Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Kategismusprediking tot Opbou van die Kerke

preekstoel

Van tyd tot tyd hoor 'n mens werklikwaar van gemeentes waarin daar nie meer Kategismusprediking plaasvind nie. In die meeste gevalle gaan dit nie daaroor dat Sondae se tweede erediens heeltemal afgeskaf word nie. Die tweede erediens word slegs vir iets anders gebruik: vir 'n tweede vryestofprediking soos die van die eerste diens, vir 'n besprekingsgeleentheid of vir 'n sangaand.

Besware wat teen die praktyk van die Kategismuspreke ingebring word, is gewoonlik dat Kategismuspreke swak bygewoon word, dat dit te vervelig en te dogmaties is en dat die lidmate eerder uit die Bybel as uit die belydenis geleer moet word.

  • Die beswaar van swak bywoning is natuurlik 'n aanklag teen die gemeente eerder as teen die Kategismusprediking.

  • Op die beswaar dat die preke ver­velig en dogmaties is, moet die predikante goed ag gee, aangesien Kategismusprediking beslis baie aktueel en lewendig aangebied kan en behoort te word. Die verveeldheid kan natuurlik ook kom van lidmate wat hulle aptyt vir Kate­gismusprediking begin verloor het.

  • Om te argumenteer dat eerder uit die Bybel as uit die belydenis gepreek moet word, is 'n drogargument, want die belydenis praat juis vanuit die Bybel. Kategismusprediking wat nie uit die Bybel gepreek word nie, is nie egte Kategismusprediking nie.

Waarom dan Wel Kategismusprediking?🔗

Lidmate wat traag is om hierdie vorm van prediking by te woon en gemeentes wat dit heeltemal afskaf, moet egter kennis neem dat daar goeie redes vir die Kategismusprediking bestaan.

Onderlinge Akkoord🔗

Die eerste rede is 'n bloot formele rede. Dit is naamlik dat die Gereformeerde Kerke met mekaar 'n afspraak (gemeenakkoord) aangegaan het om die Kategismusprediking te onderhou. Elke Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het hom verbind tot artikel 68 van die Kerkorde waarin ons die volgende onderneem het: "Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoon­lik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan."

Hiermee is die normale patroon van die tweede erediens op Sondae vasgelê. Natuurlik is dit nie 'n wet van Mede en Perse nie. Daarom staan daar "soveel moontlik". Omstandighede kan dit nodig maak dat op sekere Son­dae van die patroon afgewyk word, byvoorbeeld by nabetragtingsdienste, ruildienste en met besoekende predikers.

Maar die uitsondering kan nie die reël word nie. Predikante kan nie na willekeur besluit om sommer van die Kate­gismusprediking af te stap nie. Ons woord behoort ons eer te wees.

Voortgesette Onderrig in die Belydenis🔗

Maar artikel 68 van die Kerkorde het nie sommer uit die lug geval nie. Toe die Gereformeerde Kerke in die 17de eeu met mekaar hierdie afspraak aan­gegaan het, was dit met 'n baie goeie rede. Die doel was naamlik "om die hoofinhoud van die Christelike leer by die gemeente in te skerp" (aldus Voetius).

Na verloop van vier eeue is hierdie rede nog net so belangrik. Belydende lidmate het dit nog steeds nodig om in die belydenis onderlê te word.  Wie homself verbeel dat die kennis van die Belydenisskrifte wat hy in die katkisasiejare opgedoen het, genoeg is om hom sy lewe lank te dra, maak 'n reuse fout. As daardie kennis nie weer opgeskerp, aangevul en verdiep word nie, vervaag dit en gaan dit op die ou einde tot niet. Wanneer die belydende lidmate nie meer weet wát hulle bely nie, is dit die begin van die einde vir 'n kerk.

