Kategismuspreke: 'n Bedreigde Spesie?
Kategismuspreke: 'n Bedreigde Spesie?
'n Gier wat blykbaar plek-plek in Gereformeerde Kerke begin posvat, is dat daar met Kategismuspreke weggedoen word. Van die predikers beskou dit selfs as 'n prestasie dat hulle nou eens en vir altyd van die "verveligheid" van Kategismusprediking ontslae is. Indien hierdie standpunt sou veld wen, is die Kategismusprediking gedoem om 'n bedreigde spesie te word.
Hierop kan 'n mens maar net vra: Wat het geword van die onderlinge akkoord wat die Gereformeerde Kerke in artikel 68 van die Kerkorde met mekaar het? Die artikel bepaal tog uitdruklik: "Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan."
Waar kom dié Artikel Vandaan?⤒🔗
Die reëling van Kategismusprediking kom al 'n lang pad saam met die Gereformeerde Kerke. Reeds in 1547 het die Nederlandse kerke besluit dat lidmate op Sondagmiddae in die belydenis onderlê moet word. Dit is gedoen by wyse van Kategismuspreke.
Die Remonstrante (by wie daar in elk geval vraagtekens oor die belydenis was) het beswaar teen Kategismusprediking gehad en het daarom van die Sondagmiddagpreke weggebly. Sommige predikante het ook die prediking van die Kategismus nagelaat. Ten spyte hiervan het die Sinode van Dordrecht in 1618/19 die reëling gehandhaaf en in artikel 68 van die Kerkorde vasgemaak.
'n Wapen teen Dwaalleer←⤒🔗
Dit was nie net vir die gereformeerdes van die 16e eeu nodig om die Belydenis te ken en daarin opgebou te word nie. Ook vir die 20e eeuse gereformeerdes is dit 'n moet. Die gelowiges van alle tye moet hulle belydenis ken om daarvolgens te kan leef.
In ons tyd word daar baie kopgekrap oor lidmate wat in die kloue van sektes beland. Hoeveel hiervan kan nie na 'n gebrek aan kennis teruggevoer word nie? Wanneer die leer van die kerk, wat so eenvoudig en troosvol in die Kategismus saamgevat is, vir lidmate vergete raak, raak hulle weerloos teen allerlei dwaalleer — "soos golwe geslinger en heen en weer gedrywe deur elke wind van lering" (Ef. 4 : 14).
Daarom moet die besef opnuut posvat: Ons belydenis, soos onder meer in die Kategismus verwoord, is vir ons 'n anker, 'n vaste fondament, 'n kragtige wapen teen dwaalleer.
Voorsorg teen Eensydigheid←⤒🔗
Elke mens het maar sy eie smake en voorkeure. Ook dominees. Daarom kan dit maklik gebeur dat die dominee se preke soos 'n kitaar met net een snaar word: oor en oor sy geliefkoosde onderwerp. Teen hierdie agtergrond is gereelde Kategismusprediking dus 'n gesonde reëling. Daarmee word immers verseker dat "die hele raad van God" in die gemeente gepreek word (Hand. 20 : 27).
Waar Kategismusprediking verdwyn, verskyn 'n nuwe probleem. Dit word naamlik moeilik om te verstaan waarom daar dan twee eredienste op 'n Sondag nodig is. Nêrens in die Bybel word twee eredienste as beginsel gegee nie. Daar kan dus met reg gevra word: Is een preek per Sondag dan nie genoeg nie? Waarom dan twee eredienste op 'n Sondag inpas, soms met groot moeite vir die gemeente? Is dit maar net 'n goeie gewoonte wat ons in stand moet hou?
Die tweede erediens is egter meer as net 'n goeie gewoonte. Dit is ook meer as net nóg 'n preekgeleentheid op die Sondag. Dit is die geleentheid waarby die gemeente by uitstek onderrig word in die belydenis. Daarom is dit gebiedend noodsaaklik. Waar die Kategismusprediking verval, verval ook 'n belangrike motivering vir 'n tweede diens.
Waarom Louheid Jeens Kategismuspreke? ←⤒🔗
Baie lidmate kla dat Kategismuspreke vervelig is. Daarom beleef hulle die tweede diens dikwels as 'n foltering. Op hierdie klagte moet die dominees ag gee. Die Sinode van Dordrecht het destyds in 1618/19 reeds, aanbeveel dat Kategismuspreke kort en bevatlik moet wees. Langdradige en ondeurleefde preke kan 'n struikelblok vir die gemeente word.
Aan die ander kant kan dit wees dat lidmate Kategismuspreke vervelig vind omdat hulleself nie daarby belang het nie. Dit is mos eintlik bedoel as 'n leerboek vir die kinders by katkisasie. Waarom moet die volwassenes steeds daarmee vermoei word? So beleef sommige lidmate die Kategismusprediking.
Die wortel van hierdie probleem lê in alle waarskynlikheid daarby dat ouers self nie meer aktief betrokke is by hulle kinders se katkisasie nie. Hulle het hulle doopbelofte om hulle kinders "in hierdie leer te onderrig en te laat onderrig'' gehalveer. Hulle láát hulle kinders by die kerklike kategese onderrig, en daarmee is dit oor en verby.
Indien tuiskatkisasie in Gereformeerde huise weer sou herleef, sal ouers spoedig deur die praktyk gedwing word om na Kategismuspreke te gaan luister. Kinders kan moeilike vrae stel. Ook oor die Kategismus. Waar wil die ouers dan 'n beter geleentheid kry om hulle insig in en kennis van die Kategismus te verdiep as by die tweede diens op Sondae? Op so 'n wyse word die Kategismusprediking dan vir elke Gereformeerde ouer toerustingsgeleentheid om sy doopbelofte te kan nakom. Meer as dit; Kategismusprediking is 'n geleentheid van elkeen se persoonlike opbou in die geloof.
Eendragtig teen Dwaalleer←⤒🔗
In die FiIippensebrief word die kerk opgeskerp om in die stryd teen die dwaalleer "in een gees vas te staan en, een van siel, saam te stry vir die geloof van die evangelie" (Fil. 1:27) — Een van die middele waarmee ons vir die stryd voorberei word, is gereelde Kategismusprediking. Laat ons nie hierin versuim nie maar mekaar in alle liefdeserns opskerp, sodat nie een van ons in die kennis van die geloof sal agter raak nie.