Kerklike Besluitvaardigheid
Kerklike Besluitvaardigheid
Uit die eerste verse van Handelinge 15 word dit duidelik dat die Here sy kerke, wat Hy plaaslik vergader, in een verbond aan mekaar verbind. Kerkverband is ʼn wonder wat die Here werk. Kerke wat op dieselfde geloofsbasis staan, is een – dit is ʼn gegewe.
Kerke moet egter hard daaraan werk om die onderlinge eenheid te beleef en uit te bou. Omdat ons bestaan gebroke is, is die eenheid van kerke voortdurend in die spervuur. Dit het die kerk van Jesus Christus in Antiochië ondervind toe daar predikers uit die susterskerk in Jerusalem na hulle toe oorgekom het en dwaalleer oor die besnydenis in hulle midde kom verkondig. ʼn Ernstige woordewisseling het as gevolg daarvan ontstaan. Binne die eerste kerkverband word daar stryd gevoer ter wille van die waarheid, en die eenheid op grond van die waarheid.
Genadiglik laat die Here sy kerke nie aan hulle lot oor nie. Die krag van die kerkverband blyk daaruit dat gelowiges mekaar altyd in die Here kan soek en vind. Wie waarlik een is in geloof, sal in gehoorsaamheid aan God hulle onderlinge verskille kan bylê.
Die vervolg van Handelinge 15 gee insae in die manier waarop die vraagstuk insake die besnydenis opgelos is. Die kerkverband belê ʼn vergadering sodat die verskil uit die weg geruim kan word en die kerke in eenheid met mekaar kan verder gaan.
Broeders in Christus⤒🔗
Die apostels en ouderlinge het saamgekom om die besnydenis-kwessie te ondersoek. Dit is opmerklik dat die gemeente van Jerusalem ten nouste by die kerkvergadering betrokke is. Reeds toe die ampsdraers van Antiochië in Jerusalem aangekom het, was die gemeente daar om hulle te verwelkom. Die gemeente het die verrigtinge met belangstelling gevolg (vers 12). As daar besluite geneem moet word, is die gemeente selfs by om hulle inset te lewer (vers 22). So is dit reg. ʼn Kerklike vergadering is geen geheime samekoms agter geslote deure waarvan die gemeente(s) uitgesluit word nie. Uiteraard is daar sekere sake wat in camera bespreek en beslis moet word. Maar deurgaans is die vergadering oop. Dit is goed dat lidmate weet wat daar gebeur. Per slot van sake raak dit wat daar bespreek en besluit word elke lidmaat direk.
Die vergadering in Jerusalem het op ʼn hoë noot begin. Die afgevaardigde ampsdraers van Antiochië doen verslag oor al die dinge wat God met hulle gedoen het. Nie die ‘Handelinge van die apostels’ nie, maar die ‘Handelinge van God’ dien as vertrekpunt vir die vergadering se werksaamhede. Dit is belangrik om op hierdie manier te werk. Wie met menslike verskilpunte begin, sal hoogs waarskynlik in ʼn menslike verskilpunt eindig. Wie met eenheid in die Here begin, sal die verskilpunte in die Here kan uitsorteer. Die begin in Jerusalem was goed.
Die vervolg was minder voorspoedig. In reaksie op die verslag van die ampsdraers uit Antiochië het sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs opgestaan (vers 5). Hulle het driftig opgestaan, in die vergadering opgevlieg. Dit wat hulle sê, sluit by hulle onstuimige optrede aan: ‘dit is noodsaaklik dat hulle – die heidene wat tot geloof kom – besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou’. Hier is geen sprake van rustige, ordelike gesprek nie. Daar word onmiddellik eise gestel: die besnydenis is ʼn moet, die onderhouding van Moses se wet is ʼn moet. Hierdie eise is selfs meer as dit wat die predikers in Antiochië gestel het. Opvallend, daar word nie gesê: ’So sê die Here’ nie. Dit is menslike eise hierdie. Omdat dit menslike eise is, is dit ook waarskynlik die rede waarom dit so heftig gestel word. As ʼn mens jou saak wil stel, help dit soms om ontsag in te boesem deur kras op te tree. Party mense val daarvoor. Maar so verwag die Here dit nie van sy kinders nie. Sy lewende Woord kan rustig gestel en aangehoor word. Die oortuigingskrag sit in die Woord!