Dit is dan ook die hoofrede vir die bestaan van die tweede erediens op Sondae. Die tweede diens is nie 'n blote duplisering van die eerste diens in dié sin dat daarin maar net weer 'n vryestofpreek aangebied word nie. As dit so was, sou lidmate dalk met goeie rede kon "kies" watter een van die twee om by te woon. Maar nou is die aard van die tweede erediens juis anders. Dit is die geleentheid waarby lidmate in die belydenis onderlê word.

kerkdiens

Dit beteken nie dat die Kategismuspreek in 'n katkisasieles moet ontaard nie. Dit moet prediking bly. En juis omdat die Kategismus 'n troos-boek is, moet die lidmate in hierdie prediking so onderlê word dat die troos van dit wat ons glo en bely vir hulle duidelik na vore gebring word.

Ons belydenisskrifte is en bly na vier eeue nog net so aktueel soos hulle aan die begin was. Die Woordbedienaar se taak is om die aktualiteit daarvan op praktiese en lewendige wyse by die lidmate tuis te bring.

Toerusting van Lidmate🔗

Verder is die Kategismuspreek 'n ge­leentheid om lidmate toe te rus. Verbondsouers het by die doop onderneem om hulle kinders as hulle dit kan verstaan "in hierdie leer te onderrig en te laat onderrig". Daarom het hulle die onderrigtaak nie heeltemal aan die kerkraad oorgedra nie. Self het hulle die eerste verantwoordelikheid om hulle kinders in die Gereformeerde leer te onderlê.

Dit kan hulle doen slegs as hulle self deeglik in die leer onderlê is. Daarom kan verbondsouers in werklikheid nie bekostig om van Kategismuspreke af weg te bly nie.

Nie net vir verbondsouers nie maar vir die hele gemeente is die Kategis­muspreke noodsaaklik om hulle te laat groei in die geloof. Selfs al sou die preke soms oor moeilike leerstellige (dogmatiese) sake gaan. Dit is juis nodig dat ons ook in daardie moeilike sake onderlê moet word.

Dink maar aan die vermaning van Hebreërs 5:12: "Hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat 'n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie."

Die Hele Raad van God🔗

Die vierde rede waarom Kategismus­preke nie verwaarloos mag word nie, is dat daarmee gesorg word dat "die hele raad van God" in die gemeente gepreek word (Hand. 20:27). Dit is nou maar een maal so dat elke predikant onwillekeurig sy geliefkoosde Skrifgedeeltes of onderwerpe het waaroor hy graag preek.

Sonder dat hy dit agterkom, kan die predikant se preke eensydig die klem lê op die sonde en die oordeel, of die genade en verlossing, of kan sy preke klem lê op die goeie werke of op die gemeenskap van die gelowiges. Of dalk is daar sekere gedeeltes van die leer wat hy onbewustelik verwaarloos.

Die bepaling dat die Kategismus gereeld deurgepreek moet word, dwing die predikant om aan al die fasette van die Gereformeerde leer aandag te gee. Predikante wat redeneer dat hulle maar met Kategismuspreke kan wegdoen omdat hulle vryestofprediking in elk geval by die belydenis aansluit, moet weer hiervan kennis neem. Natuurlik moet elke preek by ons belydenis aansluit en daarmee ooreenstem

Maar die vraag is of enige predikant werklik in sy preke spontaan by al die fasette van die leer kan uitkom. Daar­om is die dissipline van volgehoue Ka­tegismusprediking vir elke predikant nodig.

Deur die volle raad van God so op sistematiese wyse gereeld deur te preek, word die gemeente met 'n gebalanseerde geestelike dieet gevoed, en word voorkom dat hulle net "by die begin van die prediking aangaande Christus bly" (Heb.6:l).

groente

Deur die vaste spyse van die Kate­gismuspreke te leer verteer, word die lidmate op die ou einde gelei om 'n aptyt vir vaste spyse op te bou, ook vir dié wat in die vryestofprediking van die eerste diens aangebied word.

Wie dus die Kategismusprediking in die kerke verwaarloos of minag, is besig om die geloofsgrondslag van die kerke te ondergrawe.

Daarom kan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op mekaar staat maak dat die Kategismusprediking nie ver­waarloos sal word nie maar as 'n kosbaarheid in die kerke gekoester sal word.