Mag 'n Christen Niks Doen nie?
Mag 'n Christen Niks Doen nie?
Gesprek tussen ma en dogter:
Anneke: 'Ma, kan ek vanaand disko toe gaan? Asseblief Ma, die hele klas gaan soontoe.'
Ma: 'Jy weet wat ons afgespreek het, Anneke. Jy gaan nie disko toe nie, dit pas nie by ʼn kind van God nie.'
Anneke: 'Ag nee, dis darem baie kinderagtig, almal gaan soontoe behalwe ek! Dink Ma nou regtig dit is so verskriklik om soontoe te gaan?'
Ma: 'Jy weet hoe dit daar gaan, die musiek is speel kliphard, daar word gedans en behoorlik gedrink. Alles dinge waarmee ʼn Christen onmoontlik tuis kan voel. Daarom wil ek nie hê jy moet soontoe gaan nie.'
Anneke: 'Ag, Ma oordryf nou regtig. Ek wil net soontoe gaan om gesellig saam met my vriendinne te kuier. Ek sien glad nie fout daarmee nie. Hoekom is ons altyd so streng? Mag ʼn Christen dan nie van die lewe geniet nie?
Soortgelyke diskussies word eindeloos in gereformeerde gesinne gevoer. Die voorbeeld van die disko kan met baie ander dinge vervang word. Daar is ʼn voortdurende stryd tussen ouers en kinders oor wat wel en nie toelaatbaar is nie. Ook word daar van die kant van die jongmense nog gesê: ʼn mens mag ook niks doen nie!
Gereformeerdes is maar ʼn dooierige klomp.
Allerhande argumente word ook hierby aangevoer. Moet ons nie dalk ʼn bietjie versigtiger wees om te sê wat wel en wat nie toelaatbaar is nie? Vroeër is dit nie toegelaat om op Sondag fiets te ry nie en moes die meisies se rokke tot op hulle enkels hang. Vandag is dit alles baie anders. Vroeër was dit glad nie aanvaarbaar om te gaan fliek nie. Deesdae kyk baie gereformeerdes allerhande films op TV. Kan ʼn mens eintlik wel vasstel wat ʼn Christen mag en nie mag doen nie? As dit wat vandag verbied word môre wel toelaatbaar is, het ʼn mens dan nog enige vastigheid?
Dis moeilike vrae!
ʼn Christen word geleef⤒🔗
Laat ek begin met die omskrywing van wat ʼn Christen nou presies is. Wat is die kenmerk van ʼn Christen? Ek kan dit weergee met die woorde van art. 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis:
Ons kan hulle uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig.
Dit is sommer ʼn mondvol, daarmee het jy jou hande meer as vol; jy sou amper kon sê: aan hierdie ideaalbeeld kan geen mens voldoen nie, geen enkele Christen nie. Gelukkig sê die Geloofsbelydenis vervolgens:
Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en die gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het.
Ons sou dus kon sê: ʼn Christen is nie meer sy eie baas nie. Hy behoort nie meer aan homself nie. Hy is ʼn gekoopte mens, ʼn slaaf van Jesus Christus, wat ʼn enorme hoë prys vir hom betaal het, die prys van sy eie lewe. En as Hy so ʼn hoë prys vir jou betaal het, sal Hy jou daarna tog sekerlik nie meer aan jouself oorlaat nie. Jy behoort van daardie oomblik af altyd en oral aan Hom. Hy is die baas in jou lewe. Of ons nou lewe of dat ons sterwe, ons behoort aan die Here Jesus. Ons is nou voortdurend op Hom afgestem en laat ons weg deur Hom bepaal. Jy het oorgegaan (onthou jou doop!) van die heerskappy van die duiwel na die heerskappy van Christus. Maar dit beteken dan ook, en ons moet dit reguit vir mekaar sê, dat ons aan Hom volstrekte gehoorsaamheid verskuldig is. ʼn Christen is ʼn slaaf van Christus. Ek weet, dit klink nogal negatief. Die woord slawerny stoot ʼn mens af. Tog is dit nie negatief nie, want kyk waarvan het Christus jou bevry: van die slawerny van die sonde en die duiwel en die dood. As jy deur Hom gekoop is, is jy dus vry daarvan. ʼn Slaaf van Christus is eers werklik vry. Die slaaf sal nou egter moet oppas dat hy homself nie van vooraf deur die ou 'base' laat gryp en verkneg word nie. Hy moenie terugval in die sonde van slawerny nie. Hy moenie terugkeer na die gevangenis van die duiwel nie. Daarom moet hy nougeset aan sy nuwe Heer gehoorsaam wees. Hy sal dit vir homself makliker maak deur daaraan te dink uit watter ellende die Here Jesus Hom verlos het.
Ek kan dit ook met die woorde van die apostel Paulus sê:
Ek is met Christus gekruisig, en ek lewe nie meer nie, maar Christus leef in my.
