Matteus 27:9-10 - Het Matteus 'n Fout Gemaak?
Matteus 27:9-10 - Het Matteus 'n Fout Gemaak?
Toe is vervul wat gespreek is deur Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.
Matteus 27:9-10
Die evangelis Matteus verwys na iets wat deur die profeet Jeremia gesê is, maar almal stem saam dat die teks wat hy vervolgens aanhaal, nie eintlik uit die boek Jeremia kom nie, maar wel uit die boek Sagaria.
Hierdie voorbeeld kom gereeld ter sprake wanneer dit gaan oor moontlike foute in die Bybel. Nog maar onlangs is hierna verwys deur Adrian Verbree in sy rubriek in die Nederlands Dagblad (Bylae Zeven, 23 Julie 2011). Om sulke foute te probeer oplos, is volgens Verbree soos om ʼn vlek in ʼn lap te vryf: dit word net erger. Skuil daar agter goedbedoelde verdediging van die Bybel nie eerder ʼn verkrampte kyk op die Bybel nie?
Versigtig met foute⤒🔗
Om foute te maak is menslik, en die Bybelteks is deur mensehande op- en oorgeskryf. Die boek Openbaring is vanuit ʼn grammatikale oogpunt nie vlekkeloos nie. In daardie sin is ʼn fout by voorbaat nie uitgesluit nie. Die geloofwaardigheid van die Bybel hang egter nie van mense af nie, maar van God. Wel sou ʼn mens dan verwag dat hierdie fout van Matteus in die Griekse teksoorlewering verbeter sou gewees het. Maar dit is nie die geval nie, afgesien van enkele uitsonderings uit ʼn later tyd. Laat ons in elk geval versigtig wees, voordat ons twintig eeue later van agter ons lessenaars dit uitbasuin dat Matteus ʼn fout gemaak het deur Jeremia met Sagaria om te ruil. Soveel te meer omdat ons teenswoordig met ʼn eksakte bronvermelding werk, letterlike aanhalings met bladsynommers en al, terwyl Matteus gewerk het in ʼn mondelinge kultuur waar byvoorbeeld slegs die noem van die naam van die profeet alreeds voldoende was om groot dele van sy boekwerk in herinnering te roep. Ook die rabbi’s het die Skrif meer assosiatief aangehaal as waaraan ons gewoond is.
Vervullingsaanhaling←⤒🔗
Wat skryf Matteus presies en wat het hy bedoel met hierdie aanhaling? Matteus haal gedurig uit die Ou Testament aan om te laat sien dat die evangelie van Jesus Christus die vervulling is van wat Moses en die profete geskryf het. Dit gaan in hierdie sogenaamde vervullingsaanhalings dus om kommentaar van die evangelis op die gebeurtenisse wat hy vertel. So ook by die berou van Judas, ʼn uiters dramatiese oomblik in die evangelie. Nadat hy Jesus uitgelewer het, kry Judas gewetenswroeging: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai” (Matteus 27:4). Hy besluit om sy verraaiersloon aan die Joodse owerhede terug te gee, gooi die dertig silwerstukke in die tempel neer en hardloop weg. Daarna neem Juda sy eie lewe deur homself op te hang. Met die bloedgeld van die verraaier word die stuk grond van ʼn pottebakker gekoop wat as ʼn begraafplaas vir vreemdelinge sal dien: die Bloedgrond in Jerusalem (vgl. Handelinge 1:18-19). Volgens die evangelis is op hierdie manier vervul wat deur die profeet Jeremia gesê is (Matteus gebruik hier presies dieselfde formulering as in 2:17).
←⤒🔗
Deur die profete geskryf←⤒🔗
Ons vind hierdie woorde inderdaad by Sagaria, hoewel nie letterlik nie. Dit kan verklaar word wanneer Matteus hier nie presies dieselfde tekstradisie volg as die een waaroor ons beskik nie, maar ʼn hersiene weergawe van die Septuaginta (die Griekse vertaling van die Ou Testament). Ook om hierdie rede moet ons versigtig wees met ons gevolgtrekkings. By Sagaria gaan dit in elk geval oor die saak om iemand na ʼn bepaalde waarde te skat, dertig sikkels silwer, ʼn bedrag wat met ʼn dramatiese gebaar in die tempel gegooi word. Die aanhaling lui as volg:
Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker – die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.Sagaria 11:12-13
Maar Matteus vermeld nog drie elemente: die betaling van
- die stuk grond;
- van die pottebakker;
- in opdrag van die HERE.
Dit staan nie alles in Sagaria nie. Wel in die boek Jeremia: volgens hoofstuk 18 besoek Jeremia die werkplek van ʼn pottebakker en volgens hoofstuk 32 koop Jeremia ʼn stuk grond in opdrag van die HERE.
Matteus voeg dus enkele essensiële elemente by in sy vervullingsaanhaling uit Sagaria, waarskynlik om so die vervulling van die Ou Testament in die gebeure rondom die berou van Judas ekstra te beklemtoon. Dit word dan genoem ʼn saamgestelde aanhaling. Ook dit is vir ons as moderne lesers vreemd, maar ons moet onthou dat die profetiese getuienis van die Ou Testament as een geheel beskou is. Anders gestel: die profete van Israel spreek uit een mond. So kan Matteus op ander plekke verwys na iets wat geskrywe staan by of gesê is deur die profete, sonder om ʼn bepaalde naam te noem (2:23 en 26:56). Dit het ruimte geskep daarvoor om tekste van verskillende profete assosiatief te kombineer deur hulle aanmekaar te ryg of inmekaar te skuif. Op die geheel wat so ontstaan het, kon dan, ter wille van die herkenbaarheid, as etiket die naam van die belangrikste profeet geplak word.
ʼn Ander evangelis, Markus, doen dieselfde deur aan die begin van sy boek by die optrede van Johannes die Doper te vermeld wat geskryf is deur die profeet Jesaja (vgl Matteus 3:2; Lukas 3:4), terwyl hy vervolgens eintlik twee profetiese aanhalings kombineer, eers uit Maleagi en daarna uit Jesaja.
In die geval van Markus is egter vanuit die Griekse teksoorlewering wel ʼn variasie hiervan bekend: in plaas van: “soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja” lees ons in die meeste tekste: “soos geskrywe is in die Profete”.
Bedoeling←⤒🔗
Oor die bedoeling van Matteus kan niemand egter fout gaan nie: die evangelie van Jesus Christus is, ook op die oomblik toe Judas berou kry, die vervulling van alles wat deur Moses en die profete geskrywe is.