Bron: Kerk en Woord, 1999. 6 bladsye.

Kerk en Musiek

musieknote

Die kerk van Christus bestaan volgens Sondag 21 HK "van die begin van die wêreld af tot aan die einde toe", dus van die skepping tot die herskepping van die wêreld. In die ou bedeling het die grense van volk en kerk saamgeval en is die volk teokraties geregeer, iets wat in die nuwe bedeling, waarin ons ook vandag lewe, nie meer die geval is nie. Die geskiedenis van die volk Israel, soos dit in die Ou Testament opgeteken is, was dus nie maar die interessante geskiedenis van 'n volk nie, maar die geskiedenis van die volk van die Here, van die Ou-Testamentiese kerk: dit is kerkgeskiedenis.

Wat die Bybel ons vertel oor musiek betref veral die kultiese musiek: die musiek wat in noue verband staan met en geklink het tydens die tempeldiens en later in die sinagoge. Dit gaan dus oor kerkmusiek. As 'n mens die aantal plekke tel waar in die Heilige Skrif oor musiek gespreek word dan blyk dit meer as 800 te wees. En in meer as 200 tekste word die kerk opgeroep om te sing. Die langste Bybelboek is 'n liedboek: die boek van die Psalms. Die Heilige Gees het klaarblyklik die kerkmusiek en kerksang baie belangrik geag!

Die groot vraag vir ons is: wat is in die lig van die Skrif die betekenis daarvan vir ons, vir die kerk van die Here op die grens van die 20ste en 21ste eeu? Om die vraag te beantwoord kyk ons in voëlvlug na die volgende punte:

  • Kerkmusiek in die Ou-Testamentiese bedeling.

  • Kerkmusiek in die Nuwe-Testamentiese bedeling.

  • Die musiekpraktyke in die vroeg Christelike kerk.

  • Sang en musiek tydens die Refor­masie.

  • Die orrelgebruik in die Reforma­toriese kerke.

  • Kerkmusiek vandag.

Kerkmusiek in die Ou-Testamentiese Bedeling🔗

Die Skrif leer ons dat daar by die aller­eerste begin, tydens die skepping van die aarde, reeds musiek was. Job 38:4-7: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? Daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemelinge gejubel het?" Daar was dus al musiek voordat die mens geskape is. Musiek is dan ook geen uitvinding van mense nie, maar 'n skeppingsgawe van God.

In Genesis 4:21 lees ons hoedat die mens hom gaan besighou met musiek. Van Jubal, 'n nakomeling van Kain, word gesê: "Hy was die stamvader van dié wat op die lier en fluit speel". Musiek was blykbaar reeds vroeg in die geskie­denis van die mens 'n lewensbehoefte.

Kyk 'n mens na die Ou-Testamentiese tempelkultus en dan spesifiek na die tempelfeeste, blyk dit dat dit daarby vernaamlik gaan oor die herdenking van die Here se groot verlossings- en heilsdade in die geskiedenis van sy volk, soos die verlossing uit Egipte ens. Dit alles wys tewens heen na die verlos­sing wat ons deel geword het in en deur ons Here Jesus Christus, na die volkome verlossing deur sy offerande aan die kruis op Golgota.

Die tempelkultus het bestaan uit die vaste elemente van offerdiens, woorddiens, gebede, sang en instrumentale musiek. As Dawid die verbondsark na Jerusalem bring, lees ons ondermeer die volgende:

En Dawid het aan die owerstes van die Leviete gesê om hulle broers, die sangers, op te stel met mu­siekinstrumente, harpe en siters en simbale, om hulle te laat hoor deur die stem met blydskap te verhef.1 Kronieke 15:16

En hy het uit die Leviete dienaars aangestel voor die ark van die HERE, en dit om die HERE, die God van Israel, te roem en te loof en te prys: Asaf, die hoof, en Sagaria, die tweede in rang na hom, Jeï-el en Semiramot en Jehiël en Mattitja en Eliab en Benája en Obed-Edom en Jeï-el met harp- en siterinstrumente, terwyl Asaf met die simbale musiek gemaak het, en Benája en Jahásiël, die priesters, gedurigdeur met trompette voor die verbondsark van God. Op dieselfde dag, toe vir die eerste maal, het Dawid aan Asaf en sy broers opgedra om "loof die HERE" te sing. Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend!1 Kronieke 16:4-8

instrumente

Daar was dus 'n levietekoor en allerlei musiekinstrumente "om die feesvreug­de hard te laat weergalm".

Die lied "loof die Here" is gesing. Daar was 'n uitbundige gejubel van musiek en sang om die Here te loof.