Die driftige optrede van die gelowiges uit die party van die Fariseërs het opnuut tot ʼn groot woordewisseling gelei. Die geskiedenis van Antiochië herhaal homself. So kom daar geen vordering nie. Daarom dat Petrus opstaan. Hy is in die gemeente van Jerusalem ʼn gerespekteerde voorganger. Hy skep orde in die onstuimige vergadering. ‘Broeders’ – so spreek hy die aanwesiges aan.
Broeders, medegelowiges: almal van julle. Die ampsdraers uit Antiochië is broeders. So ook die gelowiges uit die party van die Fariseërs. In die aanspraak ‘broeders’ lê ʼn enorme appèl opgesluit. Broeders, laat ons onsself nie onnodig opwerk en vertoorn nie. Laat ons daaraan dink wie ons is, wat die doel van die vergadering is, wat ons hier moet doen. Ons is almal kinders van God, ampsdraers in diens van die Allerhoogste, geroep om in rustigheid en verantwoordelikheid die sake te behandel wat ter tafel is.
Deeglike Ondersoek←⤒🔗
In lyn met die aanspraak gaan Petrus voort om die inhoud van die besnydenis-vraagstuk aan te roer. Hy verwys na sy eie optrede in die huis van die hoofman Cornelius. Vir hom wat Petrus is, was dit aanvanklik nie maklik om na die heiden-man Cornelius toe te gaan nie. Die Here moes hom met ʼn laken vol rein en onrein diere oortuig dat Christus die Ou Testament vervul het en die pad na die heidene oopgemaak het. Toe het Petrus gegaan en die heiden-gesin wat tot geloof gekom het gedoop. Op daardie dag het hy met sy eie oë gesien hoe die Heilige Gees op Cornelius-hulle uitgestort word. Oor al hierdie dinge praat Petrus vrymoedig. Na aanleiding van dit wat hy beleef het, stel hy die kritiese vraag: mag daar ʼn ekstra juk op die heidene gelê word deur te verwag dat hulle besny moet word? Is dit reg om te eis: glo in Jesus Christus én word besny? Petrus antwoord die vraag self.
Ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook.
Broeders uit die party van die Fariseërs: julle eis is verkeerd. Broeders wat in Antiochië gepreek het: julle preek was dwaalleer, dit is nie Skriftuurlik nie. ‘En die hele menigte het geswyg’.
Petrus se spreekbeurt skep rustigheid. Wat hy sê, is die waarheid. Tog ontbreek daar iets in wat hy sê. Almal swyg: niemand verskil nie, maar ook is daar niemand wat tot ʼn besluit kan kom nie.
Die volgende sprekers is Barnabas en Paulus. In dieselfde trant as Petrus vertel hulle van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. Die praktiese voorbeelde van hoe God in Christus die Ou Testament vervul het, word vermenigvuldig. Maar die hele menigte swyg steeds.
Toe praat Jakobus, ʼn ander voorganger in die Jerusalemse gemeente. Jakobus bevestig alles wat Petrus en Barnabas en Paulus reeds gesê het. Dan gaan hy ʼn stap verder as hulle. Hy maak die Skrif oop en beduie: kyk, alles wat gesê is, staan swart op wit geskrywe. Dit wat Petrus en Barnabas en Paulus beleef het, stem ooreen met die woorde van die profete. Jakobus haal aan uit die profesie van Amos (9:11 en 12). God gaan die vervalle hut van Dawid weer oprig. Hoe? Vir wie? Allereers vir die gelowige oorblyfsel uit Israel wat die HERE van harte soek. Maar ook vir die ander nasies oor wie die Naam van die Here uitgeroep is. Ook die heidene sal ná Pinkster in God se ryke beloftes deel.
