Kerk en teologiese opleiding
Kerk en teologiese opleiding
Wanneer oor teologiese opleiding, dit wil sê oor die ontsluiting van die Bybel, die toerusting van toekomstige predikante en die uitbou van die vak Teologie nagedink word, moet altyd gevra word na die Bybelse fundering daarvan. Bestaan daar werklik goeie gronde daarvoor dat die kerk van die Here so ’n reuse onderneming behoort aan te pak en te onderhou? Was twee van die grootste teoloë van alle tye, naamlik Augustinus en Calvyn, dan nie selfgeleerdes (outodidakte) nie?
Bybelse fundering⤒🔗
Wanneer die Skrifgegewens in hierdie verband nagegaan word, is dit uit die Ou sowel as Nuwe Testament gou duidelik dat daar in talle gevalle sprake is van teologiese opleiding, miskien nie in die moderne sin van die woord nie, maar tog wel, en met klem op indiensopleiding.
Wat die Ou Testament betref, kan gedink word aan Samuel rondom wie daar ’n profeteskool ontstaan het (1 Sam 1:10; 19:20). Dieselfde kan ook van Elia en Elisa gesê word (1 Kon 20:35; 2 Kon 6:1). Profeteskole is waar jonger manne deur ’n geestelike leier toegerus en opgelei is om die Woord van die Here uit te dra. Die profeet Natan kom uit so ’n profeteskool.
Wat die Nuwe Testament betref, val dit op dat Jesus self 12 manne geroep en vir drie jaar onderrig gegee het in die dinge van die koninkryk van God. Die groot sendingapostel Paulus volg hierdie voorbeeld na deur hom telkens op sy sendingreise van evangeliste te omring en aan hulle voorligting en toerusting te verskaf.
Natuurlik kan – en het – die Here in sy vrymag manne (en vroue) met buitengewone gawes begiftig en geroep en in sy koninkryk diensbaar gemaak (soos Augustinus en Calvyn). Maar die grondpatroon is opleiding en toerusting.
Dit is waar dat die opleiding soos ons dit vandag ken, nie presies so in die Vroeë Kerk voorgekom het nie, maar eers veel later (veral sedert die Middeleeue) ’n professionele en institutêre vorm begin aanneem het. Tog was die kerk alle eeue deur daarvan deurdrenk dat die verkondigers van die evangelie Geesvervulde, maar ook goed toegeruste persone behoort te wees. (In die klooster in Hippo Regius waar Augustinus biskop was [vyfde eeu] is byvoorbeeld talle ander biskoppe opgelei wat in Noord-Afrikaanse gemeentes gedien het).
Historiese ontplooiing←⤒🔗
Teen hierdie agtergrond is dit begryplik dat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) dadelik na sy ontstaan op 11 Februarie 1859 aan predikante-opleiding aandag begin gee het, veral toe dit geblyk het dat beroepe van predikante uit Nederland nie geslaagd was nie.
- Burgersdorp – Op 27 November 1864 het ds. Dirk Postma, eerste predikant van die GKSA, ’n klein begin gemaak met privaat opleiding van drie studente in Burgersdorp, maar die belangrike besluit sou deur Sinode Potchefstroom op 20 Mei 1869 geneem word: daar moet ’n teologiese skool opgerig word en wel op Burgersdorp. (Destyds was daar nog net 15 gemeentes, met ’n totale lidmate tal van 4 362.) En waarom Burgersdorp? Omdat die landsomstandighede daar stiller en rustiger was as byvoorbeeld in Rustenburg (geleë in die ou ZA Republiek) en waarskynlik ook omdat die gemeentes in die (destydse) Kaapkolonie meer bemiddeld was en groter finansiële steun aan die Skool sou kon verleen.
Daarby neem die Sinode ook die versiende en verstrekkende besluit dat “niet alleen predikanten” maar ook “onderwijzers”, “ja dat ook jongelieden zonder een bestemd doel te hebben” geleentheid tot verdere onderrig sal kry – die kiem van wat later die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (later NWU) sou word.