Toe Salomo die tempelbou voltooi het en die ark na die tempel gebring is, was daar weer 'n uitbundige fees:

En toe die priesters uit die heiligdom uit­gaan – want al die priesters wat aan­wesig was, het hulle geheilig sonder om die afdelings in aanmerking te neem – terwyl die Levitiese sangers almal saam, Asaf, Heman, Jedútun met hulle seuns en hulle broers, in linne gekleed, met simbale en harpe en siters oostelik van die altaar staan, en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas; en toe die trompetblasers en die sangers almal eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale met die musiekinstrumen­te, en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! — is die huis, die huis van die HERE, vervul met 'n wolk. En die priester kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlik­heid van die HERE het die huis van God vervul. 2 Kronieke 5:11-14

Waarskynlik is Psalm 136 in beurtsang deur die Levietekoor en die volk gesing waarby die volk (gemeente) dan elke keer geantwoord het met die refrein: "want sy goedertierenheid is tot in ewigheid".

Kerkmusiek in die Nuwe-Testamentiese Bedeling🔗

Die heel belangrikste heilsfeit wat in die Skrif vermeld word, is seker die geboorte van Jesus Christus, die Woord wat vlees geword het en onder ons ge­woon het. Die geboorte van Christus het gepaard gegaan met 'n lofprysing deur 'n hemelse leërskare wat God ge­prys het met die Gloria in excelsis Deo: "Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het".

Ook die lofsange van Maria, die Mag­nificat, van Sagaria, die Benedictus, en Simeon, die Nunc Dittimus, vind hulle ontstaan rondom die geboorte van ons Heiland en Verlosser. Die kerk sing by die groot verlossingsdade van die Here.

Ons lees ook dat Jesus en sy dissipels gesing het vlak voor Christus se krui­siging by die Pasga: "En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitge­gaan na die Olyfberg" (Markus 14:26). Met "die lofsang" word bedoel die psalms 113-118, die Hallel, wat deur die eeue deur die Jode gesing is en word by ge­leentheid van die Pasga. Jesus het die psalms goed geken. Dit blyk duidelik uit sy vele aanhalings uit die boek van die psalms. Trouens, die meeste aanhalings uit die Ou Testament in die Nuwe Testament kom uit die boek van die Psalms.

In die sinagoges is daar deur die eeue tot vandag toe psalms gesing. Dié tra­disie is deur die Christelike kerk voort­gesit. Die jong Christelike gemeente het volgens Handelinge 2:47, in die tempel bymekaargekom en God geprys. Paulus en Silas sing tot lof van die Here in die tronk (Handelinge 16:25). En die kerk kry in Efesiërs 5:19 die opdrag: "Spreek onder me­kaar met psalms en lofsange en geeste­like liedere; en sing en psalmsing in julle hart tot eer van die Here". 'n Self­de opdrag kry ons in Kolossense 3:16: "Laat die woord van Christus ryklik in julle woon, leer en vermaan mekaar in alle wysheid met psalms en lofgesange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here".

sing

In die Openbaring van Johannes kom op velerlei wyse verwysings na die Ou-Testamentiese erediens voor. Ook lees ons daar van die groot skare wat met siters voor God staan en die lied van die lewe sing: "Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige, en waar­agtig is u weë, o Koning van die heili­ges!" (Openbaring 15:3).

Dwarsdeur die Bybel vind ons dus vele verwysings na sang en musiek. Die be­langrikste sake uit die Bybelse gegewens kan soos volg saamgevat word:

Musiek in al sy vorme is in die eerste plek bedoel om God daarmee te eer, te prys en te loof en te dank.

In die Ou-Testamentiese tempeldiens was daar 'n veelkleurige musiekpraktyk met professionele sangers en instrumen­taliste.

Die jong Christelike kerk het uiteraard veel van die musiekpraktyk van tempel en sinagoge oorgeneem. Daar kan met reg gepraat word van die Joodse wortels van die Christelike erediens.

Allerhande musiekinstrumente is deur die eeue gebruik vir die lofprysing van die Here. Daar was geen afgesonderde "heilige" musiekinstrumente nie. Hier­mee word egter geensins bedoel dat ons vandag in ons eredienste ook maar enige musiekinstrumente of musiekpraktyk sou kon gebruik en aanvaar nie.

Die Musiekpraktyke in die Vroeg Christelike Kerk🔗

Die samekomste van die eerste Christengemeentes was gekenmerk deur eenvoud. Dit was huisgemeentes, daar was nog geen groot kerkgeboue nie. Die basiese elemente wat ons tot vandag toe in ons gereformeerde liturgie handhaaf, was daar: Skrif­lesing en verklaring, gebed en gesang.

