Motiewe by die Verklaring van die Bybel
Motiewe by die Verklaring van die Bybel
As Gereformeerdes is daar vir ons sekere ononderhandelbare beginsels ter sprake wanneer dit oor die benadering tot en ook die verklaring van die Skrif gaan. Die definisie van wat as “Gereformeerd” beskou word, vind ons in die verskeie openlike verklarings en ondernemings wat van tyd tot tyd gemaak word waaronder:
- Die openlike verklaring by meerdere vergaderings
- Die ondertekeningsformuliere vir ampsdraers
- Die formulier vir die doen van openbare geloofsbelydenis
- Die formulier by die doop van verbondskindertjies.
Opmerklik dat die leerstellige, kerkregtelike asook liturgiese bydrae wat die sinode van Dordrecht, 1618-1619 gelewer het, as die regstreekse omlysting geneem word van wat as die Gereformeerde godsdiens beskou word. Daarvolgens verklaar ons dat ons met alle dele van die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls instem omdat dit met die geskrewe Woord van God ooreenstem.
Binne hierdie definisie van die Gereformeerde godsdiens is daar dan sekere vertrekpunte, beginsels en reëls by die benadering asook die verklaring van die Skrif wat ononderhandelbaar is.
Die geskrewe Woord van God aan ons⤒🔗
Die eerste en mees basiese is dat die hele Bybel die Woord van God is en daarom die kanon (maatstaf) van ons lewe.
Daarmee gee ons uitdrukking aan wat ons in artikels 3-7 NGB bely. Ons verklaar hoedat dit so gekom het dat ons hierdie 66 boeke as die Woord van God ontvang het (art 3), hoe groot die omvang van die kanon is en watter boeke dit alles insluit (art 4), watter seggenskap (gesag) hierdie boeke oor ons lewens het (art 5), watter waarde ander geskrifte naas die Bybel het (art 6) en laastens hoe eksklusief, genoegsaam, en volkome die kanonieke boeke is in verhouding tot menslike lering, alles met betrekking tot ons kennis van die saligheid asook die regte diens van die HERE (art 7).
Hierby is dit egter nie afgehandel nie, want ons bely in die HK Sondag 7 dat die ware geloof in die eerste plek neerkom op ’n gewisse kennis waardeur ons alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar en seker aanvaar. NGB art 5 sluit regstreeks by hierdie bewoording aan: “dat ons sonder om te twyfel alles glo wat daarin vervat is...”
In NGB art 7 sê ons hoe sonder twyfel ons alles glo wat daarin vervat is, naamlik... “dus mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook 'n engel uit die hemel”, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8).
Aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie.
Die geskrewe Woord deur die uitleggende en toepassende werksaamheid van die bedieners daarvan bly steeds die gesagvolle Woord van God.←↰⤒🔗
Selfs ook hiermee is dit nie afgehandel nie, omdat ons uit die Skrif leer dat God sy kragwerk van die saligmaking, die vergadering, beskerming en onderhouding van sy kerk (HK So 21), die bewerking van die ware geloof (HK So 25 v&a 65) en die bediening van die tweesnydende sleutelmag (HK So 34 v&a 84) deur die lewendige verkondiging van sy Woord doen.
As Paulus vertel dat hy hom nie skaam vir die evangelie nie omdat dit ’n krag is tot redding vir elkeen wat glo (Rom 1:16), dan is dit vanweë die lewende getuienis daarvan, vanweë die feit dat hy daartoe geroep is (Rom 1:1), maar ook dat die gemeente daartoe geroep is (Rom 1:6).
Dit was ook deur die wyse waarop die evangelieboodskap vanaf en deur die Thessalonicense na Macedonië en Achaje geëggo het, dat dit blydskap en geloofsgehoorsaamheid rondom ontketen het.
Verder is dit juis die wyse waarop die lidmate met gesag onder mekaar optree, deurdat hulle vervul is met die Heilige Gees en onder mekaar spreek, vermaan, sing, dank, vertroos (Ef 5: 18-21), of gelykluidend: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here...” (Kol 3: 15-17).
In hierdie sin bely ons dus dat die Goddelike gesag van die Skrif nie bloot net staties in die letters op die papier verpak is nie, maar dat dit werksaam is in die verstande en harte en monde van diegene wat dit verkondig en in die harte van diegene wat dit hoor (vgl Rom 10: 9-15, 1 Pet 1: 23-25, DL 1.3, 2.5, 3&4, 6-12, 17, 5:14).
Die grammaties-historiese metode←⤒🔗
Om hierdie rede het die vaders van die Reformasie ’n manier van Skrifverklaring voorgestaan wat reeds vanaf die era voor die hoogbloei van die Roomse kerk kom, te wete die grammaties-historiese verklaring van die Antiogeense skool teenoor die allegoriese wyse.
Die grammaties-historiese metode neem Gods Openbaring ernstig soos wat Hy in sy behae goedgedink het om aan ons in die bladsye van die Heilige Skrif te rig. Die Bybel is die Woord van God aan ons in die woorde van die mens.
Daarom begin die leser sy soeke na die betekenis van ’n Skrifgedeelte by die bewuste moeite om te wete te kom wat die woorde (Gr. Grammata) in hulle historiese inbedding beteken het. Dit wil sê hy sal daarna strewe om die teks te verstaan deur die volle taaluiting/taalvorm wat die spesifieke skrifgedeelte ontbloot.
