Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Kyrie Eleison, Christe Eleison, Kyrie Eleison

kerktoring

Die kerk het nog altyd in die sentrum van die wêreld gestaan. Die torings van die statige geboue in die klein dorpies is die bewys daarvan. Die kerk het die hele dorpsgemeenskap se blik na die hemel gerig. En as die klokke begin lui, het dit die hele ‘wêreld’ opgeroep na die kerk.

Die Kyrie voor die Gloria🔗

En dan? Dan was die eerste daad ootmoed en bekering: belydenis van skuld, besef van nood en ʼn ervaring van mense wat groot tekortkominge het teenoor hul Skepper. Die Here word aangeroep en ontferming gevra vir die nood van die wêreld. Sy Naam word geprys, want sy barmhartigheid ken geen einde nie. Dit is die grondslag waaruit al die res volg: Die gebed wat gebore word vanuit die nood in die wêreld. Die gebed waarin hierdie nood van die wêreld gevoel word, aan die begin van die liturgie, in die eerste ontmoeting met God. Die gebed wat in hierdie ontmoeting met God ʼn uitweg soek, geregtigheid soek tussen soveel onreg en magsgebruik. ʼn Kreet gebore uit diepgewortelde onmag en magteloosheid teenoor die universele kwaad wat soos ʼn kleed oor die aarde lê.

Kyrie eleison, Christe eleison, Kyrie eleison.
(Here ontferm u, Christus ontferm u, Here ontferm u)

Dit is waarmee die "Misse" altyd open, die "Misse" waarvan ons met die tyd ontslae geraak het omdat dit te "rooms" was. Maar hulle het wel in die volgorde van al die eredienselemente iets bewaar wat wesenlik belangrik is in ons omgang met God: eerste kom die Kyrie, die gebed wat vra na God se ontferming, ʼn appèl op sy barmhartigheid. ʼn Beroep op die genade vanuit die besef dat ons niks verdien nie, maar dat ons eerder kan verwag dat God Hom totaal van ons sal afkeer in boosheid en teregte irritasie. Kyk wat het ons as mense met sy mooi skepping gemaak!

Maar Hy het die leiding geneem om die sonde van die wêreld weg te neem. En dan eers vloei die Kyrie oor na die Gloria (= lof), dan eers begin die lof na woorde soek vanweë die verwondering oor die bewoë hart van God. Dit soek na woorde in ʼn amper oorvloedige herhaling: ons loof U, ons prys U, ons aanbid U, ons verheerlik U, ons dank U, want groot is U heerlikheid, Here God, hemelse koning, God, Almagtige Vader.

Die liturgie van die vroeë kerke bevat elemente waarin diepe vroomheid vasgelê is. Ons kan so baie daarvan leer.

En dit is verseker ʼn groot verlies om te verneem dat sinodes op hulle tyd na hierdie rykdom verwys het as iets waarvoor ons nog nie gereed is nie, dat dit teveel gevra is en te "hoogdrawend" is. Hulle beweer dit staan te ver van die mens af.

So verloor ons ervaring van wesenlike dinge in ons omgang met God.   

Bybelse Gegewens🔗

Hierdie selfde lyn vind ons ook in die Skrif. Ons vind dit byvoorbeeld in die Psalms: die roep uit die diepte in Psalm 130; die smag na God net soos ʼn hert smag na waterstrome in Psalm 42/43; die smeek om genade in Psalm 25; ʼn diepe besef van skuld in Psalm 51; die beeld van ʼn mens wie se vlees smag na God, in ʼn dor en uitgedroogde land, Psalm 63; die vroom houding van aanbidding in Psalm 123. Dit is slegs ʼn paar voorbeelde. Daar is soveel meer om te noem: dit is die fondament van ons omgang, ons wandel met God. En hy wat goed oplet sal dieselfde element terugvind in die uitroep "Hosanna", wat vir baie die klank van ʼn oorwinningskreet gekry het, maar letterlik beteken: help ons tog, help ons tog asseblief! Ag Here, gee tog heil (Psalm 118:25). Dis waarmee die lofprysing moet begin, want anders verloor dit die diepgang soos wat dit by ons God hoort.

droë grond

Ja, die Kyrie eerste en dan die Gloria.

Nood en Skuld en Sonde🔗

Nood en skuld en sonde is nie presies dieselfde nie. Ons moet hulle daarom nie met mekaar verwar of in een lyn stel nie.

