Matteus 2:1 - Hulde uit die Ooste
Matteus 2:1 - Hulde uit die Ooste
William Barclay gee in sy The Daily Study Bible 'n verklaring oor die wyse manne/sterrekykers uit die Ooste. Dit gee ek in hooftrekke weer.
Hierdie manne word ook Magi genoem. Aangaande hulle het "die vader van die geskiedskrywing" Herodotos (484 v.C.) enkele mededelinge.
Oorspronklik was hulle 'n stam van die Meders wat deel van die Persiese Ryk uitgemaak het. Hierdie stam het eers 'n vrugtelose poging aangewend om die Persiese mag in die hande van die Meders oorgeplaas te kry. Daarna het die Magi hulle strewe na mag laat vaar en 'n stam van priesters geword, omtrent soos die Leviete in Israel. Uiteindelik het hulle die onderwysers en raadgewers van die Perse en hulle konings geword. In Persië mag geen offerandes plaasgevind het as daar nie van die Magi teenwoordig was nie. Hulle was die erkende heilige en wyse manne. Hulle was onderrig in filosofie, medisyne en natuurwetenskappe en veral in sterrewiggelary.
In daardie tyd het die vaste stand en gang van die sterre vir hulle 'n vastigheid in die goddelike plan en beheer beteken. Sodra daar egter 'n buitengewone sterreverskyning was, het hulle dit gesien as 'n goddelike voorteken van iets buitengewoon wat gaan gebeur.
Ons weet nie watter helder "ster" daardie Magi (sterrekykers — Matteus 2:1) gesien het nie. Daar is meer as een gissing.
Omtrent 11 jaar v.C. het die komeet (later na Halley genoem) helder sigbaar in die lug verskyn. Omtrent 7 jaar v.C. was daar 'n helder saamvloeiing van die lig van Saturnus en Jupiter. In die jare 5 tot 2 v.C. was daar op die eerste dag van die Egiptiese maand Mesori, net voor die opkoms van die son, 'n buitengewone helder skynsel van Sirius (Hondster) sigbaar. Die naam Mesori beteken "die geboorte van 'n prins" — en vir die destydse sterrewiggelaars sou so 'n ster ongetwyfeld die geboorte van 'n groot koning beteken het.
Ons weet nie watter "ster" die Magi gesien het nie, maar wat hulle gesien het, was vir hulle 'n voorbode van 'n buitegewone koning van die Jode.
Dit lyk iets buitengewoons dat daardie manne uit die ooste op reis gaan op soek na "die koning van die Jode". Maar die wonderlikste is dat juis in die tyd toe Jesus gebore is, daar onverklaarbaar wêreldwyd die verwagting van 'n komende koning was. Selfs die Romeinse historici Seutonius en Tasitus (54 v.C.), asook die Joodse geskiedskrywer Josefus (37 n.C.) het in hulle geskrifte daarvan melding gemaak.
Die vermelding aangaande die wyse manne/Magi uit die Ooste en die "ster" by die geboorteplek van Jesus is dus nie slegs 'n mooi legende nie. Dit is presies die vervulling van 'n al sterker groeiende verwagting van 'n buitengewone persoon by die Verbondsvolk en volke wêreldwyd. Lees onder meer Deuteronomium 18:15 e.v.; Numeri 24:17, Romeine 8:19 e.v.