Matteus 27:46 - My God, my God, waarom het U My verlaat?
Matteus 27:46 - My God, my God, waarom het U My verlaat?
Ja, Ja, weet jy hoe dit was – sterwend aan die kruis, verlaat deur Sy Vader – weet jy hoe dit was? .... dit was verdoemenis – en verdoemenis wat in liefde aanvaar is.
John “Rabbi” Duncan (1796 – 1870).
Dit was twaalfuur in die middag, en Jesus was vir drie pynlike ure aan die kruis. Skielik het duisternis toegesak oor Golgota en oor die hele land (Mat. 27:45). Deur ʼn wonderbaarlike ingreep van die Almagtige God het middag middernag geword.
Hierdie bonatuurlike donkerte is ʼn simbool van God se oordeel oor die sonde. Die fisiese donkerte is ʼn teken van ʼn dieper en meer vreesaanjaende donkerte.
Die groot Hoëpriester het die Allerheiligste van Golgota binnegegaan sonder vriende of vyande. Die Seun van God is alleen aan die kruis vir drie beslissende ure, en verduur dit wat ons verstand te bowe gaan. Hy ervaar die volle aanslag van Sy Vader se toorn, en Jesus kan nie stilbly nie. Hy roep uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Hierdie frase verteenwoordig die laagtepunt van Jesus se lyde. Jesus ervaar al die angste van die hel, die ergste lyding wat nog ooit ondergaan is. Dit is ʼn tyd wat so saamgepers is, so oneindig is, so verskriklik dat dit onbegryplik is en skynbaar onvolhoubaar.
Jesus se roep verminder geensins Sy Godheid nie. Jesus het nie opgehou om God te wees voor, tydens of na hierdie gebeurtenis nie. Jesus se kreet skei nie Sy menslike natuur van Sy goddelike persoon nie, en dit verbreek nie die Drie-eenheid nie. Dit maak Hom ook nie los van die Heilige Gees nie. Die Seun ontbeer die troos van die Gees, maar Hy verloor nie die heiligheid van die Gees nie. En laastens, dit laat Hom nie sy roeping verloën nie. Die Vader en die Seun het albei van alle ewigheid af geweet dat Jesus die Lam van God, wat die sondes van die wêreld sal wegneem (Joh. 1:29), sal word. Dit is ondenkbaar dat die Seun van God die gebeure sou bevraagteken, of verslae sou wees as Sy Vader se liefdevolle teenwoordigheid Hom in die steek laat.
Jesus druk die uiterste pyn van onbeantwoorde smeekbedes uit (Ps. 22:1-2). Onbeantwoord voel Jesus asof Hy deur God vergeet is. Hy druk ook die pyn van ondraaglike stres uit. Dit is die soort “gebrul” (Ps. 22:1, Afr. 33/53) waarvan in Psalm 22 gepraat word: die gebrul van desperate pyn sonder opstand. Dit is die helse uitroep wat geuiter word as die volle toorn van God die siel oorrompel. Dit dring deur die hart, deur die hemel, deur die hel. En meer nog, Jesus druk die pyn van die komplete sonde uit. Al die sondes van die uitverkorenes, en die hel wat hulle vir alle ewigheid verdien, word op Hom gelê. En Jesus druk die pyn van absolute alleenheid uit. In Sy uur van grootste nood het Hy pyn soos die Seun nog nooit vantevore ervaar het nie: Sy Vader se verlating. Toe Jesus die meeste ondersteuning nodig gehad het, het geen stem van die hemel af uitgeroep: “Dit is My Geliefde Seun” nie. Geen engel is gestuur om Hom te versterk nie; geen “mooi so, goeie en getroue dienskneg” het in Sy ore geklink nie. Die vroue wat Hom ondersteun het, was stil. Die dissipels, lafhartig en bang, het gevlug. Verloën deur almal moes Jesus die lyding alleen ondergaan, verlate, versaak, in volle duisternis. Elke detail van hierdie verskriklike verlatenheid dui die afskuwelike aard van ons sondes aan.
Maar hoekom sou God Sy Seun so wou verbrysel (Jes. 53:10)? Die Vader is nie wispelturig, kwaadwillig of bloot net didakties nie. Die werklike doel is straf; dit is die regverdige straf vir die sonde van Christus se volk. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees” (2 Kor. 5:21).
Christus is as sondaar behandel in ons plek, liewe gelowiges. Uit al die geheimenisse van verlossing oortref die woorde “in ons plek” alles. Hierdie woorde verlig ons donkerheid en verenig Jesus Christus met sondaars. Christus het in die belang van Sy volk opgetree, as hul verteenwoordiger, en tot hul voordeel.
Met Jesus as ons plaasvervanger is God se toorn bevredig, en kan God dié wat in Jesus glo, vryspreek (Rom. 3:26). Christus se lyding as straf is dus plaasvervangend – Hy het namens ons gely. Hy het nie bloot in ons verlatenheid gedeel nie, Hy het ons daarvan gered. Hy het dit verduur namens ons, nie saam met ons nie. Jy is immuun teen veroordeling (Rom. 8:1) en teen God se vervloeking (Gal. 3:13) want Christus het dit namens jou gedra in daardie buitenste duisternis. Golgota het vir ons immuniteit gebring, nie net simpatie nie.
Dit verklaar die ure van donkerheid en verlatenheid. God se volk ervaar net ʼn smakie hiervan as hulle deur die Heilige Gees voor die Regter van hemel en aarde gebring word, net om uit te vind dat hulle ter wille van Christus nie verteer word nie. Hulle kom uit die donkerte en bely: “Omdat Immanuel vir ons neergedaal het tot in die laagste hel, is God met ons in die donkerte, onder die donkerte, deur die donkerte – en ons word nie verteer nie!”
Hoe ontsaglik groot is die liefde van God! Ons harte loop oor van liefde sodat ons reageer: “Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19, Afr. 33/53).