Vanuit die Skrifte toon Jakobus aan dat die ander ampsdraers wat uit die praktyk gepraat het, reg is. Op grond van die Skrifte kom hy tot ʼn slotsom:
daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie.(vers 19)
Broeders wat preek dat die besnydenis ʼn moet is, broeders uit die party van die Fariseërs wat maak asof Christus die Ou Testamentiese wet van Moses nie vervul het nie – kom ons buig almal saam voor die Skrifte! Jakobus se oordeel oor die eis van die strydende broeders is klinkklaar. Die Skrifte het gepraat – dan is dit klaar gepraat.
Jakobus het ook nog ʼn boodskap aan die adres van die bekeerde heidene. Oor hulle nuwe lewenswandel oordeel hy dat hulle hul geheel en al moet weerhou van alle heidense praktyke, soos afgodsoffers en hoerery en alles wat daarmee saamgaan. Heidene wat christene geword het, moet deur hulle lewenswandel laat blyk dat hulle waarlik kinders van God is. Hulle is mos gedoop in die Naam van die Drie-enige God? Laat dit dan ook sigbaar wees in hulle optrede. Leef soos kinders van die lig! – dit is Jakobus se Skriftuurlike boodskap aan die bekeerde heidene.
Uit hierdie verloop van sake word dit duidelik hoe daar in die kerk van die Here gehoorsaam en weloorwoë en soekend vir die behoud van die ander opgetree behoort te word. Erken en respekteer mekaar as broeders, ook al verskil ʼn mens op ʼn bepaalde punt radikaal van mekaar. Werk op daardie basis met die Woord van God. Menslike ervarings, hoe waar en mooi en goed hulle ook al mag wees, gee nie die deurslag nie. Omdat ʼn ding altyd so gewerk het, is nog geen bewys dat dit reg is en dat ʼn mens daarmee moet voortgaan nie. Die Woord van God is die waarheid.
Op sterkte daarvan kan ons sake uitsorteer. Gelei deur die Woord kan ons tot beginselvaste oordele kom wat met vrug in die kerklike lewe uitgevoer kan word.
Eenparige Besluit←⤒🔗
Tot drie maal toe word daar in Handelinge 15 herhaal dat en hoe die vergadering tot ʼn besluit gekom het:
toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit (vers 22); ons het eenparig besluit (vers 25); want die Heilige Gees en ons het besluit (vers 28).
Elke Keer Val die Klem op Iets Anders←↰⤒🔗
-
In die eerste plek: ‘die Heilige Gees en ons het besluit’. Dit beteken dat die Heilige Gees vir Jakobus lei om die Skrifte oop te maak en toe te pas. Langs dié weg is die besluit wat geneem is ʼn besluit van die Heilige Gees en die kerkvergadering in Jerusalem.
-
In die tweede plek: ‘ons het eenparig besluit’. Die ampsdraers van die aanwesige gemeentes was eensgesind. In die kerkverband word een besluit geneem. Die gevaar van tweedrag word met die eenparige besluit finaal uit die weg geruim.
-
Daarmee saam, in die derde plek: die hele gemeente van Jerusalem is deel van daardie eenparige besluit. God die Heilige Gees het ook in die harte van die gelowiges uit die party van die Fariseërs gewerk. Na aanleiding van alles wat hulle gehoor het, het hulle ingesien dat hulle verkeerd is. Die predikers wat in Antiochië die besnydenis as absolute voorwaarde vir redding gestel het, erken die erns van sulke dwaalleer. Hulle skaar hulle almal eendragtig agter die profesie van Amos en die toepassing daarvan.
‘Die Heilige Gees en ons het besluit’, ‘ons het eenparig besluit’, ‘ons het almal saam besluit’: so kan en moet daar in meerdere vergaderings gewerk word. Ons moet bid vir leiding van die Gees. Ons moet vra vir harte en verstande wat wyd oopstaan vir die evangelie van Jesus Christus. Ons moet in die Skrifte soek na die suiwer beginsel. Ons moet deurdring tot die kern van vraagstukke sodat ons die beginsel lynreg kan toepas. Dan kan ons in eerbied sê ‘ons het onder leiding van die Heilige Gees besluit’. Dan kan ons ook vertrou dat daar oor belangrike sake eensgesindheid sal kom. Dan hoef ons nie bevrees te wees dat sekere lidmate of kerke in die kerkverband later met besware na vore gaan tree nie. Die vergadering wat hom volkome deur die Gees van Christus laat lei, sal eensgesind wees in dit wat hulle besluit.
