'n Nuwe Pous
'n Nuwe Pous
Miljoene mense het toegekyk hoedat ʼn wit rookpluim optrek uit ʼn eenvoudige skoorsteen bo-op die Sistynse Kapel in Rome, die teken dat ʼn nuwe pous verkies is. Vanuit die skare op die St. Petersplein het daar ʼn gejuig losgebars. Oral in die stad het kerkklokke gelui. Joernaliste wat die gebeurtenis moes dek, het asem opgehou. Wie is dit? Wie gaan die nuwe pous van die Rooms-Katolieke Kerk wees? Sê wat jy wil oor die Vatikaan se mense, hulle weet hoe om die spanning te laat oplaai!
Meer as ʼn halfuur later het die senior diaken op die balkon verskyn en aangekondig: “Habemus Papam!” (Ons het ʼn pous!) Toe Kardinaal Jorge Bergoglio, alias Pous Franciscus, uitkom om homself onder die spreiligte aan die skare op die St. Petersplein voor te stel, het hy ʼn emosionele ontvangs gekry. Rooms-Katolieke regoor die wêreld was verheug, veral in Latyns-Amerika. In Argentinië, Bergoglio se tuisland, is daar tot laatnag feesgevier.
Gereformeerde gelowiges kan so ʼn skouspel slegs met gemengde gevoelens gadeslaan. Aan die een kant is daar iets bemoedigends daaromtrent as ʼn mens sien hoedat die wêreld angstig wag dat die naam van die nuwe pous bekendgemaak word. Is dit nie dalk ʼn teken dat die wêreld besef dat die kerk ten spyte van alles tog belangrik is nie? Aan die ander kant is daar fout as daar soveel aandag gegee word aan iemand wat veronderstel is om niks meer as ʼn dienaar van Christus te wees nie. Inderdaad sou ʼn mens wens dat Christus self soveel aandag kry as wat daar aan die biskop van Rome gegee word!
Na afloop van die aankondiging het baie mense gewonder watter soort mens die nuwe pous is en wat sy verkiesing vir die toekoms van die Rooms-Katolieke Kerk beteken. Met sy eerste verskynings het die nuwe pous grootliks daarin geslaag om die bewondering van sy volgelinge te wen en selfs die respek van sommige joernaliste af te dwing. Hy het die skare in alledaagse taal toegespreek. Hy het gewys dat hy ʼn man van die volk is eerder as ʼn geestelike wat hom in ʼn kerkkantoor tuis voel. Berigte het begin verskyn oor sy reputasie as biskop in Buenos Aires, Argentinië. Daar is waardering vir sy besorgdheid oor die armes en sy voorkeur vir ʼn eenvoudige leefstyl.
Bondgenoot of Antichris?⤒🔗
Hoe beoordeel ons die ontwikkelings in Rome vanuit ʼn gereformeerde perspektief? Daar was ʼn tyd dat gereformeerdes die pous beskou het as die aartsvyand van die ware kerk, selfs as die Antichris. Kan ons nog steeds daardie siening handhaaf by die aanhoor van berigte oor die nuutverkose pous se persoonlike geloofslewe? Soos sy onlangse voorgangers, wil dit voorkom asof Pous Franciscus ʼn man van gebed en integriteit is. In onlangse tye het die pouse van die Rooms-Katolieke Kerk getoon dat hulle van veel beter morele stoffasie gemaak is as die pouse van die Middeleeue. Het die tyd dan nou aangebreek om die ou verdeeldhede te vergeet en die pous as ʼn bondgenoot in die stryd te omhels? Hierdie vraag word selfs meer tersaaklik as ons in gedagte hou dat gereformeerdes hulself in dieselfde kamp as Rooms-Katolieke bevind met betrekking tot sommige dringende kwessies. Wat sake soos aborsie, genadedood, homoseksuele huwelike of vroue in die amp betref, het die Rooms-Katolieke Kerk die moed gehad om meer ontsag te hê vir die Woord van God as vir druk vanuit die sekulêre samelewing. Gevolglik het gereformeerdes wat polities aktief is, gevind dat dit moontlik is om goed met Rooms-Katolieke saam te werk ten einde sekere politieke doelwitte te bereik. Beteken dit nie dat ons samelewing vandag radikaal verskil van die toestand vyf-honderd jaar gelede nie, toe Hervormers soos Luther en Calvyn ware gelowiges uitgelei het uit ʼn kerk wat korrup en gedeformeer geraak het?