ʼn Christen word dus geleef. Dit beteken nie dat sy eie wil of sy verstand uitgeskakel word nie. Dit beteken wel dat hy hom in alles laat lei deur die Gees van Christus, sy nuwe Heer.
Hoe doen ʼn mens dit? Deur die Woord van die Gees in jou lewe te laat regeer. Dan sal jy agterkom dat die Bybel jou nie wil inperk of in ʼn dwangbuis sluit nie, nie van jou ʼn Christen wil maak 'wat niks mag doen nie', maar jou wel op die spoor agter Christus aan wil hou. Die Woord van God is ʼn lig op jou pad en ʼn lamp vir jou voet. By die flitslig van God se Woord sal jy wel jou weg vind, ook in ʼn donker wêreld.
Hoe gaan jy met die Bybel om?←⤒🔗
Nou dreig daar ʼn gevaar. As ek sê dat die Bybel ʼn lamp op ons lewensweg is, sou jy kon dink dat die Bybel vir elke situasie en vir elke besluit ʼn pasklaar antwoord het. En dit is nie so nie. Die Bybel is nie die groot antwoordboek waarin daar vir elke probleem ʼn gepaste teks te vinde is nie. Wie so met God se Woord omgaan, is besig om dit te misbruik. Jy kan nie sommer tekste kies en keur nie. Dan kan jy die Bybel laat buikspreek. En dit kan die duiwel ook doen; lees maar Matteus 4:6. Jy moet die Bybel kans gee om homself uit te lê.
Enkele voorbeelde van die verkeerde gebruik van die Bybel: ʼn vrou mag nie ʼn langbroek dra nie, want in die Bybel staan: 'ʼn Vrou mag geen mansklere dra nie, en ʼn man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God ʼn gruwel’ (Deuteronomium 22:5). Of: ʼn vrou moet ʼn hoed dra as sy in die kerk is, want Paulus het gesê: "Maar elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan" (1 Korintiërs 11:5). Wie op hierdie manier Bybeltekste sonder meer op ons omstandighede toepas, vergeet om die Bybel sorgvuldig te lees. Laat ons voorop stel dat die Bybel verdien om sorgvuldig gelees en ondersoek te word, omdat die Bybel God se Woord is. Ons moet daarom ook altyd bereid wees om ons lewe by daardie Woord aan te pas en nie die Woord by onsself aan te pas nie. Nou is daar wel sekere reëls wat ons kan gebruik om ons te help met die sorgvuldige toepassing van wat die Bybel vir ons wil sê in die omstandighede waarin ons daagliks ons besluite moet neem.
In die eerste plek moet ons daarop let dat baie dinge uit die Bybel direkte gesag oor ons het. ʼn Hele aantal sake en gebooie behou hulle geldigheid deur die eeue heen. Dink byvoorbeeld aan die Tien Gebooie, ook aan die groot gebod om God lief te hê bo alles en jou naaste soos jouself. Jy sou ook kon dink aan wat die Bybel sê oor selfverloëning en kruisdra, oor die navolging van Christus. Met hierdie altyd-geldige gegewens kan jy sommer heelwat besluite in die alledaagse lewe neem. Hierdie vastigheid voorkom ook dat jy dink dat alles vandag baie ingewikkelder en moeiliker as vroeër is. Jy mag nie doodmaak nie (geen aborsie en eutanasie), jy mag nie egbreek nie (geen seksuele gemeenskap voor of buite die huwelik), jy mag nie begeer nie (geen gejaag na welvaart en geld). Ons maak deesdae baie kwessies ingewikkeld, maar die oorsaak lê eerder by onsself as by die duidelikheid of onduidelikheid van God se gebooie!
