Langgesig-Christene en eiewillige Christene
Langgesig-Christene en eiewillige Christene
Watter vreugde is dit tog om die Here te dien! Soos 'n lieflike refrein klink die vreugdesang van gelowiges regdeur die Bybel op:
Psalm 84: "Met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God."
Psalm 100:2: "Dien die Here met blydskap!"
Filippense 4:4: "Verbly julle in die Here."
Openbaring 19:7: "Laat ons bly wees en ons verheug en aan God die heerlikheid gee ..."
Wat is die rede vir hierdie blydskap van die gelowiges? Omdat dit so lekker is in sy diens? Nee, antwoord die apostel Paulus aan die Korintiërs, om die Here te dien, het vir my net pyn en vervolging gebring - arbeid, moeite, dikwels slapelose nagte in honger en dors (2 Kor. 11:23-28). En julle moenie verwag dat julle geloofspad met rose besaai gaan wees nie (Rom. 4:17).
Maar al was Paulus se liggaam vol littekens van sy diens vir die Here, was sy lewe gekenteken deur die vreugde wat hy daarin gehad het om die Here te dien. In die donker kerker van Filippi sing hy saam met Silas lofliedere tot eer van God; as verhoorafwagtende in Rome stuur hy aan die Filippense 'n brief wat van blydskap oorloop (Fil. 1:18; 2:17,18:4:1,10).
Waarom die blydskap in Paulus se Godsdiens? Want hy het sy blydskap in die Here gevind. Om by die Here te wees, is verreweg die beste, skryf hy in Filippense 1:23. Met dieselfde blydskap sing die digter van Psalm 84: "Want een dag in u voor-howe is beter as 'n duisend daarbuite."
Vir die gelowige is sy diens aan die Here een groot vreugde omdat die Here die Here is. Hy, die ewige, almagtige, allerheiligste God het in sy goedheid en genade neergebuig en ons Vader geword. Om Hom as Vader te hê en deur sy Vaderlike liefde omring te word, is een stuk blydskap. Daarom: om as sy kinders Hom te gehoorsaam, is ons vreugde - selfs al verg dit selfverloëning en opoffering (Rom. 12:1).
Hiervan is die Bybel vol. Om die Here te dien, is om in vreugde die eie ek prys te gee en in blydskap te doen dit wat God behaag.
En tog kom daar dikwels so min van hierdie blydskap onder gelowiges van ons tyd na vore. Dit lyk soms asof diens aan die Here 'n swaargewig aan ons voet geword het. Al sugtende, soos slawe wat 'n teen-wil-en-dank-diensplig verrig, moet ons soms in die Here se diens aangedrywe word. Van die liefdevolle en dankbare gehoorsaamheid wat by kinders pas, is daar dikwels min te bespeur. Sondae in die erediens sing ons miskien nog Psalm 119:6 - "In u wet smaak ek 'n vreugde" - maar ons hart is nie daarin nie.
Soms kom ons teen die langgesig-Christendom in verset. Tereg. Maar, gedryf deur dieselfde onkunde as ons langgesig-broers, probeer ons dan die Here se diens aanpas om meer "gebruikersvriendelik" te wees. Van sonde en oordeel wil ons nie meer hoor nie. Waarom tog so afwysend teenoor heidendom en dwaalleer? Waarom nie liewer in wedersydse aanvaarding alle mense se hande vat en soos een groot gelukkige familie saamleef nie? En as die Bybel ons nie hierin steun nie, dan moet die Bybel maar "hervorm" word.
Wat het die apostels en die profete immers geweet van die behoeftes en vereistes van die mense van die een-en-twintigste eeu? Wat het hulle geweet van homoseksualiteit en van die emansipasie van vroue en van gevorderde kommunikasietegnieke en globalisme?
Daarom: om aan hierdie ou Boek te bly vashou asof die Here vandag steeds daarin met ons praat, skep net vir ons 'n verleentheid in hierdie wêreld. As ons dan die Bybel verander om ons beter te pas en die Here se diens meer na ons smaak in te rig, gaan die blydskap en vreugde weer terug kom.
Hierdie houding word dikwels verklap in hoe ons as Christene van die derde millennium dink en doen en sê. Ons probeer die verlore vreugde in ons godsdiens terugsit deur 'n ander - mensbepaalde en mensgerigte - vreugde as plaasvervanger in te voer.
Ook by die jong geslag dra ons hierdie idees op 'n subtiele manier oor. As die kerk nie aanpas nie, hoor hulle gereeld uit ons mond, gaan ons die jeug verloor. Jongmense het geen erg aan Psalms en Skrifberymings nie. Skrifuitleg en -prediking is vir hulle vervelig. Kom ons ruil dit in op iets wat die jong verbeelding meer aangryp. Kort voor lank raak die jongmense oortuig dat dit is wat Godsdiens behels - om ons diens aan die Here volgens eie smaak in te rig en sy wil selektief te hanteer.
In die proses het daar 'n subtiele klemverskuiwing gekom. Blydskap in die Here het plek gemaak vir blote blydskap. Ons soek blydskap en vreugde, maar ons soek dit nie in die Here nie. Ons soek dit by onsself. In plaas daarvan om ons diens aan Hom voortdurend aan te pas na hoe Hy as ons Here in sy Woord ons voorsê, pas ons dit aan na hoe onsself en ons begeertes (wat ons graag as ons "behoeftes" beskrywe) ons voorsê.
Langgesig-Christene of eiewillige Christene. Genadiglik lê die keuse nie vir ons tussen dié twee nie. In sy Woord het die Here vir ons die goeie weg - die enigste uitweg - aangetoon: om ons blydskap by Hom en in sy diens te soek en te vind. As ons ons vreugde werklik in die diens van die Here het, vra ons nie met hoe min ons kan wegkom nie of hoeveel van ons eie ek behoue kan bly nie. In liefde en dankbaarheid beoefen ons ons diens aan die Here deur onsself "as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer te gee" (Rom. 12:1). Dan word Psalm 100 die lied van ons lewe, binne die erediens en daarbuite:
"Juig al wat leef, juig voor die HEER!
Dien God met blydskap, gee Hom eer;
kom nader voor sy aangesig,
en prys Hom met 'n lofgedig.Want goedertieren is die HEER;
sy goedheid eindig nimmermeer;
sy trou en waarheid hou hul krag
tot in die laaste nageslag."