Nadat die Christelike kerk onder die regering van keiser Konstantyn in die jaar 312 staatskerk geword het, het die gemeentes groter geword en is daar steeds groter kerkgeboue, basilie­ke en later katedrale gebou. Die een­voud en direktheid, so kenmerkend vir die eerste Christengemeentes, het verdwyn. In die Middeleeue was daar 'n steeds toenemende liturgiese weelde­righeid. Veral in die later Middeleeue het die weelderigheid die Woordbe­diening grotendeels verdring.

Sakramentalisme het ontstaan: die altaar het die beheersende middelpunt van die erediens geword. Genade en heil word verkry deur die gebruik van die sakramente so is geleer, en genade word deur die gebruik van die sakra­mente outomaties in jou ingestort. Die preekstoel word letterlik tersyde ge­stel. Daar was nouliks nog Woordver­kondiging.

Die kerkvolk is as onmondige toeskouers pleks van aktiewe deelnemers aan die erediens beskou. Die priesters het gesing, die kerkvolk het geswyg. Veral in die groot katedrale het die kerkmusiek wat hoofsaaklik uit sang deur 'n priesterkoor bestaan het, groot musikale hoogtes bereik. Maar dit het nie die hart van die volk bereik nie. In die later Middeleeue het ook die orrel sy verskyning gemaak in die eredienste en is dit gebruik as 'n alternatief ter afwisseling van die sang. Daar was egter ook baie mis­bruik van die orrel: allerhande ligsinnige musiek is tydens eredienste ge­speel om die volk te vermaak.

Sang en Musiek Tydens die Reformasie🔗

Die Reformasie, in die 16de eeu, het nuwe lewe geskep. Die reformatoriese solas is herontdek: sola fide, sola gratia, sola Scriptura en dit alles tot eer van God: soli Deo Gloria. Dit het ook die erediens en die liturgie geraak: die Woord is weer sentraal gestel. Van die weelderige Roomse erediens is daar terugbeweeg na die eenvoud van die vroeë kerk. Die amp van die gelowige is weer raakgesien en het weer begin funksioneer. Daar is besef dat die gemeente, as die ware priesterskap, weer moet sing in die erediens. Luther, wat self ook 'n bekwame musikus was, het die kerkvolk weer laat sing en self talle liedere gedig en getoonset.

mense sing

Calvyn het, tydens sy verbanning uit Genève, in Straatsburg kennis ge­maak met gemeentesang soos dit deur Bucer daar ingevoer is. Hy het dit sy doelwit gemaak om veral die psalms weer hulle regmatige plek in die erediens te laat inneem. Calvyn se siening oor die musiek in die erediens word dikwels baie eensydig voorgestel. Maar dit was juis hy wat die aktiewe deelname aan die erediens van alle gelowiges, en dit in die besonder deur gemeentesang, besef en bevorder het.

Calvyn stel: musiek, sang in die erediens spoor ons aan om tot God te bid en Hom te loof, om sy dade te oordink, sodat ons Hom kan liefhê, eer en prys. Musiek is een van die grootste gawes wat God aan die mens gegee het. En dit om sy Skepper daarmee te loof en om die mens daardeur ontspan­ning en vreugde te gee. Ons moet dit altyd as 'n gawe van God waardeer en gebruik. Aanvanklik het Calvyn self probeer om psalms te berym op melodieë wat hy in Straatsburg leer ken het. Toe daar beter berymings beskikbaar kom, het hy sy eie pro­beersels onmiddellik teruggetrek.

Oor die geskiedenis en die ontstaan van die Geneefse Psalter sou mens 'n boek kon skryf. Feit is dat, waar binne die Lutherse kerke die vrye kerklied ingevoer is, Calvyn aanvanklik slegs die doelwit gestel het om, getrou aan die Bybelteks, die psalms te berym en deur die gemeente te laat sing. Die werk is in 1562, 2 jaar voor die dood van Calvyn, voltooi. Daar is meer as 20 jare aan die psalmboek gewerk. Dit toon 'n opmerklike eenheid, sowel in teks as melodieë hoewel verskillende digters en komponiste daaraan gewerk het. Calvyn was persoonlik al die jare ten nouste betrokke by die werk, en dit is waarskynlik deur sy invloed dat die Psalter so 'n eenheid gevorm het.

