Lukas 1: 1 - 4 - Dokter Lukas Skryf Noukeurige Geskiedenis ter wille van Ons Geloofsekerheid
Lukas 1: 1 - 4 - Dokter Lukas Skryf Noukeurige Geskiedenis ter wille van Ons Geloofsekerheid
Daar is vandag heelwat geleerdes in eens gereformeerde Bybelkringe wat wil beweer dat Jesus se lewe soos beskrywe in die Nuwe Testament maar ’n sprokie is. Dink maar aan die boek van dr CW du Toit van Unisa getiteld “Images of Jesus” wat in 1997 verskyn het, of aan die boek van prof AG van Aarde oor “The Fatherless Jesus” wat hierdie jaar in Amerika die lig sien. Die tipe werke bevraagteken blatant die historiese korrektheid en betroubaarheid van die Nuwe Testamentiese vertellinge oor Jesus Christus. Van Aarde beweer bv. dat die maagdelike geboorte en opstanding deur die dissipels verdig is om hulle godsdiens, d.w.s. ook u en myne, meer aansien tussen ander kompeterende godsdienste te gee!
Die Bybel het hierdie dinge gelukkig ook van lankal al geken en verwag. In 2 Petrus 1:16 vertel Petrus reeds sy lesers dat hy nie van ’n feëverhaal praat as hy verwys na Jesus se lewe op aarde nie. Hy waarsku dat mense aan die einde van die tye hulle sal afkeer van die waarheid van Jesus se lewe en kruis (vgl. 2 Petrus 2:1-3). Paulus waarsku teen dieselfde dinge (2 Timotheüs 4:3-4) en in Lukas 1:1-4 tref ons die erns en moeite van een van God se knegte, dr Lukas, aan om sy leser, ’n sekere Theofilus, te verseker dat wat die Bybel van Jesus vertel in alle opsigte waar, histories en betroubaar is.
In Lukas 1:1 sê hy dat baie al onderneem het om ’n verhaal op te skryf oor die dinge wat onder ons al vervul is. Lukas skryf dus nie eerste en ook nie die enigste nie, “baie het al” voor hom geskryf en party het ten minste dit al onderneem. Die ander skrywers, waarna Lukas verwys, kan enige dissipels van Jesus wees. Ons dink ook hier aan die boeke Markus en Mattheus wat heel moontlik voor Lukas geskrywe is (vgl. vers 2). Hy sê baie het “onderneem”. Dit kan beteken dat hulle dit reeds gedoen het, maar kan ook dui op ’n soort losse, nie voltooide, werk van hulle kant af. Die punt is dat dit geen novelle van een of twee outeurs in die geheim was nie. Die dinge het gebeur en talle mense wou al daaroor skryf.
Lukas, die man wat hier skrywe is self ’n getuie van die geloofwaardigheid van die Evangelie. Hy is ’n geneesheer (Kolossense 4:14) wat saam met Paulus op sy sendingreise gegaan het. Hy is ook die skrywer van die boek Handelinge, wat van hierdie sendingreise vertel. Lukas was dus nie van die begin van Handelinge af ’n metgesel van die apostels nie. Ons lei dit af deur die feit dat hy eers van Handelinge 16 af in sy boek van “ons” praat. Lukas word dus eers later deel van die uitbreiding van die sendingboodskap. Wat hy in die res van die boek gaan vertel aan Theofilus ag hy self as werklike en algemene kennis. Lukas was nie deel van die eerste ooggetuies nie en tog glo hy heelhartig wat hulle vertel. Voor hom verloor Christene hulle lewens t.w.v. hulle geloof. Hy had geen minder rede om te glo as ek en jy nie.
Die “verhaal” waarvan hy praat is geen “storietjie” nie. Dit gaan oor die werklike lewe van Jesus op aarde. Die boek wat hy hier skryf word genoem die “Evangelie van Jesus Christus”. Markus is die een wat die term gemunt het (vgl. Markus 1:1). Die Evangelies is al vier historiese rekords oor die lewe, dood en opstanding van ons Here, soos voorspel in die Ou Testament. Dit is daarom dat Lukas praat van die dinge wat reeds “onder ons vervul” is. Hy wys dat Jesus se lewe en missie op aarde afgehandel is nog voor hy op die toneel gekom het. Die woord “vervul” dui op die beloftes van die Ou Testament wat voorspel het dat die Christus ’n finale en ewige verlossing sal bring om ewig te regeer saam met hulle (Lukas 24:45-48, 50-53). Lukas weet immers dat Jesus, terwyl hy hier sy pen in die ink doop, reeds in die hemel aan die regterhand van God sit (Lukas 22:69). Hy regeer nou vandaar deur sy Heilige Gees. Die opstanding is geen fiksie vir hom nie! Hy had nie meer rede om te glo as ek en jy nie.