In die tweede plek moet ons wel onthou dat ons in die nuwe verbond lewe. Heelwat bepalings uit die Ou Testament het vandag hul geldigheid verloor. Die HERE het aan Petrus duidelik gemaak dat hy dinge kon eet wat voorheen as onrein gegeld het (Handelinge 10:9 e.v.). Dit het daarmee te doen dat die HERE Israel, die kerk van die ou verbond, as ʼn kind beskou het. En vir ʼn kind moet alles voorgesê word; hy kan nog nie selfstandig oordeel en beoordeel nie, en moet stap vir stap gelei en begelei word. So is die wet vir Israel voorgeskryf. Stap vir stap het hulle geweet hoe om op te tree. Noudat die kerk volwasse geword het deur die werk van Christus en die voltooiing van die Bybel, word alles nie meer vir ons voorgeskryf nie. Dit kan ons lees in Galasiërs 3:23-25. Ons kry dus nie meer ʼn reël vir elke situasie nie. Vandag moet ons as mondige kerklidmate vanuit die duidelike en blywende gebooie van God op ʼn verantwoordelike manier ons pad kies. Daarby sal ons die weg van gebed moet ken. Ons moet die HERE vra dat ons liefde vir Hom sal toeneem sodat ons daardeur helder insig en fyn aanvoeling kry waardeur ons in staat sal wees om te onderskei waar dit op aankom (Filippense 1:9-10). Ons sal daarvan oortuig moet wees dat ons in staat is om tussen goed en kwaad te onderskei. Ons sal dan al hoe meer ontdek waarvan die HERE in ons lewe hou. Hierin kan ons mekaar in die kerklike gemeenskap ook baie ondersteun. Ons hoef nie self die antwoorde op vrae te vind nie. So was daar byvoorbeeld al baie generasies voor ons wat ook na die Bybel geluister het en antwoorde op vrae gekry en neergeskryf het. Vandag kan ons saam (bv. by die Bybelstudieverenigings) besin oor die probleme waarmee ons te doen kry. Dan sal ons agterkom dat ons nie sommer vir elke ding ʼn teks kan aanhaal nie, maar dat ons wel vanuit die geheel van God se Woord tot ʼn voor God verantwoorde manier van lewe kan kom.
In die derde plek moet ons nog daarop let dat elke tyd sy eie vrae met hom saambring en dat dit ook ʼn verskil maak in watter land en in watter kultuur ons lewe. Hier volg ʼn aanhaling uit die boek van Prof. J. Douma, Verantwoord handelen, bl. 50:
Die mag van die owerheid oor haar onderdane, van die werkgewer oor die werknemer, van die man oor sy vrou, van ouers oor hulle kinders verskil duidelik tussen vroeër en vandag. H. Bavinck kon tereg skryf dat die verhouding tussen owerheid en onderdane, meesters en slawe, ouers en kinders, man en vrou in die Skrif op een lyn gestel en op dieselfde wyse behandel word, maar dat hierdie verhoudinge onderling baie verskillend is en met verloop van tyd sterk wysigings ondergaan het. Ons praat nie meer van ʼn werknemer wat aan ʼn werkgewer onderwerp is nie, soos dit vroeër wel van ʼn slaaf teenoor sy heer gegeld het. Ons gebruik vandag liewer die woord 'bestuur' as dit gaan oor gesag in ʼn besigheid. Dieselfde geld vir die verhouding tussen man en vrou waar ons liewer die woord 'leiding' sal gebruik vir die man en 'haarself toevertrou aan die leiding' deur die vrou, wat die huidige situasie beter weergee as 'heerskappy uitoefen' en 'haar aan die heerskappy onderwerp'. Die rangorde het gebly (ʼn konstante grond!), die belewing daarvan het verander.
Dieselfde kan gesê word van die verhouding tussen die owerheid en die onderdane en ouers en kinders. Vroeër het ouers hulle kinders se huweliksmaats gekies (sien 1 Korintiërs 7:38), vandag kies die jongmense self, al is die ouers wel daarby betrokke.
Ons konklusie is dat ons versigtig met die Bybel moet omgaan en moet oppas om tekste uit verband te ruk. As ons die bogenoemde reëls in ag neem, sal ons ons besluite kan neem op ʼn verantwoorde manier. Dan sal ons byvoorbeeld ʼn vrou wat ʼn langbroek of ʼn das dra nie veroordeel met ʼn beroep op die genoemde teks uit Deuteronomium 22:5 nie. Maar dan kyk jy na die datum waarop en agtergrond waarteen die verbod deur die HERE gegee is. Dit gaan in daardie teks oor ʼn Kanaänitiese praktyk op godsdienstige gebied waarby mans en vrouens klere omgeruil het om ontug te bedryf. En as die ontug die agtergrond is van daardie gebod, kan ons nie vandag ʼn vrou veroordeel wat ʼn langbroek dra omdat sy daarvan hou of ʼn das dra omdat dit vir haar mooi lyk nie. Ons mag wel uit ander Skrifgegewens aflei dat die HERE nie wil hê dat die verskil tussen mans en vrouens uitgewis word nie. Maar dan bring jy die geheel van die Bybel in berekening en misbruik jy nie ʼn teks wat uit verband geruk is nie.
←⤒🔗
ʼn Christen is ʼn vrye slaaf←⤒🔗
Met hierdie gegewens in ons gedagte kan ons teruggaan na die onderwerp van hierdie hoofstuk: mag ʼn Christen dan niks doen nie? Twee dinge staan vas: ʼn Christen behoort aan Christus, sy Heer, en dit ervaar hy deur die Woord van die Here ernstig op te neem. Dan kom ons tot die gevolgtrekking dat baie dinge inderdaad nie toelaatbaar is nie. Dit pas net nie by ʼn slaaf van Christus nie. Jy kan nie beide Christus én geld dien nie. Jou liggaam kan nie aan Christus behoort en hoerery bedryf, of selfbevrediging toepas nie. As jou oë geboei word deur die dinge van God en sy toekoms, kan hulle nie na slegte films kyk nie. ʼn Ware slaaf van Christus het ʼn afkeer van die kwaad en sal dan inderdaad baie gebiede van die lewe tot onbevoegde terrein moet verklaar.
