk van God←⤒🔗
Aan die begin van die 8ste eeu was die algemene kerk en Europa in ʼn krisis gedompel. Oor Spanje het Moslemleërs Europa ingeval en deurgedring tot naby Parys in Frankryk. Daar is hulle in 732 deur Karel Martel gestuit. Hierdie bedreiging het die gedagte van ʼn staatkundig verenigde Europa in die hand gewerk. Die Frankiese regeerders het die onbetwiste mag gehad en die kleinseun van Martel, Karel die Grote, het daarin geslaag om ʼn sentrale koninkryk in Europa te vestig. Uiteraard het die pouslike kerk van Europa, wat nou goed georganiseer was, hom hierin laat geld. Vir die katolieke of algemene kerk het hierdie ontwikkeling baie moontlikhede ingehou. Dit sou nie net sy posisie versterk nie, maar ook die een algemene, katolieke kerk konkreet sigbaar maak. Deur die toedoen van Karel die Grote is die Christelike kerk dus aan die Christelike staat in Europa verbind. In 800 is Karel gekroon as die keiser Augustus van die Heilige Romeinse Ryk. Europa is saamgebind in een groot Christelike ryk. Kerkregering en landsregering is uit dieselfde hout (die ou Romeinse Ryk) gesny. Die verskil was net dat dit nou verchristelik is. Meer relevant kon die kerk nie wees nie.
Die twee groot maghebbers in Europa was die Pous en die keiser. Kerk en staat het nou in ʼn alliansie met mekaar gestaan. Maar, dit het nie meer soos in die 5de eeu berus op erkenning wat deur die staat verleen is nie. Die kerk was nie meer afhanklik hiervan nie. Dit was nie ʼn kwessie nie. Die staat kon hom nie indink sonder die kerk nie. En, die kerk kon hom nie indink sonder die staat of ryk nie. Was dit nie die manier waarop God sy regering in die wêreld waargemaak het nie?
Was dit nie die vervulling van die gebed: Laat U koninkryk kom, nie? As keiser het Karel I homself aangebied as ʼn begenadigde wat gesag ontvang het ter wille van die Godsryk. Hy was ten minste ook verteenwoordiger van God op aarde. ʼn Keiserlike teokrasie het naas die pouslike teokrasie tot stand gekom. In hierdie samehang is die struktuur daargestel waarin namens God regeer word. Onmiddellik kom ʼn mens onder die indruk van die posisie waarin die kerk hom toe in Europa bevind het. Geweldig. Onvoorsiens. God se regering op aarde, so is gedink, kom na vore in die sintese tussen staat en kerk. Dit is die ideaal. Hierdie strewe moet daar altyd wees. Vir die Europese kerk sou dit in die eeu wat kom dié drywende krag wees. Dis waar hy sy relevansie sou vind.
Nóg die keiser, nóg die pous het hierdie sintese gesien as ʼn kwessie van magsdeling. Om namens God te regeer, was ʼn alleenmandaat. Dit sou vir die volgende eeue geweldige spanning in Christelike Europa bring. Binne hierdie spanningsveld sou die kerk sy relevansie moes handhaaf. Hierin het hy onverwags steun vanuit die kloosters gekry. Hierby staan ons stil in die volgende aflewering van ons kerkhistoriese verkenning.
Samevatting←⤒🔗
In die weste het die kerk hom met Europa vereenselwig. En, die Europese volke en stamme het hulle vir die Christelike geloof en die kerk laat vind. Daarmee is aan ʼn oorweldigende meerderheidskerk gevolg gegee. Vanuit die kerk is relevansie gesoek in ʼn kerkregeringstelsel. En, toe Europa in 800 in ʼn Christelike en keiserlike ryk saamgebind is, was die kerk en sy pous ʼn sentrale rolspeler. God se regering is só gerealiseer. ʼn Ideaal is waar gemaak. In die eerste eeue is relevansie gesoek in sake soos ʼn onverdagte morele lewe, of in Skrifkritiek, of in die aanpassing van die openbaring van God by tradisionele godsbeelde.
Nou het dit verskuif na groot en omvattende denkstrukture: die realisering van die Godsregering in kerk en staat. In beide gevalle kom dit op uit die vergange Romeinse Ryk…