Op 29 November 1869 vind die Skoolopening op Burgersdorp plaas, met twee dosente, ds. Dirk Postma en ds. Jan Lion Cachet. Geboue in die agterplaas van die pastorie sou as klaskamers dien. In 1879 word ds. Postma die eerste professor; in 1893 was daar reeds 34 studente.
En toe vind daar ’n gebeurtenis plaas wat die psige van die Afrikaanse Christene en kerke diepgaande sou beïnvloed en stempel: die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899-1902), tans bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog. Hoewel die Teologiese Skool in die Britsbeheerde Kaapprovinsie geleë was, kies die Skool onverbloemd, soos die kerkhistorikus G.C.P. van der Vyver dit stel, vir ’n eie land, ’n eie volk en ’n eie taal.
Die gevolg is dat die Skool vir rukke gesluit is, dat prof. Cachet selfs in die tronk beland, en dat vyf oud-studente en studente in die oorlog sneuwel. (Dit is duidelik dat daar destyds ’n baie noue band tussen kerk en volk aanwesig was.)
In hierdie tyd bekwaam twee manne hulle in Nederland, manne wat later ’n groot rol sou speel, naamlik J.D. du Toit (Totius) en F Postma. In Amsterdam (VU) sê hulle vir mekaar net soos Nelson Mandela 100 jaar later sou doen: Onderwys is ’n magtige faktor wat ons volk weer sal optel.
Toe gebeur die onvoorstelbare: in die Karoodorp Burgersdorp kan daar nie ’n geskikte terrein vir uitbreiding van die Skool gevind word nie! Daar heers ook ’n voortdurende gevaar van verengelsing. Die Skool moet na Transvaal verplaas word as “een krachtig bolwerk voor het bestand van taal en volk” (aldus ds. Petrus Postma). Op die Sinode 1904 vestig Totius die aandag op Potchefstroom vanweë sy landelike agtergrond en geografiese ligging. En so word die Skool in 1905 na Potchefstroom (en nie na Steynsburg of Pretoria nie) verskuif.
- Potchefstroom – In hierdie ou hoofstad van die ou Transvaal sou die Teologiese Skool van krag tot krag gaan. Waar daar in 1869 net twee dosente en vyf studente was, was daar 100 jaar later in 1969 ses professore, 43 propedeutiese en 36 kandidaats-studente. (In 1969 was daar vier professore, 11 voorbereidende en vyf kandidaats-studente aan die HTS verbonde – daaroor later meer.) In 2008, op die vooraand van die 150 jaar-feesvierings in 2009, was daar 13 professore, 35 propedeutiese en 24 kandidaatsstudente aan die TSP verbonde. (Teen die einde van 1994, net voor die eenwording van die twee teologiese inrigtings, was daar 12 professore, 31 propedeutiese en 24 kandidaats-studente aan die TSP; en vier professore, 23 voorbereidende en 18 kandidaats-studente aan die HTS verbonde).
Die Literariese Departement, wat reeds in 1877 in Burgersdorp gestig is, het in 1919 in Potchefstroom van die Teologiese Skool afgeskei. Wat in 1869 klein begin het en waar onder andere besluit is om ook onderwysers en ander persone op te lei, het in 1921 uitgegroei tot die Potchefstroomse Universiteitskollege, maar tog nog geïnkorporeer by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). In 1951 word die Universiteit 'n selfstandige universiteit met ’n van: Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Verdere uitbreiding sou volg toe in 1966 die Vaaldriehoek Kampus opgerig word, en in 1995 met afstand- of telematiese-onderrig begin is. Sedert 1986 is die Universiteit vir alle kultuurgroepe oopgestel. Vanweë die nuwe (onpartydige) politieke bedeling in Suid-Afrika sedert 1994 kom die Christelike karakter egter al hoe meer in gedrang, en in 2004 ontstaan die Noordwes-Universiteit, bestaande uit drie groter eenhede, maar die naam “Christelike Hoër Onderwys” bly in die slag hoewel die Potchefstroom-kampus egter doelbewus bly strewe na ’n waardegedrewe inrigting.