Lukas toon, soos goeie geskiedskrywers van sy tyd, al die kenmerke van ’n antieke geskiedskrywer. Hy koppel byvoorbeeld sy verhaal aan die geskiedenis en persoonlikhede van sy eie tyd (vgl. Lukas 3:1 ev; Handelinge 11:28; ens). Hy noem nie dat die dinge “êrens vervul” is nie, maar dat die dinge “onder ons” vervul is. Enige mens, Theofilus ook, kan maar gaan vra. Die mense van Palestina en omstreke weet daarvan dat Jesus tussen hulle was. Hulle weet dat Hy gekruisig is en opgestaan het. Dit het nie in ’n hoekie gebeur nie (Handelinge 26:26; 1 Korintiërs 15:6).
Lukas verwys (1:2) na die ooggetuies wat die verhaal “oorgelewer” het. Hulle is “ooggetuies”, d.w.s. hulle het alles self gesien (vgl. Hebreërs 2:3) en hulle getuig nou daarvan aan ander (Johannes 20:31; Matteus 28:19). Die manne, apostels wat die dinge aan Lukas-hulle oorgelewer het, is daarom ook “dienaars van die Woord”. Hulle dis nie self die woord op nie, maar bedien wat reeds aan hulle gegee is deur God, deur Christus. Die feit dat Lukas praat van “die Woord” dui op die Woord van God. In die Ou Testament gebruik die profete reeds dieselfde beskrywing vir dit wat God aan hulle sê (Jeremia 1:2) of vir wat Hy reeds gesê het (Deuteronomium 4:2).
Ons vat saam. Lukas skrywe nadat hy self van Jesus se lewe en opstanding gehoor het by ander ooggetuies. Die kennis van die gebeure was algemene kennis in daardie tyd. Hy glo, as noukeurige dokter, self alles en het alles nagegaan. Hy skrywe geskiedenis en hy skrywe oor die Here se geboorte en opstanding as deel van die geskiedenis. Wie dit betwyfel, betwyfel God se eie Woord. Theofilus, en ek en jy, kan dit gerus maar glo!
Theofilus beteken “Godgeliefde”, “een wat die gode liefhet” of “geliefde van God”. In Lukas 1:3 gee Lukas aan ons die rede vir sy boek. Hy het dit goedgedink om aan ’n sekere “Theofilus” in volgorde te skrywe. Ons weet nie wie die persoon was nie, maar weet dat hy wel ’n fisiese persoon was. Lukas sal nie ’n fiktiewe persoon as “hooggeagte” aanspreek nie. Normaalweg het die Christene nie na medebroeders in so ’n formele trant, soos hier in Lukas 1:3 verwys nie (Matteus 23:8 ev). Daar kom egter ’n verandering. Wanneer Lukas in Handelinge weer aan dieselfde man skryf, noem hy hom net Theofilus. Ons lei af dat Theofilus dus iemand was wat ’n hoë posisie beklee het, maar later self, by die tyd van Lukas se tweede boek aan hom, tot geloof gekom het. Hy was heel moontlik ook ’n Griek soos Lukas self (let op sy naam). Lukas vertel nou aan Theofilus nog meer van sy eie boek wat hy aan’t skrywe is. Hy het van voor af, d.w.s. van die begin af alles noukeurig ondersoek. Dit kan ook wees “ek het alles nagevors, nagespeur en seker gaan maak alles is reg”. Onthou dat Lukas ’n dokter is. Hy is ’n geleerde en noukeurige man, soos sy beroep van hom vereis. Hy gee daarom ook alles in volgorde deur aan sy leser.
