Mens-Ontsluiting
Mens-Ontsluiting
Die mens moet ontsluit word. Dit is die hoofdoel van alle ontwikkeling – van die konferensies en kongresse oor volhoubare ontwikkeling, van die samekomste van staatsafvaardigings in wêreldrade. Dit word as ’n hoofmotief vir onderwys en opvoeding gestel.
Mensverwesenliking en mensontsluiting is ook ’n belangrike saak wat in die Bybel behandel word. Die begenadigde sondaar word in Christus weer tot God se ewebeeld hernuwe en deel in God se kerkvergaderende werk met die doel dat Christus se koningskap onder alle mense erken en gehoorsaam word. Daarom is gelowiges in die wêreld werksaam om hierdie skepping te bewerk en te bewaak totdat Christus weer kom. Vanaf die paradys in Genesis 1 tot by die paradys in Openbaring 21 en 22 sien ons ontsluiting van die tuinwoonplek na die stadwoonplek – dit nie soseer deur menslike toedoen nie, maar deur God se heilsgeskiedenis wat ontsluit. Mensontsluiting is daarom ook ’n kernsaak van die christelike godsdiens. Gelowiges word opgeroep om op te groei tot die volwasse grootte van die Here Jesus (Efesiërs 4), om na die volmaaktheid voort te gaan (Hebreërs 6). Belangrike koersaanwysings en grense is ingebed in die regte konteks wat God ons in sy Woord aanwys.
Die ontsluiting van die mens vanuit die mens en gerig op die verheerliking van die mens moet daarom regstreeks afgewys word. Dit is juis hierdie werke ‘onder die son’ wat deur die Prediker as ‘tevergeefs’ en ’n ‘gejaag na wind’ getipeer word. Die daarstelling van ’n goeie selfbeeld en die verwesenliking van menseregte vanuit ’n filosofie dat alle mense gelyk is en daarom geregtig is op vryheid van spraak, vryheid van denke, godsdiensvryheid en gelyke regte, is integraal deel van die ontsluitende kultuur wat sedert die Renaissance aan die mensdom van die wêreld voorgedra word. Dit blyk ook uit die destydse evangeliese gesang 51: ‘Gedenk uw waarde, o mens!’ Die mens as mens het die hoogste gesag geword. Alle inligting, ook die inligting van die Bybel word aan die betwyfelende oordeel van die selfverwesenlikte mens onderwerp. Die tegnologiese ontwikkeling van die bemagtigde mensheid – dit is nog altyd dié godsdiens van die wêreld met die meeste aanhangers.
Die gangbare idee van die opvoedkunde was nog altyd min of meer dat die mens deur die opvoedingsproses ontsluit moet word. Die christelike denke gaan ook gekwalifiseerd met so ’n idee saam. Die voorwaarde is dat die ontsluiting beheersd en gekontroleerd en onder begeleiding van die Bybel plaasvind. Volgens die wêreldse ideologie van menseregte, wat deel van ons huidige plan van uitkomsgerigte onderwys is, moet die mens as ’n vrye wese ongesensureerde toegang verkry tot alle aspekte van die samelewing en van menswees – onbevooroordeelde blootstelling aan alle ideologieë en godsdienste. Die opgroeiende kind moet sodoende in die geleentheid gestel word om ’n eie vrye keuse te maak tussen al die inligting wat ‘neutraal’ aan hom/haar gebied word – vrye keuses ten opsigte van godsdiens, lewensbeskouing, assosiasie en oriëntasie, morele en sosio-kulturele waardes. Deur eksperimentele interaksie met al bogenoemde, ontsluit die potensiaal van die ontluikende mens tot ’n volwasse vrye individu.
Die ideologie van die keusevrye ontsluiting van die mens vind helaas ook sy ingang in die kerk. Daar mag nie meer vaste ordereëls en bindende praktyke wees wat lidmate se individuele vryheid aan bande lê nie. Hierdie tendens neem oor die hele wêreld in die Gereformeerde godsdiens hand oor hand toe. Dit word mede deur die postmoderne denkgees en wetenskapsbenadering gerugsteun. Daar moet ruimte wees vir die libertas profetandi (die vryheid van die profeet of profesie). Vandag (let wel) word daarmee bedoel dat die mens maar mag sê wat hy wil. Dit is opmerklik dat meer en meer sinodebesluite sake van praktiese aard aan die vryheid van die kerke oorlaat. Al hoe meer diversiteit en pluraliteit word waargeneem onder die verskillende kerke wat in een kerkverband georganiseer is. Argumentasie wat ter regverdiging hiervan aangevoer word, is dat die verskille bloot middelmatige sake is en dat dit hoofsaaklik op die vlak van kultuurverskille lê. Die wesenlike dinge is nie in gedrang nie. In Nederlands Dagblad van 28 Augustus het die hoofberig gehandel oor die vraag: ‘Moet de kerk aantrekkelijk proberen te zijn?’ Dit is waarneembaar dat ’n al groterwordende deel van die kerke besig is om hulle getallekrimping te probeer stuit deur enersyds te charismatiseer – individuele aktiwiteite van lidmate en indrukwekkende vertoonpraktyke word ingevoer (God fashion). Andersyds vind verroomsing plaas deur ’n mistiese atmosfeer in die eredienste te skep. Moderators steek simbolies kerse op. Die motief daaragter: mensontsluiting.
Die ewolusionêre doel is om ’n volle geluksalige staat hier op aarde te bereik. ’n Verhewe super kultuur. Nirvana. Paradys. Verskillende indrukwekkende films wat die gees van die post-modernisme oordra, verbeeld dan ook ’n onoorbrugbare skeiding tussen ’n agtergeblewe natuurlike menslike kultuur en ’n verhewe superkultuur. Hieronder val byvoorbeeld: The Matrix (I, II,
Dit is egter alleen dié wat deur ’n ware geloof in Christus ingelyf is, wat sy Woord bewaar, wat in Hom veel vrug dra (Johannes 15), wat ook die salige belofte in ontvangs mag neem dat hulle deur die inwoning van sy Gees hoe langer hoe meer tot sy ewebeeld hernuwe word. Alleen hulle sal as erfgename, as konings op die nuwe aarde heers (Openbaring 21). Alleen vir hulle is daar waarlik mensontsluiting.