'n Boodskappie vir My
'n Boodskappie vir My
’n Besondere manier van Skrifhantering kom dikwels in gereformeerde kringe voor. Dit kom daarop neer dat die Bybel net gebruik word as ’n bron van aangename lewenslesse vir myself. Tekste en teksgedeeltes word in isolasie gebruik. Daar word nie rekening gehou met die kontekste waarbinne dit staan nie. Dikwels het dit dan die uitwerking dat die Bybel niks méér is as ’n boek met gedragsreëls nie – ’n boodskappie vir my met ’n teksie daarby. Hierdie manier van Skrifhantering is alreeds in die vroeë kerkgeskiedenis vasgepen as biblisisme – ’n denkskool wat sterk in die doperse en ook die charismatiese godsdiens voorkom. Die Bybel word ’n blote register van tekste wat soos ’n doktersvoorskrif vir allerlei toepaslike geloofsbehoeftes of geloofsworsteling aangewend kan word. Slegs een teks oor een of ander saak word net daar en dan tot ’n misterieuse towerformule opgehef. As ek dit vir myself toe-eien, is my probleme op ’n einde.
Hierdie praktyk kom veel meer gesofistikeerd in die teologie na vore. ’n Minderwaardige hantering van die Bybel wat daarvan uitgaan dat ons ’n lewens-etiek op grond van enkele tekste of voorbeelde uit die Bybel kan beskryf. ’n Saak word afgeskiet omdat daar geen voorbeelde daarvoor in die Bybel te vinde is nie. Eweneens word ’n saak tot geloofsreël verklaar as daar maar net een goeie voorbeeld in die Bybel voorkom. Op hierdie manier kan allerlei sake soos die aanbidding van die drie-enige God, die kinderdoop en die deelname van vroue aan die nagmaal, in gedrang kom. Die sake word verwerp omdat die Bybel dit nêrens in ’n teks voorskryf nie. Andersyds word sake aangegryp omdat ’n teks daaroor in die Bybel staan. Dit word dikwels met klank-eksegese vertolk, byvoorbeeld die eksklusiewe volwasse doop van belydende gelowiges, die speel van dromme en harpe (kitare) in eredienste, die gebedshouding om die hande na bo op te hef, die instel van ’n diakenamp vir vroue, ensovoorts, ensovoorts.
Die gebruik van die woorde genadeverbond en voorsienigheid, of ’n onderskeiding tussen die organisme en die instituut van die kerk, word verwerp omdat die woorde nie in die Bybel voorkom nie. Dogmatiek, die sistematiese beskrywing van leerstukke in die Bybel, het geen plek meer nie. Die Bybel word nie meer soos één boek van die Heilige Gees ontvang nie, maar soos ’n fragmentebundel met afsonderlike en (dikwels) teenstrydige boodskappe van begaafde mense.
Die benadering is sekerlik een van die gerieflikste verskoning om, met die skyn van Skrifgehoorsaamheid, ’n stuk pure humanisme te beoefen. Juis aan hierdie oortreding staan verskeie teologieë uit die verlede en in die hede skuldig: die wit Teologie met sy radikale uitlopers in die Brits-Israel visie, die swart teologie of bevrydingsteologie, die feministiese teologie en allerlei ander vorme van kontekstuele teologieë. Die wil om die mens se eie aspirasies met die Skrif te versoen word só sterk dat die Skrif dit uiteindelik self moet ontgeld.
Enkele tekste wat die mens se aspirasies vermoedelik steun, word (soos dit by die sektes gebruiklik is) vir dié doeleindes uitgesonder terwyl die res van die leer van die Bybel gerieflikheidshalwe geïgnoreer word. Die Bybel word gereduseer tot ’n goeie boodskappie van vredevolle naasteliefde, oorbuigende verdraagsaamheid, ’n soeke na eenheid en vrede met alle mense en alle godsdienste. Alles op die tema van filantropie – mensliewendheid. ’n Eiesoortige sielkunde of politieke handboek – ’n baie ou een! ’n Resepteboek met toepaslike gedrag onder relevante omstandighede. Die “boodskappie-vir-my-mense” waarsku: die Bybel is in historiese kontekste geskryf en moet dus opnuut in nuwe kontekste toegepas word. Gesien die kontekste wat tussen ons en die Bybel staan, sal óns bepaal wanneer sekere omstandighede relevant is en watter gedrag toepaslik is. Trouens, daar kan omstandighede wees wat só van ons s’n verskil dat die voorgeskrewe gedrag vandag glad nie meer vir ons geld nie.
Hierdie benadering veroorsaak dat ’n Skrifgedeelte, tesame met sy regstreekse konteks, nie meer binne die openbaringslyne van die hele Skrif gesien word nie. God se koninkryk is ’n voorbeeld hiervan. Dit word in belofte en vervulling op verskillende wyses, in en deur sy kerkvergaderende werk, deur alle eeue verkondig. Dit realiseer met die koms van Christus en word met sy weder-koms tot voltooiing gebring. Die koninkryk van God kan nie aan individuele tekste gekoppel word nie. Dikwels is die aanwending van ’n enkele teks eksemplaristies, moralisties – ’n boodskappie vir my.
Die korrekte hantering van die Skrif gaan hand aan hand met ons kennis van en diens aan God. Verkeerde Skrifhantering lei onafwendbaar tot afgodery en beeldediens. Dan vind in die godsdiens presies die teenoorgestelde plaas as wat godsdiens in sy wese is.
Ons moet in ons dienswerk hoe langer hoe meer tot die ewebeeld van God hernuwe word, maar ons poog die onmoontlike: om God hoe langer hoe meer na ons ewebeeld af te trek.
Reformasie in die kerke behels voortdurende introspeksie oor die wyse waarop ons die Bybel hanteer en gevolglik oor ons kennis van en diens aan God. So bly ons gehoorsaam aan ons roeping om die ware kerk te soek, ons daarby te voeg en daarmee in die ware geloof te verenig.