Nood is iets wat druk, iets wat te swaar is om te dra. Dit kan byvoorbeeld nood wees vanweë skuld omdat ons in iets misluk het. Soms kan ʼn mens hierby versagtende omstandighede noem, byvoorbeeld ʼn gebrek aan moed of kennis of goeie hulp. Maar ondanks dit bly die diep gevoel van nood: hoekom het ek nie die moed gehad nie? Hoekom was ek nie sterker nie? Hoekom was daar niemand wat my in die kritieke tyd kon help nie? Het ek ooit werklik hulp gesoek en het ek dit op die regte plek gaan soek?

Hierdie noodsituasie kan ook ander in die nood bring: hoekom het ons nie gehelp en betyds gaan praat nie? Hoekom het ons nie beter opgelet en praktiese steun gebied nie?

Ja, so lyk nood, nood wat gevoel word, sterker nog: dit is hoe ons nood behoort te voel. Hierdie tipe nood sal ʼn mens voel as ʼn gemeenskaplike nood, waar ons besef dat ons gesamentlik tekort geskiet het.

Sê ons dinge eerlik en duidelik? Praat ons betyds? Doen ons al hierdie dinge opreg? Bedagsaam? Of het ons eerder aanstoot gegee as gehelp?

Daar is ook nood vanweë skuld oor ʼn duidelike sonde: ʼn bewuste afwys van God se goeie bepalings. Doelbewus daarteen ingaan, en aanhou daarmee. En dit terwyl daar genoeg kennis aanwesig was. Dit is die nood deur skuld. Dit is iets heeltemal anders as spyt. Dit lê dieper. En daarom sal daar ook meer gesê moet word, meer bely moet word. Hier is nood wat net deur erkenning van skuld weggeneem kan word. Ook hieroor is daar baie in die psalms geskrywe.

Die Nood van die Wêreld🔗

Beleef ons nog ons eie nood? Is daar nog ruimte in ons gebede vir eie nood? Is daar nog ruimte vir nood in ons gesamentlike gebede? In die liturgie? Dit is tog hoe ons saam voor God moet wandel!

Dra ons nog saam aan die nood van die wêreld, as ons saamgekom het in die kerk? Voel ons nog deel daarvan? Is die elemente van die ou liturgie, die vasgelegde vroomheid nog genoegsaam aanwesig? Of neig ons geleidelik na ʼn oppervlakkigheid wat gekenmerk word deur ʼn aanpassing by dit wat vir die meerderheid mooi, goed, oulik en aanvaarbaar is?

Die kerkklokke lui nie meer nie. Hulle roep nie meer die wêreld na die kerk nie. Die paaie in klein dorpies is nie meer op Sondae vol kerkgangers nie. Laat staan in die groot stede! Kerktorings se doel is nie meer om ons oë na die hemel te rig nie: hulle is nou monumente, bewyse van ʼn vergange era.

En in die kerk begin ons baie vinniger met die Gloria, sonder om ernstig ag te slaan op die dieper tone wat die Gloria van die ou liturgieë gekenmerk het.

Die ritme van dromme, die versterking van elektriese kitare, die oppervlakkigheid van lekker en "goed-op-die-gehoor"-melodieë, wat pas by die oppervlakkige tekste, rol oor ons heen.

kitaar

En daarbuite word oorloë gevoer, word mense sommer net doodgeskiet, word vroue mishandel en kinders ontvoer, gevangenes gemartel, rykdom vermors, diere mishandel en uitgemoor, ongebore kinders geaborteer, en so kan ons aangaan. ʼn See van ellende. Die nood van die wêreld.

Mag, geld en seks is die magte wat die samelewing beheers. God sien dit. Hy sien baie meer as wat ons sien. Hy hoor die brullende geskreeu van maghebbers, maar ook die skreiende minagting wat in die skuilhoeke van die hart bedink word.

Watter geur styg daar van hierdie wêreld af op na God? Hoe het ons met sy skepping omgegaan?

Hoekom het God nie maar onmiddellik ʼn einde aan al hierdie dinge gemaak nie?

Ons is deel van hierdie wêreld. Voel ons hierdie wêreld se nood?

Moet ons nie maar elke keer begin met die Kyrie nie? Of gaan ons heerlik voort om te "praise and worship"?

Kyrie eleison, Christe eleison, Kyrie eleison!