Wat die inhoud van die besluit van die kerkvergadering in Jerusalem betref, is dit opmerklik hoe gelowig-sensitief daar te werk gegaan is. Die afgevaardigdes van Antiochië word nie net met ʼn besluit op papier huis toe gestuur nie. Twee voorgangers van die gemeente in Jerusalem, Judas en Silas, gaan saam om die besluit mee te deel en toe te lig. Bowendien gaan die gemeente van Jerusalem in op die onrus wat hulle predikers se dwaalleer in Antiochië veroorsaak het. Die gemeente in Jerusalem besef baie goed dat die vertroue tussen die kerke geskaad kon word. Daarom gee hulle ʼn verduideliking, dat hulle vir die betrokke predikers geen opdrag gegee het om sodanige leer oor die besnydenis te verkondig nie.
Ook spreek hulle die hoop uit dat die eenparige besluit wat hieroor geneem is, alle onrus en ontsteltenis uit die susterskerk se hart sal wegneem.
In al hierdie dinge proe ʼn mens die mooiheid van gelowige belewing van kerkverband. Susterskerke van een kerkverband luister na mekaar, dra mekaar, vertroos mekaar, bemoedig mekaar. So verwag die Here dit van ons. Aan dié dinge moet ons in ons Gereformeerde kerkverband hard werk. Dit gebeur dikwels dat sake by ʼn klassis of ʼn sinode klinies-koud hanteer word. Formeel word al die punte dan bes moontlik korrek gestel. Sake word ‘met bekwame spoed’ behandel en afgehandel.
Breedvoerige notules word opgestel en na die tyd aan al die kerke beskikbaar gestel. Dan kom die vraag tog op: waar is die warmte wat hiermee moet saamgaan? Nee, geen sentimentele warmte wat die skerpheid van sake stomp maak nie. Maar die warmte van die Heilige Gees waarvan die hele Handelinge 15 gloei. Warmte wat Paulus en Barnabas vurig laat opstaan as daar dwaalleer verkondig word. Ook warmte wat dwaalleraars tot bedaring bring as Jakobus die Skrifte laat spreek. Warmte wat die vergadering ʼn brief laat skryf waarin hulle die kerk van Antiochië bemoedig om nie verontrus te bly nie. Van sulke heilige warmte moet ons vol word. Dan kan ʼn kerk met ʼn bepaalde saak of probleem na die kerkverband toe gaan. Die kerkverband sal sê: ons sal deeglik na julle saak luister, opreg daarop ingaan, eerlik daarop antwoord in die lig van Gods Woord.
Kerkverband is ʼn gawe van God die Here. Die Here se eis wat hiermee saamgaan, is dwingend: kom op die basis van broederskap in die Here bymekaar, ondersoek sake diepgaande, besluit eendragtig in ware geloof. Dan sal die kerkverband goeie vrug oplewer waarmee die plaaslike kerke sinvol kan werk.
Binding aan die Besluit←⤒🔗
Judas en Silas is deur die kerkvergadering in Jerusalem na Antiochië toe gestuur. Hulle moet die besluit wat geneem is aan die gemeente in Antiochië gaan oordra. Die Skrif leer ons presies hoe hulle te werk gegaan het. In Antiochië aangekom, word ʼn gemeentevergadering gehou. Die brief met die besluit word in die gemeente afgelewer en voorgelees.