Om dit te doen word
- noukeurig nagevors wat die korrekte grondteks is
- gebruik gemaak van taal-handboeke, woordeboeke en konkordansies
- sintaktiese skakels ontleed
- semantiese velde nagevors
- die historiese inbedding nagevors.
Die grammaties-historiese metode staan regstreeks in opposisie tot die impressionistiese metode. Volgens laasgenoemde is die leser op die sensasie van die teks ingestel. Daar word net gekonsentreer op die gedeeltes van die Skrif wat 'n maklike oordraagbare teologiese en geestelike waarde het en waarvan die toepassing ooglopend is.
Die grammaties-historiese metode daarenteen neem die volle openbaring soos dit gegee is, ernstig, in die sin dat dit aanvaar word as WERKLIKE kommunikasie van die WARE God met WERKLIKE mense.
Die grammaties-historiese eksegese neem eerstens die grammatiese ernstig omdat die grammatiese uiteindelik die betekenis van die teks bepaal.
So ook neem die grammaties-historiese eksegese die historiese inbedding van die teks ernstig om daarmee erkenning te hou dat die teks nie in 'n vakuum nie, maar in alle werklikheid tot die kerk gekom het.
Die verklaring by die grammatieshistoriese eksegese is egter altyd van so ’n aard dat die grammatiese en die historiese mekaar aanvul en versterk, maar nie weerspreek nie. Die leser sal nie uit die sosiohistoriese agtergrond kennis versamel wat hom tot die teenoorgestelde verklaring lei van wat daar literêr letterlik in die teks staan nie.
Op hierdie manier word baie sterk gekonsentreer op die natuurlike manier waarop die Bybelteks homself aanbied. Daar word ernstig rekening gehou daarmee dat die soewereine drie-enige God Homself kenbaar maak en verstaan wil wees binne die beperkings van die natuurlike kommunikasieprosesse van ons gebroke menswees. Daarom het Hy Homself deur die verstande, die temperamente, die gawes, die kulture, die genres, die tale van mense oor verskillende eeue heen aan sy kerk van alle eeue genoegsaam en verstaanbaar bekend gemaak.
Dit is so dat Hy sondebevange mense gebruik het daarvoor. Ook is dit so dat selfs die merke van die gebroke mensheid daarin opmerkbaar is. Tog het Hy deur sy Goddelike versorging en bestiering van die uitspreek, die opskrifstelling, die versameling asook die bundeling van sy Kanon, gesorg dat sy Kerk dit in ongeskondenheid, in sondeloosheid en in foutloosheid ontvang het, net soos wat die vleesgeworde Woord ook sonder sonde was.
Behalwe die wete dat die Bybel vir ons gegee is binne die eienskappe van die natuurlike menslike kommunikasie, maak die bykomende Geestelike natuur daarvan dit ook noodsaaklik dat die verklaarder asook die hoorder daarvan deur die Gees verlig moet word (1 Kor 2:12-16, Ef 1: 16-20, 1 Pet 1:20). Waar ons dan by die voltooiing van die Bybel as bundel in al die prosesse van die bundeling daarvan praat van die Theopneustie (Inspirasie) van die Heilige Gees, so praat ons by die suiwer uitleg en verstaan daarvan van die Illuminatie (verligting) van die Heilige Gees.
Om hierdie rede is dit dus, ons sondige natuur, ons gebrokenheid en gevallenheid ten spyt, wel moontlik om die Goddelike Woord met Gees-verligte verstande en sagmoediggemaakte harte te ontvang en in tweesnydendheid te hoor en te bedien sodat dit inderdaad in die hemelryk insluit en ook daaruitsluit.
Nederigheid en beslistheid←⤒🔗
In hierdie sin van die redenering is daar tegelykertyd nederigheid en ook gesagvolle beslistheid ter sprake. Nederigheid, omdat daar verskillende kontroles is wat die Bybelleser moet gebruik om sy verstaan daarvan te toets.
Ons moet ons immers nie verbeel dat ons die eerste mense is wat tot geloof kom nie. Dis die fout wat die sektes telkens maak. Die Here het sy kerk binne die eenheid van die ware geloof deur al die eeue heen vergader. Vir hierdie doeleindes het die kerk by verskillende kardinale momente in die kerkgeskiedenis daartoe gekom om uitdrukking te gee van hoe hulle verstaan wat die Bybel sê. So het die geloofsbelydenisse ontstaan.
Nederigheid beteken ten minste dat die bybelleser sy interpretasie sal laat toets deur wat die gelowiges deur die eeue heen daarby verstaan het. Maar dan is daar tegelyk beslistheid – soos wat Paulus dit ook by geleentheid aan die Korinthiërs geskryf het: “Dit is nie wat ek sê nie, dis wat die Here sê.” Of nog soos wat Jesus self dit aan die Satan stel met die versoekinge in die woestyn: “Daar staan geskrywe...”, en “daar staan ook geskrywe...” Paulus bemoedig en vermaan sy geloofskind Titus: “Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie.”
Nederigheid het dus niks te doen met onsekerheid nie, maar met die onderdanige buig onder die gesag van Christus. En beslistheid het ook niks te doen met ’n soort houding van alle waarheid in pag hê nie, maar met die sekerheid van die gesag waarmee ’n bepaalde Skrifgegewe op ons gelê is om te verkondig “soos woorde van God” (1 Petr 4:11).