Van die bekendste oudstudente wat die PU vir CHO opgelewer het, is die voormalige staatspresident, FW de Klerk, en sy vrou, Marike. Uit die agterplaas van ’n pastorie in Burgersdorp waar teologiese studente opgelei is, het ’n universiteit gegroei wat duisende studente aan die samelewing gelewer het en van die dorp Potchefstroom ’n stad gemaak het.
Ook die Teologiese Skool het ’n nuwe tydperk ingegaan. Deur middel van die Fakulteit Teologie was daar steeds ’n noue samewerking tussen Skool en Universiteit. Sedert 1997 vind daar akkreditering plaas van ’n hele aantal Bybelkolleges (tans staan die getal op 16) by die Fakulteit, tot so ver as Mosambiek, Kenia, Uganda, Nigerië en selfs Engeland! Studente van hierdie inrigtings ontvang hulle grade van die Universiteit, maar die teologiese professore van die Universiteit lewer belangrike insette ten opsigte van leerplanne en moderering van vraestelle. So kry die gereformeerde teologie wye vleuels.
Om saam te vat: Dit spreek vanself dat in die beginjare van die teologiese opleiding prof. Dirk Postma (1818-1890) ’n leidende rol sou vertolk. Ná hom het prof. Jan Lion Cachet (1838-1912) sterk leiding gegee; daarby was hy ook ’n sterk voorstander van die Afrikaanse taal. Ná Cachet het Totius (1877-1953) op die voorgrond getree. Hy het ’n reuse bydrae gelewer ten opsigte van die Bybelvertaling in Afrikaans (1933) en die Psalmberyming (1936) – gevolglik was sy bydrae op suiwer teologiese gebied van kleiner omvang. Ná Cachet sou ek (maar dis ’n persoonlike keuse) die naam van prof. W.J. Snyman (1899-1981) wou noem. Sy groot bydrae lê veral op die terrein van kerkbeskouing (ekklesiologie) waar hy die GKSA voortdurend gewaarsku het teen die gevare van ’n volkskerkbeskouing en ook klem gelê het op die belangrikheid van ekumeniese verhoudings. (Soms verwys teoloë na die te noue verband tussen kerk en volk/staat as ’n “noodlottige band”).
Dit is veelseggend dat in 2003 en 2006 die eerste twee Afrikatalige dosente aan die TSP benoem en beroep word, in die persone van respektiewelik di. Derrick Mashau en Rantoa Letšosa.
- Hammanskraal – Die vroegste opleiding van predikante van die sogenaamde jonger kerke het in Dube (1956-1961) plaasgevind. Ds. Hugo du Plessis was die eerste dosent (1956) en is in 1959 deur ds. U Botha opgevolg. In 1961 besluit die Sinode GKSA dat die teologiese opleiding vir “nie-blankes” na Hammanskraal verskuif sal word ter verwesenliking “van die ideaal van meerdere teologiese skole vir die onderskeie etniese eenhede” (Acta GKSA 1961:174, 177). So ontstaan die Hammanskraalse Teologiese Skool in 1962, waar Afrikatalige studente opgelei sou word. Ook studente uit Zimbabwe en Mosambiek en selfs die DR Kongo het daar gestudeer. Aanvanklik is vir die BA-graad die Unisa-leerplanne gevolg, maar in 1987 is 'n kontraktuele verbintenis met die PU vir CHO gesluit waarkragtens die PUK die grade toegeken het.
Vanweë prinsipiële en finansiële oorwegings het die Sinode GKSA in 1994 besluit (opgevolg deur ’n soortgelyke besluit van Sinode Middellande dieselfde jaar) dat die teologiese skole van Hammanskraal en Potchefstroom sal verenig, wat sedert 1995 plaasgevind het.
Teologiese kenmerke←⤒🔗
Afsluitend wil ons kortliks verwys na enkele van die besondere kenmerke waaraan die gereformeerde of reformatoriese teologie uitgeken kan word.