Die hoofdoel (1:4) is dat sy leser met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent hy onderrig is. Dit is ook die doel van die hele Bybel vir elke geliefde Theofilus wat vandag lees, … vir u ook. God skrywe deur sy diensknegte aan sy kinders sodat hulle kan weet (1 Johannes 5:12-13) dat alles waar is waaroor hulle onderrig ontvang. Maar God se Gees werk nie net in die skrywers nie. Die Heilige Gees bring die volle sekerheid deur die Woord van God ook aan ons, die lesers, die Theofilusse, die geliefdes van God, van nou. ’n Mens kan “volle sekerheid” ook vertaal met “sonder enige twyfel”. Die Evangelie van Christus is vir Lukas histories waar en betroubaar. Die Christen hoef nie te twyfel aan die Evangelie nie, al doen die Satan en die hedendaagse mens en selfs teoloë hulle bes om die rekords van die Bybel te bevraagteken. In Lukas se tyd was daar ook die twyfelsaaiers, maar die Christene het hulle nie van stryk laat bring nie. Lukas vertel dat die Christene, en nou Theofilus ook!, in die evangelie onderrig is. Dié woord word vandag gebruik vir “Sondagskool” of “kategese”. Dit is nodig dat ons moet leer van die Bybel net soos wat ons moet leer van enige ander ding op aarde. Die kerk is vandag in die toestand waarin hy is, omdat Christenmense nie meer weet wat in die Bybel staan nie (Hosea 4:6), of omdat party mos reken ’n Christen hoef nie “ge-leer-d” te wees nie. Petrus en Paulus waarsku teen die fout! (2 Petrus 3:16; Hebreërs 5:12; 1 Timotheüs 1:7). Die Christen word gelei deur die Heilige Gees en die Bybel is vir die gemeente geskryf en heeltemal verstaanbaar, maar die gemeente moet tog ook geskool word in die Woord van God (Nehemia 8:9; Maleagi 2:7).
Maar mense kan en mag steeds wil vra: is dit net Lukas en die Nuwe Testament wat ons vertel van die historiese lewe en sterwe van Jesus of ken die ongelowige wêreld van hulle tyd ook die feite wat ons hier aantref? Hierop kan ons antwoord dat daar meer historiese bewyse vir die lewe en sterwe van Jesus is as vir die lewe van Julius Caesar self. Ons noem kortliks die volgende buite-Bybelse getuienis. Argeologies is daar die bekende Pilatusinskripsie wat onlangs (1961) ontdek is. Dit bevestig, net soos Lukas sê (Lukas 3:1 ev) dat Pilatus die goewerneur van Juda was in die tyd toe Tiberius keiser was. Daar is ook heidense geskiedskrywers soos Tacitus (60-120 n.C.), Plinius die Jongere (62-113n.C.) en Seutonius (95-160 n.C.) wat almal op een of ander wyse bevestig dat wat in die Nuwe Testament staan nie uit die duim gesuig is nie. Hierdie manne het geen belange gehad by die Christelike geloof nie en tog konstateer hulle dieselfde feite uit dieselfde tyd. Dan is daar ook begrondings uit werke van die Joodse geskiedskrywer Josefus. Hy het in Jesus se tyd geleef. Eerstens verwys hy na Jakobus se dood (Handelinge 12:2). Josefus beskryf Jakobus as “Jesus, wat Christus genoem word, se broer” (Ant. 20:200). Tweedens is daar sy werk “Testimonium Flavianum” (Ant. 18:63-64) waarin hy sê:
In die tyd het Jesus opgetree, ’n wyse man, as mens Hom so mag noem. Hy was naamlik Iemand wat wonders gedoen het, ’n Leraar vir mense wat gretig was om die waarheid te hoor. Hy het vele Jode, maar ook vele uit die Griekse volk byeengebring. Hy was Christus. Pilatus het Hom op aandrang van die vooraanstaandes onder ons (die Jode) veroordeel tot die kruis, maar hulle wat Hom liefgehad het, het nie daarmee opgehou nie. Hy verskyn naamlik aan hulle op die derde dag weer lewend (die Goddelike profete het dit en vele duisend ander wonderlike dinge voor Hom gespreek). Die na Hom vernoemde stam van Christene is nog steeds daar.
Josefus was geen Christen nie, en tog pas sy weergawe die van Lukas soos ’n handskoen! Behalwe die getuienisse is daar ook nog rekords van Christelike geskiedskrywers soos Julius Africanus, Thallus, Justinus die Martelaar en Tertullianus wat saam met die Christelike Apokriewe aansluit by die gebeure waarvan Lukas ons vertel. Daarop kan u self maar ingaan.
Ons sluit saam met dr Lukas af as hy in dieselfde boek, in hoofstuk 18:8, vra:
…as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Die onbetroubaarheid lê klaarblyklik nie in die Evangelie nie, maar in die harte van die ongelowige mense wat dit nie meer wil glo nie. Is daar nog ’n Theofilus wat hier lees? Gegroet … godgeliefde!