Maar beteken dit nou dat ʼn Christen niks mag doen nie? Dat ʼn Christenlewe vervelig en eentonig is? Glad nie! ʼn Christen geniet juis die lewe, omdat hy alles beleef as kind van God. ʼn Slaaf van Christus is werklik vry; hy kan van God se gawes geniet sonder gebondenheid aan die duiwel en die sonde. Daarom kan Paulus sê: "Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed" (1 Timoteus 4:4,5). En dan spreek die apostel oor die huwelik en die genot van die spyse! Oor seksualiteit en voedsel en drank! Juis omdat ʼn Christen dit alles as ʼn ware geskenk van sy Vader in die hemel sien, geniet hy dankbaar daarvan.
Ek dink die probleem is daarom ook nie of ons niks mag doen nie, maar hoe ons daarmee omgaan. Paulus gee ons daarby ʼn goeie leidraad in 1 Korintiërs 6:12. Daar staan: "Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie." Paulus is daar in ʼn gesprek met die gemeente van Christus. In daardie gemeente is daar allerhande mooi redenasies soos hierdie een: ʼn Christen mag alles doen, alles is ons geoorloof, ʼn slaaf van Christus is vry. Dis reg, sê Paulus dan, op sigself is dit volkome waar. Paulus sal dit later, in hoofstuk 10:23, nog ʼn slag benadruk. In besonder het Paulus die bevryding van Christus in teenstelling met allerhande Joodse spyswette beklemtoon. Maar nou moet ʼn mens nie met so ʼn spreuk 'alles is my geoorloof' op loop gaan nie. Jy moenie misbruik daarvan maak nie. En dit is wat hulle in Korinthe gedoen het. Hulle het misbruik gemaak van daardie op sigself goeie redenasie om hoerery daarmee goed te praat. Die Christelike vryheid word dan ʼn dekmantel vir allerhande sondes. Daarom val Paulus hulle onmiddellik in die rede. Alles is my geoorloof, sekerlik, maar nie alles is nuttig nie. Wat ek mag doen, word ook bepaal deur wat nuttig is, wat goed en sinvol is. En hy voeg daaraan toe: laat jou deur niks oorheers nie. Die vrye slaaf van Christus kan blykbaar sommer opnuut ʼn slaaf van die sonde word, ʼn slaaf van sy eie slegte verlangens en drifte wat nie voor God kan bestaan nie.
Jy lewe tog vir die Here Jesus, met jou liggaam, met jou seksuele gevoelens en ervarings, met alles wat jy in daardie liggaam doen. Dit bepaal die grens van wat ʼn Christen mag en nie mag doen nie. Sodra hy weer slaaf van die sonde word, sodra dit wat hy doen nie meer tot eer van sy nuwe Heer is nie, sodra hy God nie meer kan dank vir wat hy doen nie, op daardie oomblik trap hy oor die streep.
ʼn Christen mag niks doen nie? ʼn Christen mag alles doen waarvoor hy die HERE van harte kan bedank as vrye slaaf van Christus.
←⤒🔗
Geen pasklaar antwoorde nie←⤒🔗
Teen hierdie tyd het jy seker al besef dat ek die vraag bo aan hierdie hoofstuk ontkennend wil beantwoord. Ons moet mekaar in die kerk nie ʼn negatiewe houding aanpraat asof ʼn Christen in ʼn dwangbuis lewe nie. Maar ons moet ook nie na die ander kant toe oorslaan nie. Die Bybel gee duidelike grense aan, soos ons hierbo gesien het. Die Bybel vra ook van ons dat ons noukeurig lewe en doen waarvan die HERE hou. Dit vra van ons om met die Bybel besig te wees, om al hoe meer die wil van God te ontdek. Dit vra van ons ʼn intensiewe gebedslewe waarin ons om wysheid en fyn aanvoeling sal moet vra. Dit sal van ons ook heelwat selfverloëning vra. Dit sal ons deeglik moet besef. Maar jy sal veral moet besef dat ʼn ware Christenlewe juis ʼn ware vrye lewe is. ʼn Lewe sonder Christus is ʼn lewe in slawerny. Moet daarom nie jaloers wees op mense wat hulle eie gang gaan, hulle naweke in die dansplekke of die fliek of voor die televisie deurbring nie. Wees dankbaar dat Christus jou van daardie slawerny verlos het en leef maar soos ʼn dankbare kind van God. Dan sal daar ongelooflik baie wees om te geniet en te ervaar!