Levitikus 1:9 - Volledig
Levitikus 1:9 - Volledig
... en die priester moet dit ALLES op die altaar aan die brand steek.
Levitikus 1:9
⤒🔗
Kollektegeld←⤒🔗
Jy kan nie met leë hande kerk toe gaan nie. Daarom sit jy Sondagoggende kollektegeld gereed vir die kinders. Stel jouself voor dat jy in vroeër tye in Israel gelewe het. Kan jy jouself ʼn bul of ʼn bokram sien saamneem na die tabernakel? Jy kan nie met leë hande voor die Here kom nie.
Jouself gee←⤒🔗
By die tabernakel aangekom, lê jy jou hand op die kop van die bul. Dit is werklik jou eiendom, dit is ʼn offer wat jy met jou eie hande aan God gee. Jy identifiseer jouself met die offer. Ek wíl dit vir God gee. Jy druk self die skerp mes in die dier se nek.
Jy gee jouself aan God.
Wil ek regtig?←⤒🔗
Wil ek dit doen? Die brandoffer is die heel eerste offer. Dit lê onder op die altaar. Die res van die handelinge word bo-op die brandoffer geplaas. Die brandoffer is die offer wat heeltemal verbrand word, alles daarvan is vir die Here bedoel.
Klaarblyklik is dit die eerste vraag, die basisvraag vir my in my lewe met die Here: wil ek werklik heeltemal vir Hom lewe? Ek mag allerlei dinge van Hom vra, ek kan Hom dank vir ʼn duisend dinge. Hy wil my sondes vergewe. Ook dit word in die taal van allerlei soorte offers tot uitdrukking gebring. Maar waarby dit alles begin, is dit: wil ek regtig met Hom en in alles volledig saam met Hom deur die lewe gaan?
Jouself oor die streep trek←⤒🔗
As iemand ʼn bul as brandoffer bring, weet hy dat daardie dier heeltemal verbrand gaan word. Volledig.
Ja, dit is ook my begeerte. Om myself volledig aan God toe te wy. Met ʼn onverdeelde hart.
So kan ek my indink hoe ek met so ʼn bul op pad is na God se heiligdom. Ek kom agter dat die dier glad nie gewillig is nie. Ek moet hom trek. Ek trek hom na die altaar.
So trek ek myself. Ek wil, maar ek wil tog ook nie heeltemal nie. Ek trek myself oor die streep.
←⤒🔗
Saam←⤒🔗
In die heiligdom brand daar voortdurend ʼn vuur op die brandofferaltaar. Dit mag nooit doodgaan nie. As eerste offer die priester elke oggend ʼn bul namens die gemeente. Daar bo-op kom my persoonlike offer. Ek is nie die enigste nie (dank die Here!), en ook nie die eerste een wat na die heiligdom gaan nie. Gelukkig gaan ander gelowiges ook soontoe, met hulle bulle, of ramme, of duiwe. Ons trek mekaar saam. Ons word getrek.
Belowe en bid←⤒🔗
Ek bemerk nog te veel halfhartigheid in my eie lewe. Maar ek wil nie daarin berus nie.
ʼn Hele bul wat in rook opgaan, is ʼn simbool wat die werklike stand van sake in my lewe oortref. My beloftes en my liedere loop soms die werklikheid vooruit. Die voornemens is wel daar, maar om eerlik te wees, is selfs my voornemens op die oomblik wat ek hulle uitspreek, nie eens altyd 100% bedoel nie.
Daarom is my offer terselfdertyd ʼn gebed, my belofte terselfdertyd ʼn smeekbede: laat hierdie offer asseblief waar word in my lewe; verenig my hart tot die vrees van u Naam (Psalm 86).
Vroeër in Israel was daar hoofsaaklik 3 soorte slagoffers: sondoffers, brandoffers en dankoffers. ʼn Mens sou dit as volg skematies kon rangskik in ʼn logiese volgorde: Sondoffers getuig van versoening = die regverdiging (Levitikus 4). Brandoffers getuig van toewyding = die heiliging (Levitikus 1). Dankoffers (Vredeoffers) getuig van die viering = die verheerliking (Levitikus 3). Dan was daar ook nog die spysoffers, wat getuig het van die voorsienige sorg van God (Levitikus 2). Dit is opvallend dat dit die brandoffer is, en nie die sondoffer nie, wat eerste in Levitikus beskryf word! |