Afgesien daarvan dat altyd na gehalte- en standaardopleiding gestreef is – vandaar die voortdurende klem op kennis van die grondtale van die Bybel – is ook groot nadruk gelê op die Bybelse gehalte van die teologie. Gereformeerde teologie is daarom ’n Skrifverantwoorde teologie. Nie modernisties nie, maar ook nie fundamentalisties nie; die eerste is te vlak en die laaste te star. In hierdie verband het die gereformeerde konfessies die breë raamwerk verskaf, maar sonder dat die konfessies oor die Skrif sou heers.
Die gereformeerde teologie dra ook ’n kerklike karakter en wel sonder om afbreuk te doen aan die wetenskaplike gehalte daarvan. Maar teologie is ten nouste verbind aan die (sinvolle) uitdra van die evangelie, en daarom aan die toerusting van die draers van die evangelie. Sonder die kerk word die teologie ’n ivoortoringbedryf, sonder relevansie vir die kerk en die samelewing. Daarom dra goeie teologie ook altyd ’n ekumeniese karakter: daar word deeglik geluister na die studieresultate van teoloë deur die eeue (bv. na Augustinus, Calvyn en Bavinck), maar ook gekyk na die insigte van teoloë van die meer resente tyd. Ook teoloë wil graag “saam met al die gelowiges” begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek (Ef 3:18).
Goeie teologiese opleiding dra altyd ook ’n praktiese karakter sodat predikante ook konkreet toegerus word om te dien in omstandighede van nood, armoede, werkloosheid, vigs, misdaad, korrupsie, grondonteiening en rassisme – soos tans in Suid-Afrika ervaar word. Goeie opleiding kyk nie net na die wetenskaplike standaard nie, maar ook na die praktiese toerusting van predikante.
In Suid-Afrika het die gereformeerde teologie groot klem gelê op ’n teologie van die koninkryk, juis omdat die koninkryk van God die sentrale boodskap van Jesus Christus se aardse bediening was. Goeie teologie is nie wêreldvreemd nie, maar kontekstueel en missionêr; dit vloei oor die mure van die kerk die samelewing in, en het ’n transformerende en vernuwende invloed op die samelewing. Dit handel nie net oor die redding van siele of oor die hiernamaals nie, maar oor die heil van mense, die welsyn van samelewings en uiteindelik oor ’n nuwe hemel én ’n nuwe aarde. Dis nie toevallig dat uit ’n klein teologiese opleiding (op Burgersdorp) ’n groot universiteit (op Potchefstroom – en ander plekke) ontwikkel het nie.
Slot←⤒🔗
Die GKSA, en sy teologiese opleidingsentrum(s), het niks om op te roem nie, maar oneindig veel om voor dankbaar te wees. Om in diens van God te staan, en so in diens van sy koninkryk, is ’n onbeskryflike voorreg. En dat daar iets vir die koninkryk in Suid-Afrika bereik kon word, is net genade. God kan met 'n klein stokkie ’n groot slag slaan.
Die teologie het aan die begin van die 21ste eeu in Suid-Afrika in ’n maalkolk beland met die beweging wat homself as Nuwe Hervorming aangedien het, en wat in wese ’n herlewing is van gedagtes wat die liberale teologie eintlik deur die eeue voorgestaan het. Hierdie nuwe beweging stel aan die gereformeerde teologie ’n nuwe uitdaging om enersyds nie op fundamentalisme terug te val nie, maar andersyds ook nie in vrysinnige vaarwaters verseil te raak nie. Die bekende evangelie moet in elke tyd nuut verwoord en nuut vergestalt word, maar dan sonder om die essensie van die klassieke evangelie prys te gee. En die essensie is “die evangelie van God se genade (in Jesus Christus)” (Hand 20:24), dit wil sê die evangelie van die koninkryk van God. Op hierdie pad moet die gereformeerde teologie in die 21ste eeu moedig voortbeweeg.