Naastenby is Nie Goed Genoeg Nie
Naastenby is Nie Goed Genoeg Nie
Om gereformeerd te wees, máák 'n verskil. Met "Gereformeerd-wees" bedoel ek nie om lidmaat van 'n Gereformeerde Kerk te wees nie. Gereformeerd-wees loop oor kerkgrense heen. Daar is heelwat mense wat hulle in ander kerke bevind wat in hart en niere gereformeerd is. Dan is daar helaas ook lidmate van Gereformeerde kerke wat nie werklik gereformeerd is nie. Want gereformeerd-wees is 'n denkwyse. Dit is 'n benaderingswyse, 'n leefstyl, 'n baie besondere geloofshoek.
"Gereformeerd" en "Calvinisties"⤒🔗
Die voorloper van die gereformeerde benadering in die 16de eeu was Johannes Calvyn. Daarom word die gereformeerde benadering ook "Calvinisme" genoem. Hiermee word nie gesê dat die gereformeerde godsdiens Calvyn verheerlik nie. Allermins. Wat dit wel sê is dat gereformeerdes, in navolging van Calvyn, die Skrif alleen as enigste en volmaakte maatstaf van ons geloof en godsdiens wil hê.
Soos die naam "gereformeerd" aandui, is die gereformeerde benadering 'n terugkeer-benadering (reformeer). Dit is egter nie 'n terugkeer na wat oud is nie maar 'n terugkeer na wat in die Bybel staan. Om te reformeer is om, wanneer en waar daar van die Bybelse spoor afgewyk sou word, weer terug te keer na die pad van die Bybel. Nie terugkeer na wat mense goed dink nie, maar na wat God in sy Woord sê. Calvyn is bekend vir sy reformatoriese Sola Scriptura-benadering (= deur die Skrif alleen).
Konsekwente Godsdiens in Praktyk←⤒🔗
Die gereformeerde benadering is egter nie maar net 'n godsdiens in teorie nie. Dit wil juis godsdiens in praktyk wees. Gereformeerd-wees beteken om werklik en konsekwent te doen wat ons bely. Op volmaaktheid kan niemand aanspraak maak nie. Maar ons onvolmaaktheid mag nie 'n verskoning word nie. God het ons wat Hy in Christus van alle sondes verlos het, geroep en uitverkies om "heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (Efesiërs 1:4) "tot lof van sy heerlikheid" (Efesiërs 1:6). Hierdie roeping moet ons met alle mag en in alle erns uitleef. Vir die lof van God se heerlikheid is tweede beste net nie goed genoeg nie. Daarom wil gereformeerdes hulle belydenis in die praktyk nie net so naastenby toepas nie maar so goed as moontlik.
Hierdie gesindheid word na my mening goed saamgevat in artikel 29 van die NGB. Die artikel begin so: "Ons glo dat ons sorgvuldig en met groot oplettendheid uit die Woord van God behoort te onderskei wat die ware kerk is", en gaan dan voort om die kenmerke van die ware kerk te noem: "wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf — kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken".
Die Evangelie Suiwer Gepreek←⤒🔗
Op spoor van hierdie belydenis is gereformeerdes daarop gesteld dat preke niks meer en niks minder moet wees nie as verkondiging van die evangelie volgens die Woord van God. Nie net so naastenby nie, maar so noukeurig as moontlik. Preke moet van begin tot einde op Skrifuitleg berus, moet aantoon hoe die Skrifte die evangelie van Christus aan ons bekend maak en moet aantoon wat die evangelie vir ons in ons tyd en omstandighede beteken.
In sulke preke is daar nie plek vir allerhande oulike toertjies en spitsvondighede van die prediker nie. Staaltjies en verhaaltjies wat mense se verbeelding mag aangryp, of lawwe praatjies en oppervlakkighede wat veronderstel is om jong mense te betrek, word vermy omdat dit vyande van die suiwere Skrifprediking van die evangelie is. Ook kleuterkerk, kinderdienste, tekkiedienste en elke ander alternatief vir die suiwere evangelieverkondiging.
Suiwer evangelieverkondiging vra ook vir 'n sobere inrigting van die hele erediens. In die erediens vind die amptelike ontmoeting tussen God en gemeente plaas. In hierdie ontmoeting is God die een wat praat, en die gemeente reageer op sy woord. Op sy woord bely ons, bid ons, dank ons en bring ons Hom die lof toe wat Hy verdien. Verder luister ons. Na Hóm — nie na hierdie of daardie geleerde opinie of emosionele ontboeseming nie.
