Korintiërs: die Probleemgemeente
Korintiërs: die Probleemgemeente
⤒🔗
Die stad Korinthe en die ontstaan van die gemeente daar←⤒🔗
Die stad Korinte lê aan die smal landlengte wat die Peloponesiese Skiereiland verbind aan die Griekse vaste land en wat die Egeïese See en Ioniese See skei. Dit is dus 'n hawestad met twee hawens naby, na die Ooste én na die Weste, en was as sodanig 'n uiters strategiese stad, erg kosmopolitaans en baie berug vir sy lae sedes. Die diens van die godin Afrodite, met haar duisende prostituutpriesteresse was hier lewendig in swang. Die sedelose lewe van die Korintiërs vind waarskynlik klassieke uitdrukking in Romeine 1:24 en 1 Tessalonisense 4:1-8, beide briewe wat geskrewe is vanuit Korinte.
Geen wonder dan dat Paulus juis in hierdie stad sy probleemgemeente by uitstek gehad het nie!
Handelinge 18 beskryf die stigting van die gemeente daar: Dit geskied tydens Paulus se tweede sendingreis, toe hy vanaf Troas Europa binnedring via Masedonië, oor Atene tot in Korinthe. Daar het hy die Joods-Christenegpaar wat uit Rome gevlug het, Aquila en Priscilla, gevind en deur hulle hulp 'n lewenskragtige gemeente daar gestig.
Die tyd en plek van die ontstaan van die briewe aan die Korinthiërs←⤒🔗
Dit blyk uit die inhoud van dié twee briewe dat Paulus. 'n lang en moeisame worstelstryd met hierdie 'probleemgemeente' van hom gevoer het, waarbinne hierdie briewe twee kardinale momente vorm. Vir die regte interpretasie en waardering van die Korintiërbriewe is dit tog belangrik om duidelike beeld te probeer kry van die waarskynlike verloop van Paulus se kontak met Korinte:
- Stigting: Tydens tweede sendingreis, ongeveer 50-51 n.C.
- Die 'vorige brief' (1 Korintiërs 5:9) oor die gelowiges en hoerery het verlore geraak. Die datum is ook onbekend. Dit veroorsaak misverstand en spanning.
- Die huisgenote van Chloë rapporteer baie misverstande in die gemeente (1 Korintiërs 1:11).
- 'n Afvaardiging (waarskynlik Stefanas, Fortunatus en Achaïcus – 1 Korintiërs 16:17) bring 'n brief (1 Korintiërs 7:1) met sekere probleemvrae vanaf die gemeente self.
- Die eerste brief aan die Korintiërs is geskryf uit Efese op die Derde Sendingreis, ongeveer 54:55.
- Paulus se tweede besoek, die sg. 'smartvolle besoek' aan Korinte (2 Korintiërs 2:1; 12:14 en 13:1-2). Die datum is onbekend.
- Sy 'tranebrief' (2 Korintiërs 2:4) is verlore. Die datum van die brief is onbekend.
- Die tweede brief – 'n dankbare reaksie op die berig dat die Korintiërs die tranebrief met geseënde resultate ontvang het. Dit is geskryf uit Masedonië, op die Derde Sendingreis, ongeveer 55-56.
- Paulus se laaste besoek aan Korinte vind plaas op die Derde Sendingreis net voor sy terugkeer na Jerusalem (Handelinge 20:1-2).
Die eerste brief←⤒🔗
Aanleiding←↰⤒🔗
Die aanleiding tot die skryf van hierdie brief is tweërlei, en geleë in:
- die ontstellende nuus wat die huisgenote van Chloë' aan Paulus gebring het van verskillende misstande in die gemeente – waaroor Paulus per brief hulle wil vermaan en roep tot bekering (1:11);
- die skrywe van die gemeente self waarin hulle klaarblyklik sekere praktiese probleme van gemeente-wees van Christus in hierdie wêreld, aan Paulus vir beantwoording voorgelê het (7:1).
←↰⤒🔗
Opset en aard van die brief←↰⤒🔗
Ons het hier DIE MEES PRAKTIESE BRIEF van al Paulus se geskrifte. Die inhoud en opset word bepaal deur die bg. aanleidinge tot die skryf en die brief: 'n verskeidenheid van probleme oor die praktyk van Christen-wees en kerk-wees in 'n bandelose stad soos Korinte moet aan die orde kom. Gevolglik is daar gedurige wisseling van onderwerp van bespreking en is die brief baie los gestruktureer.
Dit beteken egter nie dat die brief 'n ordelose mengeling van sake is nie. Paulus behandel die vraagstukke ordelik volgens die wyse waarop hulle by hom 'op tafel' gekom het: hoofstukke 1-6 raak die sake waaroor Chloë se huisgenote gerapporteer het; hoofstukke 7-16 betref die sake wat klaarblyklik in die Korintiërs se brief gevra is (vgl. o.a. die herhaling van 'met betrekking tot…' en 'wat betref…' in 7:1; 8:1; 12:1; 16:1).
'n Sentrale tema?←⤒🔗
Kan daar in 'n brief waarin so 'n verskeidenheid van praktiese sake aan die orde kom, enigsins sprake wees van 'n sentrale tema?