Ons kan nog verder gaan en oorweging skenk aan punte van ooreenstemming tussen die gereformeerde en die Rooms-Katolieke geloof. Ons deel teologiese oortuigings soos die leer van die Drie-eenheid en die leer van die twee nature van Christus. In die boeke van Pous Benedictus XVI oor ‘Jesus van Nasaret’ is daar veel wat ons kan waardeer. Insgelyks was dit goed om die nuutverkose pous die ‘Onse Vader’ te hoor bid vanaf die St. Peterskerk se balkon (alhoewel dit ʼn mens dwars in die krop gesteek het dat hy dit dadelik met ʼn ‘Ave Maria’ opgevolg het). Wat aanbiddingstyl betref, is daar iets gewyds aan die atmosfeer in ʼn Rooms-Katolieke Kerk waartoe baie gereformeerdes aangetrokke voel. Onlangs het ʼn gereformeerde broeder aan my vertel dat hy beïndruk was met die gewyde atmosfeer wat geheers het tydens ʼn Rooms-Katolieke erediens wat hy bygewoon het. As ʼn mens dit moet vergelyk met die taamlik informele en gemaklike atmosfeer in my eie gereformeerde kerk, het hy gesê, wil ek dit amper oorweeg om terug te gaan Rome toe.
Beduidende Probleme←⤒🔗
Ten spyte van die positiewe aspekte, is daar egter steeds beduidende probleme wat die Rooms-Katolieke Kerk betref. John Piper was reg toe hy die volgende boodskap op Facebook geplaas het: “O, Here van waarheid en genade, laat ʼn Pous aangestel word wat bereid is om die Katolieke Kerk in ooreenstemming met u allerheiligste Woord te reformeer.” Inderdaad het die Rooms-Katolieke Kerk steeds nodig om te reformeer op sleutelgebiede van die Christelike lewe en geloof.
Kom ons wees spesifiek. Op watter gebiede het die Rooms-Katolieke kerk nodig om te reformeer? Nie noodwendig die gebiede wat deur die sekulêre samelewing uitgesonder word nie! Die media wil ons wysmaak dat die nuwe pous se grootste uitdagings die regte van vroue in die kerk en die probleem van seksuele misbruik is. Wat laasgenoemde betref, is dit inderdaad ʼn verskriklike probleem. ʼn Mens kan argumenteer dat die Rooms-Katolieke Kerk ʼn deel van die skuld moet dra weens sy weiering om afstand te doen van die vereiste van selibaatskap vir priesters, en weens sy traagheid om op te tree teen ‘probleempriesters’. Maar watter seksuele misbruik ook al voorgekom het, tog is dit klaarblyklik nie iets wat die Rooms-Katolieke Kerk self onderskryf nie. Die punt is dat daar fundamentele probleme met die Rooms-Katolieke Kerk is omdat die Kerk amptelik stellings ingeneem het wat strydig is met, of die grense oorskry van, die Woord van God. Dit is in die besonder op hierdie gebiede waar reformasie nodig is. Kom ons kyk na drie van die belangrikste kwessies.
Eerstens gee die Rooms-Katolieke Kerk steeds aan Maria, die moeder van die Here, ʼn posisie wat nie in ooreenstemming met die Skrifte is nie. Die nuwe pous het dit duidelik gemaak dat hy hiermee voortgaan deur haar naam ʼn paar keer te gebruik tydens sy eerste verskyning op die balkon van die St. Peterskerk. Een van die eerste dinge wat hy die volgende oggend gedoen het, was om vir die Maagd ʼn ruiker blomme te bring. Die Vatikaan se webtuiste het as volg berig: “Hy het (die ruiker) neergelê by die voete van die afbeelding van Santa Maria Salus Populi Romani (‘Beskermvrou van die volk van Rome’), wat ook bekend staan as ‘Maagd van die Sneeu’. Pous Franciscus het tien minute lank daar gekniel en daarna die ‘Salve Regina’ gesing saam met diegene wat hom vergesel het.”
