Númeri
Númeri
In hoofsaak gaan die boek Númeri oor uitsluiting en ingang in God se beloofde koninkryk – dit is Kanaän. Wie mag die koninkryk binnegaan en wie word ingang geweier? En hoe word uitsluiting en ingang in die koninkryk bepaal?
In die boek Númeri lees ons van die eerste generasie uit Egipte wat die uiteindelike rus saam met Jahwe in die koninkryk misloop. Die volgende generasie ontvang genade om saam met Jahwe verder te gaan. Tot op die grense van die beloofde koninkryk.
En Númeri maak dit baie duidelik: dit is nie omdat Jahwe se voorbereidingsplan vir die opmars en rus na Kanaän misluk nie, maar omdat Israel nie vêrder op Jahwe vir leiding, versorging en beskerming vertrou nie.
In die eerste plek bied Númeri dan aan ons hierdie plan van Jahwe vir Israel. Dit word vir ons in 2 beelde van Israel saamgevat: Israel op mars na Kanaän en Israel wat saam met Jahwe rus.
Eerstens Israel op mars na Kanaän: hierdie beeld word op tweërlei wyse verduidelik. Die reis na Kanaän is voluit ʼn militêre optog – in gehoorsaamheid aan Jahwe se Woord; 21:22-25. Daarom begin en eindig die boek met ʼn opname van mans wat geskik is om op kommando uit te trek; 1:3 en 26:2.
Opvallend is dat die Leviete nie deel van hierdie kommando uitmaak nie. Maar, ook húlle take is gekoppel aan Israel se stryd in die onderwerping van die vyand. Hulle moet die tabernakel en die ark gedurende die optog dra. En alles weer oprig tydens rus; 1:50, 51.
Die tabernakel en die ark is vir Israel ʼn sigbare herinnering dat Jahwe by sy volk is as Krygsman en dat Hy vir hulle veg; Exodus 14:19-31. Sien ook die blaas van die trompette; 10:5-6, 9: wanneer die optog begin of vyande teëgekom word, is dit sodat Israel deur Jahwe onthou sal word en hulle van die vyand verlos mag word.
Tweedens lei Jahwe Sélf vir Israel op pad na Kanaän; 9:15-23 en 10:11, sien ook Exodus 13:21, 22. En sy leiding is soos dié van ʼn Herder; Exodus 15:17 – Jahwe voorsien vir Israel rus (10:33), kos (11:7) en water (20:8). En baie nou verbind aan Jahwe se leiding van Israel is sy voorsiening van leiers vir die volk; 27:15-23.
Vervolgens kyk ons nou na die volgende beeld – Israel wat saam met Jahwe rus:
In die eerste plek word die groot leër van Israel geordend rondom die tabernakel opgestel. Met ʼn stamhoof oor élke stam. Verder word die eenheid van Israel ook beklemtoon deurdat 3 stamme ʼn leërafdeling uitmaak.
Hierdie beeld fokus ook op die teenwoordigheid van Jahwe in die midde van sy volk. Ons sien dit in die sentrale plek wat die tabernakel in die opstelling van Israel inneem. Vir Jahwe om in die midde van sy volk te wees moet die laers van Israel nie verontreinig word nie; 5:1-4. ʼn Volle teruggawe moet gedoen word t.o.v. vervreemde goed; 5:5-10. Enige skroom van ontrouheid moet voor Jahwe gebring word vir beoordeling; 5:11-31. Sodoende sal Jahwe se teenwoordigheid nie wyk of ʼn bedreiging vir Israel wees nie.
Die Leviete (in die plek van ál die eersgeborenes in Israel) se opstelling tydens rus is ook geordend en onder gesag. En hulle moet weer tussen Israel en die tabernakel laer opslaan; 1:53. Deur hulle dienswerk by die tabernakel (ín Israel se plek) – saam met die priesters – doen hulle versoening vir die héle Israel, sodat geen plaag op die kinders van Israel kan kom nie; 8:19.
Die nasireërsgelofte (6:1-21), ʼn gelofte van heelhartige toewyding aan Jahwe, wys op die gesindheid wat Israel teenoor Jahwe moet hê. Hierdie manne is ʼn herinnering vir Israel dat nie nét die priesters afgesonder is nie, maar dat die héle volk ʼn koninkryk van priesters en ʼn heilige nasie is; Exodus 19:6.
Tweedens: die bostaande beeld word vérder verduidelik deur vooruit te kyk na wanneer Israel saam met Jahwe in Kanaän rus. Élke familie moet ʼn erfdeel kry en dit moet in die geslagte bewaar word; 27:1-11 – volgens Jahwe se voorsienigheid; 34:13. Dié wat reeds ʼn erfdeel kry – nog voordat die land in besit geneem is – moet hulle broers help veg om ook húlle erfdeel te kan inneem. Dit beklemtoon dus die verdere eenheid in die mars (veg) asook die rus in die land; 32:1-42.
Hierdie 2 bostaande beelde van Israel word in Númeri soos volg saamgevat: die priesterlike seën deur Aäron; 6:22-27. Dit beklemtoon die genade, seën en vrede in Jahwe se Naam vir Israel. En dit word verder onderstreep deur Moses se woorde in 10:35, 36. Hierdie woorde roep Jahwe as Krygsman en Herder aan, teenwoordig in Israel se midde.