Dit is nie om dowe neute dat Judas en Silas so te werk gaan nie. So moet dit gebeur, so wil die Here dit hê. Tevore is al genoem dat kerklike vergaderinge nie in die grootste geheimhouding agter geslote deure plaasvind nie. Sake wat daar hanteer word, word – met uitsondering van enkele vertroulike aangeleenthede – in die openbaar bespreek. Besluite wat geneem word, is van toepassing op elke gelowige in die kerkverband. Daarom moet die besluite deur elke lidmaat aangehoor word.
Eintlik is dit logies. Hoe kan ʼn mens aan ʼn besluit gevolg gee, as jy nie weet wat die inhoud daarvan is nie? Maar dit gaan oor meer as logika. Daarvan maak Handelinge 16:4 ons bewus.
Paulus se tweede sendingreis het begin. Tydens sy tweede sendingreis het Paulus, vergesel van Silas, heelparty van die stede aangedoen waar hy tydens sy eerste sendingreis ook was. In elke stad waar daar tevore ʼn gemeente gestig is, het Paulus en Silas besoek gaan aflê om te sien hoe dit daar gaan. Oral het hulle,
die verordeninge wat deur die apostels en ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou.
Die verordeninge (Grieks: dogmata) waarvan Handelinge 16:4 melding maak, is die besluit oor die besnydenis-vraagstuk. Daardie besluit is in die eerste plek van toepassing op die lidmate van Jerusalem en Antiochië. Hulle was immers direk betrokke by die aanloop tot die besluit en die neem van die besluit. Nou hoor ons dat dit ook vir die ander kerke in die kerkverband ‘oorgegee’, bekendgemaak word.
Let op wat die kerke daarmee moet doen. Hulle moet dit ‘onderhou’. Die kerke in Klein-Asië is aan die uitvoering van daardie besluit gebind, net soos wat die kerke in Jerusalem en Antiochië daaraan gebind is. Die Here eis dat besluite wat volgens sy Woord geneem word, deur al die kerke in die kerkverband eerbiedig word.
Op hierdie duidelike Skrifuitspraak is artikel 31 van ons Dordtse Kerkorde gebaseer:
Wat op ʼn kerklike vergadering met meerderheid van stemme besluit is, sal vir vas en bindend gehou word, tensy bewys word dat dit in stryd is met Gods Woord of die artikel van die Kerkorde.
In praktyk beteken dit dat alle besluite wat deur ʼn sinode of klassis geneem word, deur die kerkraad van elke plaaslike kerk in die kerkverband nagegaan sal word. Die kerkraad moet seker maak dat die besluit daadwerklik ooreenkomstig die Woord van die Here geneem is. As die besluit ooreenkomstig die Woord is, moet die kerkraad die besluit sy eie maak. Hy moet die inhoud daarvan aan die gemeente bekend maak en die besluit dan uitvoer. As ʼn bepaalde besluit egter nie ooreenkomstig die uitsprake van die heilige evangelie is nie, moet die kerkraad die redes daarvoor so gou as moontlik aan die kerkverband deurgee. Dan moet daar tydens ʼn volgende sinode of klassis opnuut indringend na die saak gekyk word. Langs hierdie weg word daar aan besluite van meerdere kerklike vergaderings reg gedoen.
Dit is die reël wat die Here in sy Woord neerlê. Hoe, op watter manier word dié reël in praktyk gebring? ʼn Paar kritiese vrae spruit hieruit voort. Wat doen kerkrade met die notules van sinodes? Is dit nie so dat die ‘dik boek’ met besluite in baie gevalle op ʼn rak in die konsistorie gebêre word nie? Oor die belangrikste sake en die opspraakwekkende beslissings word gepraat, maar die res bly dikwels onbekend. Die gevolg? Daar word besluite geneem, maar hulle word nie uitgevoer nie. Elke kerk doen wat hy dink reg is. Die eenheid van die kerkverband raak verlore. Dit is geen teorie nie. Hoe dikwels word dit nie genoem dat ʼn mens in verskillende kerke van ons kerkverband totaal verskillende optredes bespeur nie? Selfs in die eredienste is die verskil merkbaar. Dan wonder ʼn mens in alle eerlikheid of ons so een is in leer, diens en tug soos wat ons dit op papier erken en voorstaan.