Met betrekking tot Maria is daar drie amptelike leerstellings van die Rooms-Katolieke wat die grense oorskry van dit wat in God se Woord geskryf staan. In die eerste plek: die leer van die Onbevlekte Ontvangenis (die gedagte dat Maria vanaf die oomblik van haar ontvangenis in die moederskoot vry van die erfsonde gehou is). Tweedens: die leer van Maria se hemelvaart (die gedagte dat Maria aan die einde van haar lewe liggaamlik in die hemel opgeneem is). Derdens: die feit dat Maria as Middelaar beskou word (wat haar ʼn Mede-Middelaar saam met Christus maak). Dit bots lynreg met wat ons bely in Artikel 26 van die Nederlandse Geloofsbelydenis omtrent Christus as ons “enigste Middelaar en Voorspraak”. Deur vas te hou aan hierdie leerstellings ten opsigte van Maria maak die Rooms-Katolieke Kerk dit vir sy eie lidmate moeilik om in Christus as ons enigste Verlosser te glo.
Tweedens bly die leer met betrekking tot die Eucharistie steeds ʼn groot knelpunt. Twee kernaspekte kan hier onderskei word. In die eerste plek: die leer dat die Eucharistie ʼn offer is. Die Roomse Kerk sê in sy amptelike geskrifte dat die Eucharistie “die ware offer van die liggaam en bloed van die Here Jesus” is. Daar word geglo dat die Christus wat Homself op Golgota geoffer het, Homself nou deur die priester op die altaar offer. Tweedens: die leer van transsubstansiasie. Dit is die gedagte dat die substansie van die brood en die wyn tydens die Eucharistie verander in die substansie van die liggaam en bloed van Jesus, hoewel die voorkoms van die elemente dieselfde bly. Dit het enorme implikasies vir die erediens. Tydens ʼn Gereformeerde Nagmaalsviering herinner die predikant die gemeente daaraan om nie net hulle oë te rig op die uitwendige tekens van die brood en wyn nie, maar om hulle harte op te hef na die hemel, waar Jesus Christus sit aan die regterhand van sy hemelse Vader (die sogenaamde sursum corda). Tydens ʼn Katolieke erediens word daar aan die gelowiges gesê dat die brood die liggaam van Christus is (is!), en dat verlossing ontvang word deur die hostie uit die hande van die priester aan te neem. Gereformeerde eredienste fokus op die preek, omdat daar geglo word dat die Heilige Gees geloof hoofsaaklik in ons harte bewerk deur die getroue verkondiging van die Woord. Rooms-Katolieke eredienste fokus op die sakrament van die Nagmaal, omdat daar geglo word dat dit die middel is waardeur die Gees verlossing ingiet in die harte van die deelnemers.
ʼn Derde probleem met die Rooms-Katolieke Kerk is dat die Woord van God nie met die gesag bejeën word wat dit verdien nie. Die gesag van God se Woord word ondermyn deur die tradisies van die kerk wat in ere gehou word. Daar is weinig ruimte om die geldigheid te bevraagteken van tradisies wat in die loop van die kerkgeskiedenis vorm aangeneem het. Wat belangriker is, is dat die gesag van die Bybel weggekalwe word as gevolg van twee leerstellings met betrekking tot die posisie van die pous. Eerstens: die leer van pouslike oppergesag (die gedagte dat die pous volle, hoogste en universele gesag oor die hele Kerk het). Tweedens: die leer van pouslike onfeilbaarheid (die gedagte dat die pous onmoontlik ʼn fout kan maak wanneer hy ʼn amptelike verklaring uitreik). Dit is die ou twispunt van die 16de eeu. Kardinaal Sadoleto het die mense van Genève opgeroep om terug te keer na die Kerk, wat volgens hom beteken het dat hulle hul aan die pous moes onderwerp. Calvyn het geantwoord: die Kerk is waar die Wêreld regeer.
Om op te som: Dit is die drie fundamentele dwalings in die leerstellige posisie van die Rooms-Katolieke Kerk: die leer met betrekking tot Maria, die Eucharistie en die pous. Deur hieraan vas te hou, maak die kerk dit in der waarheid vir haar eie lidmate moeilik om hulle geloof in Christus as ons enigste Heer en Verlosser te plaas.
Dit maak dit moeilik vir ons as Gereformeerde gelowiges om ons te verheug oor die verkiesing van ʼn nuwe pous in Rome. Terwyl ons dankbaar is oor die persoonlike integriteit van die mans wat in onlangse tye as pouse gedien het, moet ons met John Piper saamstem: die Rooms-Katolieke Kerk bly steeds ʼn Kerk wat drastiese reformasie nodig het. Mag die Here Pous Franciscus vir hierdie doel gebruik.