Ten slotte beskryf Númeri hoe Israel beantwoord aan bostaande plan van Jahwe, dit is: hoe is aan hierdie plan uitvoering gegee? En te midde hiervan word ook die karakter van Jahwe na vore gebring.
Ons sien dit in die volgende drie aspekte:
- T.o.v. die uitdagings in die woestyn: (11:1-35; 16:13, 14; 20:3-5; 21:5) ofskoon die optog na Kanaän goed begin (10:11-36), bring uitdagings in die woestyn aan die lig waar Israel se hart is. Israel kla dat dit sleg met hulle gaan; 11:1-3. Daar is ontevredenheid oor Jahwe se manier van kos- en watervoorsiening; 11:4-35, 20:5; sien ook by 11:18b, 16:13,14, 20:5, 21:5.
Die primêre fokus is heeltyd Kanaän (en die woestyn) en Egipte wat teen mekaar afgespeel word: Egipte word deur Israel goed verklaar en Kanaän (en die woestyn) word ʼn slegte plek genoem. Dus: dit wat Jahwe goed noem, verklaar Israel as sleg.
- T.o.v. Jahwe se leiding deur sy leiers: (12:1-16; 16:1-17:13) Númeri bevestig aan ons dat Jahwe die ware Leier van Israel is; 9:15-23, 11:10-30. Maar, Hy maak ook van mense gebruik om sy volk te lei – eers Moses en Aäron. (Moses sal later deur Josua vervang word; 27:12-23. En Aäron word deur sy seun Eleásar vervang; 20:22-29). Dit is die wettig aangestelde leiers deur Jahwe.
Hoofstukke 12:1-16, 16:1-17:13 maak duidelik hoe Jahwe teenstand teen hierdie wettig aangestelde leiers beoordeel. Hoofstuk 12:1-16 bestempel sulke optrede as dwaasheid (12:11) en dit lei tot verwydering uit die gemeenskap van Jahwe met Israel. In die geval van 16:1-17:13 word dit onmiddellik met die dood besoek.
Verder word dit ook duidelik gemaak wat die kriterium vir leierskap is; 27:18 – “…ʼn man in wie die Gees is…” Dit sal verseker dat die leiers herders vir die volk sal wees; 27:17 – ʼn weerspieëling van Jahwe se leiding as Herder oor sy volk. Sagmoedigheid (11:29, 12:3) en vertroue in Jahwe (20:12) moet hulle optrede kenmerk te midde van teenstand.
- T.o.v. die uitdaging wat Kanaän bied: (13:1-14:45) Slegte gerugte oor Kanaän (God se toekomstige heiligdom; Exodus 15:17) deur die 10 verspieders word onmiddellik met die dood gestraf. Want dit lei tot Israel se vrees vir die vyand en weer tot die plan om ʼn ánder leier aan te stel en na Egipte terug te keer. Ook die leër van Israel moet in die woestyn sterwe. Enersyds vanweë hulle vrees vir die vyand en andersyds omdat hulle dwaas handel deur die vyand sónder Jahwe te wil aandurf.
Slegs Kaleb en Josua – van die vorige generasie – mag in die lewe bly, want húlle verklaar Kanaän “…ʼn buitengewoon goeie land…”; 14:7b. En húlle mag (saam met die kinders) verder gaan.
T.o.v. Jahwe se karakter leer Númeri ons die volgende:
- Eerstens: Jahwe sál oordeel teen diegene – ongeag hulle bevoorregte posisie – wat in opstand is teen sy plan en doel vir Israel en gevolglik vir die nasies; sien 11:1, 11:33, 12:10, 14:26-34.
- Tweedens: Jahwe temper sy oordeel met genade. Genade en vergewing word gegee op grond van Jahwe se karakter (14:17-20) en vir sy Naam en die reputasie wat Hy het; 14:15, 16 – stadig om te oordeel en vinnig om te vergewe.
- Derdens: Jahwe se plan en doel sal nie misluk nie, ten spyte van Israel se ontrou. Hy sal ʼn volk bymekaarmaak óf deur Moses (14:12) óf deur die kinders van die ontroue Israel (14:31). Alleen daarom mag die kinders van die vorige generasie verder gaan. Jahwe is dus vasbeslote om die belofte aan Abraham te vervul (seën vir die nasies) deur Israel te seën en hulle die beloofde koninkryk te gee.
- In die finale instansie maak die boek Númeri vir ons baie duidelik wie ingang in die beloofde koninkryk geweier word. En wat die maatstaf is waarmee gemeet word.
Die eerste generasie maak sélf uit wat goed en sleg is: slegte gerugte oor Kanaän en ʼn goeie verklaring oor Egipte (sien die 3 aspekte hierbo). Dit is dieselfde sonde van Adam en Eva in God se heiligdom – Eden; Genesis 3. Dus: die maatstaf waarmee gemeet word, is wysheid en dwaasheid.
Wyse Israel bly steeds op Jahwe se leiding, versorging en beskerming vertrou. En mag saam met Jahwe verder gaan. Dwase Israel wil steeds weer na Egipte, want dit is beter (goed) daar. Dit is ʼn verwerping van Jahwe se doel in die uitkies van Israel om sy seën na die nasies te bring. En gevolglik word ingang geweier.