Intussen staan die reël wat die Here in sy Woord neerlê. Besluite van kerklike vergaderinge is bindend. Dit beteken: besluite moet getoets, aanvaar en uitgevoer word.
Daarmee saam: die hele gemeente, elke lidmaat, moet onder die indruk van die eenheid van kerkverband kom. Almal moet hulle eendragtig kan skaar agter besluite wat volgens Gods Woord geneem is. Dit kan slegs gebeur as die handelinge van die sinode stuk-stuk aan die hele gemeente bekend gemaak word. Soos die ampsdraers in Antiochië en in die kerke van Klein-Asië gedoen het, so moet ons ook doen.
Toepassing van die Besluit←⤒🔗
Iets eienaardigs gebeur as Paulus en Silas in Derbe en Listre aankom. Daar was ʼn dissipel met die naam van Timoteus. Timoteus is vir ons ʼn bekende figuur. Hy het later ʼn predikant in Efese geword. Met die gebeure in Handelinge 16 is Timoteus nog jonk. Hy is die seun van ʼn gelowige Joodse vrou. Sy pa is ʼn Griek, ʼn heiden.
Paulus wou hê dat Timoteus saam met hom en Silas verder op die tweede sendingreis sou gaan. Dan lees ons dat Paulus vir Timoteus besny. Hoe kan Paulus dit doen?
Die besluit wat in die kerkverband geneem is, staan immers vas? Is Paulus nie besig om lynreg in stryd met die bindende besluit op te tree nie? Luister na die rede wat hy vir sy optrede aanvoer. Hy besny Timoteus ter wille van die Jode wat in daardie streke was. Dit kan mos nie? ʼn Mens durf tog nie ʼn besluit wat op grond van die Skrif geneem is, te verontagsaam ter wille van mense wat nie van daardie besluit hou nie?
Die vrae raak baie. Die kernvraag wat hier ter sprake is, is: hoe moet die besluit van die kerkvergadering in Jerusalem toegepas word? Die antwoord is: met inagneming van besondere omstandighede. Daarmee doen ʼn mens geen afbreuk aan die besluit nie. Inteendeel, daarmee word die bindende krag van die besluit bevestig.
Ons kom terug by die besnydenis van Timoteus. Die besluit van Jerusalem eis dat bekeerlinge uit die heidene nie besny moet word nie. Daar mag geen ander las op hulle geplaas word as alleen die las van die geloof in Christus nie. Hierdie verbod sê niks van die Jode wat tot geloof in Jesus Christus gekom het nie. Volgens die Joodse reg moes kinders uit ʼn gemengde huwelik van ʼn Joodse vrou en ʼn nie-Joodse man die moeder volg: hulle moet as Jood opgevoed word (Deuteronomium 7:3, 23:4 vv.). Timoteus val in daardie kategorie. Nou blyk dit dat Timoteus nie volgens die Joodse reg besny is nie. Vir die Jode is hy totaal onaanvaarbaar. Hulle sal hom nie in hulle midde ontvang nie, laat staan dat hulle na hom sal luister.
Met hierdie probleem worstel Paulus. Hy wil Timoteus saamvat op sy sendingreis, maar hy kan nie. Daar waar hy gaan, is die Jode baie. Hulle sal hom nie ontvang nie. Wat staan hom te doen? Ter wille van die voortgang van die verkondiging van die evangelie besny hy Timoteus. Dit wil sê: hy maak Timoteus gereed vir die sendingveld.
Tree Paulus in stryd met die besluit van Jerusalem op? Eis hy van Timoteus dat hy besny moet word omdat hy sonder besnydenis nie gered kan word nie? Geensins. Timoteus glo van ganser harte in Jesus Christus. Sy besnydenis het met sy saligmakende geloof in Jesus Christus niks te doen nie. Sy besnydenis het wel alles met die verkondiging van Gods Woord op die sendingveld te doen.
So tree Paulus met hemelse wysheid op. Die bindende besluit van Jerusalem is in hierdie konkrete, delikate situasie suiwer toegepas.