Behalwe Skrifgetrouheid van die teks was die melodieë waarop die psalms gesing sou word vir Calvyn ook van groot belang. Hy vergelyk die melodie met 'n tregter waardeur die woorde die hart binnedring. Daarom stel Calvyn hoë eise aan die melodieë van die psalms. Want die melodieë is nie bedoel om die sangers in hulle gemoed aan te gryp nie, nee, dit moet die gesonge Woord doen. Die melodie moet in diens van die Woord staan. 'n Baie belangrike beginsel wat tot vandag toe nog baie aktueel is!

Die voltooide Geneefse psalmboek het uiteindelik verskyn met 125 melodieë vir die 150 psalms. En daaraan is meer as 20 jare gewerk! Dit illu­streer die groot sorg wat aan die saak gegee is. Vergelyk dit met die eendags­vlieë wat vandag in groot getalle geproduseer en in sommige kerke en sektes gebruik word om daarna weer plek te maak vir ander oppervlakkige liedjies.

Die Orrelgebruik in die Reformatoriese Kerke🔗

Kyk ons verder in die kerkgeskiede­nis dan het die Puritanisme 'n gewel­dige invloed op die Gereformeerde lewe gehad. Dit het binne die erediens­gebeure die preek sodanig verabsolu­teer dat die res bysaak geword het. Die preek is oorskat en die ander liturgiese gebeure is onderskat. Dit was ook juis van dié kant dat daar 'n sterk weerstand was teen die gebruik van die orrel as begeleidingsinstrument van die gemeentesang.

Daarna kry ons die rasionalisme wat tot dooie ortodoksie gelei het met as sy teenpool die piëtisme wat die mens en sy gevoel in die sentrum geplaas het. Meer daardeur het die behoefte aan gesange ontstaan. Die psalms was vir hierdie mense te teosentries.

Daar word dikwels beweer dat die Calvinisme kuns-vyandig sou wees. In dié verband word dan ondermeer daarna verwys dat Calvyn teen die gebruik van die orrel in die erediens sou gewees het. Maar ook persone soos Erasmus, Luther en baie van sy Roomse tydgenote was, net soos Calvyn, gekant teen die ligsinnige misbruik van die orrel tydens eredienste. 'n Mens hoor ook soms die bewering dat Calvyn die gebruik van die orrel vir begeleiding van die gemeentesang sou verbied het. Maar vóór die Reformasie het die ge­meente nie gesing nie en was daar dus geen sprake van orrelbegeleiding van gemeentesang nie. 'n Mens moet ook onthou dat die orrelbou ten tyde van die Reformasie nog in sy kinderskoene gestaan het. Hoewel die orrelbou wel ge­durende dié eeu baie ontwikkel het, was die instrument nogtans heeltemal on­geskik om die sang van 'n singende ska­re te lei. Dan moet 'n mens ook nog ont­hou dat die lineêre meerstemmige orrel­musiek eers later in die eeu van die Re­formasie plek gemaak het vir 'n eenvoudige homofoniese akkoordbegeleiding van duidelik herkenbare melodieë, soos ons dit tot vandag toe ken.

kerkorrel

As daar beweer word dat Calvyn die orrel vir gemeentesangbegeleiding verbied het, dan sou dit beteken dat hy iets verbied het wat destyds glad nie bestaan het nie en eintlik nog nie moontlik was nie.

Sowel Luther as Calvyn het tereg die primêre eis gestel dat die gemeente (die ware priesterskap) gedurende die erediens moes sing en nie die priesters of 'n koor nie. Anders as in die Cal­vinistiese liturgie, is meerstemmige koorsang en ook orrelspel as alterna­timspel ter afwisseling van die koor- ­ en gemeentesang, in die Lutherse liturgie gehandhaaf. In die Calvinis­tiese erediens het die orrel aanvanklik geen taak meer vervul nie. Dit het egter nie noodwendig beteken dat die orrels daarom uit die kerke verdwyn het nie. Maar dit is weer 'n geskiedenis op sy eie waarop ons nie nou verder ingaan nie.

Kerkmusiek Vandag🔗

Om by vandag uit te kom: ons leef in 'n gesekulariseerde, verwêreldlikte, post-modernistiese samelewing. Ons kultuur het 'n massakultuur geword waarbinne die meeste mense self nie meer skeppend besig is nie. Die deur­snee mens van vandag wil vermaak word en die vermaaklikheidsindustrie het 'n groot sektor in die ekonomie ge­word. Daar word steeds meer gesoek na genot, opwinding en ontvlugting. Dit wat studie of inspanning vra word vermy. Die enigste norm word die smaak van die massa soos gemeet aan sukses op die mark. Die massakultuur dehumaniseer die mens en vervreem hom van die lewe en van sy verlede want hy leef slegs vir die genot van die hede. Dit vervreem hom ook van sy gemeenskap en van homself: hy word 'n vereensaamde mens tussen eensame ander mense. Om saam te sing is 'n belangrike vorm van ge­meenskapsbelewing. Dit hef die mens uit bo sy vereensaming.