Beswaarlik as daar alleenlik gelet word op die probleme waarop Paulus die een na die ander ingaan!
Die brief vind egter sy eenheid en deurlopende refrein in die antwoorde van Paulus op alle probleme. Wat naamlik ook al die sonde of probleem is, Paulus antwoord steeds vanuit een en dieselfde beheersende waarheid: JESUS CHRISTUS REGEER SY KERK! Vanuit hierdie een beginsel alleen gee Paulus praktiese adviese en vermaning.
So kan dan tog as 'n sentrale tema van die brief gestel word: Die Christusregering in die praktiese gemeentelike lewe.
Die tweede brief aan die Korintiërs←⤒🔗
Aanleiding tot die brief←↰⤒🔗
Die apostel Paulus het goeie sowel as slegte tyding ontvang uit Korinte, en beide dwing hom tot die skryf van 'n vierde brief (2 Korintiërs) aan die gemeente:
- 2 Korintiërs is eerstens 'n dankbare reaksie op 'n berig dat die gemeente sy 'tranebrief' met geseënde resultate ontvang het (2 Korintiërs 2:1-14).
- Paulus het egter ook verneem van die geweldige ondermynende aktiwiteit van Judaïstiese valse apostels wat vir eie gewin die gemeente wil afrokkel van die prediking van die apostel Paulus. Hulle metode was hoofsaaklik om die persoon van Paulus en die egtheid van sy apostelskap in diskrediet en onder verdenking te probeer bring (vgl. o.a. 2:17-3:4; 10:1-11:33). Hierteen is 2 Korintiërs vir 'n groot deel 'n verdedigingsgeskrif.
Aard van die brief←↰⤒🔗
Waar die eerste brief die mees praktiese brief van Paulus is, is 2 Korintiërs seker die mees persoonlike brief. Dit vloei logies voort uit die aanleiding tot die skrywe: sy persoon en apostoliese gesag is onder verdenking, en daarom skryf Paulus op sterk persoonlike wyse oor sy eie apostoliese roeping en gesag.
Daarby is dit duidelik dat Paulus met reg hoogs ontsteld is omdat gemeentelede hulle blykbaar laat imponeer het deur die valse apostels. Sy ontsteltenis vind neerslag in die opset van die brief wat maar min laat blyk van strukturele beplanning en dikwels kortaf en veranderlik voorkom, sodat die brief hier en daar selfs moeilik volgbaar word.
Vanweë die besondere aard van die brief, vind ons nie daarin 'n sterk deurlopende gedagtelyn nie. Daar kan dus kwalik sprake wees van 'n sentrale tema. Die belangrikste motief is beslis: die verdediging van die apostoliese gesag.
←↰⤒🔗
Die inhoud←↰⤒🔗
Omdat die brief nie blyke gee van sterk strukturering nie, gee ons slegs 'n breë inhoudsoorsig:
- Aanhef – 1:1-2.
- Die vertroosting van God in Christus onder beproewinge – 1:3-11.
- Die doel en betekenis van die dienswerk van Paulus as apostel –1:12-6:10.
- Oproep tot geestelike apartheid teenoor die ongelowiges – 6:11-7:1.
- Persoonlike vermaninge en dankbetuigings oor die stand van sake in die gemeente – 7:2-16.
- Oproep in verband met die liefdegawes wat Paulus vir die vervolgde gemeentes van Judea insamel – 8:1-9:15.
- Verdediging van sy apostoliese gesag teen die beskuldigings van die valse apostels – 10:1-13:10.
- Afsluiting – 13:11-14.
Betekenis van die brief←⤒🔗
2 Korintiërs is van besondere belang as openbaring oor die gesag wat Christus aan die apostels as die grondleggers (die fondament) van sy kerk gegee het. Dit is weer van onmisbare belang vir die regte insig in die gesag van die Skrif as die Goddelike kanon. Van besondere belang hier is 2:14-3:6; 4:17; veral 5:11-20.
Hoofstuk 1 is buitengewoon mooi en ryk oor die diepe troos waarmee die Christen wat, terwyl hy (Paulus) dit self "bo sy krag uitermate swaar het", sy medegelowiges in bulle verdrukking kan vertroos. Die kern van die troos lê in die opstanding van Jesus Christus, waarin elke gelowige ook mag deel (1:9-10)!
Hoofstukke 8-9 openbaar aan ons die groot belang en onmisbaarheid van die onderlinge liefde en hulpbetoon tussen gelowiges en tussen gemeentes, selfs uit verafgeleë wêrelddele: Christenwees beteken om mekaar lief te hê, nie net met woorde en sentiment nie, maar ook met die daad, met onderlinge hulpbetoon en vrygewige liefdesgawes. Lees veral 8:1-5; 8:7-9; 9:6-7; 9:12-15 en vergelyk ook 1 Korintiërs 16:1-4.
Hierdie emosioneel-persoonlike brief toon pragtig hoe God sy openbaring gee deur menslike werktuie op so 'n "organiese" wyse dat hulle eie persoonlikhede en emosies daarin steeds meespreek.