Bron: Die Kerkblad, 1987. 2 bladsye.

My Kerk: Warmhartig of Armhartig?

hart en sneeu

Iemand het eenmaal gesê: "Barmhartigheid sonder warmhartigheid is armhartigheid!" 'n Ander het gesê: "Behalwe selfliefde is daar maar weinig liefde, selfs in die kerk".

"Is dit dan 'n wonder dat die diakenamp — die amp van die liefde (aldus Totius) — tot groot hoogte 'n koue, bloedlose lyk geword het?", vra ds. Fran­cois Lessing indringend in 1963.

Kenmerkend van die liefdeloosheid in die kerk is die algemene doodsheid en die koudheid. In koue onverskilligheid wil die een skaars met die ander iets te doen hê. "Ek is te besig!" "Elkeen vir homself!" Dis 'n simptoom van die sonde in ons elkeen se hart.

Die diaken (en elke lidmaat!) is geroepe om die stryd aan te knoop teen die sonde, die liefdeloosheid en die koudheid — in sowel die eie hart as in die kerk. 'n Diaken kan die amp van die liefde egter slegs beoefen as hýself deur die liefde van Christus gedring is. Waar liefde woon, woon Chris­tus. "So sal die liefde liefde wek" (Psalm 133). Wanneer 'n diaken 'n lidmaat besoek het, moet die lidmaat voel asof Christus self "onder sy dak ingekom het".

Die hart van die diakonale amp is liefde — nié die algemene menseliefde (filantropie) waarop die algemene 'liefdadigheid' berus nie, maar die vuur­vlam van die liefde van Christus, ontsteek deur die Heilige Gees self.

Die diakonale amp is die bediening van die liefde van Christus. Daarom word nie éérstens van die diaken vereis dat hy 'n liefdevolle mens moet wees nie. Die Skrif vereis dat hy "vol van die Heilige Gees en wysheid" moet wees (Handelinge 6:3). Hy moet werk in die huishouding van God, as uitdeler van die 'liefdegawes' van die gemeente. Hierdie gawes is die gemeente se sigbaar gekristalliseerde liefde vir Christus. (Terloops, weerspieël die baie vyfsente en tiensente 'n groot liefde?)

Kom ons volstaan met enkele verdere opmerk­ings:

  • As één lid van die liggaam ly, ly ál die lede mos saam? Medelydendes gee vrywillige gawes, ge­heilig deur die liefde — nie al sugtend of ver­wytend nie. En 'n gemeente onderhou en versorg dus self sy behoeftiges, sonder staatsubsidie of 'vreemde' hulp.
  • "Die gemeenskap van die heiliges" beteken onder andere dat elke gelowige moet weet dat hy skuldig is om sy gawes tot nut en saligheid van die ander lede gewillig en met vreugde aan te wend (Heidelbergse Kategismus vr. 55). Diakonale arbeid, ook via elke lid­maat se bydrae, is dus die Evangelie in die praktyk! Deur (warmhartige) barmhartigheidsdiens word Christus volle werklikheid in die lewe. "Ek het gekom dat hulle (sý skape) lewe en oorvloed kan hê" (Johannes 10:10). Met uiterlike gawes sowel as met trooswoor­de uit die Heilige Skrif moet aan die armes en ellendiges hulp bewys word.
  • Stoflike hulp moet verleen word volgens be­hoefte, nie ooreenkomstig beskikbare fondse nie. Daarom moet diakens op 'n gereelde basis, naas die gewone Sondagse kollektes, ook buitenge­wone insamelings hou — en naas armebesoek ook rykebesoek doen (ter wille van voldoende hulp­verlening).
  • Die diaken snel te hulp waar daar armoede of ander nood is, maar óók waar hy dit sien dreig. Hy waarsku, hy help, hy laat help. Hy roep die hulp, kundigheid, liefde en warme belangstelling van ander wykslidmate ook in. Liefde is konkreet, in­dividueel en persoonlik.
  • Hy moet weet en bepaal waar wérklike nood is. Terwyl andere nog probeer ontleed wat die oor­sake en gevolge van 'n ellendige se situasie is, doen hy reeds 'reddingswerk'. Liefdevolle insig en wysheid is daarvoor nodig, nie geleerdheid nie.
  • Hy moet uitkoms bring voordat daarom gevra word, want vra is vernederend, maar bring is verheffend. Hy moet ophef en opbeur — deur hulp en vertroosting. Daarom is gereelde, grondige diako­nale huisbesoek in ons tyd 'n onmisbare vereiste in 'n gemeente.
  • As God waarlik my Vader is, en die kerk my Moeder, en indien ek as lidmaat dit wáárlik begryp en glo en belewe dat my medelidmate my broers en susters is … dan sal ek oor elkeen as hoeder optree (sonder hoogmoed), oor elkeen se tydelike en ewige behoeftes warmhartig besorgd wees, nuwelinge opsoek en inskakel, daadwerklik rea­geer op afkondigings oor siekes en beproefdes, bejaardes besoek en versorg en onderskraag — en van die kerk 'n ware sámeléwing maak!