Deur die verbruikersmentaliteit wat daar heers gebeur dit steeds meer dat die kerk ontaard in 'n soort geestelike supermark wat "aantreklike" "popu­lêre" produkte moet lewer. Klandisie moet gelok word en die erediens moet meer gebruikersvriendelik word.

Ons mag as Gereformeerde Kerke nie op hierdie wyse gaan meeding op die kerklike mark nie. Wat ons as Gereformeerde Kerk steeds weer moet doen is om te reformeer.

Ons mag nie verstarde kerke wees wat in steriele konserwatisme en behoudsug enige verandering teenstaan nie. Ons is in teendeel geroep om steeds weer te reformeer. En reformasie is 'n dinamiese proses. Die kerk mag ook nie wêreldvreemd wees nie maar moet binne die kultuur van vandag sy lig laat skyn deur alles voortdurend te toets aan die Woord en so 'n antwoord gee aan die lewensvrae van vandag.

Om ten slotte by die kerksang in die hede uit te kom. Ons kultuur het sodanig rasioneel-saaklik en tegnolo­gies-gedomineer geword dat die lewensgevoel koud-intellektualisties geword het. In so 'n klimaat word sang en veral samesang as uitdrukkings­medium deur baie mense beleef as te spontaan en te ekshibisionisties. Tog bly die opdrag staan: sing onder me­kaar!

Hoe kan ons bereik dat die kerk hartlik en spontaan die lof van die Here sal besing? In die eerste plek kan dit bereik word deur 'n bewuste deelname van die gemeente aan die wonderlike erediensgebeure elke Sondag weer. Ek persoonlik is dank­baar vir baie van die besluite oor die erediens wat die Sinode 1997 geneem het. Ordelike uitvoering van dié besluite sal die gemeente meer direk betrek by die erediensgebeure. Ook is daar nou ruimte vir afwisseling wat die heersende strakheid kan deurbreek.

Dan moet ons die heersende ge­woonte, om slegs 'n bloemlesing uit die psalmboek te gebruik, aanspreek deur onbekende psalms stelselmatig te laat sing. Onbekend maak onbemind!

Deur die jare het ook die mening posgevat dat die Geneefse en ver­wante melodieë onsingbaar sou wees en dat ons eietydse musiek benodig om hartlik te kan saamsing. Nou is die stelling van die onsingbaarheid van met name die Geneefse melodieë, net nie houdbaar nie. Die feit dat dié besondere melodieë oor die hele wêreld, tot in Japan en Indonesië toe, steeds gebruik en gewaardeer word vanweë hulle uitstaande gehalte spreek boekdele. Met dié onsingbaarheids-teorie bevind ons in Suid-Afrika ons in 'n baie eensame posisie.

Psalmboek

Met die nuwe omdigting van die psalms deur die digter TT Cloete gaan daar nog baie van die Geneefse melodieë in die slag bly. Mens kan natuurlik met die simplistiese argu­ment kom dat daar geen duidelike Skriftuurlike voorskrifte dienaan­gaande is nie. Maar wat van die band met die kerk van alle eeue? En met ander Gereformeerde Kerke wat steeds die melodieë gebruik? Na my mening is dit baie belangrik dat dié band ook deur middel van die kerklied bewaar word. En die wonderlike van die Geneefse melodieë is dat daarin elemente voorkom wat, via die Grego­riaanse melodieë, teruggaan na die Joodse sinagogale sang, wat in alle waarskynlikheid verwant was aan die Tempelsang. Is dit nie 'n wonderlike gedagte nie, dat ons in ons psalmsang verbonde is aan die kerk van alle eeue, nie alleen wat die woorde betref nie maar ook die melodieë?

Besef ons waarmee ons besig is om die ryk musiektradisie, wat deel vorm van ons Gereformeerde erfenis, som­mer so as onbelangrik tersyde te skuif? Sonder historiese bewussyn kan die kerk nooit 'n lewende kerk met 'n lewende Christus-getuienis wees nie en word die kerk 'n sekte.

Vas vertrouend op die belofte van die Here kan ons egter op 'n hoë noot afsluit: eenmaal op die nuwe aarde sal ons almal saamsing in volkome har­monie. Daar sal geen dissonante meer wees nie!