In ʼn ander situasie het Paulus dit anders gedoen. Titus, wat ʼn Griek van vaders- en moederskant was, is nie besny nie (Galasiërs 2:3). Vir hom geld dieselfde beginsel as vir Timoteus: daar mag geen ander las opgelê word as alleen geloof in Jesus Christus nie. Daarom word hy nie besny nie.
Die grootsheid hiervan moet duidelik raakgesien en beleef word. Een besluit is bindend vir die hele kerkverband. Kerke in een deel van die land moet nie vir die kerke in ʼn ander deel van die land sê: ons omstandighede is anders as julle s’n, daarom pas ons besluite maar by ons omstandighede aan nie.
Kerke wat dit doen, ondermyn die kerkverband, en tas die eenheid in Jesus Christus aan. Sodanige optrede getuig nie van eerbiedige gehoorsaamheid nie, maar van eiewillige beterweterigheid.
Sake staan anders waar daar byvoorbeeld op die sendingveld gearbei word. Daar moet nog in baie opsigte groei kom. Dit beteken nie dat daar water by die wyn gevoeg mag word nie. ʼn Saak is reg of verkeerd – daar bestaan geen twyfel oor nie.
Dit beteken wel dat iemand wat die waarheid nie ken nie, na die waarheid toe moet groei. Timoteus se besnydenis was so ʼn trapklip na die waarheid toe. Sy besnydenis het die deur na die sinagoge oopgemaak; ʼn deur wat anders toe sou bly.
In geheel gesien word dit duidelik dat bindende besluite in ware Godsvrees toegepas moet word. Omseiling van besluite deur menslik vernuftig jou saak bo die Skrif te stel, is geen Godsvrees nie. Brute deurdruk van besluite wat tot gevolg het dat die liggaam van Jesus Christus in stukke skeur, is ewe min ʼn teken van Godsvrees.
Die Here eis absolute eerlikheid en tegelyk broederlike ontferming. Dan sal ons die beginsels van sy Woord toepas tot opbou van sy kerk.
Uitwerking van die Besluit←⤒🔗
In Antiochië is daar groot blydskap as Judas en Silas die besluit rondom die besnydenis-vraagstuk voorlees en toelig. Die gemeente is dankbaar-bly vir die bemoediging en profetiese toeligting wat hulle uit Jerusalem ontvang. Die onmin wat ontstaan het, is uit die weggeruim. Die harde woorde wat geval het, die seer wat dit veroorsaak het, die twyfel wat gesaai is, dit kan vir eens en vir altyd begrawe word. Die geharwar rondom die besnydenis-preek en alles wat daaruit voortgevloei het, het tot ʼn einde gekom. Dit was die heilsame uitwerking van die eenparige besluit wat onder leiding van die Heilige Gees in Jerusalem geneem is.
Die gevolg daarvan is dat die ware vrede in die gemeente van Antiochië teruggekeer het. Ware vrede beteken: alles en almal is weer in die regte plek. Paulus en Barnabas kan saam met die ander ampsdraers voortgaan met hulle onderrig – ook op die sendingveld. Die gemeente kan verder groei. Satan se probeerslag om die lidmate van mekaar te vervreem, het nie geslaag nie. Daarvoor het die Here gesorg.
Bowendien sorg die Here dat Satan se poging om die kerke van die een kerkverband uit mekaar te skeur, misluk. Sover soos wat Paulus en Barnabas en Timoteus die verskillende gemeentes aan die besluit van Jerusalem bind, word hulle in die geloof versterk. Die Here skep groei waar broeders woon en werk in onverstoorbare vrede.
Aan die ander kant moet gesê word dat die duiwel nie klaar gestry en gaan lê het nie. Galasiërs 2 vestig die aandag op ʼn insident wat enkele jare later plaasgevind het. Daar het opnuut stryd oor dieselfde vraagstuk ontstaan. Petrus en Paulus het hewig met mekaar hieroor gebots. Tog het die eenheid in die waarheid bly seëvier. Aan daardie eenheid moet ons van harte bly werk!