Suiwere evangelieverkondiging is om te sê wat God sê: "So sê die Here".
Die Sakramente Suiwer Bedien←⤒🔗
Hand aan hand met dié suiwere evangelieprediking gaan die suiwere sakramentbediening. Doop en nagmaal word bedien nie soos mense daarvan hou nie, maar "soos Christus dit ingestel het". Die sakramente is immers nie óns s'n nie maar dit behoort aan Christus. Hy het dit ingestel om daardeur op 'n unieke manier soos Hy dit goed dink, sy evangelie by sy gemeente tuis te bring. Elke menslike poging om die sakramente anders te maak, is niks anders nie as vermetelheid.
As ons dan moontlike veranderings aan die bediening van die nagmaal oorweeg, eis ons gereformeerd-wees dat ons nie sal vra na wat vir mense gewens of gerieflik of aanvaarbaar is nie, maar na hoe Christus dit vir ons ingestel het. Ons moet na die Bybel luister én bereid wees om daarby te hou. Nie net so naastenby nie maar sorgvuldig en met groot oplettendheid.
Die Kerklike Tug Gebruik←⤒🔗
Die derde kenmerk van die ware kerk wat artikel 29 van die NGB noem, bring ons by die daaglikse lewenspraktyk uit. Almal moet hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra. Wie daarvan afwyk, moet met die kerklike tug tot bekering geroep word. Tug is nie 'n liefdelose handeling nie maar juis kenmerk van die liefde — dit wil keer dat die broeder of suster van God vervreemd raak. Daarom eis ons gereformeerd-wees dat ons sal wegkom van 'n laat-maar-gaan-houding, sodat ons met alle erns en liefde sál optree waar en wanneer iemand in sonde val.
Die tug is weer eens nie iets wat mense na eie goeddunke toepas nie. Dit is die tug van Christus. Hy gee die sleutels van die tug aan sy kerk om daarmee oop en toe te sluit soos Hy in sy Woord aan ons voorsê. Uit die Skrif alleen.
Die Gesag van die Bybel Onaangeraak←⤒🔗
Nie net optrede wat teen die Woord ingaan word met die tug bestry nie, maar ook leringe wat teen die Woord ingaan. In ons tyd het ons veral te doen met leringe wat die Bybel sy krag en gesag wil ontneem, leringe soos die volgende;
-
Dat die Bybel nie die enigste weg tot saligheid beskryf nie, aangesien daar, naas die Christelike godsdiens, ook ander "paaie na die hemel toe" bestaan;
-
Dat die Woord van God net in sekere dele van die Bybel teruggevind word;
-
Dat ons nie so noukeurig op die Bybel hoef ag te slaan nie aangesien dit 'n bloot menslike boek is wat eintlik maar net op die Bybelse tye van toepassing is;
-
Dat die Bybel maar net 'n produk van die destydse sosiale omgewing was en dat ons dus nie alles daarin ernstig moet opneem nie;
-
Dat die Bybel maar net 'n skakel in die godsdiensketting van die Christelike kerk is, met uitsprake wat die ou tyd na ons tyd toe "oorbrug", maar wat nie meer in ons tyd geldig is nie.
Hoewel bogenoemde standpunte in 'n mindere of meerdere mate in kerke geduld word, is dit by gereformeerdes anders. Gereformeerdes is immers ernstig oor wat hulle in artikel 5 van die NGB oor die Bybel bely: "Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook alles wat daarin vervat is... "
Om die gesag van die Bybel as Woord van God te verdedig, lê vir gereformeerdes baie naby aan die hart. Juis omdat die gereformeerde godsdiens die Skrif alleen as maatstaf vir ons geloof handhaaf, as die enigste geskrewe bron van God se besondere openbaring, daarom is dit van wesentlike belang om dwalinge in hierdie verband af te weer. Want tas jy die Skrifgesag aan, dan tas jy die kern van die gereformeerde godsdiens aan. God, die enige ware God wat ons geroep het, het sy Woord vir ons in die Bybel laat opteken. Omdat dit sy Woord is, daarom is dit óns erns.
Die gereformeerde benadering in die Christelike godsdiens maak dus wel 'n verskil — 'n duidelike verskil. Dit kom weg van die alledaagse min-of-meer Christelike benadering. Dit streef ernstig daarna om van alle menslike eiewilligheid en willekeur weg te breek. Dit soek ernstig daarna om uit die dank wat ons aan God verskuldig is, Hom te dien met ons hele hart, siel, krag en verstand (Lukas 10:27).
En dan is naastenby nie goed genoeg nie.